van Pestilensies
2 April 2020
“…elkeen het hierdie plaag binne hom want geen-een in hierdie wêreld nie; – geen-een,
kan ooit daarvan vry wees nie”
-Albert Camus, die Plaag (A.C.)
i)
wie is die skrywer
van hierdie pandemie?
is daar ʼn god wat ons
wil laat verstaan
dat hy nog in beheer is
van die blou lug
of is dit die mens
se doen en late
wat moes kom vertel
van ʼn plaag wat moes kom –
soos in die woorde van ʼn skim
so soos die vertelling
van ʼn hedendaagse Sint Regverdige?
ii)
die pestilensie moes kom
sodat ons weer siel kon kry,
ons wat saam gesleur is
in dit wat die norm geword het.
ons, die gode van elke revolusie
onder die son
in ons goue karre;
ons huis-paleise;
stook ons ons besighede
vir ons eie profyte;
besoedel ons hulpbronne;
vernietig die reënwoude
om ons daarop te beroem
dat ons suksesvolle
god-hede van ambisie is –
mense waarop die gemeenskap
kan staatmaak
nou afgesluit met maskers
(soos hofnarre)
om ons van mekaar
se asems af weg te hou
in hierdie maskerade
sal ons weer
moet leer
om ons huisies só te bou
dat hulle eerder uitkyk oor die see
“… : ʼn liefdelose wêreld is ʼn dooie wêreld, en daar kom altyd ʼn tyd wanneer ʼn mens moeg is vir tronke, moeg is vir ʼn mens se werk, en vir die toewyding aan diens; en dat al waarna ʼn mens smag die gesig van ʼn geliefde is –die wonder en warmte van ʼn liefdevolle hart” -A.C.
iii)
hier in Orania
het die president gesê
ons moet apart bly:
ons self opsluit
in selle
wat lank al
reeds bestaan
maar wat is die doel van dit alles?
ons almal het ons idees
om die pestilensie te bestry:
intellektuele steriliteit
van hoe, en hoekom
en daarom, en as maar,
maar:
is die plaag
nie eerder
van binne af
aanvegbaar nie
tog raak ons geïrriteerd
as jy jou mandjie inkopies
nader as vyf meter
van my af kom neersit
ons hoes ons gebede – gemaskerd –
die duisternis in
en hou die oog
op die koorspen
se kwik: swart
soos die etter
van ons kunsmatige intelligensie
“Maar toe die dorp se hekke oplaas gesluit is, het elkeen van ons besef dat elkeen, die verteller inkluis, by wyse van spreke, in dieselfde bootjie is; en dat elkeen homself sal moet aanpas by die nuwe (voor)vereistes van die lewe. Byvoorbeeld, die gevoel wat normaalweg by die individue voorkom as hy seer, as gevolg van afsondering – weg van sy geliefdes – ervaar, word sieklik ʼn gevoel wat eenders deur almal gedeel word, maar dan óók die vrees, wat seker die grootste beproewing in hierdie lang periode van ballingskap, wat voorlê, is. ” -A.C.
iv)
is daar ʼn dokter
wat hierdie
humanitêre krisis
kan gesond maak?
miskien ʼn Rieux
in jou en my
wat verby
verspreiding
ʼn oase kan vind
teen die samelewing
se wind en weer –
daar waar ons
in afsondering
saam kan kom
om die vryheidswater
van ʼn bewussyn
van ware solidariteit
en medemenslikheid
in blikbekers te kan deel
v)
bring die pestilensie
nie maar dood
soos enige
ander tyding
van die dood nie:
kanker; emfiseem
oorlog; moord
en volksmoord
ʼn dood wat nie oorwin
kan word nie, nee –
ʼn dood wat natuurlik
soos ons asemhalings
agter hierdie maskers is
daarom
moet ons heelmeesters word
in ons verstaan van mekaar
en ons soeke na bevryding
want ten laaste
is ons almal
een en gelyk
deur die dood
een en gelyk
in die lewe
een en gelyk
in ons siekwees,
ons menswees
daar was nog nooit
ʼn ‘ons’ en ‘hulle’ nie:
kan ons daarom sê
dis ‘hulle’ wat die
vliegtuie gesteel,
en in die
vinger-torings
vasgevlieg het?
“Net dit weet ek: ʼn mens moet doen wat ʼn mens moet doen om ʼn einde te maak aan plaag-geteisterdheid. Dit is die enigste manier dat ons enigsins hoop kan hê op vrede, en in gebreke daarvan – ʼn betaamlike dood.”- A.C.
vi)
agter hierdie maskers
is ons mense
met meer as net
ʼn rol in die samelewing
agter hierdie maskers
is ons soekers
na sin
in ʼn hedendaagse
waarin liefde
gemeet word
in rykdom en
tegnologiese vooruitgang
agter hierdie maskers
het ons emosies
wat ingeperk word
deur ʼn nege tot vyf
bestaan, ʼn
get-out-of-the-way
its-a-busy-day
modus en mentaliteit
agter hierdie maskers
probeer ons die
dier inhou
maar die dier
is in ons natuur
en agter dié natuur
is ʼn ‘tweede natuur’
gebore uit die same-
lewing se kultuur
agter hierdie maskers
haal ons net-net asem
tog so bevrees
vir die pestilensie
wat maar nog altyd dormant
iewers gelê en slaap het
agter die masker
van ʼn dier
“Al wat ek handhaaf is dat daar op hierdie aarde peste is, en dat daar slagoffers is, en dat dit van ons afhang, so ver moontlik, om nie kragte saam met die pestilensies te snoer nie.” -A.C.
vii)
ek wil uit hierdie isolasie wegbreek
en na my ballingskap toe terugkeer:
daar waar ek tuis voel
in jou teenwoordige
afwesigheid,
waar ek jou kan opskryf
as ʼn herinnering van die hart
wat die dans reflekteer
in dié voetspore oor papier
om in dit en deur dit en tot dit
vir ons ʼn huisie te bou
teen die koue winde van tyd
waar ons in die see kan baai
in die stille waters van ons menswees.
waar ek jou lief kan hê
as deel van hierdie wêreld
wat ons nooit
kan of sal integreer nie
maar soms, net soms
vir ons om saam-saam
in ʼn lotus-āsana te gaan sit
as die maan wegsmelt
oor donker golwe van vandag
nie gebonde aan enigiets
behalwe ons saam-wees nie
en dan ook
– saam, in daardie oomblik –
wat nie van weet of
dink of voel nie is nie
een te word
in ʼn koel blou see
van drome
só:
wanneer ons oë toeval,
en die nou-tyd
die pad vind
na die
al-tyd
droom-tyd
taal
viii)
miskien is die pestilensie
net ʼn spesiale koorsigheid
iets om ons te herinner
aan die komende dae
van die dood:
dít wat
vir jou en my
in die mou
gevoer word
deur die lewe
miskien sal ons selle
ons nader bring aan mekaar
ons weer laat verstaan dat
daar baie ander
reeds lankal
in afsondering slaap
op kartonbokse
in die snerpende kou
dalk sal ons leer
dat hierdie siekte
dieper pols,
en altyd sal terugkeer
soos die sirkels van tyd
om ons keer op keer
te vertel:
ook ek is die plaag;
sy oorsaak,
maar óók
sy
moontlike
oplossing
“Maar wat beteken dit: ‘plaag’? Net lewe, en niks meer as dit nie” –A.C.
ix)
in hierdie ballingskap
soek ek na jou soene
in ʼn verlede –
ʼn verbeelde tyd,
ʼn versinsel
van ons dae onder blou lug
in hierdie ballingskap
soek ons na drome
in ʼn toekoms
gespieël
in die
onlosmaaklik
herinnering van gister
in hierdie ballingskap
verbeel ek jou
my afsluit-sel in
maar die grendels
van my verlede
dwing my
om jou ook soms só
in jouself op te sluit
(deur die donker rotte van my verbeelding)
dat ek jou nie meer ken nie
in hierdie ballingskap
is ons selle stikdonker
soos die duisternis daarbuite
maar in ons skyn die vryheid
so blóú soos die lug
van ons bestaan –
in ons styg die kwik
van heldersiendheid
al so lankal al
“… ; en om heel simplisties te verklaar, dat ons in ʼn tyd van pestilensie leer: dat daar meer aspekte in mense is om te bewonder as om te veroordeel.” –A.C.
Alle aanhalings van Albert Camus in Afrikaans vertaal deur die digter vanaf Stuart Gilbert se Engelse vertaling van die Franse teks, oorspronklik gepubliseer in 1948.
Dankie hiervoor! Daar is niks nuuts onder die son nie, Prediker.