Wicus Luwes. Koorsang as behandeling vir vals stemme

koor

Ek het onlangs op ‘n interessante woord afgekom. Die woord het aan die een kant te doen met sang en aan die ander kant met beurte. Ons besef nie eintlik dat baie van ons daagliks daarby betrokke is nie. Dit klink miskien ‘n bietjie vreemd, aangesien dit nie algemeen gebruik word nie. Die woord, antifoon, het ek in ‘n woordeboek raakgeblaai. Ek het al gehoor van koorsang en beurtsang. Ek het al verskillende name vir ‘n koor gehoor: Cantata of Ensemble. Duo, Trio of Kwintet dui die hoeveelheid lede van ‘n groepie musikante of koorlede aan. Koorgroep, musiekgroep of sommer net groep. Die naam van sulke groepe bly somtyds deur geslagte onveranderd.

Die woord, antifoon, verwys na ‘n vorm van beurtsang. As ek ‘n prentjie van antifoon-beurtsang in my kop sou skets, dink ek terug aan my skooldae. Die onderwyser of skoolhoof sou tydens saalbyeenkomste ‘n inleiding gee en ons as leerlinge sou dan die skool se leuse soos ‘n spreekkoor opsê. Miskien selfs die skoollied of volkslied wat sonder aankondiging daarna sou volg. Dit is belangrik vir ‘n spreekkoor om gelyk te praat. Dit beteken eintlik dat die koor die oomblike van stilte of pouse reg moet kan hanteer. ‘n Spreekkoor kan goed werk as deel van beurtsang. Die definisie van beurtsang sou seker wou hê dat die een groep of sanger om die beurt moet sing terwyl die ander stil moet bly. Beurte is mos maar ‘n snaakse ding. Ons hou daarvan om uit ons beurt te praat.

Ek probeer ook dink of beurtsang op ander maniere plaas kan vind. Ek was nou al in ‘n paar kore gewees, nie omdat ek mooi sing nie. Dit is maar net die ding met klein dorpies – jy raak betrokke by kore en fondsinsamelings voordat jy ‘ensemble’ kan sê. Die basiese indeling van stemme is as volg: soprane, alte, tenore en basse. My kennis van koormusiek is maar gebrekkig, maar ek gaan in my leketaal die opset probeer verduidelik: Soprane sing gewoonlik die wysie van die lied. Alte harmoniseer. Tenore en basse sing weer variasies op die wysie. Daar is dele waar die koor amper dieselfde wysie sou sing en ander plekke waar die kontras die fokuspunt sou wees. Die basse kan egter nie die soprane se note sing nie. Net so kan die soprane nie die basse se note sing nie. Alte en tenore se note kan met tye ooreenstem, maar daar is tog maar ‘n verskil. Dit bring my by die rede hoekom ek dink dat gewone koorsang ‘n element van beurtsang bevat. Al vier verskillende stemme, soprane reg deur tot by die basse, sing eintlik maar hul eie wysie. Hulle beurt vind wel gelyktydig plaas, maar ek dink by myself dat elkeen steeds hul eie beurt het. Dit bring my by die eerste gevolgtrekking: koorsang is miskien die enigste vorm van beurtsang waar almal gelyktydig kan praat en steeds die mooiste musiek kan voortbring.

Terug by die klein dorpies word ek per geleentheid genooi om mense met my kitaar in sang te begelei. Die geleentheid was ‘n plaaslike kinderhuis se naweek-geleentheid waar kinders en ouers bymekaar kon kom. Daar was opleidingsessies oor hoe om as familie saam te leef. Die geleentheid het my oë oop laat gaan en was beide opbouend en vreeslik hartseer. Buitestaanders, soos ek, is met tye onbewus dat die meeste kinders in die kinderhuise, of soortgelyke plekke van versorging, steeds ouers het. Dit gebeur maar net dat geld, drank, geweld, dwelms en ander dinge uit hul beurt praat. Die eenstemmigheid van die koor word somtyds deur die stiltes ontwrig. Dit was ‘n voorreg om saam met die families bekende liedjies en onbekende liedjies in gebroke akkoorde te kon sing.

Ek volg die ontknoping van hierdie jaar se ’16 dae van geen geweld teen vroue en kinders’-veldtog. Sommige sprekers is moeg om die vorige jaar se kerse uit die kas te haal en aan te steek. Hulle soek iets nuuts. Niemand is seker wat die vernuwing behels nie. Een rubriek loof die ‘goeie ouens’ of die ‘doodgewone ouens’ wat dag na dag getrou bly. Ander mense reken dat die veldtog geen verskil maak nie.  Ek voel ook gedeeltelik soos die wat moeg is vir dieselfde kerse en dieselfde brosjures, maar ek wonder of ‘n mens nie eerder moet fokus op die positiewe nie. In plaas van ‘n veldtog ‘teen’ iets, kan daar miskien ‘n veldtog ‘vir’ iets plaasvind. Ek dink weer terug aan daardie sang-aand by die kinderhuis. Ek dink weer aan die gesinne wat al moeilike tye beleef het. Miskien moet die gesaghebbers meer op gesinne fokus.  Meer op families. Familie-geleenthede by skole. Piekniek-dae waar bekende sangers optree – die kaartjies kan dan gratis vir families van drie of meer aangebied word. Sulke funksies sal natuurlik nie vir elke geleentheid werk nie, maar daar kan ‘n mark daarvoor geskep word. Die individuele aard van die tegnologie-gedrewe omgewing laat ons te veel op onsself fokus. Sportklubs kan gratis of goedkoop familie-dae hou – sulke geleenthede het in elk geval groter moontlikhede vir bemarking of ruimte vir skole en klubs om lede te werf.

Die belangrikste vir my is om al die stemme saam te laat sing, want die soprane kan nie die tenore se wysie sing nie. Die basse kan nie die alte se wysie sing nie. Sonder die een stem, klink dit of daar iets skort met die wysie. Die definisie van ‘n antifoon is nie noodwendig om op beurte te wag nie. Beurtsang word nie gebruik om die verskillende stemme in kampe te verdeel nie. Koorsang en beurtsang harmoniseer die stiltes met die stemme. Koorsang is op sy mooiste as al die stemme saam kan sing, al sing party van die koorlede vals. Koorsang is miskien juis vir die wat vals sing, want die koor as geheel sal die vals stemme intrek eerder as laat uitstaan.

 

lied

dis ‘n bergterras
wat ek my verbeel:
‘n boweland geplavei
met struike en sering
waar die vrou alleen staan
en ‘n lied van sviridov
as versugting sing
met die teensang
van ‘n waterval
en alle klank
simuleer ander klank
vleg soepel soos linte
deur water
porseleinwit
breekbaar
al hoe verder
deur rankende sproei –
spoorsny dan oor
maanblom en klip
al hoe stiller
die tinte
van haar stem
in ‘n rivier
wat kloof
na die ruspunt toe
en lank daarna
steeds eggo
in die leegte
van my
oor

deur Marlise Joubert

 

Bronne:
1. Internet. http://www.buxmontuu.org
2. Joubert M. bladspieël. Human & Rousseau. Kaapstad. 2015

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •