Wicus Luwes. Dans en ander ritmes

“A bit like indoor windsurfing,” was my pêl se reaksie toe ek hom vra hoe hy die dans ervaar het. Die Engelse outjies in my omgewing het nie eintlik vas gedans nie, so dit was ‘n nuwe ervaring vir my pêl. Tydens ons studies het ons gereeld sulke ‘indoor windsurfing’-aande of dansaande by verskillende koshuise en funksies bygewoon. So ‘n funksie is ‘n wenresep om met die teenoorgestelde geslag kontak te maak: harde musiek en kerslig, sodat mense mekaar nie kan hoor praat nie en skerp lig nie die eerste oogopslag hoef te bederf nie.

Dans my na die liefde toe
deur Leonard Cohen (soos vertaal of miskien eerder herinterpreteer deur Koos van der Merwe)

Dans my na jou skoonheid met ‘n smeulende viool
dans my deur my vrese tot ek veilig by jou woon
vlieg na my toe soos ‘n duif, tel die olyftak op
dans my na die liefde toe, dans my na die einde toe

Wys vir my jou skoonheid waar getuies nooit kan kom
kom beweeg jou teen my soos hul maak in Babilon
stadig, lei my, wys my waarvan ek net grense ken
dans my na die liefde toe, dans my na die einde toe

Dans is eintlik ‘n bekende ding wat daagliks gebeur. Dit is ‘n plek waar musiek en mense ontmoet en mekaar probeer verstaan. Dit is die definisie van ‘n romantiese aand. Jy kan dit miskien die ontmoeting van twee tale noem en ‘n manier om met mekaar te resoneer. Koos van der Merwe se vertalings van Leonard Cohen se lirieke is werklik iets besonders. Ek geniet dit omdat dit my verras en omdat dit iets bekends weer nuut maak vir my. Van der Merwe het op ‘n manier met Cohen se musiek gedans en die musiek en lirieke met mekaar laat praat.

Ek luister ook ‘n rukkie gelede na Vers en Klank op RSG en hoor ‘n gedeelte van ‘n gedig uit Louis Esterhuizen se ‘die afwesigheid van berge‘. Dit gaan oor ‘n dans op ‘n ongewone plek of miskien eerder ‘n plek waar ‘n mens dit nie sou verwag nie. ‘n Dans breek miskien die ritme wat die dag aan jou oplê. Anders gestel: Dit is ‘n manier om jou ritme aan die dag op te lê. Die dag is in die meeste gevalle die dansleier en ons moet by sy dansritme inval. Dit is verfrissend as die mens vir ‘n kort rukkie die dansleier kan word en sy ritme aan die dag oplê.

Want in die afwesigheid van berge is die langpad ’n rit
deur eenselwigheid: alkant selfkant,
oraloor. Ongefokus jakkals jou gedagtes van bossie
na gat, sonder grensdraad
van kamp na klip in ’n Karoolandskap
met lyne
wat mense bind –

Die uitgerekte gorrel van teer en stof
die geknip-knip van skeefgedrukte telefoonpale
met wyebeentorings teen die rantjies
verder weg, die blinkgetrapte slakkespoor
van gedagtes aan treine
wat aanhou na-apertjie speel
met die pad.

Nog later trek julle in ’n laagte
by ’n grepie bome af vir koffie en roosterbrood
op ’n witgekalkte tafel
tussen stoeltjies en ’n vervalle drom
teen die stam
van ’n skaduboom –

Van ver sien julle ’n donkiekar hinkepink
naderkom, ’n smeersel beweging
op die stofstreep langs die pad. Is jy moeg? vra sy.
Bestuur. ’n Bietjie bene rek? Nee,
antwoord jy. Ek wil dans.
En jy dans met langbroek en sandale

in die beperkte ruimte tussen ’n oop motordeur
en boom: met jou linkerbeen effens geknak,
jou regterbeen na die horison uitgeskop, tolbos jy
al in die rondte met jou
bolyf skuins na vore en arms reghoekig
na ’n begrensing

uitgestrek.

Soos ’n drommedaris op verbeelde water
kom die donkiekar weldra by julle verbygeskuif –
op die voorbank, die egpaar
in sondagbeste: galant lig die heer sy hoed
en lag vir jou petalje
in die skadu

van ’n boom. Heita, my kroon, roep hy
en meteens resoneer alle lyne
om jou heen: die borand van die motordeur,
die donker strook bosse,
die wydgespreide takke van ’n boom,
die telefoondrade en spoorlyn
sonder trein

en met jou regterbeen steeds horisontaal
vou alle grense in
na waar jy brutaal steeds dans
en dans
en dans

met die waansin

 

Daar is ‘n plek en tyd vir alles. Vir die kleuters in my huis is die beste tyd om te dans, wanneer hul ‘n liedjie met ‘n ‘beat’ hoor. Ek hoor net ‘dans Pappa, dans’ by sulke geleenthede en so word ek ingesleep by kleuter dansbewegings en lekker skaterlag. In die motor hoor ek ook gereeld die ‘dans Pappa, dans’ en sien in die truspieëltjie die dansende arms en koppe wat op maat van die musiek beweeg. Dit bly ‘n voorreg om aan die dans van die lewe deel te neem.

Ek sien oud en jonk almal deesdae met oorfone in hulle ore rondloop. Ek sien mense wat die ritme met hul voet hou en ek wonder al meer of musiek ‘n individuele ding geword het. Miskien het Sony se Walkman van die 80’s musiek op ‘n manier persoonlik gemaak. Dit het nou gevorder tot MP3’s en musiek wat aanlyn aan ons opgedis word. Ek wonder hoe dans deur die individuele musiek beïnvloed word. Is dans iets vir ‘n individu of dalk iets vir ‘n groep? Het ons dalk elkeen ‘n ritme wat in ons ingebou is en ‘n liedjie wat in ons gedagtes speel?
Miskien moet ek ook vra hoe dans deur individuele musiek beïnvloed word. Party mense het ‘n passie om na dans te kyk. Ander weer het ‘n passie om daaraan deel te neem. Ek wonder of dansers ook ander dansers dophou en of hul net die musiek probeer interpreteer. Ek wonder hoe ‘n wêreld sou gewees het sonder daardie individuele ritmes en danse. Elke dans het ‘n spesifieke ritme – daar is ‘n vaste patroon vir ‘n Flamenco of ‘n Salsa. Individuele mense wat individuele danse interpreteer – geen wonder die lewe is so interessant nie.

Ek sit in die tandarts se wagkamer saam met ‘n groep mense en sien ‘n man se knie op en af beweeg. Eers dag ek hy is omgekrap of moeg gewag, maar die glimlag op sy gesig sê iets anders. Hy lees sy tydskrif aandagtig deur en beweeg sy knie op maat van musiek wat net hy kan hoor. Miskien het hy al ‘n kind of twee grootgemaak en gesus met daai knie. Die knie sus miskien outomaties al is daar nie meer ‘n kind daarop om te sus nie. ‘n Dame roep die man se naam en terwyl hy uitloop wonder ek hoeveel mense hul lewe se dansritme by die ritme van so ‘n Pa, Oupa, Ma of Ouma se knie dalk kry.

 

dans

dis net dansers
wat dans
sonder behoud
sonder beweging
sonder begeleiding

dis net dansers
wat dans
sonder dansbaan
sonder musiek

dans is ‘n vuur
in die harte van dansers

dit is net ‘n vuur

Bronne:
1. Esterhuizen L, Die afwesigheid van berge, Human & Rousseau, Kaapstad, 2014
2. Internet. http://paintingsforsale.me/images-painting/flamenco-dancer/flamenco-dancer-dance-series-ii-78376.jpg
3. Internet. https://beingsakin.wordpress.com/2011/11/04/he-who-would-teach-men-to-die-would-teach-them-to-live/
4. Van der Merwe K. Leonard Cohen in Afrikans

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •