
Tres damas poéticas
Lesers van Versindaba sal waarskynlik maklik kan uitmaak wat die titel van hierdie essay beteken: “Drie poëtiese dames”. Die drie digters kom uit die Spaanssprekende lande Colombië, Peru en Chile. Gabriela Mistral, die oudste van die drie, is in 1889 gebore. Sy het baie in haar leeftyd bereik. Onder andere het sy die jong Pablo Neruda aangemoedig en in ’n mate gehelp om sy digkuns vorm te gee.
Die ander twee is naastenby ’n geslag later gebore. Blanca Varela is in 1926 in Peru gebore en Olga Elena Mattei is ’n Colombiaanse digter, gebore in 1933. Ons kyk eerstens na Gabriela Mistral en van haar gedigte.

Gabriela Mistral (1889 – 1957) was die skuilnaam van Lucila Godoy y Alcayaga, ’n Chileense digter, diplomaat, opvoedkundige en humanis. In 1945 het sy die eerste Latyns-Amerikaanse skrywer geword wat ’n Nobelprys verower het. Dit was vir haar “liriese poësie wat, geïnspireer deur sterk emosies, haar naam ’n simbool gemaak het van die idealistiese aspirasies van die hele Latyns-Amerikaanse wêreld.”
Van die sentrale temas in haar gedigte is die natuur, verraad, liefde, moederliefde, smart en herstel, reis en die Latyns-Amerikaanse identiteit soos dit gevorm is deur ’n vermenging van inheemse Amerikaanse identiteit en Europese invloede.
In 1925 is Mistral genooi om Latyns-Amerika te verteenwoordig in die pasgestigte Institute for Intellectual Cooperation van die destydse Volkebond. Sy het vanaf 1926 feitlik Permanent in Parys gewoon en gewerk. Aanvanklik het sy as joernalis gewerk en later as lektor in die VSA en Latyns-Amerika.Haar moeder was ’n belangrike faktor wat haar bande met familie en vaderland versterk het. Sy het ook Mistral aangemoedig om suksesvol te wees.Net so ’n groot invloed was haar ouma aan vaderskant. Die ouma se voorlesings uit die Bybel het ’n blywende indruk op die digter gemaak. Hierdie ouma was ’n besonder godsdienstige iemand. Mistral was van mening dat sy Sefardies Joodse voorouers gehad het (’n Joodse groep wat sedert die jaar 1 000 in die Iberiese skiereiland voorgekom het). Sy het Mistral aangemoedig om dele van die Bybel uit haar kop te leer en voor te dra, veral die Psalms van Dawid.Mistral het later in haar gedig “Mis libros” (My boeke) verklaar dat die Bybel een van die boeke was wat haar die meeste beïnvloed het.Hier is ’n gedeelte uit die gedig.
Uit: Mis Libros
Bybel, my edel Bybel, wonderlike panorama,
waarin my oë lank vertoef het,
in die Psalms kry jy die vurigste lawas
en in daardie rivier van vuur het my hart vlamgevat!
Jy het my volk onderskraag met jou kragtige wyn
en hulle sterk laat staan tussen mense,
dit gee my krag net om jou naam te sê;
omdat ek van jou kom, het ek die noodlot oorwin.
Na jou het net die kreet van die Groot Florentyn
deur my beendere getrek.
Die verse getuig van fisiek gewelddadige beelde wat vewys na ’n spirituele konsep van die menslike lot en die kommerwekkende geheimenisse van die lewe.
“Die kreet van die Groot Florentyn” verwys na Dante en mens kan nie anders as om te dink aan die vreeswekkende beelde en gebeurtenisse in sy Comedia nie.
Die gesig van die Heer
Hier is nog ’n gedig van Mistral waarin haar diepe betrokkenheid by godsdiens en die mense van haar vaderland tot uiting kom.

LA CASA
La mesa, hijo, está tendida
en blancura quieta de nata,
y en cuatro muros azulea,
dando relumbres, la cerámica.
Die huis
Die tafel, seun, is gedek
met die stil witheid van room,
en op die vier mure glinster
die blou van breekware.
Hier is die sout, hier die olie
en in die middel die brood wat amper praat.
Goud pragtiger as die goud van brood
is nie in vrugte of in besemgras nie,
en sy geur van koringare en oond
gee vreugde wat nooit ophou nie.
Ons breek dit, seuntjie, saam,
met harde vingers, sagte palms,
en jy staar verwonderd
dat die swart aarde so ‘n blom oplewer.
Laat sak jou hand na die kos,
jou moeder laat hare ook sak.
Koring, my seun, is van lig,
en van die son en die skoffel;
maar hierdie brood, “gesig van die Heer”
kom nie op elke huistafel nie.
En as ander kinders dit nie het nie,
is dit beter, my seun, dat jy nie daaraan raak nie,
en beter dat jy dit nie vat
met beskaamde hande nie.
Nota deur die digter: In Chile noem baie mense brood “die gesig van die Here”.
Mistral was ’n opvoedkundige en het die regte van vroue en kinders bevorder, asook die arm boorlinge van Latyns-Amerika. Sy praat dikwels van hulle in haar gedigte. In “Die huis” praat ‘n vrou met haar jong seun oor die varsgebakte brood wat hulle wil eet. Die digter noem in ‘n voetnota dat brood in Chile dikwels “die gesig van die Heer” genoem word.
In plaas van haar seun die brood te laat eet, sê sy dat die seun liewer nie die brood moet eet nie sodat hulle nie beskaamd kan wees terwyl daar soveel armoede om hulle is nie.

Olga Elena Mattei
Olga Elena Mattei Echavarría is in 1933 iin Arcibo, Puerto Rico gebore, maar het die grootste deel van haar lewe in Colombia deurgebring. Haar moeder was Colombiaans en haar vader Puerto Ricaans. Sy het verskeie nasionale en ingternasionale toekenning vir haar poësie gekry.
Haar kantate Cosmofonía is vir die eerste keer op radio en TV in Frankryk uitgevoer in 1976 met musiek deur Marc Carles. Haar gedig Cosmoagonia met ’n astronomiese en humanistiese inhoud, is in agt belangrike planetariums reg oor die wêreld opgevoer, onder andere in New York en Washington.Sy doseer kunste en antieke kulture.Toe die gedig Violencia geskryf is in 1962, het Colombia net begin herstel van ’n lang tydperk van geweld en politieke onstabiliteit. Die gedig is versigtig optimisites, maar die vrees dat die onrus weer sal kop uitsteek is duidelik sigbaar.
Wikipedia het die volgende te sê oor hierdie tydperk:
“Soon after, (in the 1940’s) Colombia achieved some degree of political stability, which was interrupted by a bloody conflict that took place between the late 1940s and the early 1950s, a period known as La Violencia (“The Violence”). Its cause was mainly mounting tensions between the two leading political parties, which subsequently ignited after the assassination of the Liberal presidential candidate Jorge Eliécer Gaitán on 9 April 1948.[93][94] The ensuing riots in Bogotá, known as El Bogotazo, spread throughout the country and claimed the lives of at least 180,000 Colombians.”

Violencia
uit Silabas de Arena (1962)
Olga Elena Mattei
Corteza de naranja,
paz de sol en la mañana,
voz del agua;
concreción de esmeralda.
Geweld
Lemoenskil,
die son se vrede in die oggend,
water gesels;
soliedheid van smaragde.
Meditasie oor die koringaar
in hoop.
Al die stemme van die digters
is gedors
met dieselfde woorde,
want die oes is goed,
die grond is vrugbaar,
want die toring verheug ons
met sy gebed van klokgelui.
Waarom ’n vuis en ’n banier lig
dreigend skreeu
teen die bultende baarmoeder van die aardbol
en in die wit skoot van ons moederland?
Waarom smeek met woorde
en bose goed uitskreeu?
Yster te sê, koeël,
geweer, lyk, bloeddeurdrenkte sand.
Bloed en reuk van afgebrande huise,
stewels, klip, verraad, en wraak …
weduwee, haat,
vuur en sluipmoordenaar!
Waarom? Liewe Here?
Wat gaan aan met die wêreld
dat in al die kele
net knoppe is
en geskrei in die siele?
Ons was almal broers
in die Fiesta del Agua,
en ons alma het begrip
vir verloste bloed
in hoop;
ons het almal geluister na jou lys
van bevele
en nou
waarheen met ons mense?

Blanca Leonor Varela Gonzáles (10 August 1926 – 12 March 2009)
Varela is in Lima, Peru, gebore. Haar moeder was ’n komponis wat baie beroemde kreoolse walse gekomponeer het. Varela het geesteswetenskappe bestudeer aan die Nasionale Universiteit van San Marcos.
In 1949 reis sy na Parys waar sy Octavio Paz ontmoet het. Hy het haar voorgestel aan figure soos André Breton, Jean-Paul Sartre, Simone de Beauvoir en Alberto Giacometti.
Haar gedigte is surrealisties in soverre dat hulle probeer om die wêreld op ’n onskuldige wyse voor te stel uit ’n innerlike perspektief, maar nie daarin kan slaag om wreedheid af te weer wat van buite af indring nie.
Blanca Valera het haar gedigte onder die titel “Canto villano” versamel van 1949 tot 1983.
Daarna het sy ander titels gebruik.
In die gedig Canto villano, vind mens ’n strewe na estetiese effek met die minimum middele. Die gedig beskryf hoe die spreker in die gedig bieg by ’n onsigbare persoon wat saam met haar aansit aan die tafel van die lewe. Maar die bieg is vals. Hulle sê niks betekenisvols of waar nie. Hulle is ’n ooreenkoms tussen die gees en die mens se bestaan. Maar dit is ’n ruwe en rebellieuse ooreenkoms. Dit word voorgegee asof daar harmonieus gesing word, asof daar gepeins word, maar aan die einde van die gedig word dinge verskuil: ’n stryd wat verlore is aan die werklikheid. Die gedig kom in kort stote met die minimale gebruik van woorde en uitdrukkinge.

Canto villano
Blanca Varela
y de pronto la vida
en mi plato de pobre
un magro trozo de celeste cerdo
aquí en mi plato
Gemene lied
En skielik die lewe
op my arme bord
’n heerlike stukkie maer varkvleis
hier op my bord.
kyk na my
kyk na jou
of slaan ’n vlieg dood sonder moordlus
vat die lig weg
of doen dit
doen dit
soos iemand wat sy oë oopmaak
en ’n lug verkies wat oorvloei
op die leë bord
Rubens uietrane
nóg Rubens nóg uie
nóg trane
soveel stories
onverteerbare swart wonderwerke
en die Oosterster
Versteek
en die been van liefde
so gekou en so hard
glansend op ’n ander bord
hierdie honger van my
bestaan
dit is die verlange van die siel
wat die liggaam is
dit is die vet roos
wat verouder
in sy hemel van vlees
ek pleit skuldig wasige oog
ek pleit skuldig swart mondvol
ek pleit skuldig hemelse walging
daar is niemand anders hier
op hierdie leë bord nie
behalwe ek
wat my oë verorber
en joune
Die gedigte in hierdie essay is uit Spaans vertaal deur De Waal Venter

Dankie De Waal!
Ek stem met jou saam, Anita. Ons Suid-Afrikaners is goed vertroud met Engels en ons kry meestal ons kennismaking met ander kulture se letterkunde deur Engels. Dit is wenslik dat ons in Afrikaans ook, en veral, ander tale en letterkundes kan verken.
Baie dankie hiervoor, De Waal Venter. Ek het die artikel so geniet. Die vertalings is ook pragtig gedoen. Om kennis te maak met ander lande se digters is voorwaar n voorreg en verrykend.