Deel drie van die Meyer van Rensburg-blog het die meganika van klank geëksploreer, deur die klankman/klankmenger/klankoperateur-motief:https://versindaba.co.za/2015/12/13/gisela-ullyatt-wanneer-die-klankman-begin-droom/
Klankmanwoordboom, sy debuutbundel (1983), verweef die wêreld van die klankman, die geskrewe woord, die soeke na die Woord en die boom-motief. Laasgenoemde is uitgestippel aan die hand van die klankboom wat terselfdertyd die Kruis-motief naspeur.
Die jukstaposisie van die kunsmatige omgewing van die klankateljee en die natuur wat neerslag vind in die digter se geboortewêreld, die Noord-Kaap, word tasbaar in die bundel. Deel vier ondersoek die land van herkoms (Suid-Afrika), die kontinent (Afrika) en die harde natuur (droogte, son) word verder verbind met die moedertaal (Afrikaans). Hierdie elemente roep die situasie van die expat op. Alhoewel Meyer eers later na Engeland geëmigreer het, word die bundel ’n profesie van nie net sy eie ontworteling nie, maar ook van duisende ander ontheemdes in die buiteland. Soos R.B. Jurgens tereg opmerk in As almal ver is (228):
You said, ‘I will go to another land, I will go to another sea.
Another city will be found, beter than this …
Kavafis, daardie groot eksponent van die ontwortelde siel.
Die bundelmotto aktiveer die stamboom van die Afrikaanse digkuns met ’n aanhaling uit ’n Peter Blum-gedig:
… Want wat is ons? ’n Boompie
Oop vir enige wind – vir enige meslem
Kerfbaar die bas; maar as die helderheid kom en
Jy dit gee, is daar skyn van lig op
Mense en dinge, hulle lewe is heerlik.
Verder verduidelik Meyer hoe die Blum-aanhaling met Klankmanwoordboom verband hou:
Ek het die lig gesoek in die mens in sy skeppende of digterlike aktiwiteite (veral in die eerste afdeling: Woord), sy behoeftes (esteties, intellektueel, seksueel en emosioneel) en ook in dinge. Dinge wat my omring het by die werk, die tegnologiese wêreld van klank en ook dinge uit my jeug as plaasseun in die Noord-Kaap […] Die Bybel sê: “Aan die begin was die Woord en die Woord was … en dit is waar ek begin het.
Stamboom
Die Klasie wat de waarheid zeggen
en met hogen hout willen schrijf soos ons praet,
die drieman klingel saam ’n passie
(Janfrederik soen sy Martjie)
en langs die suikerbos en rand
vry visvanger ’n rosarum hartjie.Die toon van die sangers word verhewe,
weemoedig klink tinktinkietaal
uit die haak-en-steek-besluit;
’n Zoeloeland-jandiederik
skop verkeerdom eiers uit,
soek na die alfa en omega
in alles wat hom stuit.’n Piet-my-vrou wyk verder,
weg van die lou geykte lied,
beitel glad deur jaarringe,
kyk wat die rooi pit bied
en grootoog in die skaduwee,
slaan janblom die ganse gade:sal ek aanklank vind en saam rinkink
as janfiskaal of luistervink?
Hier enkodeer die digter die Afrikaanse digtradisie met leidrade wat die leser na die verskeie digters lei:
Die ‘Klasie’ is heel moontlik ’n verwysing na F.W. Reitz se gedig ‘Klaas Geswind en syn perd’
Meyer van Rensburg se intensie met hierdie deel van die gedig is egter die volgende:
Wikipedia https://af.wikipedia.org/wiki/Klaas_Waarzegger verduidelik Meurant se ‘onbewustelike’ bevordering van Afrikaans. Meyer verduidelik in sy kommentaar op die blog soos volg: “‘Klasie wat die waarheid zeggen’, is ’n verwysing na ‘Klaas Waarzegger’. Klaas Waarzegger (19 Februarie 1811 – 29 Maart 1893) was die skrywersnaam van Louis Henri Meurant. Meurant was in die middel van die 19de eeu ’n drukker, joernalis en ’n onopsetlike bevorderaar van Afrikaans as taal”.
Die verwysing in die gedig na ‘hogen hout’ is voor die hand liggend.
Die ‘drieman’ is ’n moontlike sinspeling op Louis Leipoldt se Uit drie wêrelddele (1923); hy was skoolarts in Londen, mediese skoolinspekteur in die Transvaal en later kinderarts in Kaapstad.
Die spesifieke intensie van die digter met die woord ‘drieman’ sluit egter nog twee digters in: Jan FE Celliers en Totius. Meyer se aanhaling uit JC Kannemeyer lui soos volg en kan ook in die kommentaar-gedeelte op hierdie blog gelees word:
Ek haal J.C. Kannmeyer aan: ‘Daarteenoor publiseer Celliers, Totius en Leipoldt reeds in die eerste tiental jare ná die Anglo-Boereoorlog hulle eerste bundels waarin daar poësie van besondere formaat voorkom. Heelparty Afrikaanse kritici het dan ook na hierdie drie digters as die Driemanskap verwys, ’n ongelukkige term omdat dit assosiasies met die drie Boereleiers (Kruger, Joubert en Pretorius) ná die Eerste Vryheidsoorlog het en omdat dit ’n hegte verband en gesamentlike optrede tussen die drie digters en hul poësie veronderstel wat die inherente verskille in aard en ingesteldheid uit die oog verloor’ (Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur; Academica, Pretoria, 1984).
Jan FE Celliers word opgeroep in ‘Janfrederik soen sy Martjie’, na aanleiding van Martjie (1911).
‘en langs die suikerbos en rand/vry visvanger ’n rosarum hartjie’ verwys na AG Visser wat met Suikerbosrand verbind word asook sy gedig, ‘Rosa Rosarum’ (Roos van die Rose).
‘Die toon van die sangers’ is ’n verwysing na Toon van den Heever.
‘Haak-en-steek-besluit’ dui op Totius se gedig ‘Die Godsbesluit’ (82) terwyl ‘Tinktinkietaal’ na dieselfde digter verwys.
Jare terug skilder Meyer ‘n skildery wat op Totius se ‘Die wêreld is ons woning nie’ geskoei is:
’n ‘Zoeloeland-jandiederik’ aktiveer DJ Opperman wat in die Dundeese distrik gebore is en ook skoolgegaan het op ander dorpe in KwaZulu-Natal.
’n Piet-my-vrou wyk verder,
weg van die lou geykte lied,
beitel glad deur jaarringe,
Bogenoemde speel in op ‘wyk’: NP van Wyk Louw; ‘weg van die lou’ na sy digter-broer, WEG Louw en ‘beitel’ onder andere na die alombekende NP van Wyk Louw se ‘Die beiteltjie’.
‘Janblom’ is een van die meer ooglopende kodes: ‘n skryfpersona van Breyten Breytenbach.
In ’n resensie van Klankmanwoordboom skryf E.C. Britz (1983) oor die twee laaste reëls van ‘Stamboom’ soos volg: ‘Die digter vra homself uiteindelik af of hy as ‘janfiskaal’ (d.w.s. die voël wat al die ander opvreet) of as ‘luistervink’ (d.w.s. as blote volgeling van die tradisie) by ons sal ‘aanklank vind’.
Die feit dat die titel van die resensie lui, ‘Treffer in ou styl’, versterk vir die leser die gevoel van die Afrikaanse stamboom van digters; iets wat die taalkwessie by universiteite wat ons tans ondervind reaktiveer. Die kwessie van die literêre kanon kom ook ter sprake: wié is die Afrikaanse kanon en hóé is dit saamgestel in die loop van jare?
In ‘Versteende woord’ (16) word die beeldgebruik verder uitgebrei na die eg Afrikaanse milieu wat skakel met begrippe soos ‘moerland’, en ‘hartland’, alhoewel die bundel nege jaar voor Chris Barnard se roman, Moerland (1992) verskyn. ‘Baaierdland’ mag ook moontlik inspeel op die titel van Opperman se 1956-bundel, Blom en baaierd. Volgens die HAT (2015:71) beteken ‘baaierd’ onder andere ‘(1) ongevormde elemente waaruit die aarde ontwikkel het. (2) verstrengelde massa 2. (fig) warboel; chaos’. Die leser volg die innerlike chaos van die spreker: ‘hart koffiesak’; ‘swart moer’; ‘klipkil hartland’ en ‘bitter baaierdland’. Tog is daardie verlossende aspek van bogenoemde deur die ‘woordsteen’ en die digproses (‘suikerklontjie’; ‘blink kristal’, en ‘reënboog uit prismastreke’).
Herbore uit die lakens nes ’n slang vervel,
spoel ek my hart koffiesak uit
met, kaatsend in my hand,
’n suikerklontjie
uit die swart moer van ’n bitter baaierdland.Die koue winterlig
verskerf teen die blink kristal
en gister vlam in warm stukke uit.Jy, klein woordsteen
wat uit die verre suikerveld
oorbly in die asbestrooide grond,
haal baie bitter boeretroos
se dae uit my mond
en reënboog uit die prismastreke
my klipkil hartland oop.In jou lig
staan ek verwese, teruggevoer,
voor my gesmelte suikerbrug
en my hart vol moer.
Die ‘baaierd’ herinner aan die volgende gedeelte in T.S. Eliot se ‘East Coker'(v:31):
[…] And so each venture
Is a new beginning, a raid on the inarticulate
With shabby equipment always deteriorating
In the general mess of imprecision of feeling,
Undisciplined squads of emotion […]
Talle ander gedigte skakel met die digter se Noord-Kaapse herkoms; die idee van wortelskiet; ook die jukstaposisie wat tussen Engels en Afrikaans geskep word: lank het die digter net Engels gepraat (‘Brits gesoog’), maar terselfdertyd het hy ook in Brits skoolgegaan.
Woordboom 1
Trek uit my woord
’n blokdiagram wat langbeen wys
hoe ek in houtskoolbanke
Engelse woorwaarde prys;
probeer dan stam en soort
bepaal deur analise van die klanke,
dring deur die vlees af na die pit,
die geraamte, wit
bevrees en biltongdroog:
’n Boerskelet wat, Brits gesoog,
op dertig begin wortelskiet
in diederik se roepgebied
(Afrika se wisselende windewyk
waar woorddele soos vrugte pryk).
Daar, tussen rotse aan die rand,
begin desibels Boerwees die doring dryf
om meters klank neer te skryf:
klink en kopuleer nou hier en daar
die klankboomwortels aanmekaar.
Die doring-motief word verder in die bundel uitgestippel en verleng deur die ‘enkeldoring’ of Acacia-robusta; snoei-metafore; Boer en Brit(s). Totius se ‘Daar het ’n doringboompie/ vlak by die pad gestaan’ (‘Vergewe en Vergeet’:47) word hier gereaktiveer en in ’n nuwe konteks geplaas. Totius se gedig is ook te sien by die Vrouemonument in Bloemfontein. Ter wille van spasie haal ek slegs sekere gedeeltes uit Van Rensburg se gedig aan:
Boom-Stam-Boom (27)
Vir Lorraine
(i)
Die penwortel vroetel-voel vir watervoeding,
druk dit osmoties na die kroon:
Acacia-robusta of enkeldoring
(soms Engelse doring genoem) vertoon
geel bloeiselballe en beenwit
dorings teen die Noord-Kaaplug:
bied skaduwee waar ek kan sit
maar stamdorings steek my ruweg in die rug.
(ii)
Van Prince Albert tot in Suid-wes
het my oupa met snoeiskêr en mes
bome ge-okuleer […]
(iii)
Maar die weefsels se Boerbloedvlam
groei oor letsels van die Engelse robuuste stam […]
‘Bittereinder’ (28) aktiveer die Anglo-Boereoorlog (tog net nié die Suid-Afrikaanse Oorlog nie!) wat weereens die stryd tussen Engels en Afrikaans uitspel. Let op die woord ‘kombuisuitskot’ en ‘gepuurde stam’. Hierdie gedig het ’n profetiese kwaliteit: dink aan duisende expats in die buiteland asook die verdrukking wat Afrikaans tans beleef. Tog neem die gedig ’n positiewe wending, wat dalk ook profeties mag wees: ‘die rebellie se vuur’, die ‘botsels’ en die ‘feniks’:
Uit my heilig-geagte grond
is ek wreed vir ’n ander losgeskeur,
my stam vertrap, my takke afgebeur.
Ek is verdruk, in depressie leeggebloei
en op die vullishoop sal dit boomskraap gaan,
maar stammaak my net voor ek stomp word
sodat ek ’n wortel tot by water kan roer,
sodat ek die rebellie se vuur weer voer
en soos ’n feniks
nuwe vlinderblare en botsels ontvou
om van meet af ’n gepuurde stam
uit kombuisuitskot te bou.
Gedigte soos ‘Snoeityd (30); ‘Noord-Kaap (31), ‘umNgamanzi’ (33) wat die enkeldoring se Zoeloenaam vergestalt en ‘Boom’ (34) is verdere voorbeelde van bogenoemde tematiek.
Die versugting na reën, iets wat die meeste van ons tans ondervind met die knellende droogte, word meesterlik in ‘Noord-Kaap’ uitgebeeld. Ek haal die laaste agt reëls aan:
Dorre Noord-Kaap, in drome
stoot die windpomp jou leivoorare
weer vol blinkende bloedwater-strome
en my hartkeerwal loop oor.
Ek ruik die voor-die-reën-kom-reuk
as die ploeglem deur jou sooie gaan
en ek wil weer jou rooikors breek
en kniediep in jou kluite staan.
Laastens haal ek drie van Meyer se meer resente gedigte aan wat in die negentigerjare geskryf is voor hy geëmigreer het. Hy skryf die volgende oor hulle:
Die nuwe Afrikaanse gedigte is saamgevat in ‘n bundel met die naam Motsa wat uittog of eksodus beteken. (Ek wou dit eers ‘Ek sȇ dus:’Eksodus’ genoem het). Dit was geskryf voordat ek seker was dat ek oorsee sou kom, maar dit gaan juis daaroor. Dit het ook drie gedeelte : Eksodus (wat die geskiedenis van die Eksodus van toepassing maak op al die mense wat uit SA emigreer); ‘Uitspraak’ (wat weer met klank te doen het, maar die keer gaan dit oor ‘spraak’ en nie oor ‘hoor’ nie); en dan, laastens, ‘Uitgang’, wat weer terugkeer na die uitgang van mense uit SA uit.
Aftrede
Hy dink sy oudag in
bou ’n pensioenpensie op
sodat hy kan aftree daar agter
met jakopeweroë t’rug kan sitom binnevet te eet
mooi bakvissies te beloer
wat oor die duine manna
en kwartel saans
die sardiens loop wulps in Durban
lê ka(a)lbas(sies) in die sand.*
Eks. 18:5
‘Jetro, Moses se skoonpa, het met Moses se seuns en vrou
na hom toe gegaan waar hy kamp opgeslaan het’.Na ’n lang stryd van lei
en stryd van haar met myoor besnydenis en bloed
wat maande lankal woedom middernag terwyl sy slaap
met my wat tussen bid en gaapmy omdraai om ’n nuwe lê te lê
(so baie antwoorde wil ek nog hê)vat ek die punte van haar liggaam raak
en wonder oor U haar so anders maak.
*
Trek uit my woord
..
..
uit
hierdie
klein vertrek
moet woordwys
’n duister volk
verhuis
trek uit my woord
my kleinvolk
…gekopuleerde klinkers van my klankbord…
uit taai tradisieklou
wat verstaal
vas wil hou
trek uit
my Woord
hang
vasgehamer
hale oor
kaal blaaie
uitge(s)trek
want die
Groot Vertrek
verlang
dit so
..
..
.
My hartlike dank aan Meyer van Rensburg wat soveel materiaal (resensies, analise, foto’s, en so meer) aan my beskikbaar gestel en aan my toevertrou het. Mag die Woordman van die Noord-Kaap weer in Afrikaans begin droom.
En my ewige dank aan my digmentor wat Klankmanwoordboom vir my gestuur het.
Bibliografie
Brink, A.P. (ed). 2008. Groot Verseboek, Deel 1. Kaapstad: Tafelberg.
Britz, E.C. (1983). ‘Klankmanwoordboom. Treffer in ou styl’. Die Vaderland, 22 Desember 1983, 12.
Eliot. T.S. (1972). Four Quartets. Londen: Faber.
Handboek van die Arikaanse Taal. (2015). Kaapstad: Pearson.
Marais, D. (ed). 2009. As almal ver is. Suid-Afrikaners skryf huis toe. Kaapstad: Tafelberg.
Opperman, D.J. (ed). 1990. Senior Verseboek. Kaapstad: Tafelberg.
Van Rensburg, M. (1983). Klankmanwoordboom. Kaapstad: Human & Rousseau.
Ek stem heelhartig saam met jou, De Waal.
Ek het hierdie artikel baie geniet. Die slim woordspelinge en verdoeselde verwysings na skrywers soos NP van Wyk Louw, Opperman en die ander gee die aangehaalde gedigte ‘n besonderse karakter.
Ek is baie lief vir bome en plante en die gedigte oor die doringboom en die grond van die Noord-Kaap is treffend. Die taal is aards en laat die leser daardie wêreld realisties beleef.
Ek het jare gelede partykeer saam met Meyer gewerk. Dit is aangenaam om weer van hom en sy werk te hoor. Kom terug, Meyer, Suid-Afrika het jou nodig!
Net iets interessants oor “Bittereinder”: my pa het as penkop in the Anglo-Boere oorlog geveg. Hy was van die Kaap af, maar het by die Boeremagte aangesluit en kon dus as verraaier terregestel word deur die Engelse (soos Gideon Scheepers en Jopie Fourie)omdat die Kaapprovinsie nog Brits was. Daarom het hy na die oorlog gevlug na Suidwes wat toe ‘n Duitse besitting was. Die gedig is nou nie noodwendig oor hom nie, maar die snaakse ding is dat my skoonseun in Iraq & Afghanistan vir die Britse magte geveg het. Toe hy teruggekom het van Iraq af het hulle ‘n diens in die kerk in Windsor gehad, wat ek bygewoon het en, teen die mure was die name van soldate wat in Magersfontein en ander plekke in Sa gesneuwel het. Terwyl ek daar gesit het, wonder ek toe hoeveel van hulle my pa dalk geskiet het!!!
Ja, Gisela, dis die drie. Ek haal J.C. Kannmeyer aan: “Daarteenoor publiseer Celliers, Totius en Leipoldt reeds in die eerste tiental jare ná die Anglo-Boereoorlog hulle eerste bundels waarin daar poësie van besondere formaat voorkom. Heelparty Afrikaanse kritici het dan ook na hierdie drie digters as die Driemanskap verwys, ‘n ongelukkige term omdat dit assosiasies met die drie Boereleiers (Kruger, Joubert en Pretorius) ná die Eerste Vryheidsoorlog het en omdat dit ‘n hegte verband en gesamentlike optrede tussen die drie digters en hul poësie veronderstel wat die inherente verskille in aard en ingesteldheid uit die oog verloor.” (Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur; Academica, Pretoria, 1984)
Dankie vir die inligting, Meyer. Klaas Waarzegger is nie bekend aan my nie. Jou gedig is dalk net die gedig wat weer aan Afrikaanse lesers bekendgestel moet word: veral op skool- en universiteitsvlak. Sover ek kan onthou het ons nooit iets van Louis Henri Meurant/Klaas W. op skool geleer nie; net van Pannevis en ‘n paar ‘opsetlike’ taalstryders. Verwys die ‘Drieman’ dus na Celliers, Totius en Leipoldt? Interessant hoe ‘n gedig se analise soveel paaie kan loop: ‘n goeie voorbeeld van ‘reader-response’-teorie. Ek voeg graag jou inligting by, nadat ek jou toeligting oor die ‘drieman’ ontvang het?
Baie dankie, Gisela. Jy het uitstekende werk gedoen met my gedigte. Dit was lekker om dit wte herleef.
Net ‘n paar regstellinge: “Klasie wat die waarheid zeggen”, is ‘n verwysing na “Klaas Waarzegger”. Klaas Waarzegger (19 Februarie 1811 – 29 Maart 1893) was die skrywersnaam van Louis Henri Meurant. Meurant was in die middel van die 19de eeu ‘n drukker, joernalis en ‘n onopsetlike bevorderaar van Afrikaans as taal. Die “Drieman” verwys na drie spesifieke digters in die Afrikaanse letterkunde, waarvan Leipoldt maar net een was.
“Janfiskaal” in die gedig verwys al klaar na my werk, waar ek as ‘fiskaal’ die strome klank moet dophou.
Weereens baie dankie.