
Pablo Neruda
Hoogtes van Macchu Picchu: Toeligting
Hierdie is die eerste deel van ’n bespreking van Pablo Neruda se tweede canto uit sy groot werk die Canto General. Al twaalf die gedigte in Hoogtes van Macchu Picchu is in Afrikaans vertaal. Die ander dele volg later.
Deel I
Die soort taal waarin Pablo Neruda se gedigte gskryf is, is baie anders in aard as normale spreektaal. Aan die ander uiterste van poëtiese taal kan mens dink aan ’n digter soos Billy Collins. Hierdie digter se gedigte lees maklik en vlot in ’n taal wat klink of hy ’n gesprek met jou voer. Tog het sy gedigte ’n diepgang en inslag wat insigte bring.
Neruda gebruik taal om alledaagse werklikheid op te hef en dit om te wentel in suiwer idees. Die klinkende en assosiatiewe taal weeg swaarder as blote betekenis. Sy verse is ’n fees van klanke en suggereer meer as wat dit dinge uitsê. Sy woorde het talle eggo’s en is gelaai met geheimsinnige inhoud.
Sy woorde spoel dubbelsinnig teen mekaar aan, klouter oor mekaar en weerspieël mekaar. Die gedigte is nie vatbaar vir rasionele ontleding nie. Dit is oop vir verskeie interpretasies en gee die leser die geleentheid om medeskepper te wees.
Ontstaan van “Hoogtes van Macchu Picchu”
Hierdie reeks gedigte is geïnspireer deur Pablo Neruda se besoek in 1943 aan die antieke Inka-stad, Macchu Picchu in Peru. Dit is gebou in die berge naby Cuzco, en dit was waarskynlik ’n soort vakansieoord vir Inka-adel asook ’n tempel-kompleks en handeldryf-geboue.
Neruda was baie beïndruk met die majestueuse argitektuur van die verlate stad wat dateer uit die tydperk voor die Spaanse verowerings. Hy het die Macchu Picchu reeks het gedigte in sy epiese versameling, die Canto General (1950) ingesluit.
Die Canto General bevat van Neruda se beste en mees gewaardeerde gedigte. Dit fokus op die geografie, flora en fauna en omstandighede waarin die Inkas gewoon het. Neruda gebruik hierdie gegewe om te skryf oor die stryd van die mense van Suid-Amerika teen armoede en nasionale en internasionale onderdrukking.
Die Canto General bestaan uit vyftien dele, of cantos. Die Hoogtes van Macchu Picchu is die tweede canto van die Canto General. Dit is in vrye versvorm geskryf en bestaan uit twaalf gedigte. Dit beskryf onder andere die uitroepe van protes en lyding van die onderdrukte massas.
Verder word die heilige stad Macchu Picchu beskryf. Die ie gevoel van spiritualiteit wat daar heers en die skoonheid van die stad, die verlede daarvan en die lot van die geboue se bouers word uitgebeeld. Die digter verbind die verlede vernuftig met die hede en bied homself aan as die stem van die onderdruktes, die verteenwoordiger van hulle wat hulleself nie kan verteenwoordig nie.

Die eerste gedig
In die eerste gedig lees ons hoe die digter deur die ruïnes van Macchu Picchu stap op soek na die betekenis van sy bestaan. Die gedig begin met die beeld van ’n net wat niks opvang nie. Sy ervaringe uit die verlede is ongefokus en sonder enige filosofiese betekenis.
Die digter deursoek die dieptes van die heelal op ’n simboliese manier. Hy soek na ’n teken wat vir hom ’n mate van optimisme en hoop sal bring – ’n goudneerslag. Hy kry egter niks en gaan voort om boontoe en ondertoe te soek, deur die golwe van ’n metaforiese see, soekend na die menslike essensie.
Die tweede strofe is ’n goeie voorbeeld van: “woorde spoel dubbelsinnig teen mekaar aan, klouter oor mekaar en weerspieël mekaar”. Liggame word blootgestel, staal word omgesit in stilte van suur, nagte ontrafel, vernielde meeldrade. Sien ’n mens in hierdie uiteenlopende metafore “die essensie van menswees”? Menswees is net so onpeilbaar en geheimsinnig as die stilte van suur. Neruda heg ’n betekenis aan suur wat nie deur enigiemand anders aan suur toegeken word nie. Hy dwing die leser om vooropgesette idees af te lê en saam met hom die onbekende te verken deur middel van hierdie bekoorlik vreemde taal.
Hier is die eerste gedig:
Hoogtes van Macchu Picchu: I
Del aire al aire
Del aire al aire, como un red vacía,
iba yo entre las calles y la atmósfera, llegando y despdiendo
Van lug tot lug
Van lug tot lug, soos ’n leë net,
het ek rondgedwaal tussen die strate en
die atmosfeer, aangekom en totsiens gesê,
in die herfs se koms die muntstuk
aangebied deur die blare, en tussen die lente en die koring,
dit wat die grootste liefde, soos in ’n vallende handskoen,
aan ons oorhandig soos ’n groot maan.
(Dae van lewende skittering in die blootstelling
van die liggame: staal omgesit
in die stilte van suur:
nagte ontrafel tot die laaste meelblom:
vernielde meeldrade van die huwelikse vaderland.)
Iemand wat vir my wag tussen die viole
het ’n wêreld gevind soos ’n versonke toring
wat sy spiraal dieper ingrawe as al
die blare met die kleur van skor swael:
dieper nog tot by die kleur van geologiese goud,
soos ’n swaard in ’n skede van meteore
het ek my rustelose en strelende hand
gesteek in die mees geslagtelike deel van die aarde.
Ek het my voorkop tot in die diepste golwe afgebeur,
soos ’n druppel weggesink in die swaelagtige vrede,
en, soos ’n blinde, teruggegaan na die jasmyn
van die vermoeide lentetyd van die mens.
Die tweede gedig
In die tweede gedig word die ewigdurendheid van die natuur gekontrasteer met tydelikheid en verganklikheid van die mens. Die digter suggereer dat ewige waarhede nie aangetref word in dorpe en stede nie, maar wel in die uitgestrektheid van die natuur. Hy betreur die feit dat stedelinge nie ’n betekenisvolle lewe lei nie, maar dat hulle verskraal word tot ’n meganiese lewenswyse wat deur hulle kunsmatige lewensomstandighede geskep word: “word dit vermoor en gemartel met papier en haat, / dit word daagliks onder die mat gevee, opgeskeur / tussen die vyandige kledingstukke van die draad.”
Hy suggereer dat die soeke na waarheid die mens se hoofdoel moet wees, maar dat dit ’n stadige proses is wat mens nederig hou.
Hier is die gedig wat dui op die soort stadslewe wat Neruda so teen die bors stuit:

Hoogtes van Macchu Picchu: II
As blom na blom die hoë saad oorgee
en die rots sy blom gesaai hou
in ’n gehawende kleed van diamant en sand
frommel die mens die blomblaar van lig wat hy pluk
in die vaste fonteine van die see
en boor die polsende metaal in sy hande.
En skielik, tussen die klere en die rook,
op die gebreekte tafel,
soos ’n geskommelde pak kaarte, daar sit die siel:
kwarts en slaaploosheid, trane in die oseaan
soos poele koue, en tog
word dit vermoor en gemartel met papier en haat,
dit word daagliks onder die mat gevee, opgeskeur
tussen die vyandige kledingstukke van die draad.
Nee: in gange, lug, see of paaie,
wie (soos die bloedrooi papawer) het nie ’n dolk
om sy bloed te beskerm nie? Woede het
die handelaar se aaklige handel in lewens verswak,
en intussen bo in die pruimboom, laat die dou
oor ’n duisend jaar sy deursigtige merk
op dieselfde tak wat daar wag, o hart, o gesig
afgeskeur tussen die gapinge in die herfs.
Hoeveel keer in die winterstrate van ’n stad
of in ’n bus of ’n boot in die skemer
of in die digste eensaamheid, van nagtelike feestelikheid,
onder die klank van skadu’s en klokke,
in dieselfde grot van menslike plesier,
wou ek ophou soek na die ewige, bodemlose aar
wat ek voorheen in klip aangeraak het
of in weerlig ‘n soen gegee het.
(Dit wat in graan soos ’n geel verhaal
van klein swanger borsies sy getal
oneindig vermeerder, teer in hulle saaddoppe,
en wat, altyd identies, tot marmer afgedop word
en wat in die water ’n helder tuisland is, ’n klok
vanaf afgesonderde sneeu tot bebloede golwe.)
Ek kon net ’n klomp gesigte en maskers vasgryp
neergegooi soos ringe van hol goud,
soos verstrooide klere, dogters van ’n verwoede herfs
wat die mistroostige boom van die vreesagtige rasse geskud het.
Ek het nie ’n plek gehad waar ek my hand kon neersit nie
en wat, geloop het soos saamvloeiende fonteinwater,
of solied soos ’n stuk antrasiet of kristal,
om die hitte of koue van my uitgestrekte hand terug te gee.
Wat was die mens? Wat in sy openlike gesprekke
tussen winkels en fluite, in watter van sy metaalagtige bewegings
het die onvernietigbare gelewe, die onverganklike, die lewe?
Reg deur die gedig vind mens gedurig teenstellings van lewende en dooie dinge: metale en kristalle teenoor rooi papawers en geel graan.
III
El ser como el maíz se desgranaba en el incansable
granero de los hechos perdidos, de los acontecimientos
miserables, del uno al siete, al ocho,
y no una muerte, sino muchas muertes llegaba a cada uno:

Die derde gedig
III
Lewe soos graan gedors in die bodemlose
graansuier van verlore saad, van misrabele
gebeure, van een tot sewe, tot agt,
en nie een sterfte nie, maar talle sterftes gebeur met elkeen:
elke dag ’n klein sterfte, stof, ’n wurm, ’n lamp
wat uitgewis word in voorstedelike modder, ’n klein dikvlerkige dood
het elkeen binnegedring soos ’n kort spies
en mense is lastig geval met brood of ’n mes,
die beeswagter, seun van die hawens, die donker skofbaas,
of hulle wat knaag aan die beknopte strate:
en almal verswak, wagtend op hul dood, hulle kort daaglikse dood,
en hulle mistroostige moegheid elke dag
was soos ’n swart beker wat hulle sidderend gedrink het.
Gedig III is nogal kort. Dit is ’n somber gedig wat die mens se “vuil stede” beskryf. Die mens self is soos graanpitte in ’n graansuier. Die mens en sy stede is maar klein kolletjies wanneer hulle met die natuur vergelyk word.
Die stadige, vernederende dood van die bourgeoisie word uitgelig. Die digter veralgemeen die lot van die mens en sien hierdie “sterfte” van die konformistiese middelklas as ’n afwaartse, negatiewe poētiese vektor.

La poderosa muerte
La poderosa muerte me invitó muchas veces:
era como la sal invisible en las olas
Hoogtes van Macchu Picchu: IV
Die magtige dood het my baiekeer uitgenooi:
dit was soos die onsigbare sout in die golwe,
en dit wat sy onsigbare geur verstrooi het
dit was soos iets half sinkend, half stygend
of groot stukture van wind en sneeustorms.
Ek het na die snypunt van yster gekom, die engtes
van die lug, na die lykskleed van plase en klippe,
na die buitenste ruim van die finale voetstappe
en die duiselingwekkende spiraal-snelweg
maar, wye see, o dood! jy kom nie in een golf na die ander nie
maar soos ’n galop van nagtelike helderheid
of soos al die getalle van die nag.
Jy het nooit in die broeksak kom vroetel nie, jy
kon nie kom kuier sonder jou rooi rok nie:
sonder jou oggendrooi tapyt van omringende stilte:
sonder hoë en begrawe erfenisse van trane.
Ek kan nie in elke wese ’n boom liefhê nie
met sy klein herfs op die rug (die sterfte
van ’n duisend blare),
al die vals sterftes en opstandinge
sonder aarde, sonder afgrond:
ek wou in die wydste lewens geswem het
in die oopste riviermonde
en toe die mens my al hoe meer begin misken het
my begin voorkeer het en deure toegemaak het sodat my
fontein-hande nooit hulle gewonde nie-bestaan sou aanraak nie,
toe het ek deur straat na straat, rivier na rivier gegaan,
en stad na stad, en bed na bed,
en my soutmasker het die woestyn oorgesteek,
en in die laaste vernederde huise, sonder lamp, sonder vuur,
sonder brood, sonder klip, sonder stilte, alleen,
het ek rondgeloop, sterwend van my eie dood.
In die vierde canto val die kollig op Neruda self. Hy vertel van sy stryd met die “magtige dood.” Hierdie dood het groter afmetings as die dood van die gewone mense soos in die vorige gedig beskryf. Neruda skryf: “ek wou in die wydste lewens geswem het in die oopste riviermonde”. Hy wil verby die alledaagse beweeg. Maar, hierin word hy teruggehou deur ander mense wat nie die innerlike waarheid wil hoor nie. Hier is een van die metafore wat die gewone mense en hulle sterftes beskryf – herfsblare op die punt van sterwe: “Ek kan nie in elke wese ’n boom liefhê nie / met sy klein herfs op die rug (die sterfte / van ’n duisend blare)”.
Die laaste reël: “het ek rondgeloop, sterwend van my eie dood” druk die digter se wanhoop, fustrasie en oënskynlike sinneloosheid van die lewe uit, voordat hy opklim na Macchu Picchu.
Die gedigte in hierdie essay is almal uit Spaans in Afrikaans vertaal deur De Waal Venter.
Einde van Deel I

Dis vir my ‘n riem onder die hart, Waldemar, dat jy die essay nuttig vind. Ek hoop om al die gedigte van “Hoogtes” te behandel in komende essays. Die gedigte is almal reeds vertaal.
Die Lorca aanhaling is skitterend. Dit is ‘n baie passende beskywing van Neruda.
Theodorakis se toonsetting is meesleurend. Ek het juis onlangs na ‘n uitvoering van “Algunas bestias” (‘n Handvol diere) geluister waarin die soloïs die alt Arja Saijonmaa is. Jy kan my vertaling van die gedig op my blog lees. Hier: https://inmogale.wordpress.com/
Baie dankie, De Waal, vir die Afrikaanse “bodemlose graansuier van verlore saad” (nou dat die letterlike koring hier in die Overberg pas uitgery is na die graansuiers toe).
Van Neruda het Lorca reeds in 1934 gesê: “‘n Digter nader aan die dood as aan filosofie, nader aan pyn as aan die intellek, nader aan bloed as aan ink.”
Dalk weet jy van Mikis Theodorakis se toonsetting van gedigte uit Neruda se “Canto General” – ‘n grootse werk vir koor en soliste.