Wicus Luwes. Feng shelfie

P-571523-mT8ZF5YQIg-1

Tydens ‘n onlangse onortodokse oomblik wonder ek watter rol ‘n boekrak speel in die oordra van energie. Die onortodokse oomblik het my teruggeneem na ‘n keer toe ek die plaaslike dominee help trek het en oorweldig gestaan het deur die boekrakke wat tot by die pastorie se plafon gestrek het. Ek moes my nek buig om soos die destydse bouers van die toring van Babel die bokant van die bouwerk in die hemel te soek. Energie is sedert die vroegste tye ‘n speelveld vir sowel die ortodokse as die onortodokse wetenskaplikes. Die kuns van Feng Shui is ‘n poging om energievlakke ‘n teuel in die bek te gee. (Miskien moet energie in perdekrag gemeet word.) Die vloei van energie moet gestuur of bestuur word, maar watter rol kan boekrakke daarin speel?

In ‘n vorige blog het ek ‘n paar digters gevra om foto’s van hul boekrakke met die lesers van Versindaba te deel. Ek het na die foto’s van die boekrakke as ‘shelfies’ verwys. Dit is ‘n variasie op die selfie-tema. Die onsosiale Sosiala Media-generasie is versot op selfies, maar ek dink steeds dat ‘shelfies’ ‘n meer verteenwoordigende blik bied van die persoon aan wie die boekrak behoort. (Ek wonder ook steeds wat ‘n goeie Afrikaanse woord vir ‘shelfies’ is.) ‘n Mens kan die energie byna aanvoel as jy na iemand se boekrak kyk. Die vloei van energie in terme van Feng Shui word in die gedagtes herdoop na Feng Shelfie. (Ek vermoed die Sjinese sal my saam met die Dalai Lama wil opsluit vir hierdie benaming.)

Ek het hierdie keer vir Louis Esterhuizen en Marlise Joubert gevra om hul ‘shelfies’ met ons te deel. Hulle is so deel van ons eie geskrewe en visuele kuns dat ek seker is dat hulle werke op baie mense se ‘shelfies’ sou verskyn. Louis noem die studeerkamer sy hartsruimte of kopwêreld. Dit is dus ‘n plek waar hy dink en waar hy voel. Dit is ook ‘n plek waar hy herinneringe bêre of liaseer.

Stellenbosch-20151013-01715Louis se boekrak-foto

Op Louis se ‘shelfie’ staan ‘n aantal dik boeke van Pablo Neruda onder die ry foto’s teen die muur – dit is sy biografie en versamelde gedigte. Die Poolse digters Tadeuz Rozewics en Wislawa Szymborska se versamelde gedigte staan saam met T.S. Eliot op dieselfde rak. Alhoewel laasgenoemde groepie boeke baie spesiaal vir Louis is, word die boekrakseksie heel links die meeste gelees. Hierdie rakke huisves sy bloemlesings van digkuns vanoor die hele wêreld. Louis se gunsteling en mees bepalende bloemlesing is “The Poetry of Survival – Post-War Poets of Central and Eastern Europe” wat deur Daniel Weissbort saamgestel is en in 1991 deur Anvill Poetryn Press uitgegee is. Weissbort se boek het Louis se siening oor die digkuns verander.

Louis het my vriendelik verras deur ‘n ongepubliseerde gedig met ons te deel:

Om ‘n boek te wil koop, moet jy
haar eers optel
om die gewig te voel, eers hier
lees, dan weer daar,
en soos jy deur haar blaai, blaai sy jóú –

oplaas die band bestudeer vir tekens
van ‘n vorige leser,
iemand moontlik onhandig
wat haar té gou óóp wou
forseer. Draai haar dan weer om, bring

die boek na jou neus, ongemerk,
die varsgedrukte ink en verbeelding
op jou tong, die sout, intiem
soos al die ure wat reeds vir julle
uitgetel is. By die toonbank betaal jy,

loop na buite en sien
‘n onverwagse reënbui weef sluiers
om die son –

*

 

Die studeerkamer / boekrakke is natuurlik nie net vir boeke nie. Op die foto kan Louis se koordlose Volcano-luidspreker of ‘bazooka’, soos hy daarna verwys, gesien word. Louis het ‘n groot liefde vir musiek en wanneer die ‘bazooka’ nie diens doen nie luister hy steeds van tyd tot tyd na sy kassette. Op die foto is daar ook ‘n wit draakrak waar sy pype vroeër uitgestal was, maar sedert hy nie meer rook nie, is dit net die leë draadrak wat as herinnering daaraan dien.

Die bottels aan die bokant van Louis se foto, verteenwoordig sleutelmomente in sy lewe: Tweede van links is ‘n bottel Chianti wat hy saam met sy twee seuns gedrink het tydens ‘n besoek aan Little Italy in New York in 2012. Tweede van regs is een van Ronnie Belcher se eie wynskeppings wat hy tydens Louis en Marlise se huweliksbevestiging aan hulle gegee het. Die bottel heel regs is spesifiek vir die geleentheid deur ‘n spesiale persoon gebottel en geëtiketeer met die bekendstelling van die bundel “wat die water onthou”.

Teen die muur is ‘n paar foto’s. Daar is ‘n foto van Marlise langs die CD-rak wat vir Louis na aan die hart lê. Die foto is geneem tydens ‘n uitstappie na Kaap Infanta. Die foto wys Marlise met ‘n glas witwyn omhoog en dit was ‘n dag van visvang en skaak speel. Kort na hierdie foto geneem is, het Louis seergekry toe ‘n brander hom teen die rotse verinneweer het. (Dit bly vir my baie interessant en lekker om te dink dat een beeld of foto ‘n menigte herinneringe kan opsluit of oopsluit.)

 

wanneer dit ook gebeur
dat julle nog altyd staan en hengel
op die rotse
by Infanta, en die gety

sleep jul lyne deurmekaar,
spoel hoek en aas
telkens onder vele rotsbanke vas –

agter julle begin stormwolke
die landskap verdonker,
jul pad terug verslinger tussen

bottelskerwe en plastieksakke

en oor die radio word reeds gepraat
van troepedraers regdeur
die land, ’n noodtoestand word
verwag, die uiteinde
lê nou voor.

En julle weet dit nog nie.

Julle sit in ’n eie rotspoel
by Infanta, elkeen met ’n glas wyn
in die hand, julle sing

vir mekaar en wanneer jy haar vashou,
voel jy haar bene
rakelings by jou verbyskarrel –

nee, julle glo dit nog nie, maar
elke sleutelgat is reeds ’n meswond
met die jare wat klaar staan

en loer na waar sy nat van die sweet
op jul bed ineengekrul
lê en huil van die pyn en jy, jy

vlug reeds

na al die hoeke van die huis.

(Uit:  Die afwesigheid van berge, 2014: Human & Rousseau)

boekrakke.mjMarlise se saamgestelde boekrak-foto

Marlise se ‘shelfie’-foto wys ‘n hoek van die studeerkamer wat meestal digbundels bevat. Die versameling word al van 1965 saamgestel en lê na aan haar hart. Die glasdeur-boekkas is al drie geslagte in die familie. Sy het onlangs honderde boeke vir haar seun en dogter gegee en so die ervarings en woorde wat met hierdie boeke saamgaan, hopelik na die volgende geslag aangegee. Die digbundels en kunsboeke is moeiliker om van ontslae te raak. Die boekrakke raak kaler soos wat die jare aanstap.

boekrak

daar is baie ou boeke op my rak
hulle leun teen mekaar met wange wat sug
hulle verraai nie die hande van my jeug nie
nog minder die vingers wat ywerig blaai
en woorde gulsig in die mond kon stop

daar is soveel ou boeke op my rak
soms val ’n viool stowwerig daaruit
of ’n foto soos ’n kleurlose blom
die verbleikte geraamte
van ’n blaar of gesig
’n repie geskenkpapier
of selfs die melodie van ’n gedig

soms is my naam in ’n boek
’n datum wat vermoed ek was tóé verlief
dat ek miskien gelukkig was op reis
miskien deurweek met koue reën
alleen of droef in ’n vreemde stad

soms is my naam ’n tekening
rokerig blou of in roet versny
wat ou seisoene rekonstrueer en hier
in vergeelde taal my ewe liefderik
smeek – vismotte ten spyt –
om haar weer te lees en opnuut
te vergeet

(Uit: passies en passasies, marlise joubert, Protea Boekhuis, 2007)

Met besoeke aan museums en ander historiese geboue, wonder ek altyd waar bekende figure se geliefde stoel gestaan het, of waar die persoon sy daaglikse pyp gaan rook het. Museums probeer daardie energie van die era of persoon in die uitstalling na vore bring. Ek het die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein (of NALN) gekontak in my soeke na die energie van historiese skrywers en was nie teleurgestel nie.

Die manuskripte van lewende en afgestorwe skrywers kry nuwe lewe by die museum en toe ek Annelien Diedericks van NALN vra watter digters miskien hul ‘shelfies’ met Versindaba sou wou deel, het ek verbysterd gestaan oor die wye keuse wat daar beskikbaar is.

NALN Eybers tikmasjien

WP_20151113_11_50_21_Pro

Elisabeth Eybers se boeke en ander items kry nuwe lewe in een van die NALN-uitstallings. Die items wat deel uitmaak van die uitstalling is afkomstig van Suid-Afrikahuis in Nederland en is onlangs na NALN verskeep. Op die foto’s kan Eybers se tikmasjien gesien word – ‘n mens kan maar net wonder hoeveel woorde uit die energie van Eybers se gedagtes oorgedra is op papier. Die tikmasjien word miskien (nes die boekrak) slegs ‘n medium, maar sonder daardie medium sou die oordrag van energie moeiliker plaasvind. Tussen Eybers se boeke sien ek ‘n Inleiding tot die Franse digters deur Geoffrey Brereton, Virginia Woolf loer vir ons. Seamus Heaney se Station Island en Frans Claerhout se Die Sonnevanger is sigbaar op ‘n volgende foto. Dit is duidelik dat die digter steeds Suid-Afrika in haar gedagtes gehad het as ‘n mens deur die boekrakke kyk en dit is dus nie moeilik om te dink dat die energie van Afrika het haar tot in Europa vergesel het nie.

Gaan jou gang
deur Elisabeth Eybers

Winter, ek weet wat jy beoog
om die vog uit my liggaam te wring
wat in weerwil van al jou pogings
tot dusver die dans kon ontspring…

Gaan jou gang: hoe berooider die lewe
voor die onherroeplike rus
hoe gewigloser leer mens dan swewe,
van afstand meeslepend bewus.

Die verlede is al wat ek het
as leerboek vir die begrip
van dinge terloops opgelet
en des kades daarná aangestip.

Die einde verwek die begin,
allereerste bevindinge bly
– ongeag wat jy nog mag versin –
my tot op die laaste by.

(Uit ‘Respyt’, Em. Querido, Amsterdam, 1993.)

 

NALN NP van Wyk Louw uitstalkas

NALN NP van Wyk Louw boekrak web (2)

NP van Wyk Louw se boeke

Nog ‘n uitstalling by NALN bevat boeke van NP van Wyk Louw. Die werk van C.Louis Leipoldt, Totius en HA Fagan is sigbaar op Van Wyk Louw se ‘shelfie’.

Suiwer Wiskunde
deur NP van Wyk Louw

Die uurwerk kantel. En die ligbruin by
hang roerloos voor die blom wat nooit bevrug
word, nooit saad salskiet, en nooit verby
hierdie verstarde uur sal groei. Die lug

het stil soos ys gaan staan, so wit en blou.
Die brander wat wou oorbuig, val, en skuim,
bly in sy ligte sirkels vasgehou
en moet sy see ‘n ewigheid versuim.

 

Feng Shui het ten doel om balans te skep, maar dit is nie ‘n balans wat in klip gegiet is nie. Die balans vereis voortdurende verandering, want die vloei van energie moet steeds kan plaasvind. Feng Shui gebruik elemente soos water of fonteine by ingange en kuns om balans te skep tussen die normale dagtake en gewoel. Feng Shelfie kan ‘n groot rol speel in die balans in ‘n mens se lewe en boeke oor verskeie onderwerpe is sekerlik noodsaaklik om balans in die boekrak te bewerkstellig.

Ek luister dikwels na mense wat persoonlikheidstipes evalueer deur na energie te kyk. Daar is persoonlikheidstipes wat kragte opbou deur alleen te wees en ander weer wat krag kry deur in die teenwoordigheid van baie mense te wees. Ons het onlangs die 100ste herdenking van Einstein se definisie van energie, E=mc², gevier. Balans word voorgestel deur die gelyk-aan-teken, maar balans is meer as net goed vs sleg en ortodoks vs onortodoks. Stilte is nie slegs ‘n teenpool van geraas nie, maar eerder ‘n voedingsbron van die ander se honger. Geraas word gevoed deur stilte. In my soeke na ekwilibrium, probeer ek voortdurend die vloei van energie bestudeer. Vir party mense lê dit in Feng Shui. Vir ander lê dit in E=mc². Vir my lê dit in Feng Shelfie.

 

Endless Poem
deur Yehuda Amichai

In a modern museum
In an old synagogue
In the synagogue
I
Within me
My heart
Within my heart
A museum
Within a museum
A synagogue
Within it
I
Within me
My heart
Within my heart
A museum

Met dank
Ek is innig dankbaar vir Marlise Joubert, Louis Esterhuizen, Annelien Diedericks (NALN) en Leana Lategan (NALN) vir hul hulp met saamstel van hierdie blog.

einstein0011511101Einstein se kantoor

Bronne:
1.    Esterhuizen Louis,”Die afwesigheid van berge, 2014: Human & Rousseau
2.    Eybers Elisabeth. ‘Respyt’, Em. Querido, Amsterdam, 1993
3.    Internet. http://users.telenet.be/gaston.d.haese/eybers.html
4.    Internet. http://www.poemhunter.com/poem/endless-poem/
5.    Internet. http://www.woorde.co.za/Digters/N.P._van_Wyk_Louw.html
6.    Joubert Marlise.passies en passasies, Protea Boekhuis, 2007

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Wicus Luwes. Feng shelfie”

  1. TRMyburgh :

    Het die artikel werklik geniet… my self herinner aan die vreugde en vrede wat my oorkom wanneer ek enigiets te doen het met my boekrak en boeke. Maak nie saak of dit regpak, afstof, plek soek vir ‘n nuwe boek of net staar daarna nie.

  2. Leon Retief :

    Dankie Wicus, soos gewoonlik oorspronklik en lekker leesbaar. Ek hoop jy vergewe my as ek nitpiek: die definisie van energie is dat dit die vermoë het om werk te verrig. Voorwerpe kan kinetiese of potensiële energie hê of as gevolg van hul massas (E=mc2). Hierdie formule, wat deel is van Einstein se teorie van spesiale relatiwiteit, is in 1905 publiseer en nie 100 jaar gelede nie. Die teorie van algemene relatiwiteit is in 1915 publiseer. E=mc2 verwys na die ekwivalensie van energie en massa en dit vertel ons ook dat, aangesien c (spoed van lig) ‘n baie groot getal is, selfs ‘n klein hoeveelheid massa ‘n groot hoeveelheid energie bevat. Dit is egter nie ‘n definisie van energie nie.

  3. Buiteblaf Breytenbach :

    Wil mos vir my lyk Louis het bottels uit die boonste rak!

  4. Wicus Luwes :

    Dankie vir die lees!

    TRMyburgh: Bly jy het dit geniet.

    Leon: Ek is van mening dat fisika ‘n suiwer vorm van kuns is en sal daarom toegee dat die term vir, of definisie van energie suiwer gehou moet word – baie dankie dus vir die verklaring. Vir my is een van die interessantste dinge in hierdie wêreld die dualisme van lig en die manier hoe beide ‘lig as golf’ en ‘lig as partikel’ iets kan verklaar op verskillende maniere maar dat albei korrek is. Ek hou dus van die energie van ‘n ‘stillewe’ en die beweging in ‘n stilstaande portret/gedig. Ek hou daarvan om idees te bespreek buite hul bekende raamwerk. Ek moet sê dat ek dit lekker vind om dit te mag bespreek met iemand soos jy wat moontlik my passie vir beide die kuns en wetenskap deel.
    As Einstein wrote: “It seems as though we must use sometimes the one theory and sometimes the other, while at times we may use either. We are faced with a new kind of difficulty. We have two contradictory pictures of reality; separately neither of them fully explains the phenomena of light, but together they do”

  5. Leon Retief :

    Wicus dis nie net lig wat ‘m golf-partikel dualiteit toon nie maar interessant genoeg selfs molekules van buckminsterfullerene wat 60 atome koolstof bevat. Sien: https://medium.com/the-physics-arxiv-blog/physicists-smash-record-for-wave-particle-duality-462c39db8e7b#.e81dycgpm
    Maar nog meer interessant: https://medium.com/the-physics-arxiv-blog/physicists-smash-record-for-wave-particle-duality-462c39db8e7b#.e81dycgpm

  •