
Teen die eerste week in Desember tref die post-jaar blues die uwe elke jaar. Vanjaar, natuurlik geen uitsondering nie.
Die faktore wat gewoonlik die post-jaar blues in post-jaar rage omskep kan soos volg opgesom word:
#Een: ’n Beklemmende gevoel dat ek met ’n kartonbordjie op straat gaan moet bedel. Ek hou van Kersgeskenke koop. Die plek waar ek werk glo nie in die konsep van ’n bonus nie. Dus lê ek nagte wakker oor my pennies en pondjies. Januarie strek voor my soos die Knersvlakte.
#Twee: Jy kan nêrens aandoen sonder om deur Jollie Katrollies met hul plastiektrollies teen jou hakskeen of agterstewe gekap te word nie. Boeta en Sussa gil besete soos karakters uit Nightmare on Elmstreet. Mammie & Pappie baklei oor of hulle vir sy gomgat-pêlle booze gaan koop vir Kersfees. Terwyl hulle dan besluit om vir almal shooter glasies by Checkers te koop.
Daar is die tailgaters wat op jou kom staan as jy in rus en kalmte na produkte wil kyk. Sy rek en strek óór jou: dié tailgater voel jy vat veels te lank en dat jy haar persoonlik van haar moet-hê krismisprodukte ontneem. Since yesterday wou sy dit mos hê en boonop is daar die allergrootste gevaar dat die winkel gaan verdwyn – op die daad – voor sy haar cheap x-mas biscuits gekoop het. Uit pure spite vertoef jy langer voor die rak.
#Drie: Ja, die muzak. Boney M was altyd my antagonis. Of Pan Pipe Kersfeestreffers. Maar deesdae het muzak ’n gevaarlike nuwe vlak bereik: die Warbling Diva. Soos Maria Carey, of enige ander “chick” wat hul eie klankregister gevaarlik uitdaag. Daar is meer kinkels in die Warbling Diva se stem as ’n pas in Lesotho. Elke winkel, hoe klein of hoe enorm, voel dit hulle persoonlike plig om die Warblers op hul klanksisteem uit te toets. Op ’n afgryslike hoë volume. Kla help niks, want le manager sal jou net met sulke dooie vis-oë aankyk en sê: dis ’n firm favourite met ons ander customers. Waar dit veral pla, is in restaurante en koffieplekke. En ja, die ander customers geniet dit blykbaar, want hulle praat so hard en so baie dat hulle blykbaar die Warbling Diva nié hoor nie.
Dan ruk ek my maar op: Bogger die muffin. Die koffie. Die melkskommel. Die vis & tjips in ’n pan. En dankie, Meneer Manager van die Koffiewinkel Chain, liefs drink ek maar my tee en eet my koek by die huis.

Ed Bremson se Poet in the Mall (2010) bevat onder meer 180 haikoes wat hy oor verskeie malls geskryf het. Alhoewel hierdie haikoes nie spesifiek oor Kersfeestye in malls geskryf is nie, is daar steeds raakpunte. Reeds as student is Bremson deur sy dosente as die “Walt Whitman of the mall” gedoop vanweë sy mall-gedigte. Hy dra ook Poet in the Mall aan Federico Garcia Lorca op.
Nie al die haikoes in die bundel is tradisioneel wat vorm aanbetref nie, maar laat eerder die indruk van ’n kontemporêre haikoe-vorm. Bremson gebruik die Amerikaanse mall as vertrekpunt en metafoor wat gelykertyd interessant maar ook ’n obstruksie is vir lesers wat nie malls in die VSA ken nie: jy gaan nie sommer Spaans in een van ons malls hoor nie; ons het nie “animal crackers” hier nie en die kans dat twee ou mans die Tweede Wêreldoorlog gaan “rehash” is na aan onmoontlik.
Interessant is die herhalende motiewe en beelde wat Bremson utiliseer, byvoorbeeld die morbidly obese Amerikaanse publiek:
on a fat woman’s shirt
the slogan, “just do it!”
do what? Eat a pie?
Nog ’n deurlopende motief is die identifikasie van mall shoppers deur middel van kleur of klas:
young redneck
whacks his girlfriend hard
on the butt
big black guy
in a chartreuse shirt
and a chartreuse cap
four black guys
making eyes
at two white girls
young black woman
walking arm in arm
with an old white woman
Sommige van die haikoes het ook ’n “fascination with the grotesque”:
woman at the mall
eats corn kernels off the cob
one at a time
girl in the shoe store
using her long hair
to floss her teeth
girls
at Brookstone
checking out the vibrators
Laastens maak Bremson ook mildelik gebruik van die paradoks, die mees geslaagde poëtiese strategie in Poet in the Mall:
Mexican woman
eating
Japanese food
September 24
shopping
at the Christmas store
woman
sitting alone
on a kiddie ride
old muslim woman
resting with her head covered
and shoes off
Vier faux haikoes tydens die laaste jaargety
1.
en oral faux sneeu
Kersvader se glittering balls
wat saam met beurtkrag flikker
2.
spur mugg & bean
kfc wimpy
gee, gee, gee
3.
swart vrydag
verreken in rooi
kredietkaart: hoerkind
4.
i wish you a stille nag
sonder #hastags of insta-
gram of ’n very merry xmas
(Gisela Ullyatt. 2016)
Bibliografie
Bremson, E. 2010. Poet in the Mall. 180 haiku + 21 poems. New York: iUniverse.
Marlise, jou sinoniem ‘malhuis’ klink goed!
Goeie ‘analise’ van die mall, Gisela! Wat sou ‘n beter vertaling in Afrikaans wees vir mall, ipv inkopiesentrum? Dalk sommer net malhuis? Winkelkatnes? Molstad? 🙂