Carina van der Walt. Jeroen Bosch se skilderye

rsz_3jeroen_bosch_1_djo

 

Op 9 Augustus sal dit presies vyfhonderd jaar wees dat die middeleeuse skilder Hieronymus Bosch oorlede is. Sy nalatenskap tel vierentwintig skilderye, twintig tekeninge en om nou maar ’n wilde sprong te maak: enkele Afrikaanse gedigte. Kenners kloof nogal hare oor die aantal skilderye en sketse. Versamelaars en museums se aansien en geld styg en val erger as op die aandelebeurs. Kontroversie en roem sorg daarvoor dat die 75 000 kaartjies wat gedruk is vir die tentoonstelling “Jheronimus Bosch – Visioenen van een genie” in ’s Hertogenbosch (Den Bosch) reeds uitverkoop is. Dié tentoonstelling duur tot 8 Mei. Op 31 Mei open die Nasionale Museum Prado in Madrid, met “Bosch – The Centenary Exhibition”.

As onderdeel van die vyfhonderd jaar vierings van Bosch se kunstenaarskap het sy Nederlandse geboortestad en die Noord-Brabants Museum saamgewerk om die Bosch Research and Conservation Project (BRCP) op te rig. Dit is hier waar wetenskap en kuns saamkom. En dít sorg vir beroering. Die BRCP is vyf jaar terug uit nood gestig om as ruilmiddel te dien vir soveel moontlik van Jeroen Bosch se oorspronklike werk met die oog op “ – Visioenen van een genie”. Daarvoor moes minstens museums soos die Prado, die Louvre in Parys en die National Art Gallery in London benader word. Dit was van die begin af duidelik dat Prado nie “De tuin der Lusten” –  Bosch se meesterwerk – sou afstaan vir ´n tentoonstelling in Nederland of op enige ander plek nie. Te kwesbaar, was hulle verskoning. Bosch is eintlik ´n Spaanse skilder in hulle oë. Hulle noem hom El Bosco.

D.J. Opperman het gelukkig al in die bundel “Engel uit die klip” (1950) oor “De tuin der Lusten” geskryf en dit toeganklik gemaak vir Afrikaanse poësielesers, al het JEROEN BOSCH nooit so bekend geword soos “Draaikewers” en “Sproeireën” nie. Hy het die skildery as ’n onontkombaar bekoorlike nagmerrie beskryf. Vandag kan die detail van “De tuin der Lusten” op internet bestudeer word. Dan verstaan mens sommer baie beter Opperman se verwysings na “stekelige plante, voëls en mens” en “laat ons vlug uit die gebras / en skuil in mossel” en na “sweef in belle glas”. Hierdie aanhalings uit Opperman se gedig is almal bo-aan die artikel in ’n uitsnede van “Die tuin der Lusten” afgebeeld. Dis moeilik om ´n mens se oë daarvan los te skeur wanneer Bosch duiwelsadvokaat speel. Hy vra as kluisenaar en absolute eenling aandag vir die verval van morele waardes in sy tyd.

 

JEROEN BOSCH

 

Ydel is die wêreld, maar ydeler my gees,

wat om die dertig nagte in nagmerries

van stekelige plante, voëls en mens genees.

 

Uit ou en nuwe streke van die aarde kies

die duiwel al hoe lustiger vir my, vir jou,

vir die derduisende kostuum en mombakkies.

 

Dit trek stoete, kermis om die Kruis, wissel

van gedaante deur die eeue; maar die spel

bly steeds dieselfde in monnike, masjiene of dissel.

 

En ewig in die kringloop van die lus gevang

ry ons en kap die lieste van die hingste

om en om die kraaie op kaal vrouens in die dam.

 

Ag, Liefste! Kom dan, laat ons vlug uit die gebras

en skuil in mossel, horingpeul – en ver bokant

die kermis van die bose sweef in belle glas.

 

Want in my is die swaap, die visgelipte sot

wat elke toertjie van ’n towenaar befluit …

maar wonderwerke en Sy kruisiging bespot;

 

en, as ek God saam met Antonius aanroep,

is hy reeds daar wat van ’n nuwe geilte

roekeloos die eerste swaeltjies deur ’n tregter poep.

 

Jeroen Bosch 2 DJO

 

In strofe 4 fokus Opperman op die deel regs, skuins bokant die eerste gedetailleerde afbeelding. Dit word die Moredans genoem. Die dans vind plaas om die dam met die kaal vrouens en kraaie.

Bogenoemde twee afbeeldings is onderdele van die middelste paneel van “De tuin der Lusten”, wat eintlik ´n drieluik is. Die linkerkantste luik beeld die skepping van Adam en Eva uit. Die middelste luik beeld die aardse lewe as ´n tuin vol verleidings met eksotiese plante en diere, kaal mense, fabelagtige wesens en pienk fonteine uit.  Dis hierdie luik wat die oorkoepelende naam “De tuin der Lusten” dra en waardeur Opperman verlei is om sy gedig JEROEN BOSCH te skryf. Die regterkantste luik beeld die hel uit. Die slotreël van die gedig verwys na ´n onderdeel uit die hel en word in die volgende afbeelding uitgebeeld.

 

rsz_jeroen_bosch_3_djo

 

Opperman se verwysing na Antonius roep die skildery “De verzoeking van de heilige Antonius” op. Dit  is  één van die werke wat ´n opskudding  veroorsaak het. Die BRCP het ´n nuwe sisteem ontwikkel waarmee hulle die egtheid van al die Bosch-skilderye getoets het. Daarvolgens is “De verzoeking van de heilige Antonius”  in Prado ´n vervalsing. Tegelykertyd het die BRCP het ook ´n egte skilderytjie uit 1500 – 1510 met dieselfde naam ontdek. Dit het in die Nelson-Atkins Museum of Art in Kansas City, Missouri, gehang, maar is nou op bruikleen in Den Bosch. Die BRCP het onder andere skildertegnieke vergelyk. Jeroen Bosch se handtekening is sigbaar gemaak met behulp van infrafrooi fotografie. Die Spanjaarde is woedend. Hulle het geweier om die bruikleenkontrak met die Noord-Brabantse Museum volledig uit te voer en twee skilderye teruggehou: “De verzoeking van de heilige Antonius” en “De Keisnijding”. Die twee weergawes van “De verzoeking van de heilige Antonius” verskil nogal. Hieronder is ´n afbeelding van die ontdekking in Missouri: net 38,6 by 25,1 sentimeter groot.

 

Jeroen Bosch 4

 

Gelukkig het Prado “De hooiwagen” (’n ander drieluik van Bosch) wél in bruikleen aan die Nederlandse museum toegestaan, maar ook hier was daar ´n slang in die gras. In plaas van om dit direk na die Noord-Brabantse Museum in Den Bosch toe te stuur, gaan maak “De hooiwagen” eers vir drie maande ´n draai in Museum Boijmans van Beuningen in Rotterdam! Dit het weer vir groot teleurstelling gesorg by die Noord-Brabants Museum, maar hulle hande was afgekap. Boijmans van Beuningen besit kosbaarder ruilware vir so ´n tipe transaksie as die BRCP.

Johan van Wyk se gedig oor “De hooiwagen”  is in sy bundel “Deur die oog van die luiperd” (1976) gepubliseer. In hieronymus bosch se koringwa word die linkerkantste paneel in die eerste vyf strofes beskryf. Wat Van Wyk herkenbaar verwoord, is “die rebelse insekte swem in ’n boeg af” en ook “’n markvrou / tussen vrugtebome, God trou / adam en eva”.

Van Wyk gebruik aan die einde van strofe 2 ’n aanhaling van die relatief onbekende digter Gert Strydom. Dit is ’n intertekstuele standpunt in kontras met Breytenbach se beginreël “Dat pyn bestaan is onnodig Heer” uit breyten bid vir homself. Betrek Van Wyk ook in strofes 3 en 4 in die langer aanhaling vir Strydom? Of skryf hy eintlik die standpunt van Bosch neer wat die verdorwenheid van sy eie tyd uitbeeld in ewe verleidelike as bedreigende beelde? Wie is “God se raadgewer”? Waar die lang aanhaling met die eietydse opmerking “dis demokraties heer” vandaan kom, is onduidelik.

Net soos by “De tuin der Lusten” dra die middelste paneel die naam van die hele drieluik “De hooiwagen”. Op hierdie paneel begin Van Wyk se beskrywing regs onder by “die vet monnik” wat met ’n wynbeker in die hand sit en kyk na “die nonne wat die sakke… / vol koring maak”. Sentraal voor die koringwa in dié deel is ’n “broer wat sy broer keel- / af sny”. Eietyds interpreteer Van Wyk die karakters aan die linkerkant as “ministers met politieke kommentators” wat intertekstueel kan verwys na TT Cloete se gedig Behoefte aan ongunstige weers- en ander omstandighede. Ook die “vraatsugtiges wat onder die wiel omkom” en die “skare ongediertes” wat die koringwa in die hel in trek, is sigbaar op die middelste paneel.

 

hieronymus bosch se koringwa

 

die rebelse insekte swem in ’n boeg af

na die maagdrots, ’n markvrou

tussen vrugtebome, God trou

adam en eva, oproeriges word verban

 

na die aarde die paradys

terwyl hulle daal

kyk hulle met blitsende oë na die vrou, kaal

en dom, “dat pyn bestaan is nodig heer”

 

byt God se raadgewer hom in die oor,

“mag ons hulle kennis gee

dis demokraties heer, mag hulle naak

mekaar se vrugte aanraak

 

en vinnig die drif probeer toemaak met bak

hande, blare en lap, mag hulle pyn

hê, heer, en mag hulle inmekaar saak

in die stof, straf ons so, heer”

 

die hartseer engel met die swaard

jaag hulle uit, nog met skrik en slaap

in die oë, so het dit gekom dat almal loop

agter die koringwa: die nonne wat die sakke van die vet monnik

 

vol koring maak, ’n broer wat sy broer keel-

af sny, ministers met politieke kommentators

wat betaamlik volg en vraatsugtiges wat onder die wiele omkom

’n skare ongediertes leitrek die mensdom na die hel

 

dit is elke mens vir homself, met homself

selfs seks is net vir self, die wederhelf

word in die liefdestransaksie ingedans

en “ena gee raad” psigosofeer oor wat

 

ons moet maak met probleme

elke heerser is ’n antichris wat omsien

na sy mense se belange en sorg dat die wa van onenigheid

nie uit sig raak nie, en niemand

 

behalwe ’n engel kyk op na God

op ’n wolk bo al die gewoel, in die hel

is elkeen bang hy word nie meer verkrag of gemartel nie

 

want, dat pyn bestaan is nodig

 

rsz_1jeroen_bosch_1_jvw

 

Ook ander Afrikaanse digters soos W.E.G. Louw het oor Jeroen Bosch se werk geskryf.

Dat digters vandag nog in die ban van Bosch se skilderye nuwe gedigte skryf, is te verstane as mens na al hierdie afbeeldings kyk. Digters laat hulle bewustelik of onbewustelik verlei. ’n Gedig van ’n stadsgenoot wat verlede jaar op die tafel beland het by die “Literaire Salon in’t Wevershuisje”, is nié geskryf na aanleiding van ’n skildery van Bosch nie, maar verwoord baie tipiese Jeroen Bosch-beelde.  Net soos Opperman beskryf Jef van Kempen ’n droomwêreld aan die nagmerrie-agtige kant in sy volgende gedig:

 

Theater

 

Stel je voor: een toneel van dolende nachtvogels

boven een doorweekte woestijn, in een duister

 

hospitaal voor koortsige landlopers.

Stel je voor: een opera van rondborstige gedrochten,

 

verwekt in een glazen stolp, amechtig lispelend,

op kromme stelten strompelend, in een vuile

 

sneeuwjacht van de diepe winter.

Eind goed al goed vonden de trage doden hun draai

 

en bestegen, tegen de keer, het paard van Troje

en maakten hun dromen waar.

 

Jeroen Bosch 6 Jef v Kempen

 

In die uitsnede van “De tuin der Lusten” hierbo is duidelik in strofe 1 ’n “dolende nachtvogel-” in die gedaante van ’n vet uil te sien (met alle simboliek verbonde aan uile soos erotiek en dwaasheid in die Middeleeue). Is hierdie mense op die afbeelding nie belustig – koorsig van lus en wellus, hoop en wanhoop nie? Strofe 3 begin met “verwekt in een glazen stolp”. Inderdaad. In die middel is drie mense onder ’n soort deurskynende klokkie met mekaar besig. Selfs die Moredans wat Opperman ook beskryf het, kry ’n plekkie in Van Kempen se gedig met “Eind goed al goed vonden de trage doden hun draai / en bestegen, tegen de keer, het paard van Troje” (Strofe 4-5).

Bernard Odendaal het die gedig van Van Kempen in Afrikaans vertaal. Vertalings is vir digters soos toonlere vir komponiste. Oefenlopies. Woorde soos “landlopers” en “amechtig” moes vir Odendaal nogal moeite gekos het. Deur vertalings soos hierdie word die Afrikaanse poësie verryk.

 

Teater

 

Stel jou voor: ’n toneel van dolende nagvoëls

bokant ’n deurweekte woestyn, in ’n donker

 

hospitaal vir koorsige boemelaars.

Stel jou voor: ’n opera van rondborstige gedrogte

 

verwek onder ’n glasstolp, uitasem lispelend,

op krom stelte strompelend, morsig aan die

 

jag in die diepwintersneeuw.

Einde goed alles goed kry die trae dooies hul draai

 

en bestyg, dwarstrekkerig, die perd van Troje

en maak hulle drome waar.

 

Laat digters na Afrikaans toe vertaal en verhinder hulle kinderlike verwondering en bemoeienis nié. Speel ek duiwelsadvokaat?

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Carina van der Walt. Jeroen Bosch se skilderye”

  1. Charl-Pierre Naude :

    Boeiende stuk, Carina.

  2. Gerard Scharn :

    Met interesse gelezen.

    Mag ik u het volgende gedicht aanbieden?

    jeroen verbindt ons allen

    wie o wie heeft de duivel in zijn kont gekeken
    en pijlen door mijn oor geschoten
    gebochelden kreupelen en mismaakten
    met horrelvoet en loopoor bedelaars
    en demonen heiligen marskramers
    verloren zonen hoeren kasteleins
    blauwe schuitenvoerders gouwdieven
    landlopers en nonnen met spinrokken
    monniken in dirndl leprozen op krukken
    korstkoppen spiritusdrinkers trechtermannetjes
    keisnijders het is uit het leven gegrepen

    ergens hoor ik een vedel krassen en weet
    dat gieren en deurwaarders verbonden in
    het kwaad en lelijkheid de dans ontspringen
    om mijn zevenvoudig zondig lichaam
    naar de galg te begeleiden

    Met vriendelijke groet,

    Gerard Scharn (´s-Hertogenbosch)

  3. Louis Esterhuizen :

    ‘n Fassinerende essay, Carina. Dankie. Johan van Wyk se “Heldedade kom nie dikwels voor nie” is en bly nog altyd ‘n uitsonderlike bundel in ons digkuns, myns insiens. So ook sy debuut, waarna jy verwys.

  4. carina :

    Dankie vir die kompliment, Charl-Pierre en Louis. Daar is ‘n YouTube filmpie oor die opening van die aktiwiteite van “BOSCH Y BOSCHO: De tuin bevlogen” van kunstenaar Sjon Brands. Dit het Vrydagoggend 1 April in Den Bosch begin met hierdie prosessie. Die tentoonstelling van sy reuse voëlskepe uit ou gebruiksmateriaal, ‘n houtblaasorkes met middeleeuse musiek (Calefax), lesings e.a. aktiwiteite het uit Jeroen Bosch se geboortestad vertrek na stede waar “De tuin der lusten” ooit gehang het: ‘s Hertogenbos, Breda, Brussel en Madrid (Prado) om weer te eindig in ‘s Hertogenbosch. Die volledige kunsroete met verskillende aktiwiteite is fassineren en duur tot 8 Januarie 2017.

  •