EEN
Afskryf van ’n gedig is nie maklik nie
Yanni* stap binne
sonder om te klop, soos gewoonlik,
deur die toe deur.
Sy loop nie ongemaklik
met die lomp
kameelperd-treë van ’n kleremodel nie,
maar met die atletiese gang
van ’n afstand-hardloper.
Haar hare is vasgevang
agter haar kop in ’n soort bolla
en sy dra ’n string
Venesiese glaskrale
met lewendige kleure
wat mekaar uitdaag
in ’n goedige gestoei.
Ek kan sweer
sy het ’n paar druppels
Chanel aangetik.
(Venesiese krale aan ’n Griekse muse?
Ja, ek weet. Sien, sy transendeer tyd.)
Sy het ’n wit kledingstuk aan, ’n toga
of ’n soort Griekse god-rok.
Dit is heeltemal bedek
met vars blomme; nie ’n verlepte blaartjie
tussen die spul nie.
Het jy jou pen? vra sy
en gaan sit op die wasgoedmandjie.
Ek is in die bad
soos gewoonlik wanneer hierdie soort ding gebeur.
Ja, sê ek, wat …
Skryf neer, onderbreek sy my:
Hoekom stoot jy nie die sagte dreunsang
van die see voor jou uit
soos ’n walvis nie?
Hurk jy partykeer
op ’n dun takkie
en nooi reënwolke nader
met bedekte beledigings
soos ’n kuifkop-houtkapper?
Wanneer laas het jy
oor die rooigras gewip
soos ’n pronkende Springbok?
Kan jy teen ’n muur ophardloop
en wegglip in ’n skeurtjie
met glinsterende oë
soos ’n vetpens-akkedis?
Nee, antwoord ek. Dis …
Hoekom nie? vra sy en staan op.
Want ek is ’n mens! antwoord ek verleë.
Dis nie ’n verskoning nie, gooi Yanni terug
en stap na die muur.
Het jy nie ’n skeppende …
Ek kan nie haar laaste woord hoor nie
want sy was besig om deur die muur te loop.
Wat kon sy bedoel het?
Nou sal ek heeltemal op my eie
’n woord moet kry.
TWEE
Ek het jou gewoon lief
Yanni het vandag
by die deur ingestap,
nie deur die muur nie.
Sy gaan sit op een van die regop houtstoele.
Ek groet en kyk afwagtend na haar,
pen in my hand.
Gewone dinge, sê sy peinsend.
Wat is gewone dinge? vra ek versigtig.
Alles, antwoord sy.
Hierdie tafel, die venster, hierdie servet,
die vesels in jou hemp, die afgebreekte been
van ’n mier in die gleuf in die vloer,
jou rooibloedselle wat pas in jou murg gemaak is,
die watermolekules in die aërosoldruppels
wat jy uitgeasem het,
die koolstofatome waarvan alles gemaak is,
ek bedoel alles wat lewe.
Dit is gewone dinge?
Vra ek, effens uit die veld geslaan.
Wat is ongewoon?
Iets wat nie gewoonlik
en algemeen voorkom nie,
antwoord Yanni.
Soos?
Skryf! beveel Yanni
en begin dikteer:
So lig was sy vingers
op haar bors
dat sy nie seker was
dat sy hom gevoel het nie.
Dit is hoe ek jou liefhet,
sê hy.
Dat jy altyd nader
aan my wil kom.
Yanni staan op en stap weg.
Is dit al? roep ek agterna.
Dit is genoeg
vir enige mens, antwoord sy vervagend,
terwyl sy verdwyn
in die muur.
…
*Die klassieke Griekse godin van onder andere liriese poësie se naam is Euterpe. Wanneer sy manifesteer as my persoonlike muse, neem sy die ekstra naam “Yanni” aan.
Hierbo is twee gedigte uit die reeks: “Gesprekke met Yanni Euterpe” wat in 2017 begin het en nog goed aan die gang is. So elke drie weke of maand kom daar ’n nuwe gedig by. DWV

Waldemar, jy is vergewe! 🙂
Ek is nog steeds verbaas, Yanni, dat jy boodskappe hier kan plaas. Ek dag jy kan net dikteer.
Elk geval, “neponimie”: doodvereenvoudig beteken dit gedigte wat groot ooreenkomste met mekaar vertoon. Soos party van Wyk Louw se Klipwerk en Boerneef se volksverse. Jy kan my essay “Neponimiese poësie” lees wat op 30 Maart hier op Versindaba gepubliseer is, as jy meer daaroor te wete wil kom.
Dis nie ‘n nuwe ding nie. Toe jy jonk was, het daardie tyd se digters omtrent almal neponimiese eposse geskryf.
Moet asseblief nie te lank onttrek na jou haelwit gestapelde wolk nie. Ons het jou nodig, veral nou dat ons nie meer ‘n buitewêreld het nie.
Beste dr. Taljard, ek is baie jammer oor my simpele spelfout met u van. Ek wil dit nooit weer doen nie!
Groete
Waldemar
“neponimie”?
sê my niks nie…
(“oidipus, schmoidipus – as long as he loves his mama”)
rare taal wat julle aardse wesens darem ook kan uitdink!
ek keer liewer terug na my haelwit gestapelde wolk…
O ja! Dankie Marlies. Ek het die gedig en die kommentare gelees, maar dit het my geheue ontglip. Ek kan nie kers vashou by Mnemosune nie! Ek sal meer geelwortels of nastergal of iets … moet eet om my geheue te verbeter.
De Waal, ek en Heilna du Plooy is die moeders wat huil oor ons kinders in annerland en die moedertaal wat verlore gaan … kyk by die NPvWL-gedig van Bernard Odendaal.
Hallo Waldemar. Nee, ek dink nie Yanni se moeder en sussie sou die moeite doen om haar werk te doen nie. Onthou, hulle het hulle eie digters en skrywers om op te pas. Bowendien het Gaia, Yanni se ma, geweldig probleme deesdae met mense wat mors en rommel strooi in haar tuin.
Terloops, ek was werklik verras toe ek Yanni se kommentaar op Versindaba gesien het. Ek is natuurlik gewoond om met haar te praat, eerder meer te luister. Sy dikteer per slot van rekening my gedigte. Maar ek het nie besef sy kon kommentaar hier intik nie! Dit het my ‘n les geleer: moet nooit jou muse onderskat nie, jy weet nie waartoe sy werklik in staat is nie.
Ek tas ‘n bietjie in die duister wat jou opmerkings oor Taljaard en Du Plooy betref. (Ek weet van ‘n literêre Taljard, maar ken nie ‘n Taljaard nie). Wat het hulle te doen met die hele besigheid? Maar dankie vir jou besorgdheid!
Ek begin nou wonder of Yanni nie ‘n liefdeslewe het nie. As jy kyk hoe sy optree met die diktering van haar jongste gedig, begin jy wonder … Kyk gerus op my blog: https://inmogale.wordpress.com
De Waal, ek wonder nou of dit nie die geëerde moeder van Euterpe en die ander muses (die gedugte Mnemosune, wat alles letterlik onthou) is wat namens haar dogter aan jou siel karring nie. Hoeveel muses is nie nou ook aan bande gelê tot aan die einde van die maand van Aphrodite nie? (O, Afro-)! ‘n Ma (soos ‘n Taljaard en ‘n Du Plooy hier) maak ‘n plan.6
Yanni, soos gewoonlik loop jy ringe om my (om ‘n Engelse gesegde swak aan te pas) met jou aanhaling van Wyk Louw se ringmure. Kom ons kyk. Die Klipwerk-aanvoorvers:
dat akkers op die sinkdak val
en vye op die ringmuur breek
En Tristia XXXV
Ringmure wit om wingerde
ons hart bly soos ‘n ring gesluit
maar oop en buite bakens is die pyn
Die trieste toon van die Klipwerkvers wat ‘n eindtyd (van ‘n lewe?) suggereer, resoneer met Tristia XXXV waar die pyn so groot is dat dit “buite bakens” (onbeperk) is. ‘n Voorbeeld van interne neponimie?
Onthou, jy is my muse en nie veronderstel om my moeilike dinkwerk te gee nie. Jou werk is mos om vir my gedigte as ‘t ware met ‘n lepel in te gee. Nicht wahr?
en as die “kers val en die eie uur breek”, wat dan van die “buite-bakens pyn” (het sit en wonder oor Louw se “klipwerk”-aanvoorvers, en die skakel via “ringmure” in Tristia, p.107…lyk na ‘n psigiese ellende daar?)
Hallo Yanni. Dis lekker dat jy ‘n slag gesels sonder om vir my te dikteer. Nee, ek dink nie ek gee geheime weg nie. Alle digters het mos ‘n muse. Dante het daardie Beatrice meisie gehad, Neruda het sy rooihaar Matilde gehad, Fernando Pessoa sommer ‘n hele paar. Digters soos Johan Myburg, Charl-Pierre Naudé, Antjie Krog, Bibi Slippers … almal van hulle, het elkeen ‘n muse. Ek wonder nou net of die vroue-digters manlike muses het? En ek waag dit nie om te dink wie ‘n groot digter soos Wyk Louw se muse was nie. Wat ek eintlik wil sê, is dat digters maar almal afskryf wat hulle muses vir hulle dikteer … behalwe wanneer hulle opdraggedigte skryf, dan dink hulle dit self uit.
Ai, hoe gee jy ons geheime weg!
maar skryf nog: dis heerlike leesstof hier bo die wolke (al sypel die geheime gesprekke nou deur muur en dak)…