Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
22 July 20144 August 2014

Lykdig 56: Dominique Botha. I always loved the wild things best

I always loved the wild things best

(vir Eugène Marais)

opgedra met dank aan Leon Rousseau

 

op sewentig eet die perdedief

Jakob Breytenbach beskuit in die tronk

aangedra deur Eugènetjie Marais

vir ‘n held van die eerste water

 

(oom Jakob steel want hy is lief vir diere sê Eugène se ma)

 

haar man kwyn sonder aansien

in ‘n skommelstoel op die voorstoep

haar laatlam se dae halm oop

in velde en voorkamers waar die ure

asem ophou in narsings

en kwikkies soos note op ‘n frase

by die kombuisvenster vleis afsmeek

 

wees bang vir die sonde

mijn kindjie

wees bang

hy pik en bijt nes ‘n giftige slang

 

op Markplein tussen nagmaalspore

onder doringbome verkwansel Eugène se oom

die hemelbesem Lang Piet

foto’s van hom en King Coffee die swart dwerg

wat hy later blosend terugkoop

 

(die swart gevaar omsluip nog soms die trekkers se nagte)

 

die kind is suide toe op ‘n wa

met ‘n vrag lemoene vir Kimberley bestem

en ruil vrot vruggies met oopmond Vrystaters

vir kuikens om

 

‘n geleerde man in ‘n krawat keer terug

en pendel in ‘n koets

tussen Pretoria en die goudstad

om klippe in die pad te lê

van die vrome takhaar Kruger

terwyl sy pa die stoeppilare

in die middel van die nag

kersierooi verf

 

(oud president Burgers wil in ‘n skaapkraal begrawe word)

 

na jare van versugting

net maande van geluk

‘n smoordronk arts

te laat uit die stad verjaag

die bruidegom geknip uit koerantpapier en fier

in die psalms van sy hande

die rokende na-vat

van ‘n verkoolde bruidsvlug

 

(‘n klippie val uit Kruger se skoen diep ‘n donker vywer in)

 

in sy dakkamer in Londen

troos Eugène ‘n siek sjimpansee

deur die ongeneeslike winter

in advokaatsleer het hy min sin

 

“g’n man met ‘n siel bokant die van ‘n streepmuis

kan hom voortdurend aan die soort werk gee nie.”

 

sy dae verdwyn soos spelde

 

met die laaste groet staan hy op ‘n bank

om oor die skare voor die hokke te wuif

die apie was met die wedersiens so dol van blydskap

dat Marais haar in die hok mog omhels

 

‘n newel op vlerke van papawer

krul om die nokke van die suiderkruis

 

ylend in Lourenço Marques

onthou hy die heerlikste maaltyd van sy lewe

as die seeskilpad met eiers in vet gebraai

deur die dronk kaptein wat belowe het

van pêrels so groot soos appels

 

‘n heuningvoël lok hom terug

deur versengde provinsies

om in die kaal takke van strofes en klinkers

‘n korf oop te breek

 

met versoete vleuels dra sy woorde

die mees beskeie blom van die veld verse aan

 

saans dop die maan soos die oog van ‘n malle om

 

terwyl daar nog vars papier is vlug

hy met ‘n sak vol truuks

oor riviere wat wemel van krokodille

en ken sy gelukkigste jare tussen bobbejane

waar hy kon stap soos ‘n boer deur sy skape

 

respyt en spyt

 

‘n nagrefrein wat

haarself met swaar voete

deur ‘n donkerwordende partituur sleep

 

alles kon hy besweer

maar nie die adder aan eie bors

wat met vrypas deur sy are

aan die hart kom drink het

soos by ‘n kuip

 

‘n verslete verstoteling

voortvlugtend vir beelde

wat deur sy drome galop

sonder behae in sy dae

en sy nagte hel

 

die knal van ‘n haelgeweer het die newel gevel

 

Jan Konterdans

die vioolspeler uit die groot woestyn

het hom kom haal

 

om hom terug te neem

na oom Dirk se huis.

 

Hy het dit so aan Jan vertel:

 

“Daar gaan ‘n wonderlike skouspel op die voorstoep wees.

 

Op die vloer sal dit wemel van bont vere in al die kleure van die reënboog.

Selfs die gedruis van die waterval is onhoorbaar onder die gefluit!

Op ‘n rusbank, in die middel van die gewemel en die geraas, sit oom Dirk.

Sy hoed, sy skouers, sy skoot, tot sy velskoene, vol voëltjies…..

 

bedaard en kalm

asof dit by hom van die gewoonste is.”

 

 

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • ND Cronjé. wiskunde
  • Driekie Grobler. skoffeer
  • Digtersprofiel: Pieter Odendaal
  • Yves T’Sjoen. “’n pêrel stilte”
  • Joan Hambidge. Cussons en “Die knetterende woord”

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d