Klein herdenking van Staring* se Herdenking
(…totdat hy klink en blink. – N.P. Van Wyk Louw)
Na aandmusiek het jul geluister
en kommerloos gelag
toe julle twee die skemerduister
sou afwag, laat dié dag.
Die lentereukwerk van dié plek,
die veld waaroor die skadu’s trek,
die druiping van die wilgerblare,
– jongloof wat jul verhul
met jou gesig so na aan hare –
en rondom word dit stil!
Van ver sou jul ‘n kikkerkoor
en liermusiek van krieke hoor,
na aandgesang van voëls weer luister,
deur Venus toegelag.
Soet teen jou mond het sy gefluister:
die wonder van dié dag!
Magies het haar oë geflonker;
later, in onthou versonke,
tóé het jy ‘n vonkelvers geskryf,
‘n lied wat klink en blink:
glans en somersoetheid van die druif,
borrels in kristal geskink.
Leef lang in blij herdenken voort,
geseënde stem! o wonderwoord!
* A.C.W. Staring (1767-1840)
