Op die vingerpunte van die heelal deur René Bohnen. (Naledi, 2017, ISBN: 978-0-928316-95-7, Formaat: Sagteband, 63p.)
Resensent: Amanda Lourens
In hierdie dae waarin daar soveel argumente gevoer word oor goeie en swak poësie, oor digters wat teen hulself beskerm moet word en resensente wat te gaaf is, is daar tog een stuiwer wat ek in die armbeurs wil gooi: Elke bundel (en kom ons praat nou maar oor dié wat dit tog wel tot by publikasie maak) het ʼn bepaalde hartklop, wat nou verbonde is aan die digter se mens- en digterwees. Bowendien kan die hartklop van verskillende bundels radikaal van mekaar verskil – selfs binne ʼn enkele oeuvre. Met jou vinger op hierdie hartklop kan jy as leser herken wat dit is wat die bundel probeer wees, en wat die digter daarmee wil bereik, asook uit watter soort drade die gedigte gespin of geweef is. En soos ons almal weet, kan jy nie ʼn syrok beoordeel wanneer jy onder die indruk is dat dit eintlik ʼn katoenrok is nie. Wat ek met hierdie ietwat lompe verstrengeling van metafore probeer sê, is dat ek reken dit is nodig om as resensent werklik die hartklop van ʼn bundel te probeer vind en jou oop te stel vir die spesifieke stem wat aan die woord is, alvorens jy aan die hand van watter kennis ook al ʼn billike oordeel kan uitspreek.
Op die vingerpunte van die heelal is die derde bundel uit die pen van René Bohnen. Ek het aanvanklik gesukkel om die polsslag van die bundel te vind, en het dus eers na moontlike leidrade gaan soek om my te help om die bundel te verstaan vir wat dit is. In die digter se onderhoud met Louis Esterhuizen op Versindaba vertel sy oor die verband tussen die vorige en die jongste bundel:
“Ons probeer immers binne versplintering heel koherent lewe – hiervan was ek as kind al bewus. Uiteindelik begin ek daaraan uiting gee, nadat ek in my vorige bundel ʼn plek van innerlike krag kon bereik, waarna ek in ʼn destydse onderhoud verwys het as “eilandjies van stilte”. In hierdie bundel ondersoek ek die lawaai tussen daardie eilandjies, dink ek.”
Dit was aanvanklik moeilik om te probeer peil presies wát die digter bedoel met “die lawaai tussen [die] eilandjies [van stilte]”, maar dit het mettertyd geblyk dat dit ʼn waardevolle sleutel tot die hart van die bundel is.
Hierdie derde bundel uit Bohnen se pen is nie soseer ʼn “samekoms van die alledaagse en die metafisiese”, aldus Marlies Taljard oor haar vorige bundel, nie. Die bundel open wel met gedigte (waaronder “Inkommers”, “jozi op ʼn riff” en “Jaar van die houtperd”) waarin veral die alledaagse aan die orde kom, en dan wel in die gedaante van besonder sintuiglike beskrywings van verskillende dinge in die materiële werklikheid – hetsy ’n skoenlapperinval in Johannesburg of verskeie Oosterse bestemmings.
Lees ʼn mens verder, is daar nog vele gedigte wat akkurate en dikwels kleurryke beskrywings bied van veral omgewings, maar dan is daar ook dié wat kritiek bevat teen die mens se vernieling van die natuur, soos byvoorbeeld in die uiters verdienstelike “Nieu-Bethesda 2020” (oor hidrobreking):
Radioaktiewe kraaie sit in klosse op Shell se torings,
hulle gekrys verdring deur bore se ra-ta-tat-tat, deur
vierhonderd tenkwaens wat druis op die dubbellaanpad.
’n Meermin se uitgestrekte handjies verweer
in die suurreën, haar bierbottel-oë bars,
rapat; breek die watertafel. Sien is glo –
protesplakkate tolbos soos orakels
oor fracking in die Oos-Karoo.
Moederaarde hoes ondergrondse gas, sy het gif in haar are.
Veelvermoedend blêr dragtige ooie sonder ophou in die gras.
Die vorige armes is nog armer, die lug is maalglas
bokant Helen se vaal jaart met krippe en kamele.
Deur die krake in Koos Malgas se gemesselde uile
glip ’n gladde tweekopakkedis. Sien is glo – hoofletter
protesplakkate verbleik langs magnate se beloftes
oor fracking in die Oos-Karoo.
In die broeines hoog teen Kompasberg lê ’n witkruisarend
haar eerste eier – dit is grof, dit gloei in die donker.
Bohnen se vermoë tot oortuigende en oorspronklike beskrywing blyk ook uit ʼn aantal gedigte oor kuns (“om kleur te kerf” en “Die omhelsing”). In laasgenoemde dig sy die werk van die Franse kunstenaar Séraphine Louis (wie se lewe terloops ook raakpunte het met dié van Helen Martins) om tot sonderlinge woordportrette:
Séraphine, jy swyg in ekstase,
dryf op jou spektrum van lig
en onttrekking
want hoe besoek ’n mens gekamde
magrietjies of vere soos vlamme,
suurlemoensonne of oë vir peule,
loodglaskleure in die gelaagde
boom van die lewe?
In die gedig (“Aan die hand van”, p.13) word die verband tussen visuele beeld en beskrywing en die skep van gedigte aan die orde gestel, en hierdie gedig raak dan ook ʼn belangrike leidraad tot die ontsluiting van die bundel:
Voëls kyk is ’n ander manier van gedigte skryf
mymer jy langs broodkrummels en piesangs
in die skemer met jou beker tee heuningsoet
in jou hand – neem nou maar
die kuifkophoutkapper of druppelvlek
wat bont gespat in rooi en geel en swart
uit Pollock se skilderdoek stap
en wat is Goya anders
as die mikstertbyevanger, die sirkuspapegaai Lautrec,
kyk hoe eggo kardinaalvinke Monet se papawerlande,
die kleurblokke uit Warhol se hande, sien Hopper se meeulose
strande teken kwatryne oor halfweghuise met dun gordyne
Kuns kyk is ’n manier van gedigte nader roep
Elke skildery is ’n spieël
en met jou dagboek verberg in die versreëls
van ’n sonnet, soek jy nóg refleksies aan die hand
van verwers en geveerdes
Voëls reis lig
van boom tot boom
of van skets tot see en meer
skryf jy laas nag in ’n droom
toe twee Pollocks tjirrr
in die Pierneef-ets
Hiervolgens is die waarneming van die alledaagse lewe nie ondergeskik aan die proses van kunsskepping nie, en ook bevind die verskillende kunsvorme hulle in ʼn soort organiese verband met mekaar. Waar die vorige bundel die spirituele domein via alledaagse belewenisse betree het, bevind hierdie bundel hom waarskynlik midde-in die uitbundigheid van die aardse lewe self – die “lawaai” waarna Bohnen verwys.
Lesers wat Bohnen se nuwe bundel gaan benader met spesifieke verwagtinge oor betekenis en struktuur gaan dit moeilik vind om ʼn vastrapplek in die bundel te kry. Die gedigte is organies binne die bundel gerangskik, en daar is geen formele afdelings nie. Die gedigte se “betekenis” word dan ook eerder gevind in die feit dat elke gedig ervaar behoort te word, eerder as kognitief uitgepluis te word. Wanneer laasgenoemde die leesstrategie is, is daar die gevaar dat die gedigte as inhoudelik redelik yl gesien kan word. Die hartklop van die bundel word waarskynlik daardeur gekenmerk dat die leser deel raak van die belewenis wat in die gedigte ingebed is, en behoort met daardie ingesteldheid benader te word. Ten beste is dit ʼn poëtiese in-die-oomblik-wees; ʼn diepe ervaring van bewustheid (by gebrek aan ʼn beter vertaling vir “mindfulness”) wat in taal weergegee word.
Aan die ander kant mag lesers ervaar dat die gedigte nie genoegsaam op ʼn inhoudelike substraat staatmaak nie, en moontlik te veel op indrukke berus wat nie altyd vir die leser tot sinmakende patrone saamgedig word nie – alhoewel die digter in die genoemde onderhoud juis wys op die rol van patrone en getalle.
Na patrone word daar heel dikwels in die bundel verwys, soos in die baie bevredigende “Afkopengele in die web” (p.42):
Die vrou
weet nie waar sy hoort nie
nie in die opgerolde duisendpoot
of in hierdie groot mandelbrot nie
Sy is ’n boompie in ’n blomkool se blomkoolboompie,
inderdaad is sy
’n snipperpers knip-en-plak vers
Plek van hiperbool en gebro/ke harte,
iewers is daar ’n nommer, ’n algoritme
vir raak en lukraak
die patrone van donker materie
die koningskandelare bloedrooi
in die veld ná die brand
vuurlelies in die sand
almal palimpses in ’n god se hand
Soms is roekeloosheid ’n noukeurige, toegespitste toewyding
ons plaas maar altyd ons gebede in die krake van ’n muur
; ; ;
is luidkeels op eilandjies van stilte ingeboek
Die “patrone van donker materie” waarna verwys word, tesame met die koningskandelare en vuurlelies, is almal herskryfbare teks in ʼn goddelike hand, oftewel, die natuur is die materiaal in ʼn groter sinmaakproses. Dit skakel weer met die bewussyn van ʼn groter orde in die heelal in die gedig “Luisteraars” (p.41) wat sy aan die bekende Elizabeth Klarer opdra:
Al tik jy deurmekaar is die orde altyd outomaties daar:
sneeu steen en sfeer grot en huis tuig en skrif
rots en tekening die eland en die ewening,
so is ons holografie in die vakuum se gedagte.
Selakante swem in die wolke, daar is ’n woestynvis
teen die rotswand van die ruimte – spieël en raaisel
versmelt in swart glas, hiërogliewe op Rosettas
Dit is met die lees van hierdie reëls dat die bundeltitel uiteindelik wel begin sin maak: Die heelal is die draer van ʼn groter orde wat op kosmiese skaal duidelik is, dus ʼn soort kennis wat die heelal letterlik op sy vingerpunte het.
Bohnen verduidelik ook in die onderhoud dat getalle, wiskunde en numerologie ʼn groot rol in haar poësie speel. Sy sê hieroor: “[As] wiskunde wel die poësie van die heelal is, word dit deur my inderdaad gevoel voordat dit verstaan word, à la T.S. Eliot!” Die neerslag en deurdigting van hierdie gedagtes in die bundel is vir my egter nog te veel van ʼn toevallig bygehaalde nagedagte. En soms raak die woordspel met konsepte uit die mistiek, mitologie en wetenskap darem net te veel van bolangse raaisels, soos juis in die tiende gedig in die reeks “spartikels”:
yskristalle plagieer mistieke getalle,
elke doudruppel is ’n kristalbal
ons is hipoteses in die heelal –
spartelende partikels,
duisendpootpixels
glaukus in ’n poel van lig,
ikarvis;
die weerlig vat dooierus
Hierdie gedig is moontlik een van dié waarin daar slegs ʼn spel met heen-en-weer-verwysings op tekstuele vlak gespeel word, sonder dat die leser regtig in staat is om by die koherente oomblik uit te kom. In tekslinguistiese terme is dit dalk ‘n geval van oppervlakkige kohesie, maar sonder die dieperliggende koherensie.
Die bundel is keurig uitgegee met ʼn omslagontwerp wat moontlik gesien kan word as ʼn grafiese interpretasie van konsepte in die moderne kosmologie.
Op die vingerpunte van die heelal is ʼn verdienstelike en baie genietbare bundel, maar met die voorwaarde dat die leser sy/haar vinger op die hartslag daarvan hou.