In memoriam: T.T. Cloete (31.05.1924 – 29.07.2015)

Dit is met absolute leedwese dat ons moet bekend maak dat T.T. Cloete, een van Afrikaanse se mees geliefde digters, vanoggend in die ouderdom van 91 oorlede is. Volgens Johan van Zyl, woordvoerder van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, is die digter Sondag reeds in die Mooimed-hospitaal opgeneem en is hy vanoggend aan natuurlike oorsake oorlede.

Prof. Theunis Theodorus Cloete was nie net as bekroonde digter bekend nie, maar ook as Bybelvertaler, letterkundige en wetenskaplike navorser wat lank verbonde was aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus se skool vir tale en skryfkuns.

Tydens ‘n onlangse onderhoud met Marlies Taljard, het die digter hom soos volg uitgelaat oor die digkuns: “Die probleem van gedigte skryf, is dat die gedig jou oorweldig. Soos Sheila Cussons en MER, Shakeseare en Schiller, en talle en talle digters vertel, jy kies nie die gedig nie, die gedig kies jou. Dieselfde gebeur ook maar met die leek: gedagtes, emosies, ens. kom hoofsaaklik onwillekeurig en onbeheers by elkeen van ons op, ook by die straatveër; net, by die digter kom dit in ‘n bepaalde struktuur op. Ek haal Jan Swanepoel graag aan: ‘n gedig word nie beplan nie maar as hy klaar is, het hy ‘n plan. Gedigte daag soms teen jou sin op, as geskenk, en ‘n mens gooi nie ‘n geskenk weg nie, jy publiseer dit, want die gedig daag by jou op ter wille van iemand anders. Ek het dit pobeer duidelik maak in Die Ander Een is Ek. ‘n Mens skryf nie gedigte ter wille van jouself nie. Jy is dus ‘n medium, ‘n tussenganger, en jy moet die gedig gehoorsaam. Shakespeare is die sekretaris van Hamlet, sê Nijhoff. Vir die oningewyde mag dit gek klink, maar dit is eg so. Ek kry teen my sin ‘n gedig in, wat dalk kan help om ander mense uit hulle voeë te ruk, soos dit jouself uit jou voeë ruk. Lewe liewer riskant as om elke dag donker op te staan, badkamer toe te gaan, aan te trek, werk toe te gaan, donker tuis te kom, te eet, te gaan slaap, en soos Bolero van Ravel elke keer weer voor te begin en aan te gaan in ‘n onstuitbare kringloop, dan af te tree, dood te gaan met ‘n muf brein en verskrompelde hart. Gedigte dwing ‘n mens tot stilstand.”

As huldeblyk plaas ons ook onderstaande gedig.

 

*

foto van vrou by die see 1966

 

geprofileer in ‘n diep leunstoel, bene gekruis,

afgetrokke en diep agteroor in ‘n strandhuis

sit sy in die vliesdun emulsie op dun karton

in ‘n wit bloes en broekpak by die venster in die lig

van die glansende see en geel wasige donsson

mymerend en byna deursigtig.

toe was sy nog veilig. hoe

veilig was sy toe

sy sit aandoenlik ingedagte en sereen

met die weerkaatsing in haar agteroorgesig

van die see sit sy in een hand ‘n skuins glas

vingers aan die pols van die ander een

hang bo die teetafelkleed. die vingerpunte tas

effe aan die bokhaarmateriaal. sy kyk dromerig

na haar vingers. die sigbare

stilte swyg. die oureool in haar hare

gloei sag. gevoelige vingerpunte van haar hand

hang tastend af aan haar geknakte pols hoog

bo die skerp stut van haar elmboog.

elders, ver, baie ver veraf elders doenig

is die kanker met ‘n ander iemand

wat sit in die vliesdun emulsie op dun karton

in ‘n broekpak by die venster in die lig

van die blink see en geel wasige donsson

dromerig mymerend en byna deursigtig

skimmig geskryf met lig

 

© TT Cloete (Uit: Onversadig, Tafelberg, 2011)

Bookmark and Share

6 Kommentare op “In memoriam: T.T. Cloete (31.05.1924 – 29.07.2015)”

  1. Nicolette van der Walt :

    So ‘n groot verlies. Rus in vrede, liewe digter.

  2. marlies taljard :

    Rus in vrede, geliefde Hefaistos!

  3. carina van der walt :

    Hefaistos? Seun van Hera! Sonder tussenkoms van Zeus of enige ander god uit die Griekse Oudheid het sy aan hom die lewe geskenk. (Herken ek spore van ons christelike geloof?)So lelik en kreupel was Hefaistos dat Hera hom vanaf die berg Olympos in die see gegooi het, maar waar hy gered is deur Thetis. In sy volwasse lewe sou Hefaistos nog ‘n keer van die Olympos in die see gegooi word. Hierdie tweede keer deur Zeus omdat hy tog nog steeds die kant van sy moeder Hera bly kies het. Ek verstaan jou vergelyking, Marlies. STERKTE met die groot verlies.

  4. Hier waar die sigbare later nie meer lewe nie, leef die Woord steeds en word die nawoord ewig.

  5. Heilna du Plooy :

    Met die afsterwe van prof. T.T.Cloete op Woensdag 29 Julie 2015 het daar ’n hoë boom geval, vir sy familie, sy vriende, vir die Universiteit en vir die dorp Potchefstroom, vir die literêre wêreld in Suid-Afrika en vir Afrikaans.
    T.T. Cloete was onteenseglik ’n merkwaardige figuur, ’n veelsydige mens. Hy was vir dertig jaar lank professor in Afrikaans en Nederlands en Algemene Taal- en Literatuurwetenskap aan die PU vir CHO, en sy wetenskaplike ingesteldheid het hy regdeur sy lewe behou.
    Op 56-jarige leeftyd het hy as digter gedebuteer en het tien digbundels (plus twee ongepubliseerde manuskripte) ’n drama en kortverhale gepubliseer. Tussen 1991 en 2001 het hy gewerk aan die nuwe omdigting van die psalms wat tans in kerke gebruik word. Daarby kom die indrukwekkende boek Die ander een is ek waarin hy sy filosofie oor die lewe en die kuns uiteensit.
    Tog gaan dit nie net om wat ‘n mens doen nie, maar juis en veral oor hoe jy dit doen. Dit is dan ook vir die kwaliteit, die styl en die aard van sy werk en lewe wat T.T. Cloete onthou sal word. Hy word deur ander digters beskryf as ’n “poet’s poet” vanweë die tegniese voortreflikheid en diepgang van sy poësie, maar uit sy werk blyk ook die wye belangstellingsveld wat hy gehad het.
    Theunis Cloete het vriendskap gekoester en mense na hom toe aangetrek. Daarby was ’n hy ’n diep gelowige mens wat alles in sy lewe, die pyn, die lyding, die smart en al die vreugde gesien het as dinge wat uit die Hand van God kom. Vir ander was hy ’n begaafde mens, ’n ware intellektueel, maar hy het homself in die eerste en laaste instansie as ’n buitengewoon geseënde mens beskou.

    Heilna du Plooy
    29 Julie 2015
    Potchefstroom

  6. engemi ferreira :

    Woensdagoggend, in ‘n bussie op pad tussen Nelspruit en Bloemfontein, hoor ek die nuus. So onverwags was dit, dat my asem onwillekeurig vinnig en hoorbaar na binne ruk. Die drywer kyk my aan asof hy bang is ek sterf ook langs hom. En vir die res van die rit mymer ek oor asem ~ iets onafhankilk van die res van my lyf of denke ~ wat op ‘n manier iets meer moes weet as ek. Natuurlik is alles wat hier bo verduidelik en gegee is as huldeblyk aan TT Cloete deel van ons aller inligting: sy grootsheid, sy besondere digkuns, sy onverskrokke gees, sy lyding, sy vreugde, die wonder gedig oor sy vrou wat ek nou vir die eerste keer gelees het hoewel daar vele ander is, die reikwydte van sy arbeid. Maar waarom het my asem skok geregistreer by die aanhoor van die naam gekoppel aan die doodsberig – waarna ek met ‘n halwe oor geluister het, as ek geen persoonlike kennis het van die mens met die naam TT Cloete nie. In die mymering word dit vir my duidelik hoe daar van buite af ook in ons geskryf word. Hoe ons onbewustelik informasie keur volgens inname of verwerping. Hoe ons lewens daagliks ‘verander word’ (sien Phillip de Vos Die boek wat my lewe verander het) deur wat ons hoor en toelaat in die dampkring van ons asem. Natuurlik het my asem verstaan, ek ken nie die man nie, maar deur die genade van allerlei dinge: hierdie forum, ook ander, berigte in die media, publikasies van digbundels, gesprekke oor digters, skrywers, hoe mense wat in elkeen se eie bewussynsaard werk, die binnegoed skep waarmee asem sigself ophou, as ek dit so mag stel.
    Die totaal onafhanklike onder/binne/bo/alsomvattende deel van elkeen van ons se eie bestaan, ons asem, weet meer van ons af as waarvan ons bewus is. Hoe anders sou dit vir mý asem moontlik wees om te kon reageer soos wat sy het. Baie dankie ook vir hierdie eerbetoon aan die man wat my en waarskynlik heelwat ander na ons asems laat snak het met die uitblaas van sy eie …
    Met groot respek voel ek myself eweneens geseënd, deur die ken en weet van sy bestaan. Dankie Heilna vir hoe fyn jy, wat hom goed geken het, sy nagedagtenis laat voortleef: Rus in vrede TT Cloete

  •