Daniel Hugo gesels met Bernard Odendaal oor sy nuutste digbundel
Daniel, Takelwerk is jou vyftiende bundel eie gedigte as ’n mens jou debuut saam met drie ander digters in Brekfis met vier 34 jaar gelede in ag neem. Dit beteken ’n gemiddelde van amper een digbundel elke tweede jaar. Dit getuig van kreatiewe arbeidsaamheid, veral as ’n mens in ag neem dat jy deur die jare ook heelwat vertaalde werk, bloemlesingwerk, resensies en dergelike die lig laat sien het. Hou jy by ’n roetine wat jou kreatiewe skryfwerk betref? Of werk jy wanneer die begeestering daar is?
My Muse is besonder ongedissiplineerd; ek skryf wanneer iets my inval. (“Begeestering” is heeltemal ’n te groot woord vir my kreatiewe oomblikke.) En daardie iets wat my aanspoor is meestal die taal self – met ’n woordspel, ongewone rymwoord, prikkelende idioom, aforistiese frase, ensovoorts. Dan word dié inval uitgewerk en ’n konteks gegee deur dit te verbind met iets wat ek gehoor, gesien, gelees of selfs gevoel het. Emosie is die laaste ding wat my inspireer om ’n gedig te skryf. (Soms tog wel.) Die digkuns is vir my verstandswerk, ’n vernufspel met die taal en poëtiese vorm. In sekere gedigte veroorsaak dié spel wel ’n emosionele reaksie by die leser – en selfs ook by die digter! Maar die gevoelseffek van ’n gedig op die leser is nie ’n finale maatstaf vir die geslaagdheid daarvan nie. Vir my is poësie ’n produk van die brein, nie van die hart nie. En die brein beheer nie net emosie nie, maar begryp dit ook. Dit is die rede vir die poëtiese paradoks: hoe intelligenter die digter en die leser, hoe diepgaander is die emosionele werking van die vers. Maar ’n gedig kan ook geniet en waardeer word as suiwer vakmanskap. En – weer ’n paradoks – estetiese bewondering vir vakwerk kan ook ’n emosionele belewenis wees.
Onderwerpe wat dikwels in jou werk opduik, is weer in Takelwerk terug te vind: kennelik outobiografiese dinge, die (erotiese) liefde, religieuse vraagstukke, besinnings oor kunstenaarskap (en satiriserings van verskynsels en persoonlikhede in veral die Afrikaanse digkuns – meermale ook van jou eie werk en jouself!), die verganklikheidsbesef, bekommernisse oor die stand en toekoms van Afrikaans en ’n steeds sterker natuurwaardering en gepaardgaande ekologiese bewussyn. Die sosipolitieke betrokkenheid wat in jou vroeë bundels ook taamlik op die voorgrond was, daarvan sien ’n mens egter al hoe minder. In “Volkstem” uit hierdie nuutste bundel van jou word die koerant (met sy daaglikse nuus) selfs as iets vervloeks voorgestel, iets wat lesers se lewens verwoes. Het Daniel Hugo a-polities geword?
Dit is waar: vroeër, sê maar voor 1994, het ek my erg ontstel oor die politieke gebeure in die land. Ek het in ’n verligte sendingpastorie grootgeword sonder enige Nasionalistiese sentimente. (My pa was een van die min N.G. Kerk-predikante wat nie aan die Broederbond behoort het nie.) Toe ek in 1983 vir ’n jaar lank in België studeer het en verbanne boeke van Suid-Afrikaanse skrywers kon lees, het ek vir die eerste keer besef hoe drakonies die politieke sensuur in ons land toegepas word en watter polisiestaat dit in werklikheid is. My bundel Breekware vir die revolusie (1984) was die neerslag van daardie ontnugterende insig. (Vreemd of veelseggend genoeg het André P. Brink nie ’n enkele gedig uit dié bundel in sy Groot verseboek opgeneem nie.) Daarna het ek ook in ander bundels my enkele kere oor die landstoestand uitgespreek. Deesdae voel ek my as Afrikaner en blanke middelklasman minder verantwoordelik vir wat in die land gebeur. (En dit lyk of ons weer op pad is na ’n polisiestaat.) Ek kan die politieke karpatse van die ANC-regering met meer afstand, ironie en selfs sinisme aanskou. Dit is natuurlik ook makliker hier op die afgeleë Prins Albert waar ek nou woon. En dit is hier waar ek beleef dat baie mense nie koerant lees nie, maar wel die papier gebruik om sigarette te rol. Vandaar die gedig “Die Volkstem”:
ons lees nooit die koerant nie
nee, ons skeur hom aan repe
kolom vir giftige kolom
en vul dit met nog meer twak:
fyn tabak tussen die letters
gestrooi en styf ingepak
en, ja, dan rook ons hom
die ink laat ons longe brand
en oë traan, laat ons proes
en stik – die vervloekte koerant
wat lesers se lewens verwoes.
Die koerant verwoes nie net nie-lesers se gesondheid nie, maar ook egte lesers se lewens. Dit gebeur al hoe gereelder in Afrikaanse koerante met hulle onverantwoordelike en onetiese beriggewing. En dié slagoffers kom dikwels uit die gemeenskap wat die koerant veronderstel is om te dien. Dit maak my woedend dat ervare joernaliste by koerante vervang word deur jongmense wat dan sonder algemene kennis, lewenskennis of taalkennis vir ons geradbraakte nuus en onbekookte opinies opdis.
André P. Brink, wat onlangs oorlede is, was een van die voorste eksponente van betrokke letterkunde in Afrikaans. “Poetry makes nothing happen” (’n aanhaling uit W.H. Auden se werk) is die titel van een van die gedigte in Takelwerk – hoewel die gedig grappig van aard is. Kan digkuns die wêreld verander?
Digkuns in die vorm van politieke en religieuse liedtekste kan die wêreld verander. Liedere bereik ’n veel groter (selfs internasionale) gehoor, en die treffendstes word deel van mense se woordeskat en bepaal hulle lewensuitkyk. Die kombinasie woord en melodie kan ’n kragtige opwek- en selfs opsweepmiddel wees. Poësievoorlesings op radio en vanaf verhoë bereik meer mense as gedrukte gedigte, maar dit is meestal ’n geval van by die een oor in en by die ander een uit. Goeie, moderne gedigte is dig aan betekenis en word in die eerste plek vir die aandagtige en opgeleide oog geskryf. Die ware poësielesers vorm so ’n klein breukdeel van die stemmassas dat hulle geen meetbare effek op die alledaagse, gruwelike gang van sake kan hê nie.
Tog sal dit verkeerd wees om jou as ’n “onttrokke” of maatskaplik onbetrokke digter te bestempel. Soos gesê, is besorgdheid oor Afrikaans en oor die mens se impak op die natuur temas wat ook in hierdie bundel van jou figureer. Trouens, ’n gedig soos “Literatuurgeskiedenis” is ontstellend om te lees. Is jy pessimisties oor die toekoms van Afrikaans?
Ek is bekommerd oor Afrikaans, ja. ’n Taal sonder politieke en ekonomiese mag is gedoem as kultuurtaal. As spreek- en singtaal is Afrikaans lewenskragtiger as ooit, maar dit is nie die punt nie. Die status van ’n taal word bepaal deur die hoeveelheid “hoër funksies” wat dit vervul. Afrikaans is vinnig besig om terrein te verloor in die onderwys (veral by tersiêre instellings), handelswêreld, regswese, die gedrukte en elektroniese media. En die gedrukte boek verteenwoordig vir my nog steeds die fondament én toppunt van enige kultuurtaal. Miskien moet ek maar volstaan deur “Literatuurgeskiedenis” aan te haal:
in ’n tweedehandse boekwinkel
– as liefdadigheidsorganisasie bedryf
deur die kerk – ontdek ek
Uys Krige se eerste digbundel
uit 1935, opgedra aan ene
Gideon Uys en geteken
deur die blonde digter-troebadoer
ek vermoed die boek kom uit
John Kannemeyer se verstrooide
nalatenskap en koop dit as bewys
van my liefdadigheid teenoor
’n ongeliefde man, my eerste
mentor, my vriend en vyand
hy was los van tong maar nooit
nalatig met sy biblioteek nie:
rye gealfabetiseerde swye
hierdie boek breek my hart – John
was die grootste van ’n Gideonsbende,
bewakers van die gedrukte woord,
nou uitgedun tot snuffelaars
tussen stowwerige rakke, skamel
versamelaars van ’n taal se ellende
Die vreugde wat jy uit huweliks- en natuurliefde put, vind in Takelwerk neerslag in twee reekse gedigte: die een oor en teen die agtergrond van die Groot-Karoo, waar jy en jou vrou Marlene ’n huis besit (op die dorp Prins Albert); die ander oor twee bome op die erf van julle tweede woning, naamlik in die woonbuurt Stellenberg by Durbanville. Dit lewer van die genietlikste digkuns op waarvoor ’n leser kan wens. Dit blyk dat die bundeltitel sy oorsprong in (sekere van) hierdie gedigte het. Hoekom het jy dié woord uitgesonder vir die ereposisie van bundeltitel?
Daar is ’n Khoi-spreekwoord wat sê ’n vrou is ’n werf. Saam met Marlene het ek twee werwe ryker geword! En albei figureer in my nuwe gedigte, hoewel die meeste gedigte oor die “Stellenbergse eik” handel. Die titel slaan in die eerste plek op die kaal wintertakke van die akkerboom wat vir my soos die takelwerk van ’n seilskip lyk. Daarom het ek ook gevra dat Marlene se foto’s van dié manjifieke boom op die voor- en agterplat van die bundel gebruik word. Die derde gedig in die reeks “Stellenberg se eik” handel oor haar liefde vir die boom:
voor ek jou geken het, was jy die eensame
dokumenteerder van sy vier seisoene
met honderde foto’s – jy weet elke jaar
watter blaar die eerste uitbars en
watter een die heel laaste laat los
om geluidloos saam met die akkers
tot kompos te vergaan – dit alles is geargiveer:
eers op film, toe digitaal, maar veral
in die smal jaarringe van jou hart
Maar die titel Takelwerk is ook bedoel as ’n literêre verwysing na D.J. Opperman se “Digter” waarin hy die maak van ’n gedig beskryf as die bou van ’n skippie in ’n bottel “wat groei tot boeg en mas / en takelwerk”. Hy praat ook van “stellasies vers”. Elke gedig self is ’n taalkonstruksie, maar so ook die bundel as geheel. Die titel is dus eintlik ’n huldeblyk aan Opperman wat met sy poësie my lewe onmeetlik verryk het. Takelwerk bevat ook ’n eggo van ’n vorige bundeltitel van my, naamlik Monikkewerk. Albei titels sê iets oor my opvattings van die digkuns.
Die reeks van 38 gedigte oor die akkerboom vorm ’n soort mosaïek in die trant van N.P. van Wyk Louw se “Klipwerk”, wat met dié elliptiese twee reëls open: “dat akkers op die sinkdak val / en vye op die ringmuur breek”. In gedig XIX verwys ek pertinent na akkers wat op ’n sinkdak val, as ’n erkentlike kopknik na Van Wyk Louw. Anders as in Louw se reeks oor die wêreld van sy Sutherlandse jeug waarin natuur én mens betrek word, skryf ek byna uitsluitlik oor die dierelewe (veral voëls) in en om en onder die akkerboom.
Ek het in 2013 ’n ernstige operasie ondergaan en ses weke lank in die bed deurgebring. My kamervenster op die tweede verdieping van ons huis het as ’t ware in die akkerboom oopgemaak, en ek het genoeg tyd gehad om die mikrokosmos wat deur die boom geskep word te bestudeer. Dit is ongelooflik hoe ryk die natuurlewe in daardie voorstad van Kaapstad is.
Jy benut “opvallend” digterlike boumiddele en instrumente in jou werk – die soort “gedissiplineerde versifikasie” waaroor Marlene van Niekerk dit het in die kommentaargedeelte van ’n onlangse Versindaba-bloginskrywing deur Tony Ullyatt: woordspel en uitbuiting van betekenismeerduidighede; ironisering en paradoksering; sterk klank- en ritmiese gevoeligheid; vindingryke, verrassende en raak beelding wat ook tot hegte samehang in ’n bepaalde gedig deurgewerk is; ensovoorts. Waarom dig jy só? Of is dit geen bewuste besluit nie?
Ek onthou dat D.J. Opperman in my derde jaar op Stellenbosch Breyten Breytenbach se die ysterkoei moet sweet met ons behandel het. Al wat my van daardie gemompelde lesing bygebly het, is die uitspraak dat die soort vrye vers wat Breytenbach skryf sonder ’n begin, ’n middel of ’n einde is. Die gedig kan op enige willekeurige punt begin en net so onnoodwendig eindig. Wat Opperman nagelaat het om te sê is dat Breytenbach se gedigte juis nie afgeronde eenhede is nie, omdat dit die onderdele vorm van een groot, uitdyende poëtiese universum waarvan nóg die oorsprong nóg die slot in sig is. Breytenbach bou nie “stellasies vers” nie, hy skep eindelose konstellasies waarin sterre uit niks ontstaan, helder skitter en weer tot niks vergaan of in ander vorms voortbestaan.
My gees duisel voor die ewigheid; ek soek vashouplek in die hier en nou. Die takelwerk van vaste versvorme, van afgeronde artefakte, laat my veilig voel. En my groot voorbeeld is die einste Opperman. By hom het ek veral die uitdagings en moontlikhede van die Persiese kwatryn met sy aaba-rymskema leer ken. Die beste opstel oor die kwatryn wat ek ken, is deur Opperman geskryf (opgeneem in sy essaybundel Wiggelstok.) Dit het my by Omar Khajjam uitgebring en uiteindelik by my vertaling van Die roebaijat. Ek kon my ook verdiep in Opperman se hantering van die sonnetvorm toe ek my M.A.-verhandeling oor sy “Brandaan”-siklus geskryf het. Selfs die vyfreëlige limeriek, wat met sy aabba-rympatroon as ’n soort uitgebreide Persiese kwatryn beskou kan word, kom by Opperman voor in sy reeks “Kaapse draaie”. Wat ek van vormdissipline en metafoorgebruik weet, het ek by hom geleer.
Hoewel jy heelparty kere in jou oeuvre godsdiensvraagstukke aanraak, en jy blykens ’n gedig soos “’n Kwessie van klem” te doen het met die spook van ’n “Calvinistiese gewete”, sal dit waarskynlik verkeerd wees om jou as ’n religieuse digter te bestempel. Jy skryf, aan die einde van ’n reeks gedigte wat met ’n stuk siektegeskiedenis van jou te doen het, dat daar “Geneeskunde” in versoening met die aarde en “met God en sy talryke goggas” skuil. In “Sy paaie en sy pyn” (opgedra aan Tom Gouws, wat in sý bundel Syspoor “onskynheilige berispinge” aan jou adres gerig het) is jy egter bevrees dat “Tom die Rymer” dalk voor ’n Hemel te staan mag kom waarvan “die Hekke toe en die Interkom stom” is. Het jy lus om op hierdie opmerkings van my te reageer?
’n Mens kom nooit los van jou opvoeding nie, selfs al rebelleer jy daarteen. Daarom noem ek myself ’n ongelowige Christen, met die Calvinisme en die Bybel as die onuitwisbare intertekste van my bestaan.
Tom Gouws het destyds ’n hele reeks gedigte onder die titel “Dwaalspoor” teen my gelanseer ná die verskyning van my bundel Verse van die ongeloof (1989). Brink het een van Tom se lawwe gediggies uit dié reeks in Groot verseboek opgeneem. En ek het gedink dis hoog tyd om ewe laf te reageer:
Tom die Rymer het ’n hemelse Tom-Tom:
hy ontwyk al die breë weë brom-brom
en as hy – sowaar – met ompaaie aankom
is die Hekke toe en die Interkom stom.
Die waarheid is natuurlik dat ons doodgewoon nie weet waar ons vandaan kom en waarheen ons gaan nie. Die enigste alternatief is redelose geloof – iets waarvoor ek nie kans sien nie. Ek beskou die Bybel as die grondslag van die Westerse beskawing; as jy nie die Bybel ken nie, kan jy jouself nie ’n opgevoede Westerling noem nie. Maar ek kan nie, soos gelowige Jode en Christene, die Bybel as ’n GPS na die ewigheid beskou nie. Die openingsvers van Takelwerk verwoord my ingesteldheid oor dié aangeleentheid só:
vanaf daardie oomblik van die oerknal
wemel die heelal van die seine
en die groot vraag bly: is dit Syne?
dis die kosmiese kolk waarin ons val.
Die oerknal is ewe onverklaarbaar as die moontlikheid van ’n God wat iets uit niets skep.
Kom ek steek my nek uit oor die indruk wat jou poëtikale aanslag op my maak – dan kan jy afkap of kopdraai soos jy meen nodig is! Hoe jy jou digterlike vernuf vrywaar van selfingenomenheid, is bewonderenswaardig. Die humor, al is dit dikwels sardonies getint by jou, en die selfironisering help reeds baie; dit werk innemendheid in die hand, meen ek. Daarby werk die woordkunstigheid, die belangrike rol wat poëtiese middele in die tematiese verkenningsproses speel, die gevaar teë dat die meermaals outobiografies geaarde onderwerpsmateriaal alte indiwidueel-persoonlik raak. Die aandag word ewe veel gevestig op die wyse van segging as op wat onder woorde gebring word. Dit verteenwoordig ten diepste ’n strewe na noodwendigheid of onvervangbaarheid van segging; juis die mees alledaagse van belewenisse verkry sodoende die waarde van iets bestendigs, van iets minder opsegbaars as die alte toevallige.
Dit, Bernard, is ’n mondvol! Ek wil net op een aspek reageer, naamlik die aanbieding van die “ek” in die poësie. Daar is digters wat totaal onpersoonlike gedigte skryf, soos Wilma Stockenström, maar die meeste digters is wesenlik selfgesentreer. Om te keer dat dit hinderlik selfingenome en selfbehep raak, is ironisering noodsaaklik. ’n Bietjie selfspot kan ook nie kwaaddoen nie. Ek weet dat humor in die digkuns deur sommige akademici met agterdog bejeën word, maar dit is hulle verlies as hulle die poësie so wil verskraal.

Takelwerk. Deur Daniel Hugo. 2015. Kaapstad: Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-6925-7.
“Literatuurgeskiedenis” is inderdaad ‘n ontstellende gedig.
Ek het die bundel verslind! Baie dankie!
Ek sou graag wou vra oor die ontstaan van die vers “Psigopaat”. Daar is ‘n implisiete verwysing na die biologiese onderbou van die toestand, is ek reg?