Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
27 June 2016

Marlies Taljard: Ons is die mitemakers

Creation

Wanneer literêre tekste ter sprake is, impliseer die term mitologisering onder andere die interpretasie en weergawe van ʼn bepaalde wêreldbeeld. Veral in poëtiese tekste waarin oor die aard van die skryfhandeling besin word (Ars Poëtica) hang die mitologisering van gebeure dikwels saam met die verwysing na die oorsprong van die woord, wat ook die Woord kan word wanneer die Johannes Evangelie as interteks betrek word. Hierdie tipe mite aktiveer een van die sterkste argetipiese simbole, naamlik skepping. Onwillekeurig dink mens hier aan die bekende sonnet van Willem Kloos, “Ik ben een God in ‘t diepst van mijn gedachten” waarin die digter, wat ʼn werklikheid in die kleine deur woorde skep, iets ondervind van die wyse waarop God die wêreld uit niks tot stand gebring het deur die Woord. Dikwels word, deur aktivering van die skeppingsargetipe, klem gelê op die gekonstrueerde aard van die kunswerk en word die leser met die metafiksionele vraag gekonfronteer of die wêreld ʼn blote skepping van ons woorde is – ʼn vraag wat in postmodernistiese tye besonder relevant is of was, afhangend van waar ons dink ons onsself tans bevind!

In die openingsgedig van Susan Smith se debuutbundel in die afwesigheid van sin word klem gelê op die wyse waarop die mens deur alle eeue ʼn beeld van homself geskep het en dit vir die nageslag probeer nalaat:

 

graffiti

 

ons is die mitemakers wat in klipskeurgrafte

kelders sarkofae piramides

en meer onlangs

teen elektroniese fb-

en dergelike mure ons narratiewe agterlaat

 

ons is die skeppers van storie-hiërogliewe

makers van palimpseste en herskrywings

skribante van immer wisselende

kanttekeninge, veelvuldige blogs en glosse

teen die gewels en fassades van verganklike strukture

 

ons stook vertelvure in skrikdonker nagte

wanneer die onheil in ons rigting kopknik

tik op verligte palette

wanneer die aardkalbas op ʼn foutnaat in twee

wil bars

 

in die afwesigheid

van sin is ons die Tekensoekers

die glomakers   die fynkykers

wat voor ons vertrek

teen die heelalmuur se mosaïek

ons onthoumerke maak:

 

die betekenis

van ʼn onbelangrike mens

 

In hierdie gedig kom ʼn funksie van die mite aan die orde wat deur Eliade beskryf word, naamlik die mite as openbaarmakende verhaal, as die manifestasie van syn. Dit is myns insiens die kern van Smith se gedig – dat die mens blyke wil gee daarvan dat hy leef of geleef het, ongeag hoe onbenullig dié lewe mag gewees het. Daarom die tallose inskripsies op alle moontlike plekke – inskripsies wat in die moderne era ʼn siek selfbeheptheid op facebook en elders op die internet geword het. Kenners wys juis op die moontlikhede wat moderne media ten opsigte van gefiksionaliseerde “selwe” bied. Die skeppende mag van die woord word “op fb- / en dergelike mure” tot sy uiterste uitgebuit. Dit bied die mens die geleentheid om sy lewe in storievorm aan te bied, om as’t ware die eie ek te skep deur woorde teen mure, deur onsself te herskryf op die model van bekende en beroemde mense. Ook dit is alles aspekte wat met mitevorming verband hou.

Heilna du Plooy se gedig Korinna van Tanagra in die bundel Die stilte opgeskort is gebaseer op die krag van mitiese verhale met hulle argetipiese waarhede wat selfs deur die eenvoudigste mense verstaan word en wat besondere trefkrag inhou:

 

Korinna van Tanagra

 

In ʼn poësie stryd wen Korinna van Tanagra

teen die grote Pindaros en raai hom aan:

“Deur die geliefde mites en verhale van die gode

moet jy met jou mense praat dat hulle jou verstaan.”

 

Sy aansien by die muse in antieke Griekeland

– nege  mans en ʼn enkele vrou wat tydloos goed kon dig –

ter wille, volg Pindaros toe glo die raad, maar kwistig

bly hy uitborduur. Sy wen hom weer, altesaam vyf keer,

 

en sê: “Die digter, goeie vriend, saai nie

met die sak vol saad nie, maar met die hand.”

 

Ook in hierdie gedig wat die skryf van gedigte as tema het, word klem gelê op ʼn belangrike aspek van die mite, naamlik sy gekonsentreerde aard, maar ook op die tydlose inhoud van die mite. In ʼn ander gedig uit dieselfde bundel (Die vrou en die veer) word eweneens kommentaar gelewer op die skryf van die gedig. In hierdie strofe gaan dit oor die misterie van skryf:

 

Hoe lig is die libido, hoe

onverklaarbaar die misterie

van sin wat ontstaan

in die nalaatbaar veerligte gewig

wat die volmak onreëlmatige

ewewig nooit kan ontbeer nie.

Dit is die essensie, die gravitas.

Daarsonder stort ek in duie.

Ook my gedig.

 

Dig as mitevorming sou ewe goed die tema van hierdie strofe kon wees, want mites word dikwels gedefinieer as heilige verhale waarin die misterieuse en die numineuse ʼn bepalende rol speel, verhale wat sin gee aan die onsienlike: hoewel die gedig doelbewus gekonstrueer word en daar fyn gelet moet word op harmonie en ewewig, kan die “onverklaarbare misterie” wat net so ʼn belangrike rol speel in die skryfproses, nooit agterweë gelaat word nie.

Die mite as ontstaansverhaal, soos André Jolles dit verstaan, spreek uit die beginvers van Louis Esterhuizen se bundel wat die water onthou:

 

dat daar altyd ʼn begin is –

daardie yl siddering wanneer korrels

langsaam verdig

en hegting gevind word

 

aan die weefsel wat sagter as grond

in dieptes lê waar dit donker

is en wyd genoeg

vir volgehoue groei

 

tot dit tyd word vir die water

om te breek: daardie eerste moment

wanneer water aan water

geboorte gee en alles weer begin

 

om stelselmatig te vloei na

die kwansuise bron tussen wolke

 

Volgens Jolles is die mite die antwoord op die vraag: “Waar kom dit vandaan” – in hierdie geval dan seker: “Waar kom ʼn gedig vandaan?” Gilbert Durand brei daarop uit deur aan te voer dat die mite ʼn sisteem van simbole en argetipes en skemata is wat die vorm van ʼn storie aanneem. Ek dink dat Esterhuizen se gedig juis dié aspekte van die mite illustreer en diegene wat die bostaande gedig aandagtig lees, behoort in te sien dat letterlik al die simbole wat voorkom, sterk argetipies van aard is: water, geboorte, donker, saad, groei … Ek wil ook beweer dat die skema waarbinne die gedig gegiet is, sterk mities van aard is en herinner aan die magdom skeppingsmites wat wêreldwyd bestaan.

Die skryf van gedigte is – aldus talryke Ars Poëtica-gedigte – sterk mitologiserend van aard deurdat skryf dikwels as skeppingsdaad beskou word, deurdat digters glo dat gedigte in staat is om vrae na die aard van dinge te beantwoord en deurdat gedigte, soos mites, die “ek” manifesteer en na die dood kan laat voortleef. As draers van religieuse waarhede, word gedigte ook dikwels beskou as sin-gewend aan ons aardse bestaan – in ʼn volgende blog meer hieroor.

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Onderhoud met Marlene van Niekerk. Die aarde as oester en ander skryfkundes
Marlies Taljard: Fragmentering en rekonstruksie →

2e gedagtes oor “Marlies Taljard: Ons is die mitemakers”

  1. marlies taljard says:
    29 June 2016 at 08:39

    Dankie, Marie!

    Reply
  2. marie bredenkamp says:
    29 June 2016 at 07:32

    Jou woorde breek my dag oop.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Resensie: "Dawerende stiltes" (Caren Kearley)
  • Resensie: "Wilma Stockenström: Met my wysvingertop" (Ronel Foster, red.)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 1)
  • Joan Hambidge. Athol Harold Lannigan Fugard
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 3 - slot)

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk
  • Bert Bevers. Aanwijzingen
  • Riaan le Roux. Kans
  • Paul Kloppers. bosluisvoël
  • Digtersprofiel: Marlise Joubert

Nuutste kommentaar

  1. Stephan du Toit on Stephan du Toit. Geboorteland13 January 2026

    Baie dankie Marthé.

  2. Bernard Odendaal on Bernard Odendaal. Musikale oomblik9 January 2026

    Dankie, Joan.

  3. Marthé McLoud on Stephan du Toit. Geboorteland9 January 2026

    Treffende gedig.

  4. Joan Hambidge on Bernard Odendaal. Musikale oomblik8 January 2026

    'n Uitstekende palinode - spel met Cloete. En die slot is 'n mokerhou! Jou gedig is treffend.

  5. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Voorbeeldig8 January 2026

    Treffend. En: Gesondheid in die rondheid!

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d