
Op die Vingerpunte van die Heelal
René Bohnen
Hierdie poësie gaan oor verhoudings en patrone. Tussen mense, tussen mens en omgewing, tussen nommers en geloof. Dit is ʼn bundel oor broosheid, struktuur en verval.
Weerloosheid en weerbaarheid van mens en landskap word geteken, daar word gekyk na die kwesbare samehang van die geheel en na onregte op sosiale vlak. Die digter pak ʼn kronkelende reis aan na die onsekere tussenruimtes van bestaan.
Die verse verken bekende kunstenaars aan die hand van persoonlike belewenisse, (en andersom). Om die Ander te besoek is om die Self te begin ontsyfer.
.
Mensboom
(my bloed fluister name)
.
laas nag het wortels uit my lyf gespruit,
in skynlote oor ’n vleiland gekruip
ek was magies en hoog ’n haselboom –
my oë het vervloei en gestol tot murg van neut
tot roomkwaliteit en die pit van weet
ek groei voor die aangesig
van die oppergees van ’n gedig
ek is ’n haseldroom en ek is salm-oud
oor mý heers mercurius en die see
.
daarom swem visse en ’n god stroomop in my takke
daarom is die name silwer in my bloed
.
(Uit: Op die vingerpunte van die heelal, Naledi, 2017)
Biografie: René Bohnen debuteer in 2000 met die bundel Spoorsny en volg dit op met In die Niks Al Om in 2011. Haar gedigte was ingesluit in verskeie bloemlesings soos Die Groot Verseboek in 2008 en Die heel mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte in 2015. Haar gedigte was ook ingesluit in The Sol Plaatje European Union Poetry Anthology Volume VI. Sy geniet die vermenging van genres en verskeie van haar gedigte is getoonset, een so ’n gedig is nou voorgeskryf in die nasionale ATKV Koorkompetisie. (Naledi, 2017. R 175.00, Sagteband • 112 p, 213 mm x 137 mm . ISBN: 978-0-928316-95-7)
.

Sien baie uit hierna.