Louis Esterhuizen. Verslag oor leespatrone in die VSA – jongeres lees meer …

Via ‘n skakel op Los Angeles Times se webblad lees ek ‘n artikel raak oor die leespatrone onder veral die sogenaamde “Millennials” (Amerikaanse jongmense tussen 16 en 29 jaar oud). Dié artikel bevat die navorsingsverslag wat deur die Pew Research Internet Project gedoen en pas gepubliseer is: “This report pulls together several years of research into the role of libraries in the lives of Americans and their communities with a special focus on Millennials, a key stakeholder group affecting the future of communities, libraries, book publishers and media makers of all kinds, as well as the tone of the broader culture.”

En hul bevindings is héél interessant. Soos byvoorbeeld die feit dat diegene jonger as 30 net soveel lees as diegene ouer as dertig, maar dat hulle beduidend meer bóéke lees as die nie-millenials; ten spyte daarvan dat hulle ten opsigte van tegnolgogie véél meer gevorder is as die 30-jariges plus: “Millennials are quite similar to their elders when it comes to the amount of book reading they do, but young adults are more likely to have read a book in the past 12 months. Some 43% report reading a book—in any format—on a daily basis, a rate similar to older adults. Overall, 88% of Americans under 30 read a book in the past year, compared with 79% of those age 30 and older. Young adults have caught up to those in their thirties and forties in e-reading, with 37% of adults ages 18-29 reporting that they have read an e-book in the past year.”

Ten opsigte van biblioteke en die benutting daarvan is die prentjie egter minder rooskleurig: “Here are the details: If their library were to close, 32% of people 30 and older say it would have a major impact on them and their families; only 19% of those younger than 30 say so. Asked if such a closing would have a major impact on the community, 67% of those 30 and older say it would, while the figure for people 30 and under was just 51%.” By wyse van gerusstelling wys die kommentators van PRIP egter daarop dat dié syfer na alle waarskynlikheid misleidend is: “Our library engagement typology found that Americans’ relationships with public libraries are part of their broader information and social landscapes, as people who have extensive economic, social, technological, and cultural resources are also more likely to use and value libraries as part of those networks. Deeper connections with public libraries are also often associated with key life moments such as having a child, seeking a job, being a student, and going through a situation in which research and data can help inform a decision. As a result, the picture of younger Americans’ engagement with public libraries is complex and sometimes contradictory, as we examine their habits and attitudes at different life stages.”

Aangesien ongeletterdheid sekerlik een van die grootste uitdagings is wat ons hier ter lande in die gesig staar en daar uiteraard groot kommer heers oor die lees- en begripsvermoë van ons jeug, is hierdie statistiek tot ‘n mate gerusstellend; ten spyte daarvan dat daar wêreldwyd ‘n groter (negatiewe) invloed van tegnologie en veral sosiale media en die impak daarvan op taalvaardighede, ondervind word. Wat ‘n mens egter bekommer is die afgelope jare se drastiese besnoeiings ten opsigte van biblioteekdienste; veral op skoolvlak. So bestaan daar talle skole waar daar hoegenaamd géén biblioteekfasiliteit beskikbaar is nie. En dít is onaanvaarbaar, veral gesien in die lig van die PRIP se bevindings hierbo.

Daarom – ondersteun asseblief PEN Afrikaans se loodsprojek wat dit ten doel stel om ten minste EEN skool van ‘n behoorlike biblioteek te voorsien.

Ter wille van die lesers wat nié lede van PEN Afrikaans is nie, plaas ek die toepaslike gedeelte uit Kerneels Breytenbach (voorsitter) se Nuusbrief volledig:

Dit is vir my aangenaam om besonderhede te kan bekend maak oor PEN Afrikaans se eerste groot boekprojek.  Die agtergrond hiervan is die agteruitgang van biblioteke by skole. Die toegang tot boeke – en veral Afrikaanse boeke – is kommerwekkend en veroorsaak dat baie leerlinge nooit bewus word van die voordele en verryking wat ’n leeskultuur bring nie.

Ons moet iewers begin om die probleem aan te pak , en om praktiese oorwegings het ons besluit om  dit te koppel een van ons bestuurslede se huidige betrokkenheid by gemeenskapswerk.

Bettina Wyngaard, ’n gekoöpteerde bestuurslid van PEN Afrikaans, het ’n opsomming van die huidige situasie in die Grabouw-distrik in die Wes-Kaap gemaak. Sy bevind:

  • Baie biblioteke word deur mediasentrums vervang, met rekenaars en dies meer;
  • Elke skool ontvang 50% van hulle begroting vir leerderondersteuning, en daarvan word 10% toegesê  aan biblioteke. Hulle word egter nie gemeet aan hulle biblioteke nie, maar wel aan goed soos wiskundegeletterdheid. Die meeste hoofde skuif dus daardie 10% na ander projekte, en veral instandhouding, wat onderbegroot is in die meeste skole;
  • Die skole wat wel een of ander vorm van biblioteek het, het nie personeel om dit te beman nie. Dit word dus aan elke onderwyser oorgelaat of hulle ekstra werk vir hulleself wil skep deur ook biblioteekdiens te doen. Die meeste stel nie belang nie. Die meeste hoofde plaas ook druk op hulle onderwysers om eerder op Wiskunde te konsentreer.
  • Baie skole het ook nie akkommodasie vir ’n biblioteek nie
  • Die gevolg is geweldige leesverarming. Hulle vind ook dat leerders in staat is om ’n stuk perfek te lees, maar hulle het g’n begrip van wat hulle lees nie, en kan nie verduidelik wat die stuk probeer sê nie.
  • Baie onderwysers het ook ondersteuning nodig, want hulle het ook nie ’n breë leeservaring nie.

Voorts moet ook rekening gehou word met plaasskole wat té ver uit die dorp is om met gerief van die dorp se biblioteke gebruik te kan maak; hoofde wat bereid is om ook ouers toegang tot die biblioteek te gee, sodat ouers en leerders dit kan gebruik; hoofde en onderwysers wat toegewyd is en bereid is om ekstra werk in te sit; huidige infrastruktuur; ’n verarmde gemeenskap en ten slotte die mate waarin ouers betrek kan word – en bereid is om betrek te word.

Uiteindelik het Bettina drie skole geïdentifiseer waar ons sou kon begin om betrokke te raak:

  • Dennegeur – hulle personeelkamer doen diens as biblioteek. Dit beteken kinders moet die fasiliteit gebruik terwyl onderwysers sit en eet, of merk, of wat ookal –  wat nie ’n gewenste toestand is nie. Daar is onvoldoende boeke, en niemand wat diens kan doen in die biblioteek nie.
  • De Rust skool – hulle het ’n mediasentrum/biblioteek. Die hoof het onlangs skenkings  van oorsee gekry om boeke aan te koop, en hy is ’n ywerige fondsinsamelaar. Ons mening is dat hulle ’n biblioteek op die been kan bring sonder ons hulp.
  • Maxonia –  hulle het nie akkommodasie vir ’n biblioteek nie en ook nie boeke nie. Daar is niemand wat verantwoordelikheid kan neem indien ’n biblioteek tot stand sou kom nie.

Om praktiese redes sal ons eerste op Dennegeur fokus.

Wat behels ons betrokkenheid? Volgens Bettina is dit heel eenvoudig: Alle lede van PEN Afrikaans in die Wes-Kaap word versoek om enige boeke wat hulle geskik ag te skenk. Laat weet eenvoudig per e-pos of jy sulke boeke het, en tussen my en Bettina sal ons ’n plan maak om dit te versamel en by Dennegeur te besorg.

Indien enige PEN Afrikaans-lede elders in die land ’n bydrae wil maak, sal dit verwelkom word. Tree net met my in verbinding daaroor.

Uiteraard sal die bestuur van PEN Afrikaans ook kyk na maniere om fondse te in vir die aankoop van boeke, maar ter wille van die vestiging van die projek as stelsel laat ons dit vir eers buite rekening.

Ek hoor graag van julle!

Want, soos dit algemeen aanvaar word dat daar ‘n plaas is iewers in die agtergrond van iedere Afrikaanssprekende, wil ek die stelling maak dat daar ‘n Biblioteek is in die agtergrond van elke intellektueel en/of boekliefhebber se lewe is.

Lank leef Die Biblioteek.

***

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Louis Esterhuizen. Verslag oor leespatrone in die VSA – jongeres lees meer …”

  1. Charl-Pierre Naude :

    Baie dankie vir hierdie insiggewende artikel.

  2. Buiteblaf Breytenbach :

    Uitstekende inisiatief, Louis. Ek gee graag my samewerking sodra ek terug is in die land. Dankie!

  3. Susan Smith :

    Louis, ek sal graag hier die boekeprojek, Aksie Afrikaans wil noem wat ons departement (Afrikaans, Universiteit van Fort Hare) reeds die afgelope vier jaar bedryf. Ons is so gelukkig om finansiële ondersteuning van Cordis Trust te ontvang, maar dit gaan veral ook oor die betrokkenheid van ons eie studente.

    Die projek behels die insameling (deur die studente) van Afrikaanse boeke, hetsy goeie tweedehandse boeke of nuwes, wat elke jaar aan ‘n geïdentifiseerde laerskool geskenk word. Cordis Trust onderneem dan om die studente se bydraes te ewenaar en aan te vul deur die aankoop van nuwe Afrikaanse boeke volgens ‘n behoeftelys van die skool self. ‘n Tweede aspek van die projek het ook die insameling van kruideniers vir die skole se sopkobuise ingesluit: dit teen die agtergrond van die uiterste nood vir kruideniersware, die feit dat die staat se voedingskema hier totaal in duie gestort het en dat die een bordjie kos by die skool soms al is wat die kind per dag kry. Die skenking is weer eens moontlik gemaak deur die studente se bydraes, ruim aangevul deur Cordis Trust.

    Die fokus is grootliks op die betrokkenheid van die studente. Ons besoek die skool en die studente kry vir so ‘n uurtjie ‘n geleentheid om ‘n “Afrikaanse klas” aan te bied deur storievertelling, speletjies, musiek en dramatisering, alles in Afrikaans. Tweede- en derdetaalstudente word bygestaan deur die akademiese klas en almal leer daaruit.

    Ons vind dit ‘n wen-wen situasie: die leerlinge geniet die uurtjie of wat se joligheid en onderbreking van die gewone roetine, die studente kry ‘n geleentheid vir interaksie met die leerlinge en slyp terselfdertyd hul taalvaardighede, die onderwysers neem ‘n blaaskansie en as departement kan ons die projek verreken teen die vele eise wat deesdae aan akademiese instansies gestel word, hier dan as gemeenskapsbetrokkenheid.

    Iets wat nie uit die oog verloor moet word nie, is dat heelwat van ons studente self uit agtergeblewe gemeenskappe kom, dikwels van hierdie selfde skole wat ons nou besoek – wat bydra tot die spesiale aard van die projek.

    Omdat ons studente uit al die bevolkingsgroepe saamgestel is, vind interessante wisselwerking plaas tussen wit studente in swart- en gekleurde skole, en ook tussen swart en gekleurde tweede- en derdetaalstudente in wit skole. Die studente word telkens oorweldig en verras deur die vriendelikheid en totale oorgawe van die leerlinge!

    Een van die suksesverhale is die betrokkenheid by Laerskool Aspiranza, by wie ons reeds twee keer besoek afgelê het. Die skool het tevore geen biblioteek gehad nie, en ons eerste boekeskenking was die afskop van hul biblioteek – ‘n halwe klaskamergrootte vertrek wat nou as biblioteek dien.

    Ons hoop om met hierdie projek uit te reik na ons eie skoolgemeenskappe en ‘n bewussyn vir die belangrikheid van lees by ons studente (waarvan ‘n groot hoeveelheid voornemende onderwysers is) tuis te bring.

    (Enige skenkings van Afrikaanse kinderboeke, geskik vir laerskoolkinders, sal natuurlik verwelkom word.)

  4. Louis Esterhuizen :

    ‘n Skitterende projek, Susan! Lyk my baie na wat PEN Afrikaans ook beoog … Voorspoed daarmee en mag dit net van krag tot krag gaan.

  5. May van Rooyen :

    Baie dankie vir hierdie inligting, Louis. Dit maak mens se hart lekker warm.
    May

  •