Meimaand. Maand van moeders. Eerste wintermaand van die jaar: die lig is minder herfs; ’n bleekheid sypel in. Tog is daar ’n intensiteit wat deur die winterlandskap opgeroep word; ’n binne-leef of hibernasie.
Gedigte wat gewoonlik betrekking op Moedersdag het, word vanuit die invalshoek van die digtende kind gekies: ’n oorbekende voorbeeld hiervan is Antjie Krog se ‘Ma’. Dekades na hierdie gedig gepubliseer is, word menige Afrikaanse ma’s steeds met ’n lomp voordrag hiervan tydens ontbyt-in-die-bed gekonfronteer. Sommige gló Seuna of Sus het dit self geskryf (dalk met behulp van ’n kreatiewe onderwyseres?) en lees dit dan ook so voor aan enigiemand wat lyk of hulle belangstel.
Nietemin. ’n Minder bekende invalshoek vir Moedersdag is die moeder-as-digter. ’n Verdere demarkasie vir hierdie blog is die verlies van ’n kind, maar nie noodwendig net aan die dood nie.
Dié spesifieke konteks veronderstel dat die vrou as moeder nie slegs lewe aan die kind skenk nie, maar terselfdertyd die baarmoeder (ruimte van verseëlde bewaring) word, dus die moeder wat baar. Die pre-natale proses is verwikkeld, nie net wat die vroulike liggaam aanbetref nie, maar ook op liminale vlak: uiteraard is die fetus nie ’n blote vergroeisel van die uterus nie. Hierdie ontwikkelende baba deel ’n intieme spasie met die moeder wat as voedingsbron optree.
Die fetus betree dus nie net die fisiese ruimte van die moeder se liggaam nie, maar algaande hy/sy groei, word die moeder meer ‘ge-heg’ aan hierdie wordende wese. ’n Hegte band dus, op liggaamlike, liminale en psigologiese vlak.
Wanneer ma en kind van mekaar ‘verlos’ word (dalk ’n donker profesie wat dui op die Sturm und Drang van die tienerjare?), word ’n nuwe limen geskep: die baba moet gebore word, maar betree nou die gevaarlike buitewêreld, die ‘on-baarmoederlike’ ruimte. Fisies kan die ma die baba nie meer akkommodeer nie; hy/sy moet by die moederlike boetiekhotel uitboek (hopelik vyfster-gehalte, met aanbevelings). Die moederlike matriks word gesluit, vir nou. No new bookings for a while.
Hoe ervaar moeders-as-digters hierdie proses en hoe vertolk hulle verlies aan ’n kind, op liggaamlike, psigologiese en liminale vlak?
Eunice Basson se “Haar oë het jy nooit gesien nie” (65) verbaliseer die opstapeling van jare se emosionele pyn na ’n stilgeboorte: daar is geen herinneringe nie, net die ‘bos swart hare’, ’n ‘Savlon-walm’ en ‘vergeelde babygrows’ tussen ‘kamferblokkies’:
Haar oë het jy nooit gesien nie,
net die bos swart hare en klam gespartel
om by haar eerste asem uit te kom –
anders sou jy haar nooit laat gaan het nie.
Klokslag elke jaar
meld daardie dag hom aan,
hoor ek jou praat oor die Savlon-walm
en opgestapelde deppers
asof kraamsusters ’n Kersspel
vir die kindersaal voorberei.
Ek weet hoe jy jou telkens
haar eerste opstaan
teen ’n tafelpoot verbeel,
die kind in ’n luier se loop-en-val;
haar ouma wat vars kamferblokkies
tussen vergeelde babygrows wegpak;
hoe sy sou huiwer op haar eerste skooldag.
Was dit dalk sy in die mall vandag
wat iets oerbekends in jou wou eien
voordat sy twyfel, wegkyk,
en jy wegstap in ’n ander rigting.
Alhoewel die programgedig (“Nico”) van Petra Müller se Obool ter herinnering aan haar broer, Nico, is (wat in 1961 tragies verdrink het), stippel sy hierdie verlies dermate uit in “daar waar jy woon, is baie lig” (6), dat hierdie gedig ook op die vlak van moederlike verlies gelees sou kon word:
nie in die stilte
met middernag
of by die laaste gelui
sal ek jou soek nie
swael wat in die hoë koepel swenk
maar net voordat dit stil word
in die keerweer van die klepels
en voordat die spinet gaan staan
fladderende hart in ’n woud van klip
jy ruis in die triforium
en jou liggaampie snoer ’n ewigheid
tot jy die sonstroom tref
daar waar jy woon, is baie lig
Die konstante vrees van ’n ma om ’n kind binne die moederlike spasie te beskerm, word tematies ondersteun in Rika Cilliers se Vlier wat aan haar seun, Mauritz, opgedra is. Die ‘ek’ in ‘Klinker’ (30) verbaliseer ’n ongemak of on-geborgenheid: die kind is nie meer ’n klippie om te vertroetel nie, maar eerder ’n berg wat eendag van haar gaan lostuimel. Let op die verband tussen ‘bêresakkie’ en die idee van die geborgenheid van die baarmoeder asook ‘modderskoot’ wat op ‘moederskoot’ sinspeel:
Kindjie wat uit my gekerf is
soos ’n beeldjie van sandsteen
’n klinkertjieklip: ek wens
jy was klip om te hóú;
jy is palmpas soos ’n troetelklippie
en brand jy ’n gat in my bêresakkie
stoot iemand jou dalk voor die voet
dat jy val; en wikkel jy jou dieper
in die modderskoot van die land in,
laat die wind-en-weerjare stof
om jou nesskop tot jy berg word …
dan nóg tuimel jy eendag rots oor
die afgrond selfs klippe
is nie geborge nie.
Die leënes-sindroom word deesdae meer as net ’n blote verskuiwing van die volwasse kind uit die ouerhuis ondervind. In die volgende drie gedigte ervaar die moeder-as-digter ’n spesifieke liminale leegte deur kinders wat geïmmigreer het of kontrakwerk oorsee doen. Die ma moet haarself daarmee versoen, maar hierdie proses is altyd ambivalent. Susan Smith verwoord hierdie afstand tussen moeder en dogter in ‘stukkie vir stukkie’ (43):
ek voel hoe ek jou
stukkie vir stukkie
tussen kontinente verloor
hoe ek die onthoue
stukkie vir stukkie vergeet […]
Om ’n dogter aan die vreemde af te staan, begrens die moeder se taal: in die laaste strofe word hierdie verlies onontsyferbaar:
ek steek die laaste woorde wat ek wou sê
agter in my mond weg
ek raak aan die slaap
terwyl ek wag
en weet
dat ek môre nog meer
as vandag van jou sal verloor het
Hierdie liminale leegte kan nie oorbrug word nie; die volwasse dogter krap nou haar eie potjie wat buite die moeder wat agterbly se ervaringswêreld val. Selfs al sou sy haar dogter in die vreemde besoek, is die naelstring vir ewig geknip; ’n nuwe liminaliteit geskep.
Marlise Joubert se ‘expat. Vir M’ (64) eksploreer moederlike verlies deur metafories met die opgaar van die geliefde dogter se besittings om te gaan. Die kamer waarbinne die ‘jy’ van die gedig haar fases van ontwikkeling tot jong vrou beleef het, is steeds deurdrenk van herinneringe. Die kamer sou ook as ’n baarmoeder beskou kon word wat die tasbaarheid van die dogter beskerm en ‘opgaar’. Daar is egter ’n paradoks verbonde aan hierdie proses: alhoewel die dogter in hierdie ruimte opgestapel word, het sy terselfdertyd lankal vertrek:
expat. vir M
jy het lank gelede reeds vertrek.
ek het jou soos fynhout versamel
om iewers vlam te vat,
en oral het jy agtergebly.
in jou hangkas vreet motte aan kinderklere.
die rakke loop oor met leggers en briewe.
teen die mure hang jou gedagtes
soos blou vlinders.
jy het reeds vertrek,
al is jy nog hier opgegaar.
[…]
In Marie Bredenkamp se ‘’n brief vir die oorsee-kind’ (2015) word liminaliteit en verlies uitgestippel deur die plaas- en stedelike milieu asook Afrika teenoor ‘oorsee’ of Engeland te jukstaponeer. Hierdie jukstaposisie word verder verfyn tot die ‘klei en klip’ van die spreker se grootwordjare teenoor die dogter se ‘beknopte’ huis in Engeland met trappe wat ’n ouerwordende moeder se beweeglikheid strem. Die laaste gedeelte van die gedig ondersteun die idee dat die wêreld se dimensies katastrofale afmetings aanneem:
vannag
skryf ek ’n brief vir jou
my kind
wat anderkant die water lê
want gisteraand begin ek ’n prentjie
soek
van die huis waar ék gebore is
en al wat ek onthou is die klei en klip
en in later jare
die ou verhale op die werf
wat skerwe porselein vertel
oor die hollands-oos-indiese kompanjie
patrone blou-en-wit
en ek onthou hoedat die spierwit pou
driftig-trots daaroor loop
asof hy die grond besit
en toe soek ek foto’s van die huis
in welgemoed
waar jy leer kruip het, praat
en loop
[…]
ek weet hoe klein jou huis is daar anderkant
en te beknop
die trappe te nou en ongelyk
vir ma se been en rug
[…]
ek is jammer ek het nagelaat
om uit te wys
hoe groot die wêreld is
en onbegrens
en dat aardbewings
die aarde van sy as af stamp
[…]
©mce 27/04/2015
Ook grootmoeders ervaar deesdae die groteske pyn van ’n kleinkind wat aan die vreemde afgestaan word. In Antjie Krog se Verweerskrif (36) word die Hebreeuse kleindogter deur middel van taal-metaforiek geskets: nie net wat afstand aanbetref nie, maar ook taal (Hebreeus vs. Afrikaans). ’n Skeidslyn het dus sigbaar geword; ’n grens wat toekomstige vervreemding tussen ouma en kleinkind voorspel:
by jou vertrek
1.
jy vertrek môre saam met
jou ma
na Isra-el vir
goed
as ons mekaar oor ’n jaar
sien, praat
jy slegs Hebreeus. vir
my
hartskerp herinnering waar-
in jy
lig en liefs met stingel-
dun
enkels in linte van my
glip, sal
ons geen enkele
woord
gesamentlik wakker vind.
spraakloos
sal ons mekaar aan-
staar.
in jou voorgeskiedenis
skeur ’n
mens klere en werp
as
op die hoof. ek bloei
uit my
milt
Ook in Mede-wete in die vers, ‘ek en my kleindogter bou sandkastele’ (38), word taal tematies as vervreemdingstegniek ondersoek. Die ‘ek’, die ‘ouma’, probeer nuwe skanse teen die onafwendbare vervreemding bou. Dalk sou hierdie grense ’n tipe post-verbale kommunikasie kon insluit. Tipografies is daar spasies tussen sommige woorde soos ‘swyg’ en ‘hou’: dus taalgebonde maar ook met die klem op die fisiese en simboliese holding space van die ouma. Ter wille van spasie haal ek slegs strofes 2 en 3 aan:
vanoggend het sy haar ma en pa gevra om in die kombuis agter te bly
en toe in haar sesjarige Hebreeuse woordorde voortgesluk:
‘van my af weg gegaan Ouma, wil ek nie hê jy moet wees nie’
gebruik sy woorddeurstamelde bloedeie dubbele-nie-konstruk
‘Ouma’s verskriklik lief vir jou.’ ‘Ek weet, Ouma, maar dit gehelp my nie’
kind met die mondgetroosde naam wat my in alle tale laat ineen
swyg ek wil haar verlede van haar afhaal in die naam van pyn
in die naam van die behoefte om haar vas te hou haar heel met
die heil van ons almal wat altyd en nooit uit haar lewe verdwyn
wil haar sien lag sien wawiele doen soos nou – silwer en lig soos ’n twyg
Ek sluit af met ’n gedig van die Britse digter, Fleur Adcock, wat in Nieu-Seeland gebore is (Astley: 230):
For a Five-Year-Old
A snail is climbing up the window-sill
into your room, after a night of rain.
You call me in to see, and I explain
that it would be unkind to leave it there:
it might crawl to the floor; we must take care
that no one squashes it. You understand,
and carry it outside, with careful hand,
to eat a daffodil.
I see, then, that a kind of faith prevails:
your gentleness is moulded still by words
from me, who have trapped mice and shot wild birds,
from me, who drowned your kittens, who betrayed
your closest relatives, and who purveyed
the harshest kind of truth to many another.
But that is how things are: I am your mother,
and we are kind to snails.
Soms is moederskap ’n helder herfsdag. Soms, ’n vaal-deurdrenkte winter. Want verlies is veelvoudig vir ’n ma of ouma. Dalk lê die geheim van verlies opgesluit in C. Day-Lewis se ‘Walking Away’:
How selfhood begins with a walking away
And love is proved in the letting go.
Bibliografie
Astley, N (ed). 2002. Staying Alive. Real poems for unreal times. Tarset, Northumberland: Bloodaxe.
Basson, E. 2014. Leiboom. Kaapstad: Queillerie.
Cilliers, R. 1989. Vlier. Kaapstad: Tafelberg.
Day-Lewis, C. 1962. The Gate and Other Poems. Londen: Jonathan Cape.
Joubert, M. 2011. splintervlerk. Pretoria: Protea Boekhuis.
Krog, A. 2006. Verweerskrif. Roggebaai: Umuzi.
Krog, A. 2014. Mede-wete. Kaapstad: Human & Rousseau.
Müller, P. 1977. Obool. Kaapstad: Tafelberg.
Smith, S. 2012. In die afwesigheid van sin. Pretoria: Protea Boekhuis
Ek stem – veral oor die ‘oordrag’ van verhale, insidente, en ook die tragiese element van verlies. In ons familie is dit bepaald die verlies van my Ouma mce in die Groot Griep van 1918. Dis eintlik ‘n ongelooflike ironie hoedat die sterwe van so iemand ‘lewend’ gehou word deur oorvertelling, en paradoksaal ‘sterf’ daardie persoon ‘nooit’ nie. ‘n Blog wat ek oor en oor kom lees – dankie Gisela.
Marlise, jy gee my nou idees wat ek liefs nie aan moet dink nie. Dalk moet ek net eers ‘n artikel skryf oor die onderwerp en die waters uittoets. Tóg klink dit na iets om aan te pak, maar saam met ‘n mede-samesteller wat meer as ek oor die kopiereg van gedigte weet!
Susan, dankie ook vir jou kommentaar, asook René, Uysie en Ilisna. Dit maak ‘n mens se navorsing tóg dan die moeite werd.
Maria, daardie storie wat jy met ons gedeel het oor jou ouma bly dwaal in my kop. Dis beslis ‘n onderwerp vir ‘n gedig. Dis verskriklik hoe so ‘n tragedie aan die volgende geslag oorgedra word. Dit laat my veral dink aan dié wat die Holocaust oorleef het en hoe dit hulle kinders en kleinkinders beïnvloed het, veral omdat hulle nooit daaroor kon praat nie.
Leon, dankie vir jou kommentaar, ek waardeer dit. Dis verstommend hoe Antjie se gedig geplagiariseer word. ‘n Mens sou dink dat die meeste Afrikaanse mense darem hierdie gedig sou ken en dit as Krog s’n sou identifiseer. Dalk is dit ‘n voorbeeld van hoe hierdie gedig oor die dekades steeds direk met mense praat. Maar ai, gee net die keiser wat haar toekom…
Soos altyd ‘n mooi blog, Gisela! ‘n Onderwerp wat almal raak en diep sny.
Gisela, jou ‘bobaas’ blogger, ek dink jy kan Marlise se voorstel regtig ernstig oorweeg. Soos Leon se opmerking duidelik maak het jy hier ‘n tema beet wat baie mense persoonlik sal raak. My ouma aan moederskant was ‘n moeder wat haar eerste kind as twee-jarige dogtertjie aan die dood moes afstaan na vyf dae nadat sy in ‘n bad kokende seepsoda geval het op ‘n seepmaakdag – sy het agteruit geloop en iets aan ‘n toutjie getrek. My ma het die portret met “Oorle kindjie” geërf – die dogtertjie staan so mooi eenvoudig daar in haar sagte mentggroen rokkie. Toe ek klein was het ek gewonder oor my ouma se neurotiese bekommernis oor ons kinders – dit was eers jare later dat ek twee-en-twee bymekaar kon sit?!
Jy het jouself oortref met hierdie blog Gisela. Pragtig. Wel gedaan!
Interessante invalshoek(e), Gisela, dankie vir hierdie sensitiewe inskrywing, ek het die blog geniet.
Ek het die lees van dié blog geweldig geniet (en geleer)! Baie dankie…
Gisela ek sien altyd uit na jou blogs en hierdie een het vir my persoonlik geraak, baie dankie. En ja, ook ek het al gehoor hoe Krog se gedig voorgedra word asof die dogter dit self geskryf het…
Rudie, my blog maak slegs melding van Antjie Krog se gedig, ‘Ma’ ter illustrasie, omdat dit so welbekend maar ook misbruik en van afgewyk word. Dus plagiaat. Ek self het ‘n Moedersdag meegemaak by vriende jare gelede wie se dogter voorgegee het dat sy dit self geskryf het en haar ma het dit so aan die hele vriende-en familiekring oorgedra. Dit het toe op die lappe gekom dat die kind se onderwyseres dié gedig aan die kind verskaf het en haar aangesê het om ‘n paar lomp veranderinge aan te bring wat haar, volgens die onderwyseres, daarop geregtig gemaak het om dit haar eie gedig te noem. Tog onaanvaarbaar, of hoe?
Vir my is Rudi Daniels, oud onderwyser by Elsies Hoër ‘n gedig wat ek al by vele moedersdag geleenthede voor gedra het juis omdat ons mense dié milieu ken!
Mamma
U is my ma
my pa
my alles
en ek het u lief
Na die voortydige
dood van my pa
het u my onderhou
versorg en vertroetel
U vingers vir my deurgewerk
in die madame se kombuis
Met liefde het u my bestrooi
Niks was vir u ooit te veel
My pyn met ‘n kus geheel
my vrese met ‘n omhelsing besweer
my hartseer met woord en
gebaar verdryf
Soos klougras het u
my nie gelos nie
en op die smal weg gehou
Soos brandnetels het
u my gebrand as ek
wou afdwaal van die pad
Noudat u oud en
afgetakel is
sal ek u nie los nie
want u is my ma
my pa
my alles
en ek het u lief
Rudi Daniels
Metafore van Herlewing
LAPA Uitgewers
Dankie vir hierdie mooi blog Gisela, baie interessant gewees. Ek is seker daar is reeds ‘n enorme hoeveelheid gedigte in Afrikaans oor die moeder-kind verhouding op veelvuldige vlakke. Digter-ma’s dig oor hulle kinders (of kleinkinders)en digters dig ook weer oor hulle ma’s (en soms die pa.) Hoe lyk dit: wil iemand (jy miskien?)nie eendag so tematiese bloemlesing saamstel nie. 🙂