
“Om die groot Niet te kan vertrap, sal die Ysterkoei moet sweet” (Brink in Kannemeyer 1983: 467).

Foto geneem deur Gisela Ullyatt
In Oos-Londen se middestad is ’n gebou met karaktertrekke wat uit die voormalige Deutsche Demokratische Republik (DDR) dateer. Soms verbeel ek my ek bevind myself iewers in die Unter den Linden met ’n kotsgeel Trabant wat stotterend by my verby ploeter. Helaas is dit nie die geval nie. Die gebou voorheen bekend as die Gassonsentrum (nou Chris Hanigebou) huisves vier fakulteite en talle administratiewe kantore van die Universiteit van Fort Hare se Oos-Londenkampus. Dié gebou het ’n lang geskiedenis en verbintenis met Oos-Londen. In lokale en kantore waar daar vandag onderrig en gewerk word, het mense in die vorige dekades inkopies gedoen en was onder andere die voormalige veiligheidspolisie se kantore op die derde vloer geleë. So beland ek in Augustus 2016 ook op die derde vloer. Met onmiddellike effek kom my sintuie in opstand teen die staatsdiensagtige beige mure. Ek het die verfkwas gegryp en my kantoor in ’n ruimte omskep waar ek nie soos ’n stempelstamper van die Departement van Binnelandse Sake voel nie. En saam met die verf kom geraamde foto’s van Afrikaanse sowel as Nederlandse skrywers. Naas André P Brink en Gerard Reve wie se gesigte teen my rooi muur pryk, staan daar op die boekrak een van die mooiste foto’s wat myns insiens van die digter Breyten Breytenbach en sy vrou, Yolande Hoang Lien, geneem is.

Breyten Breytenbach en Yolande Hoang Lien in Parys
My belangstelling in Breytenbach as digter is my voorgraadse professor, Helize van Vuuren, se skuld. Reeds gedurende my eerste jaar aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth (nou NMU) het sy ons as onkundige eerstejaarstudente aan die wonder van die Afrikaanse poësie bekendgestel. In haar kantoor was ’n kopie van Die ysterkoei moet sweet permanent op die boekrak uitgestal. Ek het my altyd verkyk aan die skets op die omslag. So maak ek kennis met “die maer man met die groen trui”. Nodeloos om te sê, het ons ’n deeglike dosis Breytenbach ingekry. Tydens my tweede jaar het ons professor ’n piekniek gereël waartydens ons op 16 September rou pampoen geëet en gedigte voorgelees het.

Die ysterkoei moet sweet (1964)
So gebeur dit dat ’n voormalige kollega uit my onderwysdae my ’n paar weke terug telefoneer. ’n Matriekleerder het by haar aangeklop en soek naarstigtelik na Breyten Breytenbach se eerste bundel Die ysterkoei moet sweet (1964). Daar is glo ’n kopie aanlyn te koop. Die meisie het egter nie R500 om dié tweedehandse bundel te koop nie. Het ek nie ’n dalk ekstra kopie nie?
Natuurlik het ek! Diegene wat my goed ken, weet dat ek al wat ’n Afrikaanse boek of digbundel van verpulping of die vullishoop red. Ek vermoed dit is my lewensroeping. (Ek moet bieg dat ek al tot in kartondose op ’n sypaadjie soos ’n boemelaar rondgekrap het op soek na skatte vir my boekrakke…) By die kerkbasaar sal jy my maklik opspoor. Wanneer ek ’n stad of dorp besoek, kyk ek eerste waar die boekwinkel geleë is. Want ek weet daar is ’n verborge skat wat deur my ontdek (en gered) moet word. So gebeur dit dat ek soms meer as een (soms drie) kopieë van ’n digbundel of roman het. Gewoonlik ruil ek en een van my kollegas in die Engelsdepartement, Gisela Ullyatt, bundels uit waarvan ons dubbels het. Noem dit ruilhandel of ’n nuwe vorm van kaartspel. Maar met digbundels word daar in die boekskaars Oos-Kaap ernstig omgegaan.
So verpak ek Die ysterkoei moet sweet met groot sorg en stuur dit per koerier Grahamstad (nou Makhanda) toe. Daarmee saam ’n nota aan die leerder, Danielle Griesel. ’n Paar dae later ontvang ek ’n e-pos van Danielle waarin sy my hartlik bedank vir die geskenk wat ek vir haar gestuur het. Ek besluit om haar uit te vra oor haar belangstelling in Afrikaanse poësie – en meer spesifiek Breyten Breytenbach. Hier volg Danielle se antwoord – ’n teken van hoop dat daar tog wel liefde vir Afrikaanse poësie onder jong Afrikaanssprekendes bestaan.
Hoekom Breyten Breytenbach?
Afrikaans Eerste Addisionele Taal se kurrikulum daag nie leerders uit om breed of wyd te lees nie. Leerders word aan baie eenvoudige kortverhale, gedigte en romans met min of meer dieselfde storielyn van ‘n tiener wat ‘n identiteitskrisis ondergaan blootgestel. Vir leerders wat Afrikaans by die huis praat en nie die geleentheid het om Afrikaans Huistaal as vak te neem nie, is dit teleurstellend om hierdie herhalende temas in gedigte en stories te lees.
In een van die voorgeskrewe kortverhale wat ons hierdie jaar gelees het, het die verhaal ’n intertekstuele verwysing bevat na ’n gedig geskryf deur Breyten Breytenbach met die woorde: “my hart is ’n toring sodat ek jou van ver kan sien kom.” Ek was gefassineer deur hierdie beeld van ’n hart wat as ’n toring beskou word. Ek het gedink oor hoe ek, as ’n mens, so maklik my hart op my mou dra, maar nou word dit ’n stappie verder gevoer en skielik is die hart ’n toring. ’n Toring staan sterk en trots vir die res van die wêreld om na te kyk en ek het gedink hoe edel en trots dit is dat iemand hulle hart so vir die wêreld sal wys om hulle liefde vir iemand anders aan te kondig.
Ek moet bely dat tot ek die gedig gelees het, ek amper glad nie meer in Afrikaanse letterkunde belanggestel het nie, maar hierdie beeld van die hart as metafoor het my diep aangeraak. Party dae voel dit vir my asof die hart net “’n klotsel bloed in pypies en kraakbeen” is, maar ander dae glo ek ook dat my hart my kan lei om soveel meer te doen as om net te bestaan.
ek wag in my hart
my hart (ek het nooit gedink dat ek
oor hart sou
uitwei nie, die klotsel bloed
in pypies en kraakbeen)
is ’n
toring
sodat ek jou van ver kan sien kom
Die gedig “ek wag in my hart” het my geïnspireer om meer van Breyten Breytenbach se gedigte te lees en toe ek van sy digbundel Die ysterkoei moet sweet hoor, het ek my grootouers gevra om my te help om ‘n kopie daarvan op te spoor.
Van my gunsteling gedigte in Die ysterkoei moet sweet is “wintertroos”, “ek wag in my hart” (die beeld van die hart wat as ’n toring beskou word het my ) en “verslag”.
Ek geniet die gedig “verslag” omdat dit vertel oor ervarings wat die spreker gehad het en dinge wat die spreker gesien het, maar soos tyd verby gaan, vergeet mens sekere dinge, maar dis alles deel van die skoonheid van die lewens wat ons lei.
ek het die middernagson gesien en
voëls van alle groottes en visse in die
water en die suiderkruis bo ‘n berg en
katte met stewels en dronk vroue en
bome naak van bloeisels. sneeu in die winter
en druiwe in die somer maar ek
onthou nie meer veel daarvan nie
So wie is Danielle Griesel?
Ek is ’n agtienjarige leerder in ’n Engelse skool en praat slegs Afrikaans by die huis. Ek kom ongelukkig agter dat my Afrikaans verswak.
Ek neem biologie, skeinat, wiskunde en ook musiek as vakke op skool. Ek speel die dwarsfluit; dus neem ek musiek as vak op skool, en dit is die heel beste besluit wat ek nog geneem het. Dit is moeilik om die kunste as vakke te neem op skool, maar die kunste leer jou dinge wat wiskunde en skeinat jou nooit sal kan leer nie. Deur musiek te neem, het ek ’n waardering vir alle kunste aangeleer en my liefde vir gedigte, kuns en musiek is hieruit gebore.
Ek verag Afrikaanse popmusiek, maar geniet die klanke van Koos Kombuis se stem asook die van Stef Bos. Ek het onlangs Loftus Marais se gedige begin lees en geniet die omstrede beelde en gedagtes wat hy skep omdat hy my aan ’n moderne en jonger Breyten Breytenbach herinner.
Ek gaan volgende jaar aan die Universiteit Stellenbosch vir ’n graad in biologie en sielkunde studeer en sien daarna uit om die ryk Afrikaanse kultuur daar te beleef.
Een van my eie gedigte wat ek geskryf het na my Oupa se afsterwe.
Oupa
Ek was so lief vir Oupa se hande, donker en sterk, vol krag
fyn lyne soos die krake in ‘n glas, versigtig, maar vol mag
Jare se werk en liefde kon ek sien
Vir die familie gee Oupa een honderd en tien
Oupa was nie lank ‘n kind nie, vir Oupa was die lewe nooit maklik
Mens kan ‘n pleister oor die seer sit, maar die waarheid ruk en pluk, ruk en pluk
maar deur al die moeilike tye was die plaas ‘n hemel op aarde
Deur die droogte en die hitte, was Oupa vasberade
Aan die einde van die dag sal ek dié onthou:
Oupa se fyn ogies – potblou
Oupa se krulhare, altyd netjies gekam
en Oupa se hart vol liefde gekram
Ja, dis baie moeilik en meeste mense sou weet
ons sal hier aanhou lewe, maar nooit vergeet
al het Oupa die aarde verlaat
ons glo dat ons eendag met Oupa aan die ander kant sal praat
Vir my was Oupa se lewe ‘n seën
op ‘n droë Somersdag die rëen
Tyd gaan aan, ek wil jou belowe
Oupa, jy was nooit siek in my oë
Bibliografie
Breytenbach, B. 1964. Die ysterkoei moet sweet. Johannesburg: Afrikaanse Pers Boekhandel.
Kannemeyer, J.C. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur Deel 2. Kaapstad: Academica.

I truelly appreciate Danielles’ honesty in terms of being given books with the same storyline in high school and share some of her sentiments with regards to Breytenbachs work , how ironic it is that the person writing the article is my Professor and lectures my Afrikaans prakties class here in Fort Hare.And to think I fell in love with Breytenbachs work when I went to consult him in his office and every time , there they were these beautifull words put together so elegantly in Afrikaans by Breyten Breytenbach.
Beautifull article I loved reading it.
Mooi, Dewald, ek is bly my vuurtjie het ‘n vonk laat oorspring doerie tyd na jou en dat jy dit nog koester – maar ek onthou niks van “rou pampoen” nie!
Ek hoor wat jy sê oor die skaarsheid van Afrikaanse digbundels en boeke – eersdaags begin ek boeke uitwied en sal jou laat weet dat jy kan kom haal en uitdeel waar uit te dele is. Bel my asb (het jou kontakdetail verloor/vergeet in ‘n Groot UItwis van alles Digitaals (en moontlik moniterend): dié tegnologiese monsters is my een oor…als-inslukkend, als-verorberend.)
Dewald, wat ‘n lieflike blog, vol nuanses van weemoed en van hoop. Die storie van Danielle Griesel roer die hart. Die antwoordgedig van Breyten inspireer die aanhoudende aangee van woorde. En Gisela, jou foto vat die atmosfeer van ons werksplek so goed vas. Agter hierdie grou mure, op die derde vloer, plant ons steeds saadjies van hoop. Hoed af, vir jou, Dewald.
Ek is Danielle Griessel se ouma. My hart het warm begin klop, toe Danielle spontane belangstelling in ons taal begin toon het, met begrip en hongerte vir meer. Ek was verstom toe ek hoor sy het die vakhoof genader oor die moontlikheid van Afrikaans op huistaalvlak. Daarom dank ek Breyten en Dewald vir jul bydrae om daardie vlammetjie aan die brand te hou. Groete Christine
vir Dewald
Koen met dank vir die aangee, en met vriendelike groete aan Danielle Griesel:
‘n voorskrif vir vingers
« Giving full attention is already an act of awareness.
Awareness is trembling empathy, also to the self-presencing
As if to a sick dog or a vanishing cloud »
– Aboe Ka’afir, Writing the dog
soos daar swart stof in die heelal is
so is gedigte die neerslag van woorde
as uitsaksel van ruimtelose stilte
met die gewig van lig
die vergelyking kan slegs werk
om iets in beweging te bring
selfsinnig maar gebrandmerk
met herkenbare eiendomskappe
van albei vergelykes
(lewe en lyk)
mits die ooreenkomste nooit volsê
die metaforie van eenderse verskille
in beide beierende afwesighede laat sing
o maak die gedig tog lê
in die holte van die hand
en vlek die vingers skyf vir skyf
oop soos die afskil van ‘n vy
die gesig ontbloot
wat die soek so
bevoorreg was om te mog skrywe
almaskie tot gestreelde styfheid vereelt
maar dat die voelvolte van die hart
die voor-skrif vir gewiglose aanwesigheid
van die onverskilde vrou
so meervoudig soos intieme verbeelding
onweerlegbaar is :
sodat sy die vers in besit neem
en die hemel laat land
om vy-vol soos ‘n gebalde vuis vryheid
die dood woord vir woord te voer