Alwyn Roux. Akademiepryse in die kol


Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het beslis die regte keuse gemaak in die aanwys van Johan Myburg se bundel Uittogboek (2017) as die wenner van die Hertzogprys vir Poësie in 2020. Vandat ek die bundel vir die eerste keer gelees het, het ek geweet dat dit een van die groot aanspraakmakers vir die toekenning van die Hertzogprys gaan wees. (Terloops, ek het nou weer dieselfde gevoel gekry met die eerste lees van Tussenganger (2020) deur Marius Crous!)

Uit die periode wat strek van 2017 tot 2019, sou twee vorige Hertzogpryswenners ook sterk kandidate vir vanjaar se prys kon wees. Hulle is: Gesant van die mispels (2017) en In die stille agterkamer (2017) deur Marlene van Niekerk en Op weg na kû (2019) deur Breyten Breytenbach. Dit is egter die rypheid van Myburg se werk, nie net te lees in ‘n paar van die gedigte nie, maar die sinergie van die verse in die bundel as ’n geheel, wat die deurslag gegee het. Die gedig “Prosopopeia” (bl. 95), waaruit die bundeltitel ontleen is, sal as voorbeeld gebruik kan word wat die gesofistikeerdheid van die verse in Myburg se bundel aandui:

Prosopopeia
Open dan my lippe
– Psalm 51:17

En nou weet ek my hart wás ligter as ‘n veer.
Ek het Anubis nie oor my sien buig nie, nie
gevoel hoe ek oopgeknip en ingesout word
nie, nie hoe ek opgewen word in meters lap
nie. Ek was onbewus van die 72 dae waarin
my goed – op my bestelling – aangekarwei
is, byeengebring is, georden is om ‘n ewigheid
lank as proviand te dien. Dit weet ek want
ek het notas daarvan gemaak, laat opteken
in die Uittogboek – dié een wat ek indertyd
op skoon papirus laat uitskryf het: kwotasies
as ‘n soort gids deur die git van die onbekende.
Dit was eers toe ‘n priester – nie die luiperdvelman
met die wierook nie – dit was eers toe dié een
met die staf van obsidiaan die dissel na my mond
toe bring dat ek die tinteling kon voel, die oopgaan
van my mond en by wyse van spreke ook my ore
en oë. Eers dog ek dis alles nagalm, die klanke
van die prosessie wat in dié vakuum dra:
die kanopiese kruike skommelend op die wa
met my maag, binnegoed, longe en lewer daarin;
die koei en kalf wat roggelend leegbloei in sand;
die talle inkantasies om die ba te bevry en die ka terug
te kry. Nou weet ek my hart was ligter as ’n veer
op Anpu se skaal. Dis meer as blote eggo
wat ek hoor in kis op kis op kis: Ek hoor my asem jaag,
ek hoor my murmel waar ek kiertsorent
nooit aan die slaap kan raak nie, die dood nimmer
ongedaan kan maak nie. Ligter as ’n veer.

Ek het Vrydag na afloop van die aankondiging van die pryswenners, De Waal Venter se vertalings van Pablo Neruda se verse uit die Spaans aangeskaf. Voorheen het ek wel van Venter se vertalings op sy blog en op Versindaba gelees.


Ter inleiding van Vandag is boordensvol (2019), noem Charl-Pierre Naudé dat lesers reeds Neruda se verse in Afrikaans kon lees met Uys Krige se vertaling van ‘n aantal van sy verse. Vir diegene wat Spaanse dans (1992) van Krige besit, sal dit ‘n wonderlike leeservaring wees om dié vertalings van Krige saam met dié van Venter te lees. So ‘n ryke taalontginning hoef nie as ’n “akademiese” aktiwiteit benader te word nie; inteendeel, my voorstel is dat dit geniet word soos die eet van tapas by ’n lang tafel tydens die middaguur in ’n semi-droë klimaat soos die warm streke van Spanje of die Karoo.

As daar dan ‘n vers is wat albei digters vertaal het, en jy die kans het om dié twee vertalings langs mekaar te kan lees, sal dit dan wees soos om ‘n glas witwyn saam met die middagmaal te geniet, wat jou dronk in die kop laat voel. (Vir diegene wat ‘n voorsmakie van so ‘n genieting wil hê, kan “Hoe Spanje was” (bl. 75) deur Krige en “Só was Spanje” (bl. 100) deur Venter as aperitief dien, maar laat ek nie nou reeds die kurk trek nie.)

Ek deel graag Venter se vertaling van Neruda se gedig “8 Septiembre” – “8 September” in Afrikaans – op bladsy 15 as lusmaker:

8 Septiembre

Hoy, etse día fue una copa plena

8 September

Vandag, hierdie dag was boordensvol,
vandag, hierdie dag, was ‘n geweldige golf,
vandag was dit die hele aarde.

Vandag het die stormsee
ons opgelig in ‘n soen
so hoog dat ons gesidder het
vir ‘n weerligstraal
en, ineengestrengel, het ons neergedaal
om weg te sink, nog steeds vervleg.

Vandag het ons liggame enorm geword:
gegroei tot die eindes van die aarde
en rollend gesmelt
tot ‘n enkele druppel
van was of ’n meteoor.

Tussen my en jou het ‘n nuwe deur oopgegaan
en iemand, nog steeds sonder gesig,
het daar op ons gewag.

Behalwe vir Venter se vertaling van Neruda se verse, het twee ander vertaalwerke my ook in die besonder opgeval, wat aanspraakmakers vir die Vertaalprys sou wees, naamlik Zandra Bezuidenhout se vertaling van Alfred Schaffer se Mens dier ding (2018) en Henning Pieterse se vertaling van Michel Houllebecq se verse in Tussen die abjekte en die eteriese (2018). (Dit is daarby ‘n groot luukse om tans twee Afrikaanse vertalings van Houellebecq se verse te besit, met verwysing na dié van Pieterse én dié van Catherine du Toit et al (2012) in Tagtig gedigte en twee essays.)

Vanjaar is dit wel Venter se bundel wat met die louere wegstap, en heeltemal ten regte. ‘n Frase uit die gedig “Nie net die vuur nie” (bl. 43) som dié vertalings goed op as “blomme van vurende hartstog”, wat nou in Afrikaans ontluik.

Bookmark and Share

Los kommentaar

 

*

  •