Emily Dickinson: Vertaling in Afrikaans. Vert. deur Daniel Hugo
Die rit
(Emily Dickinson: Because I could not stop for Death)
Omdat ek nie vir die Dood kon stop nie
het Hy goedgesind vir my gestop.
In die koets is dit net ons twee –
Onsterflikheid is ons geselskap.
Stadig gaan die reis – Hy ken geen haas.
En – omdat Hy so uiters hoflik was –
sit ek daar sonder my pakkaas
van versuim en plig – als wat my belas.
Ons ry verby ’n skool waar kinders
op die speelgrond jil – ons ratel aan
verby velde waar die koring wuif
en verby die son wat ondergaan.
Nee, dis hy wat by ons verbykom.
Dit raak koud en die dou laat my ril
want my rok is van spinnerak
en van gaas is my mantel.
Ons vertoef by ’n huis wat lyk
na ’n swelsel uit die grond –
die dak is net-net sigbaar
en die gewel kom ’n datum kort.
Dit was eeue gelede – en tog
voel dit veel korter as daardie dag
toe ek merk die perde se koppe wys
in die rigting van die Ewigheid.
Vertaling: Daniel Hugo
© Daniel Hugo
Sterwers, van die eerstes tot die laastes. Anders as die geval met die vooruitsigloosheid van Emily Dickinson se laaste sin: “Let us go in; the fog is rising,” wonder ek of die (atavistiese?) lustige “loei” in die konteks, prospektief, van die vers hierbo dalk soos ‘n grenslag kan klink!
Die “loei” van ‘n bloedige “grens-slag” (d.i. “battle”, stryd) – kort een letter, nog ‘n “s”.
Hordes wat lag, stryders wat bloei, in pyn…
‘n Geloei van lag, teen ‘n geloei van pyn in die stryd. Perfekte ogenskynlike teenstrydigheid. in die verswege, maar meeklinkende onsigbare “s”…
en die ensovoortsmens oplaas
natgesweet van ‘n lewe se mu-ute
sonder visa
of kappie of keps
op die ysterkoei se rug
die grens oersteek na die land Kû
om daar
bevry van hier se diere en luste
lustig te loei:
“Mona Liesa, kyk wie’s hiesa…”
‘n Verregaande vermaaklike “verruklike verwarring” à la my vertaling van Kopano Ratele se “entrancing confusion” in There was this goat. So terwyl ek “Interrupting Heidegger with a Ram: Derrida’s Reading of Celan” (Crockett 2018) lees, waarin mens lees: “Death haunts every friendship and interrupts every dialogue, and yet this very mortality makes dialogue and friendship possible”, en “The World is gone, I must carry you”, die laaste reël van Celan se “Grosse, Glühende, Wölbung” (“Vast, glowing vault”).
En geniet ek dus, dalk meer as wat gesond is:
“Maar toe die oggend daag,
my skat, is ons verbasing groot!”
Nog meer, as mens “Amort” in die BB-vers met ‘n skewe woordskommeloog bekyk:
Amort – Amor – Mort,
en omgedraai: Troma (trauma), Traum (droom).
Bedink die konteks v Buffalo Bill waaruit die vers kom – 1976, Soweto-opstand, Afrikaans, digter in tronk, in eensame opsluiting (met net van een ding baie: oneindig-uitstrekkende TYD, oftewel LEEGTE (daaroor die vers “Op weg na ku” in Buffalo Bill, en vandaar die 2019-bundel se gelyknamige titel, met ‘n kappie op die “u”, bygesit ( en o, die pyne van die kappie!).
Hier, in een vyfletter-woord, die drie synstoestande van die menslike ek
in Zen-Boeddhisme. In Japanees:
raku (vergenoegdheid, plesier)
kuu (leegte)
yume (droom)
Waldemar, ek is geneig om met jou saam te stem. Ek kon ook niewers ‘n bewys vind dat Dickinson ooit vir Heine (in Duits of Engels) gelees het.
Of Emily Dickinson (1830-1886) bewus was van Heine (1797-1856) se 1827 versameling verse Buch der Lieder, blyk ‘n skrale moontlikheid te wees. ‘n Vertaling, Book of Songs, het wel twaalf jaar voor haar dood in 1874 by Henry Holt & Co. in New York verskyn – dis die vroegste uitgawe wat ek kon raaksien. Verdere vertalings volg eers vroeg in die 20ste eeu. Maar onder die name van skrywers wat deur Dickinson gelees is, is daar nêrens melding van Heine nie. Benewens Die Bybel, tel die Bröntes, George Eliot, Keats, Emerson, Thomas Browne en Shakespeare. Sy het nie Walt Whitman se Leaves of Grass (1855) gelees nie.
Was dit nie vir Breyten Breytenbach se aanpassing van Heine se Amor deur die samesmelting – ek hou van konflasie – met (la) Mort tot die (tipiese vernuwende en wyd-versoenbare) Amort nie (l’amour en la mort is twee volprese deelnemers in Breyten se oeuvre) sou niemand veel meer as ‘n oog wou knip nie t.o.v. ‘n ooreenkoms tussen Daniel Hugo se vertaling van die beroemde Dickinson-gedig enersyds en die plasing deur Helize van Vuuren van Breyten Breytenbach se Heine-bewerking andersyds.
Of hoe? Miskien mis ek iets.
Baie dankie, Francis! Ek het nie verwag om dit by Breyten se vertalings van Heinrich Heine te vind nie. Hier is die Heine-gedig uit “Buch der Lieder” (1827):
LXIX
Wir fuhren allein im dunkeln
Postwagen die ganze Nacht;
Wir ruhten einander am Herzen,
Wir haben gescherzt und gelacht.
Doch als es morgens tagte,
Mein Kind, wie staunten wir!
Denn zwischen uns saß Amor,
Der blinde Passagier.
Nou is die vraag: Het Dickinson Heine se gedig geken? Of is die ooreenkoms blote toeval?
Breyten se kontaminering van Amor en Mort tot Amort is uiters vernuftig.
My vertaling van Heine:
Ons ry alleen in die pikdonker
poskoets dwarsdeur die nag;
ons rus teen mekaar se hartklop,
ons skerts en ons lag.
Maar toe die oggend daag,
my skat, is ons verbasing groot!
Want tussen ons sit Amor,
die blinde reisgenoot.
Tog sekerlik? (in antwoord op jou vraag, Daniel, oor die “blinde passasier”). Maar dat met behulp van een enkele letter, daai “t” (by Dickenson in d Engels vir “dood” teenwoordig), die Afrikaanse digter albei tegelyk, Eros en Thanatos in die koets in kry, gee mens tog ‘n rilling van donker plesier…
Hoe diep le^ taal…
Francis, jou doring!
Gedig 16 (uit Buch der Lieder)in “Buffalo Bill”
Nee o hel, Daniël –
ek soek nog daar
ek soek nog hier
(terwyl ek land en taal en tyd vervloek) –
wou nog kom agter die kap van die byl
toe tik jy my met ‘n veertjie om…
Kaspaas Smit
Nee man, Helize, ek kry dit nie in “Buffalo Bill” van 1984 nie. In jou eerste inskrywing praat jy van “mid 1970’s”?
Ek bloos van oor tot oor. Ek het laasnag met wildstarende o”e wakkergeskrik en besef dit noet Breyten wees, want wie anders ken sy gedigte beter as Helize van Vuuren! Daardie “knipoog” is duidelik vir die ingeligte leser bedoel – nie vir ‘n blinde een soos ek nie. Ter eie versagting: my digbundels is nie almal by my op Prins Albert nie; ek kon dus nie Schmidt deurblaai nie.
Helize, ek glo darem nie jy en Daniël is die enigste Versindabalesers nie! Dis ‘n lieflike ruimte wat gekoester en benut behoort te word, o.a. vir eksperimentering.kyk nou maar net na die werklik ontroerende vers van Thomas Deacon wat mens andersins waarskynlik nie te lese sou kry nie.
Ek wonder ook oor die pennevrug wat jy daar aanhaal. Daniël het gelyk – die rym klink vir my onwaffers en gesog, as ware bygesleep ter wille van die rit. Mens wil nou nie digter in die gesig vat nie (as hy of sy nog lewe – is jy seker? – moet dit ‘n bejaarde persoon wees) maar dit klink vir my baie soos onnalatnswaardige nalatige vroegwerk. Is jy seker dis nie dalk ‘n swakkerige vertaling nie? Wie of wat dit ook mag wees: dis goed dat jy ‘n ogie hou op haar of hom.
Breyten
Hiehie! Lekker lag ek nou…jy’s nie eers louwarm nie, Daniel (maar ek sal graag wil sien of enigeen daarby uitkom. So: laat daar nog tyd -verbygaan -is dit net ek en jy wat nog Versindaba lees?!)
En nee, dis nie Casper Schmidt nie (hy’t darem ook nie so baie geskryf dat jy dit nie gou kon deurgedraf het nie! Jou antwoord lyk my effens verdag! om die minste te sê. Het jy net wild geraai op die styl af?)
Ek gee jou ‘n paar leidrade:
Dis ‘n lewende digter.
Dis die laaste gedig van ‘n reeks.
Die bundel is van 1984.
‘n Raaiskoot: Casper Schmidt.
Helize, jy het my! Maar ek weet darem nie van daardie “gery(s)” / “gekys” nie. Lawwe rymdwang. En “elkaar”! Maar jy het die interteks goed raakgesien.
alleen het ons en die ganse nag
in die donker poskoets gery(s)
ons het elkaar op die hart gelê
met geskerts en gelag en gekys
maar toe die môre verdag word
baby, hoe verstom was ons toe!
want tussen ons het ou Amort
oogknip gesit – die blinde passasier
——//////———///////—-///
Lekkerder, wilder, vroliker, skokkender en losser, Afrikaanser van lit. mid 1970’s geskryf
Raai-raai deur wie, wanneer geskryf, en uit watter bundel?
Treffend!