die bome reusagtig soos ons was
hilda smits
Hierdie verrassende debuutbundel is een van die eerlikste sienings in Afrikaans van die werklikheid van die emigrant of expat wat Suid-Afrika verlaat het, maar nog steeds worstel met identiteit in ’n nuwe omgewing. Die kinderjare van die digter word byna deurlopend gekontrasteer met haar nuwe lewe in die buiteland. Die herinneringe is skrynend eerlik en brose familiebande word sonder skroom ondersoek. Klein besonderhede kry reusegestalte in die herinneringe van haar kinderjare en staan skerp afgeteken teen die besef van nietigheid wanneer die ek-spreker in ander kontekste beland. Die belewenis van die grootstad Londen het soms ’n byna onwerklike en dromerige kwaliteit, asof die digteres sukkel om tot ’n vergelyk te kom met die verplaasde self. Afstand, afsondering en verlange word egter teengewerk deur vlugtige kontak met ander mense, objekte en herinneringe. Die stad met sy glas en beton word byna ook ’n persoonlikheid en word soms direk aangespreek, maar dit is veral die waarneming van die gewone lewe in teenstelling met die bekende toeristiese gesig van die stad wat uitstaan, soms morbied, onverskillig en smerig, maar dikwels ook warm en verwelkomend. Deurgaans is daar sprake van die spreker se kamera-oog wat objektief probeer waarneem en registreer, maar die ondertoon van melancholie verseker dat die gedigte die leser nie ongeraak laat nie.
Biografiese inligting:
Hilda Smits is ’n boorling van Potchefstroom, maar het haar nagraadse studie in Sielkunde in die VSA gedoen. Van haar gedigte het in Nuwe stemme 5 verskyn. Sy woon tans in Nashville, VSA. Sy lewer gereeld bydraes aan Versindaba.co.za (Protea Boekhuis, 2016. 213 x 137 mm; Sagteband; 80 pp; ISBN (gedrukte boek): 978-1-4853-0640-5; ISBN (e-boek): 978-7-4853-0641-2, ISBN (ePub) 978-1-4853-0642-9)
.
een keer verdwaal ek was 6
julle almal lawaaierig huis toe
maar ek het op die swaai bly sit
om te dink
later het die park ’n geheime taal begin praat
die lig geluidloos soos deur Ma se sif geval
die gras stil geword
soos as stemme ophou praat
soos as mens jou ore moet prik
skemer toe staan ek op
want alles was anders toe stap ek verkeerdom op
in die pad verby die huise van vreemdelinge
slaphangheinings tuindwerge ’n ou Corvette op blokke sonder binnegoed
en al die tyd die lig wat opraak
vir Ma gesien soos ’n groot wit mot
sproei sy die gras in blink strale
en julle en die sproeier hol kaalbas oor die gras
en Ma met haar rooi lipstiffie en groot lag wat sê versiekind,
ek het gewonder waar jy was
.
[Uit: die bome reusagtig soos ons was, deur Hilda Smits; Protea Boekhuis, 2016]
.


Veels geluk, Hilda – hou baie van hierdie gedig!
Sjoe, dis een van die allerpragtigste gedigte wat ek al ooit gelees het! Mooi! Goeie voorskou van wat kom… Waar kan mens die bundel aanskaf? Sal dit beskikbaar wees by “Exclusive Books”? Ek het al verskeie bundels van onder meer Hambidge en Breytenbach daar aangekoop so die sal seker ook daar wees…?
Pragtig, Hilda! Ek kan nie wag om hierdie bundel met my oë te verslind nie. BAIE-BAIE geluk.