Lykdig vir Sheila
Jou verse is nie waar jy dit gelaat het nie, Sheila.
Dit het die héélal vol geswerm –
brandende engele
of insekte
gebore op die wind.
Ook toe ek dertien jaar oud en vlugvoos
in ‘n skoolbiblioteek
op die platteland
tussen die bleekwit vleuels van bladsye wou skuil
(die boeke grafsteenregop, willoos,
asof die biblioteek ‘n verlate begraafplaas was,
‘n landskap geskend, digter ná digter)
wou ek oor die warreling van motte huil.
Grysgrou poeiervlerke in die laatlig:
die spikkelstof van ‘n veraste vrou.
Die voelers al oor my gesig –
troostend, waarskuwend
‘n offergedig.
