Foto: De Waal Venter
Digters in hierdie essay. In volgorde:
Pablo Neruda
Antjie Krog
NP van Wyk Louw
Joan Hambidge
Tomas Tranströmer
Octavio Paz
Jacques Roubaud

Elke digter het sy of haar eie, kenmerkende lewensuitkyk, benadering tot die werklikheid en skryfstyl. Moontlik is daar ooreenkomste tussen die style van digters in ’n bepaalde tydperk en in ’n bepaalde taal. Mens sal waarskynlik kan aandui hoe digters in byvoorbeeld Spaans in ’n soort toonaard skryf wat kenmerkend is van die taal en tydperk. Moontlik kan dit geld vir Afrikaans en Frans en alle ander tale.
In hierdie essay kyk ons hoe digters uit verskillende taalgebiede en tydperke skryf oor dieselfde onderwerp, die herfsgety. Ons kyk eerstens na Pablo Neruda se bekende gedig “Die herfs kom terug”.
In “Vuelve el otoño” (Die herfs kom terug) beskryf hy op verskillende maniere hoe die herfs terugkom ná die somer. Hy verbind byvoeglike naamwoorde met selfstandige naamwoorde wat baiekeer eienaardig en onlogies lyk, bv. “vertrapte angs” en “walglike ore”. Maar in die konteks van die gedig is dit sinvol. Die spreker in die gedig peins oor sy vervlietende lewe en die naderende winter van die ouderdom.
In reëls 1 tot 6 is daar “treurende klokke” wat daarop dui dat iemand gesterf het. Die klank van die klokke is soos die fladderende kleed van ’n weduwee. Dit is die simboliese sterwing van die somer.
Vuelve el otoño
Un enlutado día cae de la campanas
como una temblorosa de vaga viuda,
es un color, un sueño
Herfs kom terug
’n Treurende dag val uit die klokke
soos ’n sidderende kleed van ’n dwalende weduwee,
dit is ’n kleur, ’n droom
van kersies weggesak in die aarde,
dit is ’n rookstreep wat rusteloos aankom
om die kleur van water en soene te verander.
Ek weet nie of jy my verstaan nie: wanneer die nag
uit die hoogte aankom, wanneer die eensame digter
by die venster die hings van die herfs hoor galop
en die blare van vertrapte angs ruis in sy are,
is daar iets in die lug, soos die tong van lywige osse,
iets in die twyfel van die lug en die atmosfeer.
Dinge kom terug na hulle plekke,
die onmisbare advokaat, hande, olie, die bottels,
al die tekens van lewe: beddens, bo alles,
is hulle vol van ’n bloederige vloeistof,
mense plaas hulle geheime in walglike ore,
sluipmoordenaars kom met trappe af,
maar dit is nie dit nie, dit is die ou galop,
die perd van die ou herfs wat sidder en verduur.
Die perd van die ou herfs het ’n rooi baard
en die skuim van vrees bedek sy wange
en die lug wat hom volg, is gevorm soos die see
en die reuk van vae begraafde verrotting.
Elke dag kom daar die kleur van as uit die lug
wat die duiwe oor die aarde moet versprei:
die tou gevleg deur uitwissing en trane,
tyd wat lang jare in die klokke geslaap het,
alles,
die ou klere stukkend gebyt, die vroue wat die sneeu sien kom,
die swart papawers wat niemand kan bepeins sonder om te sterf nie,
alles val in die hande wat ek oplig
in die middel van die reën.
In reëls 7 tot 12 wil die digter seker maak ons verstaan hom. Hy beskryf die naderende nag, die donkerte. Die spreker in die gedig staan alleen by die venster. Hy hoor “Die perd van die ou herfs” nader galopeer.
Omdat die titel van die gedig suggereer dat dit handel oor ’n jaargety, verwag mens talle natuurbeelde. Maar die teenoorgestelde is waar. Die digter gebruik hoofsaaklik beelde en metafore wat nie wesenlik natuurverskynsels is nie. Voorbeelde:
“dit is ’n rookstreep wat rusteloos aankom
om die kleur van water en soene te verander.”
“daar is iets in die lug, soos die tong van lywige osse,
iets in die twyfel van die lug en die atmosfeer.”
“die onmisbare advokaat, hande, olie, die bottels,
al die tekens van lewe: beddens, bo alles,
is hulle vol van ’n bloederige vloeistof,”
Neruda is ’n digter wat intens die menslike ervaring beleef en beskryf. Dis is asof hy in hierdie gedig die natuur self vermenslik.

Antjie Krog
onvertaalde teleks
VIII
die bolandse herfs word nou eers myne
met die winterreëns wat dae al oor die dakke skif
en snags slaap ek weer alleen
die kraanvoëlblom blits druppels in die tuinhoek rond
vaal vogtige veertjies tussen die dooie kannas in
nog babalaas van die jaar se dop
roes plek-plek ranonkelrooi
die wingerde in die reën
die nat stamme trek bakkoppie onder oulaas blare in
en snags slaap ek weer alleen
langs die uitgeswelde rame groei voetkombersies
en mossige oulappe teen die eike
ons mymer saam oor die legkaart van blare
my oë het skielik vat gekry
met herfsklawer bottend in die kaal boorde
met gladde vel kieliekaal reën aan wit koejawels
alles behoort nou
en die herfs word eindelik myne
- net soms nog die helder gil van lemoene tussen die droefgroen blare …
In Antjie Krog se gedig kom natuurbeelde diggesaai. Die kraanvoëlblom se “vogtige
veertjies”, en nat stamme wat “bakkoppie trek”. Anders as Neruda wat die natuur
mensgestalte gee deur beelde te gebruik wat nie direk verband hou met natuurvers
kynsels nie (tonge van lywige osse) word natuurdinge in hierdie gedig op ’n meer konvens
ionele manier vermenslik : die koejawels het “’n gladde kieliekaal vel” en die “helder gil”
van lemoene.
In Neruda se gedig word die herfs ’n simbool en metafoor van die naderende dood, die ver
ganklikheid van alles. Dieselfde geld in Krog se gedig, maar op ’n heel ander toon. Daar is
’n atmosfeer van peinsende, ietwat droewige beskouing van die lewe. In hierdie gedig is
die spreker in die gedig ook baie sterk op die voorgrond. “Snags slaap ek weer alleen” en
“ons mymer saam oor die legkaart van blare” en uiteindelik “word die herfs uiteindelik
myne”.
Vir Krog word die universele gedagte van verganklikheid in baie groter mate ’n persoonlike
ervaring as wat mens in die Neruda gedig aantref. Die idee van dronkenskap “nog babalaas van die jaar se dop”, kom weer voor in ’n gedig later in die essay.

NP van Wyk Louw
Vroegherfs
Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rook-vaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkle jeug, en vér was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat U wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.
Hierdie bekende gedig van NP van Wyk Louw is, soos die ander “gebede by jaargetye” in
sonnetvorm geskryf. Die digter bid dat sy “Heer” hom “rypheid” gee en sy “waan laat stort”.
Die spreker in die gedig wil gestroop word, soos die bome gestroop word, van alles wat
hom verhoed om “hoogheid” te bereik – moontlik die hoogste vorm van moraliteit en ook
digterskap.
Daar is al heelwat oor hierdie gedig geskryf en besin en ek wil nie meer as dit sê nie,
eerder kyk na ’n interessante soort intertekstuele herdigting van Johan Hambidge, ook met
die titel “Vroegherfs”.

Joan Hambidge
Uit: Die somber muse 1990. Kaapstad: Jutalit
Vroegherfs
Die jaar word ryp in wrede ontnugtering,
in woede wat verkil, en bitter idees
wat daglank deur my nuwe minagting
uitgespoel word; alle idees word reëls,
tot selfs die slustes; en die eerste beelde val
so stilweg in my donker depressiewe drome uit
sodat die dendriete in my brein al
teen elke ligte môre ooreis, ópspruit.
O muses, laat hierdie dae nooit verbygaan:
laat alles val wat poësie of stilte verbreek
of cliché is, en vér was van die pyn;
laat ryp word, muses, laat jul verwoesting nimmer taan,
vir ewig, tot al my demone afgebreek
word in relevante, tydgebonde skyn.
Hierdie gedig is ook in sonnetvorm geskryf, maar die rympatroon is losser as die Van Wyk
Louw gedig. Hier tref ons nie natuurbeelde aan nie, maar emosies en idees: “Wrede ontn
ugtering” en “minagtig” asook “bitter idees” en “depressiewe drome”.
Die gedig is ook ’n soort gebed, maar nie ’n Christelike gebed soos Louw s’n nie. Die
spreker vra (bid) van die muses dat alles wat “poësie of stilte verbreek” moet “laat val
word”. Die digter soek ook, soos Louw, na ’n groter en sterker digterskap, maar uit heelt
emal ’n ander kultuuragtergrond.

Tomas Tranströmer
Storm
Plötsligt möter vandraren här den gamla
jätteeken, lik en förstenad älg med
milsvid krona framför septemberhavets
svartgröna fästning.
Storm
Meteens kom jy af op ‘n geweldige ou
eikeboom, ‘n roerlose takbok, met
sy kroon wat ver uitstrek oor die Septembersee,
swartgroen vesting.
Noordestorm. Nou is die tyd wanneer die lysterbessie
in trosse rypword. Wanneer jy in die donker wakker word
hoor jy die sterrebeelde stamp in hulle stalle
hoog bokant die bome.
In hierdie kort gedig tref mens die kenmerkende natuurbeelde uit die Skandinawiese woude aan en die byna mistieke ineenvlegting van beeld en en betekenis. Die ou eikeboom is ook ’n roerlose takbok. Die sterrebeelde word lewendig en stamp in hulle stalle soos perde.
Anders as in Louw en Hambidge se gedigte word hier nie gevra of gebid nie. Hier word die leser getref deur ’n klompie sterk sinne met ’n intense ervaring van die natuur wat uitgebrei word tot ver buite die aarde, na die sterre, ligjare van ons verwyder. Daar is ook geen sprake van die verganklikheid en afsterwing wat in die vorige gedigte aangetref word nie.

Octavio Paz
Ontoño
En llamas, en otoños incendiados,
arde a veces mi corazón,
puro y solo. El viento lo despierta,
toca su centro y lo suspende
en luz que sonríe para nadie:
cuánta belleza suelta!
Herfs
Vlammend, in die herfs, brandend,
partykeer brand my hart,
suiwer en alleen. Die wind maak hom wakker,
raak aan sy middelste en laat hom hang
in lig wat vir niemand glimlag nie:
watter wilde prag!
Ek soek na ’n hand
’n teenwoordigheid, ’n liggaam,
wat deur mure breek
en geboorte gee aan bedwelmde vorms,
’n aanraking, ’n klank, ’n draaiing, nouliks ’n vlerk;
ek soek binne my,
bene, onaangeraakte viole,
delikate, skaduagtige werwels,
lippe wat lippe droom,
hande wat voëls droom …
En iets wat onbekend is en sê “nou”
val uit die lug,
van jou af, my Heer en my teenstander.
Octavio Paz se herfs is harstogtelik en diep emosioneel. Vir hom is dit geïnternaliseer. Sy hart is “vlammend” en “brandend”. Hy soek binne homself na “bene, onaangeraakte viole, delikate, skaduagtige werwels, lippe wat lippe droom, hande wat voëls droom …”
Ook in hierdie gedig kom ’n godheid voor. Maar hier word daar nie gebid tot die godheid nie, dit word eerder gesien as iets wat onbekend is en teen iemand aan wie weerstand gebied moet word: “my Heer en my teenstander.” Hierdie Heer is nie ’n menslike persoon soos ’n edelman of hooggeplaaste wat respek verdien nie. In Spaans is dit “mi Dios y mi adversario”, dus ’n godheid.

Jacques Roubaud
La Grive
Quand s’achève le mois d’octobre
quand les vendanges sont passées
quand les vignes rouges blessées
par l’automne saignent sombres
Die lyster
Wanneer Oktobermaand verby is
en die druiweoes in is
wanneer die rooi ranke verwond is
deur die donker herfsbloeding
wanneer die sipresse met swart skadu’s
op die steil heuwels
veg teen die rukwinde
sien ons die nugter klein lyster
sit in die wingerd onder die blare
met haar druiwemandjie
met haar slim snawel versamel sy
muskate, granches, wyne in hout verouder
sy proe so baie daarvan dat sy naderhand
in die stof rondrol, heerlik dronk.
Om mee af te sluit, een van Jacques Roubaud se satiries-humoristiese gedigte. Hy is ’n vooraanstaande wiskundige en ook een van Frankryk se belangrikste digters. Behalwe die groot hoeveelheid diepsinnige verse wat hy geskryf het, het hy ook kinderverse en lig-satierise gedigte geskryf.
“Die lyster” (’n voël wat ook in Suid-Afrika aangestref word) begin nogal baie soos Van Wk Louw se “goue akkerblare”. Die blare wat verkleur is ’n “verwonding” deur die herfs, weer die sinspeling op die einde van ’n tyd en verganklikheid van alles.
Die gedig vorder as nugter natuurbeskrywing en dit lyk vir die leser asof dit ’n stemmige en diepsinnige vers gaan word. Maar dan kom ’n wending. Die lyster, moontlik ’n metafoor vir die mens in die algemeen, versamel wyne en begin drink daaraan. En dan die klugtige slot: “sy proe so baie daarvan dat sy naderhand/in die stof rondrol, heerlik dronk.” Dit herinner aan Antjie Krog se gedig!
So sien verskeie digters die herfs, die tyd van verganklikheid en afsterwe. Vir party is daar ’n religieuse element in die bepeinsing van die situasie, vir ander is dit intens emosioneel en innerlik.
Daar sal seker nog baie gedig word oor die herfs deur huidige en toekomstige digters. En elkeen sal iets nuuts bring. Die menslike gees is onbeperk in sy vermoë om skeppend na die wêreld te kyk.
Nota:
Die gedigte in Europese tale is uit die oorspronklike vertaal deur De Waal Venter.
einde

Helize, jou byhaal van breyten se “Bedreiging van die siekes” is baie relevant. As mens die twee gedigte saam lees, verruim dit dadelik jou insig in albei. Interessante vertaling van die Vallejo gedig. (Hy is toe uiteindelik op ‘n Vrydag oorlede en nie op ‘n Donderdag nie, maar wel in Parys.)
Maria, dankie vir jou waardering. Ek streef altyd daarna om leeswaarde te gee in my blogs.
Neruda het groot waardeing gehad vir Vallejo, alhoewel hy nogal krities was oor hom in sy memoirs. Daar is kritici wat meen dat Neruda vir Vallejo beskou het as die enigste Spaanssprekende digter wat by hom kon kers vashou. Hy het ‘n ode ter ere van Vallejo geskryf. Hier is die eerste paar reëls:
Oda a César Vallejo
A la piedra en tu rostro,
Vallejo
Ode aan César Vallejo
Aan die klip in jou gesig,
Vallejo,
aan die plooiinge
van die droë berge
rig ek my lied,
jou enorme
voorkop
op jou tenger lyf,
die swart skemerte
in jou oë,
onlangs onbegrawe,
daardie dae
rof,
ongelyk …
(Vert. De Waal Venter uit Spaans).
Sjoe, Helize, slaan die gedig omtrent nou my asem weg!
Goeie land, bly gedigte darem nou maar nie eenmaal letterlik en konkreet ongelooflik nie?!
So spesifiek soos Parys, maar gelyktydig ook so absoluut universeel en ewig – soos beweging … deur tye en ruimtes en stiltes …
“skal stotterend slegs die stilte teen my muur” is veral BAIE besonders vir my.
“Bedreiging van die siekes” bly darem nou ook maar eenmaal werklik asembenemend ‘bedreigend openbarend’ – “ek wil nie die donker leef en sien wat aangaan nie” … Maar ons doen dit, ons kry dit reg … ?! Is ons dom, dig, of werklik ongelooflik van geaardheid?!
BAIE mooi blog De Waal!
En laat ons nie die onvergeetlike “Herr, es ist Zeit…” in “Herbsstag” van Rilke vergeet nie. Daar is ook César Vallejo se Paryse herfsgedig (wat ‘n brug vorm na begrip van ‘n sekere baie bekende Afrikaanse debuutgedig, getiteld “Bedreiging van die siekes”).
Swart klip leggend op ‘n wit klip
Ek sal sterf, op so ‘n dag in Parys
‘n dag nóú al onthou.
Ek sal sterf, nie talm of skroom
op ‘n dag soos nou en hier, so ‘n ysdag in die herfs.
‘n Donderdag sal dit wees, want nóú, vandág
skrywend híér aan dié geskrif,
skal stotterend slegs die stilte teen my muur.
Vallejo dood. Afgekam en afgemaai
al het hy niks gedoen;
geslaan, gespoeg en sonder ophaal
hard gelooi. Eenkant staan hul reeds en wag:
getuig die Donderdagse ys met reën,
die stilte, leegheid en die muur.
César Vallejo (vert. HvV 6 Augustus 2018)
————-
Black Stone Lying On A White Stone
I will die in Paris, on a rainy day,
on some day I can already remember.
I will die in Paris—and I don’t step aside—
perhaps on a Thursday, as today is Thursday, in autumn.
It will be a Thursday, because today, Thursday, setting down
these lines, I have put my upper arm bones on
wrong, and never so much as today have I found myself
with all the road ahead of me, alone.
César Vallejo is dead. Everyone beat him
although he never does anything to them;
they beat him hard with a stick and hard also
with a rope. These are the witnesses:
the Thursdays, and the bones of my arms,
the solitude, and the rain, and the roads. . .
César Vallejo (1892 – 1938)