Kompetisie: Die lykdig
Die kompetisie het nou gesluit! Webmeester gedaan!
Baie dankie vir almal wat hieraan deelgeneem het. Daar was besondere
inskrywings. Binnekort maak ons die Top 15 tot 20 bekend
wat dan na die finale keurders gestuur word vir verdere beoordeling.
-----------------------------------------------------------------------
Versindaba Poësie-kompetisie: die Lykdig
Die kompetisie sluit vandag stiptelik om 17h00 (21 ste Julie, 2014). Laaste kans om in te skryf!
Die opdrag: Skryf vir hierdie kompetisie ‘n Afrikaanse lykdigoor enige ontslape digter.(Die gedig moet ongepubliseerd wees, en NIE in boekvorm, of op die internet, ander tydskrifte, ens. verskyn het nie. Moet ook nie jou inskrywing elders of tussen vriende onder jou naam gaan adverteer, alvorens die kompetisie afgehandel is nie.) Die gedig vir inskrywing kan gaan oor enige gepubliseerde en bekende/gevestigde digter uit enige land of taalverbondenheid. Stuur jou gedig aan Versindaba of Die Webmeester (in ‘n Word dokument & nie as pdf nie). Voorbeelde van lykdigte sal jy heel onderaan aan hierdie bladsy kry. Geen grafika mag die gedigte vergesel nie.
|
Om alle vorige inskrywings tot dusver na te gaan, kyk hier.
Kompetisiereëls :
1. Alle gedigte wat kwalifiseer na ‘n eerste keuring sal van tyd tot tyd geplaas word op hierdie webblad, anoniem. Slegs een gedig per inskrywing mag ingestuur word. Geen grafika by hierdie gedigte nie!
2. Die naam van die afgestorwe digter waaroor die lykdig gaan moet in die titel of subtitel van die gedig vervat word, sodat die lesers/keurders kan weet oor wie hierdie gedig handel. Bv.
Toe kom die najaar
Vir DJ Opperman
Of
In memoriam: Ingrid Jonker (1933 – 1965)
3. Na ‘n eerste seleksie (anoniem deur Versindaba se komitee) van 10 tot 15 kwalifiserende gedigte sal ‘n nie-deelnemende komitee van drie persone aangestel word om hierdie gedigte (ook anoniem) te beoordeel. Die keurders/beoordelaars sal nie in kontak met mekaar wees nie of weet wie die ander keurders is nie. Volgens ‘n puntetelling vir die keuses van die beoordelaars, sal die wenners gekies word.
4. Moenie jou gedig vir die kompetisie by jou vriende adverteer onder jou eie naam nie. Daar mag dalk ‘n keurder onder hulle wees! Die gedig sal dan gediskwalifiseer word. Geen skuilname is ook toelaatbaar nie. ‘n Gedig verskyn anoniem op hierdie webtuiste, en dus moet jy anoniem bly vir die duur van die kompetisie. Kommentare op gedigte is toelaatbaar, maar hulle mag weer later deur Versindaba verwyder word.
5. Die wenners sal dan hopelik teen die einde van Julie 2014 of vroeg in Augustus bekendgemaak word.
6. Die sluitingsdatum vir hierdie kompetisie is om 17h00 op die 21 ste Julie, 2014.
Aspekte van ‘n lykdig:
‘n Lykdig is ‘n elegie of treurlied, meestal oor ‘n afgestorwene. Soms bevat elegië ook lofprysings of ‘n huldeblyk oor ‘n afgestorwene. Die waarde en deugde van die digter se werk, sy menswaardigheid of selfs enige narratiewe elemente uit sy lewe kan besing word. Belangrike elemente in die lykdig sal bv. die volgende wees: lof, rou en troos. Maar jy kan ook in gesprek tree met die afgestorwe digter of selfs met hom identifiseer of nie identifiseer nie. Jy kan aansluit by ‘n spesifieke gedig (of bundel) van hierdie digter wat jou eenkeer geinspireer het en daaroor besin. ‘n Tema wat dus ‘n groot uitdaging aan jou as digter gaan stel!
Met dank aan Cordis Trust wat hierdie kompetisie vir ons borg
Voorbeelde van die lykdig
1
toe jy sterf, Magmoed
toe jou slagaar kronkelend en sloom
soos ‘n pers slang bars
want die reëls kon die volmaakte metafoor
nie meer dra
en jou hart as gedig
die laaste bloed moes spuit
in die siekehuis in die vreemde
land van barbare,
toe jou hart oplaas
‘n verskeurde klinker is
groei ‘n maan oor die eiland
tussen die skuiwende wolke
van hierdie ‘klein winterseisoen’
wat aans ‘n donker ink in lang verslyne
oor die golwe gaan stort
sodat kraaie en bokke en arm kinders
al singende in die modder kan plas
asof dit die viering van bevoëling is
(Uit: Oorblyfsel/Voice Over (op reis in gesprek met Magmoed Darwiesj,
deur Breyten Breytenbach; Human & Rousseau, 2009)
*
In Memoriam: Hennie Aucamp (1934 – 2014)
I. Ewige flaneur
Vir jou is elke dag steeds vol
soos die wyd-oop kelke van lelies,
& uit die vensters van kerke
sing die lig sy evangelies.
By Blouberg kom die wit reëls een-een aan,
die soutige jambes vanmelee
wat die jongmans wit vlerke
om hulle enkels gee.
Die meeue duikel bo die water,
opgehef soos die palms
van priesters
met oggendpsalms.
Seepunt se palmbome span boog
teen die wind, & op ’n seemuur
verstrak ’n akkedis in sy skadu
tot hiëroglief van die middaguur.
Op die blou uur hunker jy van lig- na skemerkol,
op jou lippe die gesoute asem van ’n kus
& in jou binneoor eggo
die domkerk van die nautilus.
II. Dagreis
In jou woonstel kom & gaan die lig,
kantel van ruit na ruit,
maar jy’s nie langer op die son gerig.
Die wind se ape-spel
van blaar na blaar bedaar,
& skadu’s ink die park tot luiperdvel.
Met Rust-mijn-ziel ’n soet spesmaas,
het jy ingekruip onder ’n grou kombers
& met jouself gaan lepellê op langelaas.
© Johann de Lange. 2014
*
ELISABETH EYBERS
Die predikantsdogter van Wes-Transvaal
promoveer van intieme moederskap-
en herinneringsvers tot optekenaar
van verlies: leef ver van jou goed
en na aan jou poëtiese wins, of bly
ná aan jou vers en vér van jou minnaar.
Meet in ’n liniaalland iets onmeetbaars
soos ingeperktheid, eensaamheid, kilheid.
In die omgekeerde teleskoop van verdriet
registreer sy beelde in ’n sober tussentaal.
Soms laat die digter die voordeur oop,
’n lig aan of laat die ketel oorkook: ’n beeld
glibber in die donker voornag …
Voetjie vir voetjie, stadig, langsaamaan
word mens woordimmigrant: tel die woorde jou af,
reguleer die ritme jou lewe soos die tik-tak
van ’n wekker ’n slaaplose steur.
Ironie word ’n bloeiwyse, die kruis
en munt van ’n bloederige bedryf.
Leer ritmies reflekse van oorlewing aan,
selfs siekte se slopende houvas met rym bedwing.
Iewers staan geskryf: die digter leef haar
gedigte soos ’n slegte gewete of herinnering af.
Flink afgerig vir iets soos kil ironie,
word sy meester van die pynlike prosodie.
(Uit: Lykdigte, deur Joan Hambidge; 2000)
*
Laatnagvrese
Wessel Pretorius (1949 – 2012)
Wessel, dis nou drie dae na jou dood
& die koerante swyg in al hulle kolomme
oor die dertiende van die derde
toe jy die onderspit gedelf het.
Die media voel fokkol vir digters.
Nou sit ek teen dagbreek heeltemal nugter
& half verleë, & ek skaam my vir my kollegas.
Al was ons haaks al om die hawerklap
(darem nooit slaags, behalwe in woorde),
verdien ’n digter darem ’n afskeidsgroet.
Laatnagverse & ander vrese bly
’n befokte boek, ons sal ver
na nóg een soos jy moet soek,
jy is ’n original, met jou ingat, ougat taalspel,
met jou liefdes & jou (dronk)verdriet.
Alles is verniet, & níks is verniet.
Trust jou om die dertiende
vir jou flatline op die Styx te kies.
Wás die lewe maar soos ’n LP
wat op ál die regte plekke vashaak,
daardie spesiale blikke & oomblikke
waaraan mens bly vasklou
as die naald gly oor die blinkswart strook
om in die voltrekte stilte te bly hakkel.
Met jou kroeg- & ploegpraatjies opgedroog,
& jou vrytyd verby, is dit saktyd
& jy is gans uit jou plek. (Boer jy
nou saam met Carl Ziervogel
& voer daai groen gesprek
wat net in begraafplase gedy?)
Of is jy sprakeloos gedryf
om druk ondergronds te skryf
met ’n lyf wat lykant toe leun?
Ek hoop jy het op jou nul-uur
weer daardie voël soos ’n telefoon hoor sing.
Tussen die eerste & die laaste reëls van ’n gedig,
tussen verloor & vind – dáár lê die ding.
(Uit: Stil punt van die aarde, deur Johann de Lange, H&R, 2014)
*
Brief vir Chris Lombard
Poste Restante
“Die aarde hou geen seismografiese register
van selfs die felste trillinge van pyn”
Ek het jou eenmaal in lewende lyf ontmoet
toe jy my buurman in Monte Alto besoek.
Uiloog, vriendelik, afstandelik, onthou ek;
’n man van min woorde, ’n ware heer, ontdek.
Met jou spaars bydrae egte poësie geskryf,
hier waar die hekbrekers, elke kywende wyf
deesdae ’n “gedig” op die internet post,
selfs betaal vir ander om dit op te “poets”.
Met die digkuns, so lyk dit my, is die verhoog
verkieslik bó dit wat jy in die vuurherd stook.
Daar is meer poëtasters, kansvatters en knoeiers
in hierdie bedryf as oorgewig én dom rofstoeiers.
Daar is méér pryse en medaljes as Augustyne;
gemeensaamheid en domastrantheid vier hoogty.
Vergeet van die awdl, daar word te veel gedoodle;
die zeugma by kaalkoppe dui op dié verloederle.
Hierdie is geen ligne donnée, net iets vir ’n Poète Maudit.
Nog ’n afsterwe van ’n ware digter maak my morbied.
(Uit: Meditasies, deur Joan Hambidge; H&R, 2013)
*
sjalom, Amichai
tussen dooies is daar vrede
en gryswit stiltes in albasterkruik
sjalom, waar jy rus
sjalom, tussen hemel en aarde
jou woorde bloei nog steeds
en jou are aan bome vertak
na alle lande
tussen die dooies rus jy vir altyd
jou woestyne flikker en tem die verse
oor al jou seer of verbeelde geliefdes
met hulle hare wat spoel tussen die see
en die strate van Hamadiya of Jerusalem
met hulle hande wat soek
in kamers van Buenos Aires
waar geluide in rou nette van waterpype
opwel en knetter
en hulle staan by verkeersligte geel en groen
en by die rooi waar jy hulle verloor het
maar hulle onthou jou drome
hulle onthou die ure in deure of vensters
die gordyne wat in flarde roer teen ʼn nag
olyfpit en glad as die wind jou weer neem
na die stilte tussen hemel en aarde
hulle onthou veral jou woorde
wat sag en sagter bloei aan gisters
net voordat die dun skelet van jou sandale
verlore gaan in die dooie see
met die wegsink van jou son
want tussen dooies is daar vrede
en gryswit stiltes in die kruik
sjalom, waar jy rus
sjalom, tussen hemel en tale
(Uit: passies en passasies, deur Marlise Joubert; Protea, 2007)
Mal oor die moeë letterlê katjie, en dankie vir die harde werk Marlise!