“Haar oë glim soos ’n roofdier s’n van honger en dissipline.” Só beskryf Etienne van Heerden ’n dame, wat altyd op dieet is, in sy roman Casspirs en Campari’s. En ’n mens dink onwillekeurig aan die tagtigerjare met sy dieetfoefies soos Fibretrim, Nataniël se bruinrys-en-lensie-dieet, amfetamien-eetlusdempers wat bewerasies en paranoïa veroorsaak, en nog later, die Tim Noakes-dieet. Om enkeles te noem.
Anoreksie, of anorexia nervosa en haar nare tweelingsuster, bulimia nervosa het as die twee bekendste eetversteurings in wese dieselfde gebly. Maar daar het iets bygekom, ’n belangrike impetus wat as’t ware hierdie eetversteurings voed: ons sosiale media-platforms. Lys dan manoreksie, oftewel anoreksiesimptome wat waargeneem word by manlike modelle en die sogenaamde plankdun ‘metromanne’ …of orthoreksie, ’n ongesonde obsessie met gesonde kos en die lys raak kommerwekkend. In die geval van orthoreksie meng die preokkupasie met ’n gesonde leefstyl in met die lyer se algemene welsyn en kan die persoon gemoedsversteurings ontwikkel of homself sosiaal isoleer om ‘verkeerde’ kosse te vermy. Hierdie mense is lief om hulle etes af te neem en byvoorbeeld op Instagram te plaas. Die bord kos word as ’n reël vergesel van ’n rits hutstekens langer as ’n spoorlyn, en kan iets in dier voege wees: feeling great, gevolg deur nonerefinedsugar, glutenfreevegan, dairyfree, lactosefree, ensovoort.
Sedert die begin van die internet het #anoreksie, of kortweg #pro-ana en bulimie, of #pro-mia op webtuistes en mediaplatforms as gemeenskappe begin floreer. Hierdie destruktiewe gedrag word aangebied as ’n ‘leefstylkeuse’; en lyers leef in interaksie met ’n virtuele gehoor wat ’n subkultuur van koestering en aanvaarding bied. Só sal ’n anoreksielyer byvoorbeeld op Instagram suggereer dat een like gelykstaande is aan een uur se vas, en dan, met die aanmoediging van haar gehoor, haarself stelselmatig verder uithonger. Sosiale netwerke bied oorgenoeg kameraderie van gedeelde obsessies, vergelykings, kompetisie, wenke en bemoediging tussen mense wat gewig wil verloor. Motto’s soos pretty girls don’t eat, skip dinner, be thinner, thinspirational en bonespo word na dese gesensureer om die uitdyende gemeenskap van mense met dieetsiektes teen hulself te beskerm. Daar is ’n verbod op sekere memes; in stede hiervan verskyn skakels na webtuistes wat hulp of rehabilitasieprogramme aanbied vir mense met eetversteurings. Sommiges omseil die internetsensuur bloot deur ‘TW’ (trigger warning) by hulle profiel te voeg, of te kenne te gee dat hulle reeds ’n rehabilitasieprogram volg. Wanneer ’n persoon behandel word vir ’n eetversteuring, sal die terapeut waarskynlik voorstel dat die pasiënt sy sosiale media-rekeninge sluit, omdat laasgenoemde platforms moontlik ’n rol in die patologie kan speel. The Agency for Healthcare, Research and Quality het beraam dat daar in 2008/2009 ’n 24% toename in eetversteurings was – en dat die lyers almal oor meer as een sosiale media-profiel beskik het. Grafika wat ’n mens dikwels teëkom, is selfies van uitgeteerde figure met kringe onder die oë, selfoon in die hand, die ribbes sigbaar ontbloot. Waar anoreksie & kie voorheen dieetsiektes was wat gekenmerk is deur meisies wat uit ’n tradisioneel wit, hoër middelklas-omgewing kom, raak eetversteurings vandag mans sowel as vroue: mense van alle rasse, kulture en substrata van die samelewing is slagoffers.
Die ánder sondebok in hierdie verband is die toename in apps, oftewel selfoontoeps wat mense help om gewig te verloor. Daar is toeps wat raad gee met eetplanne, die energiewaardes van kosse lys, kalorieë (en die verbranding daarvan) bereken….en daar is toeps wat jou help oefen, byvoorbeeld ’n pedometer wat jou treë tel en bereken hoeveel meter/kilometer jy deur die loop van ’n dag gestap het. Hierdie toepgedrewe oefenkoors word aangevuur deur die mildelike en onmiddellike beskikbaarheid van inligting rondom energieverbruik. Jare gelede was die voedingswaardetabelle, as deel van kosverpakkings, maar skaars – en mense minder selfbewus oor die voedsel wat hulle inneem. Anoreksielyers (die honger beheervrate, en ek sê dit met deernis) neem deeglik kennis van die tweede doodsonde. En vraatsug vra vir boetedoening en die verbranding van kiloujules. Dit is interessant om hier te noem dat kenners die uitgeteerde staat van anoreksie inderdaad as ’n tipe stigmata (en selfmutilasie) sien; en daarmee saam herinner die obsessiewe ritualistiese gedrag van die pasiënte mens aan religieuse rites.
Van selfbewustheid gepraat: verbeel ek my of is daar deesdae ’n groter sensitiwiteit rondom kos en voeding as jare gelede? ’n Bord kos is nie meer onskuldig nie. Sommige mense se identiteit, self, of self-beeld word inderwaarheid gedefinieer deur dit wat hulle eet, byvoorbeeld in die geval van orthoreksie. Heilsame kos = ’n gesonde Self. Die berekening van energie word ’n fyn kuns – of is dit ’n wetenskap? Gonswoorde soos keto en banting is aan die orde van die dag, alhoewel baie mense nie weet wat die mediese prosesse van ketose behels nie. Ons word gebombardeer met keuses: organiese kos is waarskynlik gesonder, dit is vry van MSG, aspartaam en tartrasien… En hier moet ek bieg: ek kwel my nie oor pienk Viennas nie en ek wonder ook nie oor die koolstofvoetspoor wat ek agterlaat met my eetgewoontes nie. Mense is meer gesondheidsbewus as voorheen, maar die Angst rondom kos het ook toegeneem. In teenstelling hiermee is daar ’n oorvloed kos- en resepteprogramme op televisie en ’n toename in aanlyntoeps vir die bestel en aflewering van wegneemetes. En dan, onrusbarend, die statistiek van The Food and Agriculture Organization of the United Nations. In Desember 2016 het 815 miljoen mense uit die 7.6 biljoen aan wanvoeding gely. Dit beteken dat ongeveer een uit elke tien mense in die wêreld op daardie gegewe tydstip honger was. En dít is ’n tragedie.
Met al die moderne elektroniese en digitale platforms ten spyt, het die patologie van dieetsiektes nie veel verander nie. Anoreksie, soos enige ander onderwerp, vind uiteraard ook neerslag binne die Afrikaanse poësie. In haar taksering van die balletpoësie van Aniel Botha (Pirouette, 2012) wys Marlies Taljard op die destruktiewe aard van eetversteurings wat by ballerinas aangetref word. Klik gerus op die onderskeie twee skakels om hierdie blogs te lees: https://versindaba.co.za/2018/06/24/marlies-taljard-inwaarts-en-immer-opwaarts/ asook https://versindaba.co.za/2018/06/29/marlies-taljard-op-soek-na-die-wildehond-wat-in-haar-hou/
In 1980 verskyn hierdie gedig in Annesu de Vos se bekroonde debuutbundel, Gebed van ’n groen perske. Die psigiese en liggaamlike aftakeling word duidelik verbeeld deur die vers se gestroopte aanslag en minimalisme, wat uiteindelik ook die siekte voorstel.
anorexia
ek proe jou
sonder ophou
in my elke dag
se hongerdood
want weet jy nie
wit godekind
jy is my vleis
my bloed
my brood
Verwysings:
https://www.vrouekeur.co.za/nuus-vermaak/organiese-kos-het-jy-geweet
De Vos, A. 1980. Gebed van ’n groen perske. Kaapstad: Tafelberg.