Daar is nog ‘n paar woorde in die pot oor. Skep vir jou. Daar behoort ook nog ‘n paar letters iewers rond te dryf as jy bereid is om ‘n bietjie te krap. Daar is rys in die klein potjie langsaan die vuur.
Rys, vleis en aartappels
Rys, woorde en letters
Rys, sinne en paragrawe
Rys, reis en ruis
ek berei ’n slaai voor die oë van my vader
ek berei ’n slaai voor die oë van my vader watse blare
vra hy watse gras watse klein groen kiewiete
krakeel daar onder in die vlei van lig en van genade
hy blaai deur die jare ’n wit servet om sy nek en tree met adel kuite
deur die toppe van wildemosterd waarin die blou kieriekoppe
van tarentale roer en die someravond bruin op die stellasie sit
en die horlosiegrasse afdraai in die stof
in hierdie kuil van skadu sê my pa en hef die skaal op in sy hande
sit die klein goue blaarvouer in die krip van die palmiet
te pierewiet vou my ook so o heer in u alsontsiende kroes
maak my soet hoor my dank laat hierdie groen kos geseënd wees
aan ons gees my pa eet blare my pa eet gras en praat in tale
(Uit Kaar deur Marlene van Niekerk.)
Die verlore kuns van rys maak
Is dit ‘n kuns om rys te maak? Die probleem met iets wat jy gereeld doen, is dat dit nie meer as ‘n kuns gesien word nie. Dit word die doodgewone. Dit is wel ‘n kuns vir die persoon wat nie weet hoe om rys gaar te maak nie. Rys vul die bord of word die basis waarop al die ander kos bedien word. Ons kry ‘n bietjie rys met elke happie kos in. So is dit ook met woorde.
ii ek
ek eet en drink die aarde
ek lyf haar daardeur in
neem haar so in besit
ek bevestig my afhanklikheid van haar
ek maak jolyt van my ondergang
deur die smaaklike Boerekosresepte
ons groot trotse kultuurbesit
ons Boerewors ons biltong
pannekoek koeksisters
en afval
ek reinig my
en gee die giftige oorskot
– voor sy my heelhuids terugvat –
aan die aarde terug
(Uit Karnaval en lent deur TT Cloete, bg gedig ‘n deel van “ dronk gedraai”. )
Wat is ‘n huis sonder ‘n moedertaal?
By die Universiteit van Kwazulu-Natal het hul een pot verwyder om sodoende ‘n groter gedeelte van die rys tussen die ander potjies te verdeel. In die kombuis praat die kokke daaroor dat hul moontlik ook ‘n pot kwyt gaan wees by die Universiteit van die Vrystaat en Noordwes se PUK-kampus. Die kokke is erg ontstoke oor hoe hul geliefde kombuistaal met minagting uit die vuur gehaal word. As die vleisvreters net sal besef dat daar genoeg rys vir al die potte is.
om rys te kook
resepte praat van
koppies meel en knippies sout
dit praat oor skil en druk
en knie en roer
resepte sê niks
oor skuurborsels en krapmerke
en handvatsels
wat blase brand nie
resepte sê niks oor wat alles
onherroeplik kan verander
in die tyd wat dit neem
om ‘n handvol rys gaar te maak nie
Gekookte Rys
250ml (1k) rou rys
1 liter (4k) water
5ml (1t) sout
1. Spoel die ryskorrels goed af in koue water.
2. Verhit die water tot kookpunt, voeg sout by en voeg dan rys stadig by terwyl water vinnig kook.
3. Kook 15 to 20 minute vinnig en gooi dan die water af deur ‘n vergiettes. Spoel die rys twee keer met koue water af.
4. Stoom die rys sowat ‘n uur in die vergiettes oor kokende water en roer dit af en toe met ‘n vurk om.
(Uit Kook en Geniet deur SJA de Villiers)
Hier is my woorde. Neem, eet, dink daaraan en weet dat dit opgedis word met jou keuse van rys, tjips of gemengde groente
“Please, sir, I want some more”
– Oliver Twist deur Charles Dickens
Bronne:
1. Cloete, T.T. Karnaval en lent. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers, 2014
2. de Villiers S.J.A. Kook en Geniet. Kaapstad: Human & Rousseau, 1992
3. van Niekerk, M. Kaar. Kaapstad: Human & Rousseau, 2013