Gedeelde geen: vir NP van Wyk Louw
my voete tree met huiwering
oor die drumpel
waar jóú woorde in eie heiligdom
die stilte
is
die wande van die kluis
waarin alle seisoene
verhef tot liefdespoësie
en luike oopmaak
op wonders van die heelal
met skittering van son- en sterrestelsels
jy wat soveel nuanses van kleur
inskryf in wit
jou beelde in klipwerk en graniet
teen die lug laat beur
laat beitel en woordverfyn
tot jan-allemansbesit
en klank in desibel omskryf
dat die rimpeling van water
met klipgooi oor die dorp se dam
tintel deur gehoor én lyf
skugter sluit ek aan by naggesprek
oor liefde en vriendskap
oor volk en taal
oor golgota
oor kruis en katoliek
oor verraad en lojaliteit
en bedink kritiek en repliek
wonder vreemd hoekom die pluimsaad so ver
en wars sou waai
ek hoor die nuus dat jy gesterf het
‘n eerste keer op pad na amsterdam:
veertig jaar later wéét ek
die naelstring is nooit geknip
klein deeltjies van ‘n woordegeen
het uit die lae lande
in ‘n voorouer se are
na die nuwe heimat oorgeglip
jý
is die draer van ‘n ouer skeppersgeen
jy moes ook skryf
omdat jy móés
