Gisela Ullyatt in gesprek met Johann van der Walt oor sy debuut, parlement van uile.
Gisela: Johann, baie geluk met jou debuut. Vertel ons meer van parlement van uile se omslagontwerp en -kuns en palet?
Johann: Baie dankie Gisela, dit is ‘n ongelooflike groot voorreg om ‘n digbundel in Afrikaans te publiseer, en om te dink dat ‘n mens ‘n voet neersit op die wandellaan waar reuse eens vrylik gestap het.
Die omslag kom uit my fassinasie met hoe voëls biologies aanmekaar gesit word – veral die verhouding van ‘n liggaam teenoor vlerke en hoe dit alles sin maak, ek skilder (net ‘n stokperdjie vir myself) vir ‘n geruime tyd verskillende voëls maar in ‘n deconstructed manier – om die dele apart te sien wat dan self die beeld holisties in kleur. Ek sal na duisende foto’s kyk om ‘n holistiese blouskrif oor ‘n voël te kry en dan teken ek wat ek voel my idee van daardie voël is, en met die laaste stap dissekteer ek die skets tot aparte dele.
Die geel omslag verteenwoordig uile se oë soos kuns hulle altyd voorstel, (die lesers sal ook uit bundel aflei) en ook ‘n siening wat ek en my ouma gedeel het met die feit dat uile deur ‘n mens kan kyk met ‘n tipe “geelstaar”.
G: Vertel my meer oor die proses van hoe jy jou bundeltitel gekies het asook die motto’s ter inleiding?
J: Ek wou ‘n ander benadering bring tot my bundel, ‘n tipe leeservaring wat ‘n onderlinge verbintenis tussen al die verse bewerkstellig maar dan ook die gevoel van ‘n tipe deconstruction (elke gedig wat op sy eie ook staan) na vore bring. Dit is iets wat ek self graag in later jare in digkuns begin soek het (amper iets soos David Harsent se Salt maar met ‘n meer duidelike en dramatiese oorhoofse narratief). Die idee van ‘n parlement van uile, nie net in die kollektiewe vorm nie, maar ook fisiese aspek daarvan, is iets wat al jare lank by my vashaak. Die beeld van ‘n mens wat uitgedaag word voor hierdie parlement van ‘n ou orde wat op takke sit en neerkyk is ‘n beeld wat ek van kleins af koester. Die motto’s is ‘n ding waaroor ek en my ouma gereeld gepraat het, sy was net so lief vir uile soos ek. Toe ek jonk was het ons altyd gespot dat hulle alles hoor en die wêreld dophou – ek het daardie siening net ‘n bietjie afgerond.
G: Die programgedig se aanvang, “die versoek is gerig” (3), omvat ’n tipe stedelike malaise of angst:
ek skrik wakker
nog steeds op die bank uitgestrek
onwillekeurig oorgegee aan ’n middagslapie
buite syfer die aand deur die laaste holtes van die dag
en ’n kombers van duisternis word oor Johannesburg getrek
ek lê steeds doodstil want in my agterkop
lui ’n pynlike wekker wat my uit die slaap gejag het
myprodols help nie vir hierdie geraas nie
Die gedig ondergaan dan ’n wending:
“skielik eggo my ouma se woorde uit die verlede:”
sy het my gewaarsku teen die geheime orde
diep versteek in ’n donkerste woud
’n plek wat jy net op versoek kan bereik
sy het gesê as jou kop konstant begin raas
en jou drome jou begin pla
is die uile op soek na jou
Hoe het jy hierdie wending bewerkstellig – die stramien van daaglikse angs tot die geheime orde van die uile? Hoekom juis uile en hou hulle ’n spesiale betekenis vir jou in?
J: Die bundel is gerig op ‘n persoon wat hierdie groot reis moet aanpak (die leser moet self besluit of dit introspeksie is en of dit fisies ‘n reis is) en sodoende losbreek van die wêreld rondom hom/haar. Die uile is ‘n aanduiding dat die leser/digter na iets meer organies moet beweeg. Die ou orde van uile – iets wat dalk meer duidelik was voordat ons onsself in tegnologie verloor het en die wêreld vinniger begin beweeg het. Die uile forseer die leser om iets primitiefs te konfronteer en sodoende moderne probleme wat dit teenstaan aan te spreek. Uile was nog altyd hierdie subtiele waarnemers van alles vir my, en my ouma het geglo hulle is in ‘n sekere mate (fisies en psigies) hoër as ons geplaas op die aardbol. Dit is asof hulle altyd van bo af neerkyk op mense, deursoekend, asof hulle dieper in die mens sien as wat ons self doen.
G: ’n Verdere tema in jou bundel is dié van plattelandse bestaan, veral gesien in ’n gedig soos “Ficksburg” (11):
bygelowiges sluit hulle deure
jaag die gordyne uit spore
stop wasgoed die huis vol
sodra my tekkies die teerpad vastrap
ja hierdie soolganger trap jou blomme plat
skop die murg uit die modderplasse
steel jou tuindwergie se geluk […]
kyk die platteland toets my gemoed
jou neerlê by die reëls kry nie vatplek hier nie
ek stap aweregs in ’n eenrigtingpad
lig my been hoër as die scrapyardwaghond
byt waar ander net blaf
in ’n klein dorpie is jy ’n gevangene
of koning van die hele buurt
Wie was jou vernaamste invloede ten opsigte van die Afrikaanse digkuns? Hoe is jy verbind aan die platteland en wat beteken dié milieu vir jou as digter? Sien jy jouself as iemand wat die platteland ontgroei het of altyd deel daarvan sal bly?
J: Die Vrystaat sal altyd deel wees van my. Daar is iets heilig aan die platteland, en vir ‘n kind is dit ‘n totale ander wordingsproses as vir veral kinders in die stad. Daar is meer legendes, meer spookstories en meer veiligheid wat natuurlik gemaak het dat ons berge alleen kon uitklim, aande laat in velde stap of net in die laat-aand verlate strate van die dorp rondloop. Sulke ervarings slyp aan jou lank voordat jy self die effek daarvan beleef. Dis asof die gedigte self binne vorm en dormant lê totdat die tyd vir hulle om na die oppervlak te borrel reg is. Dit skep ‘n ander diepte in hoe jy die wêreld sien, veral as jy stad toe trek en dan gekonfronteer word met ‘n ander deel van realiteit. Persoonlik dink ek digkuns betree ‘n dieper vlak as jou oë terugdwaal na die plek waar jy “mens” begin word het, asook die proses en ervarings daarvan. Om uit daardie plek gedigte te skryf maak dit meer persoonlik, selfs vir die leser wat dalk nie self daar was nie. Dis tog waaruit ons bestaan – die plekke en herinneringe en mense wat ons help vorm het.
G: In kontras met die plattelandse verse is daar ook reisgedigte, onder andere oor New York (“New York is ’n jaloerse vrou”:13):
amerika roep my al van kleintyd af
asof ek die verlore stuk deel uitmaak
van ’n legkaart oopgevou op haar skoot
in haar geselskap staan ek nie uit nie
bloot een van miljoene setlaars
slegs ’n kind wat smag na borsmelk
uit ’n boesem wat geen haat verklaar nie
terug op tuisbodem
verbleik New York op ’n foto
droomverlore binne die muskusgordyne
van ’n stofbedekte boks
G: Wat beteken ’n stad soos New York vir jou? En ’n land soos die VSA?
J: Ek was en is nog steeds versot op die VSA. Daardie “atomic 1950’s family”-prent is iets wat destyds my asem weggeslaan het. Ek het natuurlik nie die politieke aspek om só te kan leef in ag geneem nie, maar net die beeld wat wat aan ons gegee is, die fokus op familie en goeie waardes, en dis iets wat nog altyd naby my hart was.
New York is weer die ander kant van die muntstuk. Dié stad het dieselfde effek op my gehad vir ander redes. Dis ‘n plek vol vreemdes en tog is die stad self ‘n punt van ooreenkoms. Vir ons wat uit lande kom waar politiek die sosiale fabric van gemeenskappe oopgeskeur het, is dit ‘n plek waar jy kan wegsink en deel word van ‘n groter orgaan. Die city-that-never-sleeps-narratief. Net nog ‘n hartklop. My ervaring in New York het my lewe verander, skielik was ek nie net meer ‘n blanke Afrikaner met apartheid wat op my skouers moet rus nie maar bloot deel van ‘n sisteem waarin jou identiteit skielik nie meer in jou gesig gedruk word nie. Ek het verdwyn, ek kon vrylik asemhaal.
G: Aansluitend by vraag 5: jy stel geweldig belang in die Amerikaanse “poetry scene” en vergewis jouself van die nuutste tendense in Amerikaanse poësie. Verder het jy ook ’n bundel genaamd, This road doesn’t lead home, deur Red Mare Press gepubliseer. Hoekom Amerika en byvoorbeeld nie Brittanje nie? Beskou jy jouself eerstens as ’n Afrikaanse digter wat in die tradisie van die Afrikaanse dig-kanon werk of as ’n digter wat in die Amerikaanse idioom skryf? Vertel ons ook kortliks oor jou kinderverhale en waarom jy besluit het om hulle in Engels te skryf?
J: Ek het van kleins af Engelse boeke gelees en Engelse rolprente gekyk en as gevolg daarvan is ek soms meer gemaklik in Engels as in Afrikaans as dit kom by skryf of kreatief dink. Die Amerikaanse poetry scene is ‘n fenomenale koninkryk wat homself gereeld onder nuwe leierskap bevind. Die Amerikaners is op die voorgrond kragtens grensverskuiwings as dit kom by poësie. Daar is digters wat daadwerklik digkuns hervorm tot moderne meesterstukke bv. Layli Long Soldier (een van my gunstelinge) en dan ook die meer gesoute digters wat wel aanpas en saam met die beweging verander bv. Jorie Graham.
Ek wou baie graag (en sal hopelik weer) daardie mark betree juis omdat dit werklik innoverende pogings verg om gepubliseer te word en ‘n mens jouself verby grense stoot om materiaal te verwerk wat in daardie kanon gelaai kan word. Van die grootste internasionale name in digkuns slyp hulle tande in daardie spesifieke mark. Die groot verskil (in my eenvoudige hoedanigheid) tussen Britse en Amerikaanse poësie is die vlak van eksperimentering wat plaasvind. Amerikaanse lesers is “saturated”, so jy moet werklik iets anders uithaal en wys om hulle aandag te trek. Uit my beperkte ervaring met publikasie daar het ek wel agtergekom dat die klem deesdae meer lê op wat jy sê eerder as die wyse van hoe jy dit sê. Dit verander die dinamiek van die skryfproses want skielik wil niemand hoor hoe mooi ek die see kan beskryf nie maar eerder wat die oseaan verteenwoordig vir my as mens.
Ek sien myself nie as ‘n skrywer in ‘n spesifieke plek in digkuns nie, dit sou verwarrend wees omdat ek gereeld in beide tale en digstyle skryf. My werk is dalk eerder ‘n hibriede vorm. Beide tale het sulke sterk aanslae tot kuns, die Afrikaanse digkuns en Amerikaanse digkuns is loshande van die sterkste en ook meer gekompliseerde digvorme daarbuite, so ek sou dink dat my skryfwerk invloed trek van albei oorde.
My kinderboeke, Frankie Learns to Fly en Bhubesi is onlangs deur ‘n plaaslike uitgewer oorgeneem en laasgenoemde behoort teen Junie op die rakke te wees in Suid-Afrika. Beide is in Engels gekryf, omdat ek die internasionale roete gevolg het (beide uit onkunde oor die uitgewersproses asook die mark waarvoor die stories beplan was). Bhubesi het meer sukses bereik as wat ek verwag het en Frankie was selfs op ‘n lys van kinderboeke om te lees in die Verenigde Koninkryk. Die twee stories spreek ook tot ‘n groter spektrum van kinders as net een kultuur – veral Bhubesi, en daarom was dit belangrik om ‘n universele taal te gebruik. Dit was ook egter belangrik dat Bhubesi sy tuiste vind onder die mense wat hom waarskynlik die meeste sal waardeer. Hopelik kan ek in die toekoms ‘n Afrikaanse kinderboek daarbuite kry.
G: Opvallend aan van die verse is hulle dikwels ritmiese maar ook langer titels wat die atmosfeer van elke vers mooi saamvat en waarvan sommige selfs soos ’n versreël lees: “die lente volg haar waar sy ook al gaan” (33) of “geen troosprys vir ’n vervalde poplap” (90). Hoe belangrik is titels vir jou as digter en is dit die titel of die inhoud van die gedig waarmee jy gewoonlik eerste begin werk?
J: Titels is ontsettend belangrik vir my. Dit breek die leser in tot wat volg, en vir my as die skrywer lê dit die fondament van wat ek wil oordra. Ek voel persoonlik dat ‘n gedig klaar by die titel begin, daarom is dit belangrik om samehorigheid (mits dit opsetlik anders toegepas word) te bewerkstellig. Die titel verkoop so te sê die gedig.
G: Daar is ’n onderbou van sosiale kommentaar in ’n hand vol verse soos “die gesin by die brug”(27) maar ook in “empatie”(53):
swart trane vanaand
verdrinkte drome getoonset
met bas en township blues
op die verhoog met ’n ma met wit ideale
en as-maar-net-gedagtes wat broei
in jou bed
slaap jy soet
sonder sonde
geen empatie
trek hoog jou kombers
snoesig onder die neus
swart drome is tevergeefs
laataandtoustaan vir taxi’s
en jy’s klaar in jou bed
terwyl swart ma wag
sy gaan lank vat
elke aand bedien sy wit kos
vleis en aartappel teen ’n klein kelnerfooi
by die huis eet haar kind pap
en sy dit wat oorbly
swart trane
kan nie só bly vloei nie
Is dit belangrik vir ’n digter om ook oor sosio-politieke en maatskaplike kwessies te dig? In watter taal dig jy die meeste oor sulke kwessies?
J: Ek dink ‘n digter moet eerlik wees met homself, en skryf wat na aan sy hart lê. Dis nie die digter se rol om net mense goed te laat voel nie – dis dan juis die een kunsvorm wat elke kultuur, elke taal en elke emosie kan verbind en oorbrug op elke wyse denkbaar, hetsy dit oor skuld, liefde of frustrasies is. As hy/sy in die werk glo, maak dit die aanspraak om gehoor/gelees te word, sterker. Daar is ruimte vir politiek in digkuns maar dis net een afdeling daarvan. Ek persoonlik het meer polities-gedrewe gedigte in Engels geskryf, maar bloot omdat die narratief wat ek geskep het vir die Engelse verse wat gepubliseer is in die versameling en in die ander publikasies in Amerika van so aard was dat dit sin gemaak het. Ek self probeer nie gedigte skryf om enige iemand anders ‘n punt te bewys nie, die digkuns is tog een groot kollektief van uitbeelding persoonlike gevoelens en nie wat ek wil hê ander moet dink nie? As ‘n gedig iets intern aanspreek, en jy uiting daaraan gee deur ‘n gedig te skryf, werk die benadering heel waarskynlik in jou guns, maar ek voel nie digkuns is die medium waar ek uitsprake wil maak wat my nie persoonlik aanraak of affekteer nie.
G: Van die sterkste gedigte in jou debuut is liefdesverse, wat seksuele sowel as sensuele tematiek ontgin; ’n gedig soos “newelvlek” (18) en “laventel” (88) is juiste voorbeelde hiervan. Ek haal ’n gedeelte hier aan vir lesers uit laasgenoemde:
[…] jy skuif jou oefenbrastrap subtiel kant toe
en byt jou onderlip sonder dat jy weet
asof dit ons brand trek ons ons klere uit
ons is in die bed hande en bene en skouers
ek word vol van jou ons is saamgevat
ons is taai van ou en nuwe sweet maar wie gee om
dit is ons albei se eerste keer op hierdie wandelpad
ons staar na mekaar en ek is diep binne-in jou
dit is seer en jy kreun maar jy bly vasklou
naels krap diep slote oor my rug
en roep bloedstrepe op
’n rou teken van ons naakte
breekbaarheid saam
die klimaks wat op die drempel wag
dan is dit verby
die oomblik ontdooi vinnig tot realiteit
in stilte trek ons klere aan
dan ry ek met ’n klomp woorde
toegesluit in my longe […]
Vertel ons meer van die ontstaan van laasgenoemde gedig en het jy aan baie weergawes hiervan gewerk? Wat dink jy is die belangrikste elemente van ’n suksesvolle liefdesgedig?
J: Haha. Dankie! Persoonlik het ’n seksuele aanslag ‘n groot plek juis omdat dit so diep tot ons menswees spreek. Hieruit ook natuurlik die liefde. Dit is belangrik om iemand iets te laat voel, nie net met hoe ek woorde gebruik nie maar met wat ek sê. Ek kan hulle daarnatoe vervoer deur die gevoel te beskryf. Die belangrikheid van ‘n liefdesgedig is om die essensie van daardie oomblik, die rouheid wat uit dit gebloei het, vas te vang op papier. Mense is almal verbind deur liefde, en elke ervaring is uniek maar ook van toepassing op elke persoon. Elke mens het sy eie siening en opinie oor liefde, tog is daar ‘n universele fondament. Liefde- en gedigte van seksuele aard se kwaliteit lê in die feit dat almal met hulle eie gevoelens en opinies na vore tree en jou gedig kan gebruik om ‘n persoonlike verbintenis te maak in hulle eie lewens.
“Laventel” is die “rou” gedig van die bundel. Nog vol bloed as ek dit so kan stel. Dit was egter ook die enigste gedig waarby ek duidelik gestel het dat ek nie aan die lengte of styl wil verander nie. “Laventel” is in die boek, met nodige versorging, basies die eerste weergawe soos hy geskryf is. Dit was natuurlik ook die doel – ‘n gedig wat letterlik uitvloei en sy waarde lê in die stotterende gevoel van “groenwees”, die eerste weergawe van ‘n skepping, sy rouheid en sy versuim tot reëls wat hom dalk sou verander het. Gedigte is nie altyd daar om bloot volgens reëls te bestaan nie, maar wat agter die woorde staan is soms belangriker. “Laventel” is ‘n nabetragting oor wat liefde is, hoe brutaal die pad soontoe soms kan word en hoe verpletter liefde ‘n mens kan los. Daar kan nie metodes geld by die toepassing van so “gevoelgedig” nie, soms is ‘n gedig se poëtiese waarde juis in sy versuim om ag te slaan op wat ander van hom dink; eerder bloot aanspraak te maak op hoe hulle voel as hulle dit lees met ‘n ontvanklike gemoed.
G: Johann, ter lusmaker, wil jy nie vir ons ’n gunsteling gedig vir Versindaba lesers aanhaal uit parlement van uile nie?
J:
’n koggelmander in trapsuutjieslaai
ná ’n uitmergelende werksdag
weerkaats my spieëlbeeld teen die motor se ruit
’n gewonde soldaat met slegs een helfte oor
die vorm word plek-plek ingesluk
deur ’n grys wêreld so ver jy kyk
ek skil die dag af in lae en sif deur alles
wat oorleef hier op die stampvol snelweg:
’n bangbroek-gevangene van die verkeer
sy oë blitsig gespits op elke beweging
’n slagoffer aan wie die reuk van kantoor bly kleef
ek weet ek verdien beter as hierdie weergawe
daar steek meer in my as bloot ’n gedwonge stadsjapie
ek hoort nie hier nie
ek probeer sin maak
van hierdie wêreld waarin ek leef
hier uit my sardienblik op wiele
waar my kop soek na groter doelwitte
uitstrek buite die grense van my lyf
my gedagtes gloei soos ’n enjin wat vuur spoeg
of ’n vuurpyl op teen die donkerblou
hy splyt deur die ruimte in sy eie baan
ons almal weet dit tog te goed:
’n jong ruimtetuig op soek na sy eie maan
Baie dankie vir ‘n prikkelende en vars onderhoud!