requiem vir dorothy parker
op die 8ste vloer van haar sterrewag
in new york, new york
gryp sy die nag
en trek dit om haar skouers
soos ferweel
en raak ontliggaam, haar gesig
drywend en beenwit
die onbereikbare planeet dorothy
en tog
lê daar spore om haar oë en mond
wanneer sy vir oulaas kom
op valium en vodka
en roep om god
met die teleskoop na binne gekeer
hoor sy die heelal in haar skedel
inkanteer
how lucky are the dead
how lucky can a girl get
who has died many times
before she was dead
