Louis Esterhuizen. ‘n Projek oor gedigte wat onthou word

Tydens die Britse Gedigtedagvieringe op 2 Oktober, word ‘n besonder interessante projek deur die Cambridge Universiteit van stapel gestuur. Dié universiteit het naamlik ‘n navorsingspan onder die voorsitterskap van Andrew Motion saamgestel met as opdrag om vas te stel watter gedigte almal in die kollektiewe geheue van die Britse volk vasgelê is …

In The Guardian se beriggewing word Motion soos volg aangehaal: “Had we been doing this research a hundred or even 50 years ago, the results would doubtless have been more predictable. Up until 1944, the memorisation and recitation of poetry was prescribed on the school curriculum, and children memorised certain ‘staple poems’,” het hy toegegee, maar vervolg dan: “But in the second half of the century, poetry learning became deeply unfashionable within education – the baby thrown out with the rote-learning bathwater. And yet, many people do still know a poem or two, for all sorts of reasons. So that’s what we’d like to know: what are the poems that live in people’s memories, at this moment, in October 2014?” Volgens die komitee gaan dit nie oor wat die betrokke gedig beteken nie, maar veeleer oor watter waarde die bepaalde gedig vir jou inhou en wat dit vir jóú beteken.

Interessant, inderdaad. In ‘n groot mate herinner dit dus ook aan ‘n soortgelyke projek wat enkele jare gelede hier ter plaatse deur Leserskring van stapel gestuur is; behalwe t daar toe op soek gegaan is na die 100 mees gewilde gedigte in Afrikaans … Aangesien die publiek hul mees gewilde gedigte moes nomineer, kan dus aanvaar word dat dié gedigte deel vorm van die Afrikaanse poësieliefhebber se kollektiewe geheue, dog met Andrew Motion se voorbehoud ten opsigte van die invloed wat vroeëre onderrigmetodes op die onthou van gedigte gehad het. Daarom dan ook dat daar – tot bepaalde kommentators se ontsteltenis – so min eietydse gedigte in dié uitverkore groep van 100 teenwoordig is.

Nietemin, Cambridge Universiteit se navorsingspan het reeds ‘n webtuiste, genaamd Poetry and Memory,  tot stand gebring. Besoek dit gerus indien jy daaraan wil deelneem.

Hieronder, by wyse van huldeblyk ter viering van die digter se 100ste verjaarsdag op 29 September vanjaar, volg ‘n gedig wat beslis deel vorm van die Afrikaanssprekende se kollektiewe poësiegeheue.

***

Sproeireën

 

My nooi is in ‘n nartjie,
my ouma in kaneel,
daar’s iemand..iemand in anys,
daar’s ‘n vrou in elke geur!

As ek ‘n stukkie nartjieskil
tussen my vingers buig of knak,
breek uit die klein sproeireën
wat geurend om my hand uitsak,
die boorde weer van Swartfoloos
en met die nartjies om my heen
weet ek hoe dat ‘n vrou kan troos.

O my nooi is in ‘n nartjie,
my ouma in kaneel,
daar’s iemand…iemand in anys,
daar’s ‘n vrou in elke geur!

 

© D.J. Opperman (Uit: Die gewildste Afrikaanse gedigte, 2013: Human & Rousseau)

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •