Afrikaansonderwysers: Poësiemoordenaars par excellence?
Vir jare het Antjie Krog se gedig “Onderwyser” uit haar debuutbundel Dogter van Jefta (1970) voor teen my ligpers klaskamermuur gepronk.
Jy staan voor ons in die klas
by jou tafel, by jou moedertaal
by jou boeke, jou hoedjie en jou tas
Jy staan voor ons soos ‘n klein Jericho
en al het jy mure om jou gebou
dra jy tande van silwer en goud
en al het jy wagters in al jou torings
bly daar ’n Ragab in jou
Tog bly jy sterk
al trek ons elke dag óm jou
met die ark van die jeug op ons skouers,
met trompette van ligsinnigheid voor ons monde
Tog bly jy werk,
al krummel jou mure op die sewende dag
al val jy vooroor op die aarde
jy sal nie kla oor jou lot
want Malherbe is jou here en
Totius jou god
Ek het dit sonder goedkeuring met dik swart ink neergepen om heimlik ’n liefde vir die Afrikaanse poësie by my hoërskoolleerders te probeer kweek. Of dalk het ek dit daar geskryf om myself elke dag beter te laat voel oor die selfopgelegde taak om poësie by Engelssprekende leerders se keelgatte af te wurg sodat hul die matriekeksamen kon slaag. Dit is tog immers waarom poësie op skool onderrig word: sodat leerders soos goed opgeleide soldate aan die einde van hul matriekjaar antwoorde oor alliterasie en temas en slimmighede vanuit studiegidse (waarmee iemand altyd ’n ekstra geldjie verdien) verbatim neer kan skryf. En sodoende kweek Afrikaansonderwysers nog ’n generasie poësieliefhebbers wat die boekwinkels soos besete renosters gaan bestorm elke keer wanneer ’n nuwe poësiebundel verskyn. Digters sou (dalk) skatryk wees en Jan Publiek sou minder belanggestel het in romans met reeksmoordenaars, lyke en bloedspatsels op die hoofkarakter se Gomma-Gomma sitkamerstel.
Gedurende ’n dekade in die onderwys het ek met afgryse meegemaak aan die aftakeling van poësie op skoolvlak. Menigte skolier sal sonder huiwer erken dat sy/hy nie van gedigte (die word ‘poësie’ is vir talle volksvreemd) hou nie. Woorde soos “boring” (die Afrikaanse woord word selde nog benut) duik gereeld in gesprekke op. Die meerderheid onderwysers sal erken dat hul die onderrig van poësie verfoeilik vind weens die aard en uiteindelike doelwit met die onderrig daarvan: om te assesseer. Daar word selde ruimte gelaat vir die waardering van poësie. Die gebrek aan onderrigtyd is hoofsaaklik hiervoor te blameer. Die uitgangspunt met die onderrig van poësie blyk een doel voor oë te hê naamlik om elke versreël te verskeur en elke moontlike vraag en antwoord vir eksamendoeleindes te memoriseer. Heel ironies is die volgende gedig deur Marietjie Vos uit die bundel Toulopers (2011) vir graad 12-leerders wat die Onafhanklike eksamenraad-eksamen aflê, voorgeskryf:
Wat die digter bedoel het
Met toepaslike halfrym en versteekte bedoelings
Die d-alliterasie in die eerste reël dui op ’n dringendheid
Dis wat die digter bedoel het
Let op die inkeping van elke tweede reël in die tweede strofe
Dis natuurlik daar om die spreker se angstigheid te beklemtoon.
Het dit nie dalk net vir hom mooi gelyk nie
Ekskuus Du Plessis het jý miskien die BA
Botha hoe voel jy oor die bedoeling van die oe-assonansie
Die digter was seker ’n amateur
Analfabeet! Dit moes die digter doen om die soel gevoel weer te gee
Jy daar in die agterste ry
Verduidelik waarom juis ’n groen perske
Juffrou dis ’n metafoor vir ’n jong meisie wat nog nie
Probeer jy kru wees Van Der Merwe los jou vuil gedagtes by die huis
Van Tonder waarom dink jy bevat die gedig geen leestekens nie
seker vir effek juffrou
het jy nog niks geleer nie
jy moet sê dis om die onrustigheid van die spreker uit te lig
alliterasie vir beklemtoning
assonansie om min of meer dieselfde rede
tipografiese inkeping om die spreker se gemoedstoestand te weerspieël
vrye vers om al bogenoemde te doen
en ‘n swembad om in te verdrink as alles net te veel raak
As die klok lui marsjeer ons daar uit
Ons kan tevrede sê
Ons verstaan nou hierdie gedig.
Vos se gedig dien as opsomming van die onderrigbenadering wat deur talle onderwysers op skoolvlak gevolg word. Onderwysers is egter nie ten volle hiervoor te blameer nie. Talle Afrikaansonderwysers onderrig poësie met passie en toewyding en poog tog om binne ’n beperkte tydsraamwerk die meer estetiese aspekte van die poësie te belig. Die waardering van poësie is vir min beskore – die onderwysstelsel is deels hiervoor te blameer. Die onderrig van poësie vanuit die Afrikaanse literêre kanon blyk ook in sekere gevalle in die slag te bly. Gevolglik verlaat talle nie-Afrikaanssprekende leerders die skoolsisteem sonder dat hul ooit kennis gemaak het met die woorde van digters soos Totius, Breytenbach, Eybers of selfs Van Wyk Louw. Vir talle onderwysers het Jericho se spreekwoordelike mure ingetuimel en is daar geen weerstand meer te bied nie. Soos die digter Louis Esterhuizen in “XI” tereg opmerk:
[…]
tot daar nie meer iets oorbly
om te belê nie, want die brood op water
word algaande suur in die pense
van wanbestuur
bankrot, uitverkoop
niks om te sê nie
(Sloper, 2007:54)
*
Bibliografie
Esterhuizen, L. 2007. Sloper. Pretoria: Protea.
Krog. A. 1970. Dogter van Jefta. Kaapstad: Human & Rousseau.
Vos, M. 2011. “Wat die digter bedoel het”. In: Jacobs, J. (samest.). Toulopers – verse vir tieners. Pretoria: Lapa.
…
Biografie

Dewald Koen matrikuleer aan die Hoërskool Andrew Rabie in Port Elizabeth. Hy studeer aan die Nelson Mandela Universiteit en behaal die MA in Afrikaans onder prof. Marius Crous. Hy onderrig Afrikaans by verskeie skole en was tot en met Augustus 2016 Afrikaans-departementshoof aan Kingswood College in Grahamstad. Tans doseer hy Afrikaans en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Fort Hare in Oos-Londen.
Dewald is een van Versindaba se gasbloggers vir Oktober en November 2016. -mj
*



Ai, Dewald, watter triestige prentjie. Eintlik jammer dat jy nou nie meer ‘n verandering daar kan bring nie…mens kan wat jy beskryf, met ‘n stok aanvoel in die eerstejaar klasse- elke jaar ‘n groter uitdaging om studente geïnteresseerd te kry, ingelig te kry. Maar wees getroos, ‘n mens onthou vir ewig jou goeie onderwysers wat ‘n verskil gemaak het en “anders” was as die ander weens die entoesiasme vir hul vak.
1. Behalwe vir die sensuele en ander ‘suggestiewe’ plesiere (o, hoe heerlik kan die tong aan die rol gesit word deur sekere gedigte!) – een teks, twintig kinders, twintig interpretasies?! Dis wat ek o.a. by die kinders probeer tuisbring het. Een ding/situasie/mens, n observeerders, n interpretasies. Hoe hou mens huis met soveel plesier, soveel interpretasies?! Kom ons lees die gedig weer …
2. Die arme kinders kom uit huise waarin poësie (en die rol van die tong oor ritse fyngekose en reggerangskikte woorde) nie bestaan nie. So, hulle dink die taalonderwyser wat ‘n gedig so kan geniet nie al haar varkies op hok het nie, of van iets weet wat hulle nog nie van gehoor het nie (kinders is skerp intuitiewe waarnemers, hulle skort net die woorde/konsepte vir wat hulle sien/aanvoel), …
Dalk moet taalonderwysers van sport kwytgeskel word om meer verpligte poësie (en sommer ook ander taalkundeaspekte) aande vir ouers en kinders saam te reël. Die arme kind staan tussen die taalonderwyser wat van iets (lekkers) weet en sy/haar ouers wat skynbaar nie van hierdie iets (lekkers) weet nie. Hoe nou gemaak?
“Ekskuus Du Plessis het jý miskien die BA
Botha hoe voel jy oor die bedoeling van die oe-assonansie”
Ag, te heerlik!
Dankie Dewald, dis ‘n goeie punt wat jy maak.
Baie dankie vir hierdie wonderlike stuk, Dewald. Vir bykans 25 jaar het ek presies in jou posisie gestaan: om ‘n liefde vir die Afrikaanse digkuns by nie-moedertaalsprekers te kweek; uit eie keuse, want vir my het taalonderrig primêr oor kultuuroordrag gegaan. Vir my was die dood in die pot by poësie-onderrig egter nog altyd die kwessie van dat daar ‘n “reg” of “verkeerd” is tov interpretasie. Ek meen, elke gedig “praat” verskillend met die leser nav eie verwysingsveld en/of ervarings. Ek noem dit “resonansie” en dit is volgens my wat die digkuns uniek maak. Wie is ek (as onderwyser) byvoorbeeld om vir ‘n volgende persoon (leerder, byvoorbeeld) te sê: So en op hierdie manier moet ‘n bepaalde gedig gelees en/of verstaan word? So was daar gevalle waar van my leerlinge daarop gewys het dat Koos du Plessis se “Sprokie vir ‘n stadskind” ‘n dwelmvaart is; by ‘n ander geleentheid, dat Breyten se “Allerliefste” ‘n gedig is oor futiele liefdesverwagting, want daardie rooiborsduif is sterwend na hy in die bors geskiet is. (Gaan lees weer dié twee gedigte; op ‘n manier maak dit sin.) Nietemin, ek moes ietwat bedremmeld sê: Ja, maar indien jy dít in die eksamen antwoord, gaan jy NUL kry. En dit is die probleem: lesers skram weg van die poësie omrede hulle nie ‘n gedig kan “verstaan” tensy daar iemand is wat vir hulle kan sê wat “reg” of “verkeerd” is nie. Hoe hartseer. Soos Archibald MacLeish gesê het: “A poem should not mean, but be.” Wat is die “betekenis” van ‘n sonsondergang, byvoorbeeld.
Baie interessante nosies wat jy hier noem, Dewald. Die skoolsisteem kweek selde liefde vir die poësie. Wanneer studente die tersiêre sisteem binnevaar, kantel die boot baie gou en soos by die Titanic, is daar ‘n tekort aan reddingsbote. Basiese vaardighede soos gedig-analise ontbreek. Daar is ook nie belangstelling nie want poësie is nie iets waarmee jy geld gaan verdien nie. Meestal word letterkunde as ‘n stopvak geneem met die idee dat ‘n literêre essay beteken dat jy gou die aand voor die tyd Spark notes aftrek, copy en paste. Of Schmoop. Nou ja, enige dosent wat sy/haar sout (en peper werd is) gaan die vrot mengelslaai bevraagteken. Dankie vir ‘n interessante blog.