TOTIUS: requiescat in pace
jou doringboom het groot geword
massief van tak en stam
baken bastion en sieraad van die veld
rusplek vir die arend – die duif se habitat
geankerd heel en diep gepantserd teen
lot of smart of nag
vra sy fondamente deur die ou-ou putte
na die lewens-are af
ons sien jou broos met deernis nader
die palms hoog gestrek in seëngebaar
as jy die dik vergroeide eelt
iewers stam-op streel en tas
vergane amputasie uit agtertoe
se reis van kleintyd blom en bloei
om prys te gee of te behou
of…medalje vir ‘n oorlogswond
ons ken jou aan jou trane toe die
snoeiskêr van die hemel blink en
losgelate takkies kantel langs mekaar
tot êrens op verlate sand –
hoe lank het jy gespartel aan die
drenkeling se boei tot waar jou
troebel strome oopkloof en water-suile
rys in ere-wag langs elke sy
om die altaarrots tot edelsteen te slyp
en die bloedsaad van die doringkroon
dwarsdeur afrika die klipgrond week sal maak
dat die sterre in nuwe lig kan groei
of…ploeg die dwaalgees edel paaie uit
met ons wat steier oor braakland-kluit
om stom jou erfenis te slinger tot
binne-in die kelders van ‘n ou argief ?
geliefde man – reus van vele pyn en pen
moes jy dan so die bitter bekers pluk
om al jou blomme uit te stort as jy
die wag-‘n-bietjie-bos trotseer ?
al bleik die winterson se glans tot
bleek bo verre ruimtes koud en wyd
hoor ons die lentekuikens pik alreeds
net onder die vaal gras en die ryp
moet die omgekeerde emmer sak om
jou ligte oor ons atlas te verslind
dat blinde generasies koersloos in die duister
se melaatsheid rond sal tas na rigting ?
dalk mag ons naak trek op ons tog
soms pateties knak in floue offensief as
ons kragte stol en stuit teen oormag vas
maar jou vergeet – dit kan ons nie
as die huldeklokke beier oor jou
vrome patos juig ons prys die Heer
omhels ons steeds in stil ekstase
meer die maat waaraan jy hard gebeitel het –
‘skuus dat ons so laat nog klop
wou maar net u dunk verneem van ‘n gewaande
plathandgroet iewers tussen rome of diep
uit ‘n bunker onder ou prins albrechtstraat
