Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
2 March 201529 June 2015

Wicus Luwes. Selfies Vs. Shelfies

‘n Paar bekende foto’s as selfies

Wat is die Afrikaanse woord vir ‘selfie’? Een armlengte is miskien te naby om ordentlik te fokus, maar kom ons praat eerder oor foto’s. Die beskikbaarheid van ongelooflike kameras in ons fone, tablette en alle apparate wat met nulle en ene werk, het dit moontlik gemaak om (doen-dit-)selfportrette op selfoonskerms te skep. Daar is die selfie by die winkelsentrum, die selfie met die nuwe haarstyl en die selfie saam met vriende by die restaurant – tegnies gesproke is dit ‘n onsie, maar miskien is ek besig om myself te verwar.

Die variasies op die tema is legio, maar een wat my oog gevang het, was die ‘shelfie’ variasie (Wat is die Afrikaanse woord vir ‘shelfie’?) ‘n ‘Shelfie’ is ‘n foto van ‘n boekrak. Hierdie tong-in-die-kies variasie op die tema lê vir my naby aan die hart. ‘n Boekrak / rak vol boeke se omvang of reikwydte is dieper as die rak waarop dit staan. Die woorde ontsluit wêrelde en plekke wat foto’s nie kan beskryf nie.

‘n Paar digters was bereid om hul ‘shelfies’ met ons te deel. Jou eie boekrak is die somtotaal van jare se herinneringe en studies en geskenke. Jy weet presies waar jou gunsteling boeke hul krul gekry het. Beelde van die plekke waar jy dit gelees het en hoe jy gevoel het, is saam met die bladsye gebind.

René Bohnen het besluit om haar rakke vol digbundels met ons te deel met die neem van haar ‘shelfie’. Die boeke wat haar skoonpa, nou 99 jaar oud, vir haar gegee het, is vir haar kosbaar. Hieronder tel ‘n 1944 uitgawe van “Die siel van die mier” deur Eugene Marais wat pryk langs ‘n ander geskenkboek, ‘n 1949 uitgawe van Albert Schweitzer se 1928 toespraak: “on receiving the city’s Goethe Prize for services to humanity”.

vlamtong
deur René Bohnen

en toe hy die woord ukhahlamba
spreek
was daar vuur in
sy mond

berg
het hy gesê en
om
het die pieke geantwoord om
eggo
die amfiteater om

om
sing die wind in
grassade en die stertvere
van sakaboelas om
janfrederik, tiptol, om
aalwyne, waterval, die tugela om

en om bulk die beeste
met bruin stemme
wat wegsink in
rimpelklip

intaba yami, bid die paters
en die priesters in hul grotte, om
dans die bok-
beelde immer
om

in die sneeu op
die monnik se rug om
warrel psalms oor
die afgrondkrans by
cathedral peak en om
sjampanjekasteel

deur immer digte mis
om die vol alom
die ukhahlamba
om   om   om

Ander boeke wat haar oorlede skoonma, Pauline Bohnen, geskryf en illustreer het, neem ‘n spesiale plek in die boekrak (en haar hart) op. Pauline Bohnen was ‘n botanis en het twee boeke oor die plante van die Suid-Kaap geskryf. René se gedigte het ‘n sterk verbintenis met die natuur en ek kan definitief verstaan hoe hierdie boeke ‘n spesiale plek in haar boekrak kon kry. Dis ‘n voorreg om die beelde wat sy in haar gedagtes geskep het te kon lees, sien en hoor.

Collected Poems van Adonis, die uitgeweke Siriese digter, en Al die Lieflike Dade van Charl-Pierre Naudé is van die nuutste boeke wat ‘n plek in die rakke gekry het.

Song
deur Adonis (Vertaal deur Khaled Mattawa)

uit “Elegy for the First Century”

Bells on our eyelashes
and the death throes of words,
and I among fields of speech,
a knight on a horse made of dirt.
My lungs are my poetry, my eyes a book,
and I, under the skin of words,
on the beaming banks of foam,
a poet who sang  and died
leaving this singed elegy
before the faces of poets,
for birds at the edge of sky.

Heilna du Plooy was ook bereid om haar ‘shelfies’ met ons te deel. Op ‘n persoonlike noot besef ek daagliks meer en meer dat ons net aan mekaar geleen is. Die een foto bevat boeke wat Heilna by TT Cloete geërf het (op voorwaarde dat hy sy boeke enige tyd kan ‘leen’). Miskien word ons boeke, soos die mens, ook net aan ons geleen.

Tussen hierdie boeke is daar vertalings uit die klassieke Aristophanus, Euripides, Sophokles en Virgillius. Verder is daar klassieke werke van Dürrenmatt, Camus, Tsjekof, Dumas, Duras, Lorca, Montales en Flaubert.

Die skat wat hierdie boeke (vertalings en oorspronklik) verteenwoordig, kan definitief nie in geldwaarde omgesit word nie. Tussen die rakke word wêrelde aan mekaar verbind. Die rakke word eerder brûe. Die lengte, breedte en hoogte van ‘n boekrak kan nie met maatbande en liniale gemeet word nie.

Terug by Heilna se foto’s sien ons ook die rak met digbundels, romans en kunsboeke.
Ook die klein boeke, klein woordeboeke, sprokiesversameling en ‘n baie klein Koran kry ‘n plek in die boekrak. ‘n Versameling Shakespeare sonnette in hardeband is ook spesiaal vir Heilna. Die buiteblad van die sonnette is in blou sy oorgetrek – kosbaar.

Sy begin die beskrywing van die foto’s as volg: ‘Hierby die foto’s van die shelfies, dis nou my liefste rakke, aangeheg.’ ‘My liefste rakke’ is so ‘n raak beskrywing van wat ‘n boekrak vir baie mense beteken. Ons staan op die skouers van skrywers en idees wat deur die eeue heen gevorm is.

Leamington Sea

deur Heilna du Plooy

In die sekure land van ingesete
orde, staan ons op ‘n brug
waar takke oor die water sluit
bo-oor ‘n stil en baie ou rivier.

Ons sien hoe byna vyftig wilde-eende in ‘n ry
bors teen bors teen stert
onverstoorbaar in ‘n kurwe
geluidloos deur die spieëlvlak gly.

Minder as ‘n dagreis ver
lê effektiewe kuberstede.
Ons kyk na grasie en na misterie.
Ons kyk na onbevange lewe.

Die ‘shelfie’ / boekrak-foto is vir my baie meer persoonlik as ‘n selfie. Dit vertel jou meer oor iemand, maar los tog ‘n tikkie misterie. Ek bedank René Bohnen en Heilna du Plooy dat hul bereid was om die spesiale boekrakke in hul lewens met ons te deel.

As lusmaker wys ek een foto van ‘n digter wie sy ‘shelfies’ by ‘n volgende geleentheid met ons gaan deel.

Bronne:
1. Bohnen, R. 2011. In die niks al om. Pretoria: LAPA uitwegers
2. Du Plooy, H. 2003. In die Landskap Ingelyf. Pretoria: Protea Boekhuis
3. Internet: http://www.poetryfoundation.org/poem/243408
4. Internet: http://www.zerottonove.it/selfie-selfie-syndrome-percezione-alterata-di-se/

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Digstring: Heilna du Plooy. Ouhoutfluit.
René Bohnen. “Semantiek” →

2e gedagtes oor “Wicus Luwes. Selfies Vs. Shelfies”

  1. Wicus Luwes says:
    5 March 2015 at 04:51

    Bly jy’t dit geniet. To shelfie or not to shelfie… 🙂

    Reply
  2. Gisela Ullyatt says:
    5 March 2015 at 00:20

    Ek het hierdie blog van jou terdeë geniet, Wicus en sien nou uit na die volgende shelfie-blog. Ek hoop jy gaan ook met ons ‘n shelfie van Wicus Lewis se boekrak deel…

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Digtersprofiel: Johan Myburg
  • Joan Hambidge. Piromaan
  • Joan Hambidge. My geliefde voormalig
  • Jasmyn Beetge. Delikaat
  • Hennie Maartens. oorskot

Nuutste kommentaar

  1. Margaret Cordier-Biermann on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels16 July 2026

    Dankie, Andre — jy verf gedigte en ons ry nou tyd en woorde bloots.

  2. Andre Roothman on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels15 July 2026

    Uiters gemaklik op die literere verteringsstelsel. tyd die tiran het sy deugde.

  3. Toekie on C Fritze. Boodskap aan die see14 July 2026

    Pragtig geskryf. Het dit baie geniet.

  4. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Wat ’n vers kan verraai en vermag13 July 2026

    Die onderbenoeming - konkreter: die min woorde - roep treffend ‘n ysliker en aaklige “werklikheid” op.

  5. Karin on C Fritze. Boodskap aan die see13 July 2026

    Dié gedig praat met my hart en met my siel. Ek verlang na die klank en die reuk van die…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d