Resensie: Die stilte opgeskort (Heilna du Plooy)

Die stilte opgeskort deur Heilna du Plooy

(ISBN 978-1-4853-0130-1 [gedrukte boek]; ISBN 978-1-4853-0131-8 [e-boek]; R150.00; Sagteband, 128 pp; Protea Boekhuis, 2014)

Resensent: Bernard Odendaal

Omslag

Die titel van hierdie derde digbundel deur Heilna du Plooy is gehaal uit die voorlaaste reël van die slotgedig daarin. Wat uit die opskorting van die swye volg, luidens die daaropvolgende slotreël, (moet) getuig “van somergroei wat in die winter vrugte word”.

Inderdaad word digkuns gebied wat van belesenheid en ervaring, volgehoue intellektuele diepgang en verfynde sensitiwiteit getuig. Dit was ook die geval met Du Plooy se vorige twee bundels, Die donker is nooit leeg nie (1997) en In die landskap ingelyf (2003).

Uiteindes en aflope, dikwels na die verlieskant toe, is in talle gedigte in hierdie jongste bundel ter sprake, of word geïmpliseer: pogings om identiteite of drome tot duursaamheid te verwesenlik (’n kerk, ’n universiteit, ’n volk, ’n land, ’n huis, ’n gesin); politieke of artistieke beheer; selfhandhawing; “die pornografie van oordaad”, soos een van die gedigreekse uit die bundel heet; die lewe self. Daar word egter ook uitweë, bevrydings- en nuwe groeimoontlikhede vermoed en verwoord. In meer as een gedig word motiewe soos lug, lig, wind, oopte en reis in verband met laasgenoemde moontlikhede gebring; ook stroping tot eenvoud toe. Die voorkeur daarvoor is uitgesproke, naamlik as alternatief vir die gebondene, omstredene en verstarrende wat in motiewe soos grond, besit, plek, (toegewese) identiteit, selfs huis en kamer vergestalting vind. Aan die slot van die gedig “Identiteit” kom dit selfs voor of die vryheidsdrang die vorm van strewing verby hierdie lewe aanneem:

 

Sy staan voor die venster. Binne die ruit

bly worstel ’n klein vaal mot wanhopig

gevang in die kantgordyn. Sy duik

deur die glas na ’n streek sonder lyne.

 

Saam met bont vlinders wil sy

roekeloos stoei tussen rose:

op ’n teug wind, in ’n flits son

uiteindelik lustig omkom.  

 

’n Hiernamaalse aankoms in die hemel word in “Belydenis ná die maal” te berde gebring – op verfrissend lugtige wyse.

Meer as een maal in die bundel, byvoorbeeld in “Aanwesige afwesigheid / Afwesige aanwesigheid” en die drieluik “Grond en lug”, dien die boom as beeld van die ervaarde menslike kondisie: dat ons wel gebonde is aan die “swaar verhale / van grond en bloed”, maar wesenlik (en gedyend) geneig is tot “die grensloos omhelsende insluitende / en liefkosende streke van wind en van lug” (aanhalings uit laasgenoemde drieluik). 

Soos die openingsgedig voorspel, word die spanning tussen behoudende of bewarende strewes enersyds en eroderende of vernietigende kragte andersyds dus dwarsdeur die bundel in balans gehou:

 

Ewewig

Die vlakte drink die afstromende lig

en kaats dit in die glinsterende grassaad terug.

Die rivier stoot sy loop waar die landskap vou

oop sodat bedding en oewers die water vashou.

 

Is ek iets verskuldig of is iets verskuldig aan my

as die vloed beddings oopkerf en oewers oorskry,

met die gras aan die brand en die rooi en die rook

wat uitsig en insig verwoed teen mekaar opstook?

 

Die punt van die pen

lê swaar op die blad

om in die opstuwende lyn

 

die las te versprei

tussen my

en die grein.

 

Dikwels word die teenstrewendheid van sulke kragte binne indiwiduele gedigte uitgespeel. Voorbeelde vind ’n mens in die verse vanaf bladsy 48 tot bladsy 60, wat blykens die inhoudsopgawe ’n bundelafdeling of gedigtegroep vorm: ambisie versus ontluistering in “Santjie se droom”; die prekêrheid van lewensbeheer in “Leerskool”; verbeelding se verweer teenoor vrees se weerloosstelling in “Die donker binne en die donker buite”; verwondering versus beheerafdwinging in “Nanagvers”; die “besit” van ’n kind wat vanweë die volwassewordingsproses onafwendbaar op sy beuring “weg van die huis” moet uitloop (“Droomballade”); die afstomping wat die eksesse van ons tyd teweegbring versus die helende, heilsame effekte van ’n lewe van eenvoud en aardsheid (die reeks “Die pornografie van oordaad”).

Ander kere staan gedigte met min of meer teenstellende strekkings  langs mekaar in die bundel, byvoorbeeld “Dag” teenoor “Nag”, “Segetog I” teenoor “Segetog II”, “Millennium I” teenoor “Millennium II”, “Gemerk” teenoor “Gesigloos”  en “Lemoene I” teenoor “Lemoene II”.

Die aangehaalde “Ewewig” hierbo, ’n Italiaanse sonnet waarvan veral die sestet in belangrike mate afwyk van die bekende konvensies betreffende ritmiese reëlmaat en rympatroonvorming, is illustratief van hoe die spanning tussen vastighede en vryhede ook vormlik beslag kry dwarsdeur die bundel. ’n Handvol (doelbewus onvolmaakte) sonnette kom byvoorbeeld voor. Daar ís gedigte waarin vers- en strofebou en eindrympatrone reëlmatig gehou word; daar kom egter veel meer voor waarin die reëlmaat deurbreek word, en toevallige eindryme en halfryme eerder opduik. Enkele verse (“Vervreemding”, “Dodelike uitsig”, “Die prooi”) neem plek-plek die aanskoulike effekte van konkrete gedigte aan.

Besonders aangaande die bundelopbou is dat die inhoudsopgawe, agterin die boek geplaas, via kleiner en groter spasiërings tussen die gelyste gedigtitels aandui dat die gedigte as behorende tot bepaalde groeperings, oftewel ongenommerde én (oorwegend) ongetitelde bundelafdelings, gesien kan of moet word – maar dat in die bundel self geen tekens gegee word, deur middel van blanko bladsye of andersins, van waar een groepering eindig of waar ’n volgende begin nie. Tematiese eenheid binne veelheid word sodoende gesinjaleer.

Drie poëtikale gedigte open die bundel, met die aankondiging van die tematiek wat die bundel sal oorheers: die (soeke na) ewewig tussen uiteenlopende kragte in die lewe en die kuns, en die voortreflikheid van eenvoud in die proses. Daarna volg ’n tiental gedigte waarin die reisgegewe en die spannings tussen vervreemding en tuiskoms (met toespelings op die Suid-Afrikaanse bedeling) voorop staan, en waarby die kom tot woorde ná stilte ingereken moet word.

Die vermelde “Segetog”-tweeluik dien as oorgangsgroepering tot gedigte waarin die wellus én die (self-)ontluistering van magsug en geweld sentraal staan as tematiek. Een van die twee bundelafdelings wat wel ’n titel het, naamlik “Die jag”, volg hierop. Laasgenoemde behels ’n reeks gedigte wat, luidens die afdeling-subtitel, in “[g]esprek” tree “met die beeldereeks The hunt van Maureen Quin”. Die natuurlikheid van jag in die aardse ekologiese sisteem word uitgebeeld as groeiend tot ’n eksistensiële krisis by die mens, aangesien “die grens tussen noodsaak / en wil steeds meer gering” word. Die geweldpleging raak selfs tot “spel vervolmaak”, en gerig teen die eie spesie. “[O]nherbergsaamheid” en, daarop volgend, (mede-)lye, berou en verslaentheid is die noodwendige gevolge. Die “toegif” van selfopoffering, versinnebeeld in ’n Christus-agtige figuur, word as moontlike uitkoms uit die dilemma gesuggereer in die slotgedig (“Pathos”). Dis ’n boeiende reeks gedigte. Slegs die slotvers funksioneer as beskrywende beeldgedig; in die res word interpretatief vryer omgegaan met die gegewe van die beeldhouwerke waarop hulle gebaseer is.

Die eweneens vermelde tweeluik “Millennium I & II”, waarin die “troebel droesem” van die geskiedenis gejukstaponeer staan met die “vonke van aanvang” in ’n indiwiduele lewe, is die brugafdeling wat lei na die reeds bespreekte afdeling gedigte waarin telkens teenstrewende kragte vertolk staan. Identiteit, en die be- en omstredenheid daarvan in veral die Suid-Afrikaanse verband, is die gedeelde tematiese gegewe van die afdeling van sewe gedigte wat met “Gemerk” begin en met “Identiteit” sluit. In laasgenoemde gedig is dit meer spesifiek die vroulike identiteit wat onder die loep kom, maar sonder om haar as slagofferfiguur te teken, soos ook in Du Plooy se vorige bundels die geval was.

“Ouhoutfluit” is ’n alleenstaande gedig wat die sorgsame kultuurarbeid van mense, waaruit die skone en metafisiese kan voortkom, verwoord. Dit word opgevolg deur ’n enkelgedig en ’n gedigreeks wat huldigings of gedenkings bevat van afgestorwe of siek geliefdes (die literator-vriendin Elize Botha, ouers en skoonouers). Hoewel nie as sodanig in die bundel self aangedui nie, staan dié lykdig-agtige verse in die inhoudsopgawe onder die titel “Twee elegiese verse” gegroepeer.

Die alleenstaande “Aangaande die naam van die roos” is ’n viering van taal, spesifiek ook van Afrikaans, as medium tot belewing van die skeppingsdinge – al sou verskynsels soos die “witpapierbaskanniedood”, “purperwinde”, “varkensknol en duinetee” self vergaan. Die bundel eindig met die voorheen genoemde “Lemoene”-tweeluik; daarin word die deugde van eenvoud en aardsheid bevestig.

Du Plooy se verse maak, al sedert haar debuut, ’n indruk van sterk intellektuele beheer, maar met (ver-)beeldingskrag vermeng. Onthoubare formulerings wat meermaals aforisties aandoen, is een resultaat. Vergelyk: “in die leegtes setel verweer / en vryheid delikaat onder beheer”; “Elke tuiste teister sy bewoners, / wys hulle onherbergsaam af”; “Ná die oorlog word die tafel vir die vredesmaal / altyd weer met skerpgemaakte eetgerei gedek”; ensovoorts. Net soms gee die intellektuele inslag myns insiens aanleiding daartoe dat redenering suggestie begin verdring, soos in die “Segetog”-tweeluik en in die “Die jag”- en “Die pornografie van oordaad”-reekse. 

’n Teenwig vir laasgenoemde is die sintuiglike, veral visuele elemente wat in verreweg die meerderheid gedigte die botoon voer in die argumentvergestaltings. Du Plooy is ook aktief as skilder, en verwysings na die skildersaktiwiteit en die skildersvisie val meermaals op in die gedigte, soos ook in haar vorige bundels.

Die Frederike Stokhuyzen-kunswerk wat die voor- en agterplat van Die stilte opgeskort versier, naamlik van voëls opwaarts vliegend deur die rame wat deur kaal boomtakke op die voorgrond gesuggereer word, is reeds tekenend hiervan. Spirituele vryheid te midde van aardse beperkings word gesuggereer. Die titel van die Stokhuyzen-skildery, “Sacred Ibis”, verwysend na die voëlsoort ter sprake, is bykomend suggestief in hierdie verband.

’n Mooi bundel!



Bookmark and Share

2 Kommentare op “Resensie: Die stilte opgeskort (Heilna du Plooy)”

  1. Joan Hambidge :

    http://www.dieburger.com/vermaak/2014-08-10-quin-stel-lewenswerk-aan-groter-gehore-bekend

    In Die Burger vandag word ‘n gedig van Heilna by hierdie artikel afgedruk.

  2. Joan Hambidge :
  •