Voortstap
Die seun blaas
’n hees voëlgeluid
met die fluit wat hy gemaak het
van ’n gevoude grasstingel
wat ’n groen grasblaartjie vasknyp.
Op die horison
kook wit cumulus wolke
in die troposfeer.
Die fiskaallaksman druk
’n kaal voëltjie
met koue presiesheid
op ’n lang wit doring.
’n Dooie waterskilpad
se verlammende stank
nooi die honde uit
om daarin te rol en hulleself te beklee
met opwindende, vreemde persoonlikhede.
Die dag het onomkeerbaar
verby die middel gedraai,
terwyl die seun deur die gras aanstap –
geeneen van hierdie treë sal ooit
ooit weer gestap word nie.
(c) De Waal Venter / Junie 2015
Hallo Christine. As jy op een van die kommentare op “De Waal Venter” wat onderstreep is, klik, behoort jy by die webruimte uit te kom. Maar ek stuur in elk geval ook vir jou die skakel per e-pos.
De Waal – nou kry ek dit nie reg om by daardie skakel en daardie gedig uit te kom nie, en ek wil graag – heelwat van die gedigte uit my bundel “skynskadu” het te doen met hoe ‘n ma/moeder in ‘n mens bly leef. Onlosmaakbaar.
Hoe kry ek die gedig te lese as ek nie hierop kan inkom nie?? Of kan jy dit stuur na my eposadres: ccoverseas@gmail.com? Sal dit baie waardeer.
C
Dankie vir jou kommentaar, Christine.
Die gedig wys ons wel daarop dat ons nooit weer dieselfde pad sal loop nie, maar aan die anderkant – ons het tog die vermoë om die pad weer in ons herinneringe te loop. Dis ‘n groot voorreg.
Die jongse gedig in my webruimte (klik op die skakel hierbo) handel juis ook oor hoe ons moeders in ons gemoedere bly voortleef.
De Waal – daardie laksman met die voëltjie – sjoe. En dan die anderkant van die munt: dat niemand ooit weer daardie selfde pad sal stap nie.
Baie geluk met ‘n baie treffende gedig.
Baie raak gestel, Myra. Die werklikheid kan nie geken of begryp word nie? Of bedoel jy ‘n ander vertolking van Kant se stelling? De Waal
Ding an sich! x
Lieflike gedig. Ek was saam op die wandeling.