Wicus Luwes. ‘n Walvis in die Ketelkelder

ketelkeldr_digters

As kind het jy ‘n boomhuis of ‘n ‘den’. Ek is nie seker wat die volwasse ekwivalent is nie, maar ek voel of ek onlangs in ‘n ander soort boomhuis was. Eintlik is dit ‘n soort ondergrondse boomhuis. Ek het NALN, die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum, in Bloemfontein besoek en het ‘n punt daarvan gemaak om ‘n draai in die Ketelkelder te maak. NALN se nuusbriewe wys van tyd tot tyd foto’s van voorlesings en boekbekendstellings wat in die Ketelkelder gehou word. Die Ketelkelder bied ‘n intieme ruimte om sulke geleenthede aan te bied.

deonmeyer hildasmits

Twee foto’s vanaf die ‘Vriende van NALN’ se Facebook-blad

 

mossie onder ‘n tafel gesien hop-hop
groot soos die hart van ‘n mier & net so donsig
bo die tafel die helder stemme van vroue messe glas
ek wou my hand oor jou vou
soos ‘n brug
die punte van my vingers een vir een teen jou benerige ribbes hou
daar waar die asem ‘n poel groen water is
my oor stetoskoop teen die klein dreun van jou bonsende borskas druk
waar die bloed in strome klop soos deur ‘n ou jukebox skud
wou ek silwer rand in die hand vra om die musiek van jou klein liggaam
te hoor & om weer klein te wees soos onskuld & dit nie te weet nie

deur Hilda Smits uit ‘die bome reusagtig soos ons was’, Protea Boekhuis, 2016

 

Hilda Smits se handtekening is teen die mure van NALN se Ketelkelder. Gilbert Gibson, Gisela Ullyatt en Carina van der Walt s’n is ook daar. Daar is ‘n hele paar skrywers en digters se handtekeninge teen die muur. NALN het ‘n pragtige ruimte vir die handtekeninge teen die mure van die Ketelkelder geskep. Dit kan seker as ‘n soort lewendige uitstalling van die letterkunde gesien word. Daar is ook ander bekendes se handtekeninge teen die muur: Margit Meyer-Rodenbeck, Joanie Combrink, Richard van der Westhuizen, Lochner de Kock om maar ‘n paar te noem. (Maandagoggende kry die Ketelkelder selfs meer lewe wanneer die Vriende van NALN se weeklikse boekemark daar plaasvind!)

 

lamentasie (ii)

welgeluksalig is die wat van die veronderstelling uitgaan
dat alles, ja alles, beter sal word;
diegene van wie die hart van skone skok
in winterswem wil-gaan-staan.
welgeluksalig die wat die reuk van rooigras
as simbool van beterwete onthou,
wat dié gras tussen ander halms kan herken.
welgeluksalig die wie se asem van trappe klim opraak,
naelbyters, angstiges, die wat vroeg soggens wakker word
en nie verder kan slaap nie. welgeluksalig
die wat met hand skrywe, sampioenplukkers,
horlosieversamelaars, die wat onnodig bang of verlang:
twee vir ‘n stuiwer; die binneste donkerte.
welgeluksalig die wat in vliegtuie vaak raak,
die wat ly aan roomyshoofpyn, oë
soos bloedgestude plasse in die gesig
welgeluksalig die wat bemin
met ‘n mond vol gif, in drome vry
is die geluk so gelede
soos ‘n kwashaal op ‘n skildery

deur Gilbert Gibson

 

20160712_121654
Foto: Selfs Arthur Fula, die eerste swart Afrikaan om ‘n roman in Afrikaans te skryf, se familie het hul handtekeninge teken die mure van die Ketelkelder kom maak.

Een van die dinge wat ek interessant gevind het, was dat die Ketelkelder ook die plek was waar die Aasvoëlklub sy oorsprong gehad het. Die Aasvoëlklub, net buite Bloemfontein, is waar menigte sangers en ander kunstenaars deesdae agter die mikrofoon inskuif. Die Aasvoëlklub het ‘n paar jaar gelede die Ketelkelder gebruik as bymekaarkomplek vir mense met ‘n voorliefde vir die digkuns/letterkunde. Die klub het deur die jare ‘n wyer gehoor begin teiken en die Aasvoëlklub se huidige inkarnasie was die gevolg. Ek kon my ore amper nie glo toe ek van die verwantskap tussen NALN en die Aasvoëlklub hoor nie. Ek was juis daardie aand uitgenooi om na ‘n konsert van Koos van der Merwe te gaan kyk by die Aasvoëlklub en hier bevind ek my toe by die plek waar dit as’t ware begin het.

‘n Windpomp begroet jou by die parkeerarea van die Aasvoëlklub. Ons soek die ingang en stoot die deur oop. ‘n Man stap nader en heet ons welkom. Hy laat weet dat die kaartjieverkoper nog nie op sy pos is nie, maar dat hy nie gaan toelaat dat ons koudkry in die Vrystaatse winter nie. Met my eerste kennismaking met die klub kry ek toe wraggies my tweede boomhuis of ‘den’-ervaring vir die dag. Eers by die Ketelkelder en daarna by die Aasvoëlklub. Albei plekke praat met my op ‘n anderse vlak.

20160712_200137

Koos van der Merwe sing ‘n paar liedjies van sy Bob Dylan-album, ook ‘n paar ander vertalings van Edith Piaf. Hy dra ook van sy gedigte voor. Tussendeur ‘n lekker bord wildsvleis knoop ek ‘n gesprek met die eienaar, Hein, aan. Hy praat met my oor die mens en die unieke verband wat mense met metafore het. Hy vra my of ek besef hoe ons metafore gebruik om te dink. Ek besef opnuut dat die mens ‘n ongelooflike gereedskapstuk in die metafoor het.

 

Vanaand

as jy my vanaand kom haal
kom kaal
as jy my vanaand kom kry
kom bly
vanaand by my
as jy iets van liefde wil kom sê
kom lê
vanaand by my
die plek is koud
en ek is arm
kom vanaand
en maak my warm

deur Koos van der Merwe uit ‘Rympies in die vliet’

 

Ek sal definitief beide die Ketelkelder en die Aasvoëlklub weer wil besoek. Dit voel soos ‘n eerste besoek (van vele) en hopelik sien ek hul weer later. My gedagtes gaan terug na vroeër die dag toe ek ‘n paar woorde van Philip de Vos teen die mure van die Ketelkelder raakgelees het:

Hallo, Walvis
Hoesie water
Nat, ou pêllie
Sien jou later

20160712_122947

Bronne:
Joubert M. in a burning sea. Protea Boekhuis. 2014
Smits H. die bome reusagtig soos ons was. Protea Boekhuis. 2016
Van der Merwe K. Rympies in die vliet. 2013

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •