Karen Kuhn. Różewicz – ‘n Getuie
Die Poolse digter Tadeusz Różewicz (9 Oktober 1921 – 24 April 2014) se digkuns lewer kommentaar oor van die mees grusame gebeurtenisse van die twintigste eeu met die toevoeging van menslikheid en simpatie. Tereg word daar na hom verwys as een van Europa se grootste ‘getuie’ digters. As dramaturg, digter en skrywer vorm Różewich deel van ‘n eerste generasie digters na Pole weer in 1918 onafhanklikheid verkry het. Sy broer, ook ‘n digter, word in 1944 deur Gestapo tereggestel. Na die val van die Berlynse muur lewer Różewicz die volgende kommentaar: “My decimated generation is now departed and dying, duped and disillusioned”. Ongeag die vreeslose weergee van ‘n (meestal) skokkende realiteit, behou Różewicz se digkuns ‘n element van hoop:
the reality
I had observed
through a smeared window
of a waiting room
I saw
face to face
weak
I turned away
from my weakness
I turned away
from illusions
upon the sands
of my words
someone drew the sign
of a fish
and walked away
Buiten Różewicz se bekroonde poëtiese oeuvre, debuteer hy in 1960 met die drama: The Card Index (Kartoteka) en skryf ook heelwat draaiboeke waarvan Birth Certificate (Świadectwo urodzenia) in 1961 en The White Wedding (Białe małżeństwo) in 1975, mees bekend is. Mother Departs (2013) is ‘n unieke vermenging van prosa en poësie oor vreugde en verlies, met fragmente uit sy persoonlike dagboeke en herinneringe as oorsprong. Różewicz skep ook ‘n ryk en komplekse beeld van sy ma Stefania en die impak wat sy op hom gehad het. Die rol van die vrou en feminisme staan verder sentraal in Różewicz se werke. Hierdie anti-digter soos daar ook na hom verwys word het grense binne letterkunde verskuif en oortree. As wenner van o.a. die 2000 Nike Prys (mees gesogde Letterkunde prys in Pole) sterf hy op die ouderdom van 92. Hy word onthou as ‘n digter wat met gevoel, simplisiteit en moderne tegniek, die mees donkerste gevolgtrekkings maak.
Sy vers: “Witness” sluit af:
Do not suddenly
enter my room
You will see
a dumb and bound
witness to love
being conquered by death
Poolse vrouens het ‘n komplekse geskiedenis waar hul dikwels argetipies diverse en veeleisende rolle in die samelewing moes vertolk, hetsy na ‘n oorlog of besetting.
Wat sou Różewicz skryf oor verlede Maandag, 3 Oktober ‘16? ‘Swart Maandag’ (Czarny protest) waar (veral) vrouens in swart regoor Pole in duisende bymekaar gekom het, in opstand teen die regering se voorgestelde totale verbanning van aborsie. ‘n Protes wat geïnspireer is deur sowel die 1863 Poolse opstand, as die vroue staking in Ysland in 1975.
Oortree
In Pole
in protes
en stil net staan
terselfdertyd
in pole
en woorde afkap
in betoog
teen net nie opleef
terselfdertyd
staak
teen ‘n definisie
vir ‘n roos
In Pole
op ‘n swart Maandag
in opstand
terselfdertyd
soos in Różewicz
so saggies
hekse aankondig
as meeste nog aan rose dink
en oortree
terselfdertyd
as vrouens gewoonlik
saam in pole
afgepis raak.
Dit was grys en swart en nat hier in Poznań, maar Różewicz, vandag het ek weer ‘n vrou in wit sien loop en smile, byna soos ‘n roos.
Bibliografie:
http://www.bookinstitute.pl/autorzy-detal,literatura-polska,3086,rozewicz-tadeusz.html
https://www.theguardian.com/books/booksblog/2014/apr/25/tadeusz-rozewicz-poet-polish-died-92
Różewicz, T. 2014. Selected Poems – Translated by Adam Czerniawski, Richard Sokoloski, Barbara Bogoczek and Tony Howard. Kraków: Wydawnictwo Literackie.
Wow Karen! Uitstekend!