
Paternosterblues
soggens lê visserbakkies leeg
onderstebo deurmekaar
ongebruik op die strand
teen ’n poeierkwassieblou lug
ons probeer help & eet meer kreef
want die vismark staan leeg –
die vrye mark is ’n boelie
& sit met silwer aan tafel
om die vissertjies te keel
agter indigo luike sien ons
later hoe ’n kreefverkoper
met sy krat die see in loop
om verlepte krewe te lawe
saans kets ons spoelklippies op
ondeurdringbare staalblou water
terwyl meeue oor kreefreste
duik & mekaar krysend aanval
@Carina van der Walt

Piëta in Bloemfontein
die obelisk is ’n dun
regopstaande swaard
met ’n ryk versierde hef
teen die yl winterlug
ons boere was koppige hemelbestormers
wat krepeer het soos gras wat oornag doodryp
vir volk & vrou – ingebeitel vir taal & God –
teen die wêreld se grootste mag
my verdriet kerf skielik ’n yskegeltraan
ingedagte toets ek die skerpte van die swaard
streel ek oor ouma se kop in die geves
kleindogter blink op haar ma se skoot
dié wintergras is met hongersiektes & bloed gevoed
dit dra duidelik die afdruk van my & my ma se voet
@ Carina van der Walt
