I always loved the wild things best
(vir Eugène Marais)
opgedra met dank aan Leon Rousseau
op sewentig eet die perdedief
Jakob Breytenbach beskuit in die tronk
aangedra deur Eugènetjie Marais
vir ‘n held van die eerste water
(oom Jakob steel want hy is lief vir diere sê Eugène se ma)
haar man kwyn sonder aansien
in ‘n skommelstoel op die voorstoep
haar laatlam se dae halm oop
in velde en voorkamers waar die ure
asem ophou in narsings
en kwikkies soos note op ‘n frase
by die kombuisvenster vleis afsmeek
wees bang vir die sonde
mijn kindjie
wees bang
hy pik en bijt nes ‘n giftige slang
op Markplein tussen nagmaalspore
onder doringbome verkwansel Eugène se oom
die hemelbesem Lang Piet
foto’s van hom en King Coffee die swart dwerg
wat hy later blosend terugkoop
(die swart gevaar omsluip nog soms die trekkers se nagte)
die kind is suide toe op ‘n wa
met ‘n vrag lemoene vir Kimberley bestem
en ruil vrot vruggies met oopmond Vrystaters
vir kuikens om
‘n geleerde man in ‘n krawat keer terug
en pendel in ‘n koets
tussen Pretoria en die goudstad
om klippe in die pad te lê
van die vrome takhaar Kruger
terwyl sy pa die stoeppilare
in die middel van die nag
kersierooi verf
(oud president Burgers wil in ‘n skaapkraal begrawe word)
na jare van versugting
net maande van geluk
‘n smoordronk arts
te laat uit die stad verjaag
die bruidegom geknip uit koerantpapier en fier
in die psalms van sy hande
die rokende na-vat
van ‘n verkoolde bruidsvlug
(‘n klippie val uit Kruger se skoen diep ‘n donker vywer in)
in sy dakkamer in Londen
troos Eugène ‘n siek sjimpansee
deur die ongeneeslike winter
in advokaatsleer het hy min sin
“g’n man met ‘n siel bokant die van ‘n streepmuis
kan hom voortdurend aan die soort werk gee nie.”
sy dae verdwyn soos spelde
met die laaste groet staan hy op ‘n bank
om oor die skare voor die hokke te wuif
die apie was met die wedersiens so dol van blydskap
dat Marais haar in die hok mog omhels
‘n newel op vlerke van papawer
krul om die nokke van die suiderkruis
ylend in Lourenço Marques
onthou hy die heerlikste maaltyd van sy lewe
as die seeskilpad met eiers in vet gebraai
deur die dronk kaptein wat belowe het
van pêrels so groot soos appels
‘n heuningvoël lok hom terug
deur versengde provinsies
om in die kaal takke van strofes en klinkers
‘n korf oop te breek
met versoete vleuels dra sy woorde
die mees beskeie blom van die veld verse aan
saans dop die maan soos die oog van ‘n malle om
terwyl daar nog vars papier is vlug
hy met ‘n sak vol truuks
oor riviere wat wemel van krokodille
en ken sy gelukkigste jare tussen bobbejane
waar hy kon stap soos ‘n boer deur sy skape
respyt en spyt
‘n nagrefrein wat
haarself met swaar voete
deur ‘n donkerwordende partituur sleep
alles kon hy besweer
maar nie die adder aan eie bors
wat met vrypas deur sy are
aan die hart kom drink het
soos by ‘n kuip
‘n verslete verstoteling
voortvlugtend vir beelde
wat deur sy drome galop
sonder behae in sy dae
en sy nagte hel
die knal van ‘n haelgeweer het die newel gevel
Jan Konterdans
die vioolspeler uit die groot woestyn
het hom kom haal
om hom terug te neem
na oom Dirk se huis.
Hy het dit so aan Jan vertel:
“Daar gaan ‘n wonderlike skouspel op die voorstoep wees.
Op die vloer sal dit wemel van bont vere in al die kleure van die reënboog.
Selfs die gedruis van die waterval is onhoorbaar onder die gefluit!
Op ‘n rusbank, in die middel van die gewemel en die geraas, sit oom Dirk.
Sy hoed, sy skouers, sy skoot, tot sy velskoene, vol voëltjies…..
bedaard en kalm
asof dit by hom van die gewoonste is.”