
Ronelda S. Kamfer
Chinatown
In die bekroonde digter Ronelda Kamfer se vierde bundel, Chinatown, bied sy opnuut poësie met ’n emosionele slaankrag wat die leser nie onaangeraak sal laat nie. Geslagspolitiek word ondersoek deur ’n vrouestem wat opklink teen die patriargie. Verwysings na ’n gebroke verhouding tussen pa en dogter kom deurlopend voor. En kwessies wat deel vorm van die huidige sosiopolitieke diskoers – vrouemishandeling, rassisme en armoede – kom aan die bod, maar word met ’n diep menslikheid hanteer. Waar Kamfer se vorige bundel, Hammie, die komplekse verhouding tussen ma en dogter ondersoek het, word die skeuring in die verhouding tussen pa en dogter hier bekyk. Die pa word onder meer met die valsheid en klaterigheid van Chinatown vergelyk, met ’n eiewaarde afhanklik van materiële besittings te midde van armoede.
Oor die skrywer:
Ronelda Kamfer is op 16 Junie 1981 in Kaapstad gebore. Sy bring haar grootwordjare deur in Blackheath en Grabouw en in 1999 matrikuleer sy aan Eersterivier Sekondêr. Sy was verpleegster, kelner en administratiewe assistent by ’n bemarkingsmaatskapy. Van haar gedigte is opgeneem in bloemlesings soos Nuwe Stemme 3, My ousie is ’n blom en Bunker Hill.
{Kwela Boeke 2019, prys R200,00, 64 bladsye, sagteband, formaat 198mm x 130mm, ISBN 13: 9780795709500}.
my pa se hele dag revolve
rondom sy pride
al is hy maar net ’n
lost boy sonder Peter Pan
’n dooie vrou wie haar
standard moes lower
oor sy dertig en childless was
in die 80s
(Uit: Chinatown, Kwela Boeke, 2019)
