Nini Bennett. In memoriam: Jeanne Goosen (1938-2020)

Jeanne Goosen

 

Die skrywer, digter en dramaturg, Jeanne Goosen, is verlede nag oorlede nadat sy in ’n koma verval het. Dit is ’n voelbare verlies vir die literêre bedryf aangesien Goosen met sowel haar oeuvre as haar omstrede en dikwels aweregse openbare beeld vir opwinding gesorg het. Met Goosen, soos in die geval van Eugène Marais, was dit moeilik om tussen werklikheid en fiksie te onderskei, alhoewel haar stories en anekdotes daarop ingestel was om mense te vermaak en te amuseer. Die skeppende impetus was immer teenwoordig by dié woordskepper en mens.

Goosen het ’n verskeidenheid beroepe gevolg; sy was onder meer joernalis by Hoofstad, Oggendblad, Tempo en Die Transvaler, waar sy haar skryftalent geslyp het. As opgeleide radiografiste was sy egter rusteloos en ook werksaam as stoorkamerbestuurder, bibliotekaris by die vloot, vertaler, smous, afslaer, smokkelaar en sitrusboer. Goosen het dikwels geswerf en nogal herinner aan vroulike Bukowski. Haar lewe kan beskryf word as een van tragiek en triomf, van arm en ontwrigtende jeugjare tot dié van ’n gevierde en veelbekroonde skrywer. Petrovna Metelerkamp het onlangs Goosen se biografie, ’n Lewe vol sinne by Hemel & See Boeke vrygestel. 2020 was veronderstel om geboekstaaf te word as die Jeanne Goosen-jaar: ook Los gedagtes en Het jy geweet ek kan toor (poësie) deur hierdie nimlike skrywer het vanjaar verskyn. Goosen het in 1971 aandag getrek met haar poësiedebuut, ’n Uil vlieg weg. Sy laat ’n ryke nalatenskap van novelles, romans, eenakters en digbundels na en van haar romans is verfilm. Ons is nie almal so nie (1990) het feitlik oornag legendariese status bereik en die titel het sedert die negentigerjare deel van Afrikaanses se lingua franca geword. Vir laasgenoemde roman is sy bekroon met die CNA-prys, Rapport-prys en die M-Net-prys.

En op ’n meer persoonlike noot: Jeanne Goosen was my peetma. In my standerd 9-jaar,1989, het sy voorgestel dat sy my peetma (of peetpa, my keuse) word. Ek het ingestem, vol blydskap en verwondering – en Jeanne het ’n quart Amstel geknak op ons ooreenkoms. Ons het by die kombuistafel gesit waar sy oudergewoonte my jeugverse opgeskeur het en my in geen onsekere taal vertel het hoe swak dit nou eintlik is nie. Ek onthou ek moes die erdwurms uitgrou terwyl Jeanne visvang by Pelindaba. En as haar rooi Volla ingedraai het by die hek, het sy vir my boeke gebring – en my kennis en verwysingsraamwerk van wêreldletterkunde aansienlik verryk.

Van al die mense wat Jeanne geken het, is ek bevoorreg om te kan noem dat sy ’n groot invloed op die vorming van my jeugdenke gehad het. Ek het haar sagte kant geken.

Haar lewe was een van swaarkry, van die raffle wat sy as kind moes uitloof net om Lenie, haar troetelhoender, te verloor, tot die transformerende krag van kreatiwiteit wat haar later tot groot hoogtes sou voer. Want bó alles, en ten spyte van haar (goed gekamoefleerde) weerloosheid was sy ’n sterk mens.

Sy is by geleentheid ’n anargis, ’n geliefde rebel genoem.  En ek besef ’n huldeblyk soos dié skiet ver tekort om te verwoord wat ’n veelkantige, begaafde en uiters komplekse mens sy was.

Jeanne was 81 toe sy stil-stil oorlede is in haar meenthuis in Melkbosstrand. Sy sou 13 Julie 82 geword het. Haar versorger, Michelle van der Westhuizen en haar hondjie, Fudge, was by haar toe sy dood is. Daar sal na verwagting die naweek ’n diens vir haar gehou word.

 

.

By Corpernicus leen ek ’n slim slypglas

en loer by die luik van die hemel in

Kepler speel met sy spieëls

en baljaar tussen die mane van Uranus

En daar is die Meester ook

met sy boskasie vol skoenlappers

Hy is besig

Hy brou ’n nuwe skepsel

‘n ding—

iets tussen ’n komieklike insek

en ’n wollerige knaagdier

Uit papyrus kry dit twee vlerke

wat hy met spuug aan die krom skouers vasplak

Hy brand ook sy voorletters daarop uit

Want dit is sý eiendom, sý maaksel

Maar wysig God altyd wys?

want kyk:

Hy pas twee OK Bazaarsloffies aan die pootjies

en met haakspelde

speld hy ’n voorskoot aan die lyf vas

God staan terug

peins

sê nadenkend vir sy engel:

Sy sal op kruie wei en ‘n soet reuk versprei

en ek sal haar nie aarde toe stuur nie

maar ’n woning in die hemel gee

Voorts pluis God watte uit die wolk

weef ’n tweevertrek-kokon

en betig wind en weer

om hulle plek ten alle tye te ken

En dan druk God sy skepsel teen sy bors

lig die snaakse gesiggie na hom

en plaas sy mond op hare

God blaas

en die vlerke roer in die bries

Ek huil van vreugde uit die twee riviere van my oë

want op aarde het my ma min gehad

 

Uit: Elders aan diens, 2007

 

 

Bookmark and Share

18 Kommentare op “Nini Bennett. In memoriam: Jeanne Goosen (1938-2020)”

  1. Andries Bezuidenhout :

    “wie het…/ die jakobregoppie nekomgedraai// hulle wat stootskrapers bestuur miskien/ is dit die telers van duiwe/ of is dit die jare wat kom met harige hande”.

  2. Marianne de Jong :

    Mag ek vra wie die digter is Andries? Wonderlike aanhaling

  3. Andries Bezuidenhout :

    Marianne, dit kom uit Jeanne se “‘n Uil vlieg weg”. Die gedig se titel is “wie” (bl. 22).

  4. Marianne de Jong :

    Dankie. ‘n Rede om die bundel uiteindelik goed te lees.

  5. Andries Bezuidenhout :

    Ek het dit gister herlees. Dis ‘n resensie-kopie, die bundel het R2-95 in 1971 gekos. Ek neem aan dis destyds aan Irma se pa gestuur – hy was ‘n joernalis daardie tyd.

  6. Alice Hendriks-Boshoff :

    Kosbeer, Nini Bennet.
    Ek het myself belowe ek sal tyd met haar deurbring. Twee jaar gelede al. Maar, die lewe gaan aan en hou my besig. Jeanne Goossen was nie bo-aan die lys nie. Oorlewing was. Nou is sy boaan, anders is die oorlewing ook nie die moeite werd nie.
    Jeanne, as iemand die venster oop vergeet, kan jou stofie-ma jou verwarm.

  7. Marianne de Jong :

    Andries: dit was dus Koos du Plessis, die liriekskrywer-sanger, se resensie.

  8. Dr. Christa de Wit :

    “Môre! My naam is dokter So-en-so.
    Hoe gaan dit vanoggend met Mevrou?”

    “Nee k@k dankie dokter”, sê die nuwe pasient wat reguit na die ondersoekbed gepyl het en nou na die dak lê en staar.

    Haar mond het ‘n effe bitter trek.
    Haar oë is sag regdeur tot by die hart.
    Blou poele.

    “Kan ek ‘n sigaret rook dokter?”

    “Asseblief nie nie nou Me. Goosen.
    Kom ons praat liewer oor jou gesondheid.”

    Dis hoe ek Jeanne Goosen leer ken het een besige Maandag in my spreekkamer.
    Groot was die verbasing toe ek ontdek dat dit dié ikoniese Jeanne Goosen is wat my pasiënt is.

    ‘n Persoon waarvoor ek ‘n heldeverering gekoester het sedert my tienerjare.

    My beste herinneringe van haar lê in die kere wat ek gaan tee drink het by haar meenthuis en ‘n paar van haar kortverhale aan haar voorgelees het.

    Sy het teruggesit (hond op die skoot) en in die niet gestaar terwyl sy massiewe rookwolke met elke teug aan haar sigaret uitgeblaas het.
    ‘n Genoegdoenlike glimlag het om haar mond gespeel met die lees van elke spitsvondige of emosiebelaaide sin.

    Sy het geweet sy is een van ons bestes.

    Rus sag liewe Jeanne.

    P.S.
    Michelle het onderneem om op dieselfde toegewyde manier na Fudge om te sien as wat sy na jou omgesien het (tot hy hondehemel toe gaan).

  9. Andries Bezuidenhout :

    Marianne, ek dink hulle was dalk selfs kollegas, waarskynlik by Oggendblad.

  10. Andries, jy is onnutsig!

  11. Marianne de Jong :

    Dit was vir party van ons nogal uniek dat Jeanne se dokter, Christa de Wit, ook ‘n “fan” en spontane versorger en voorleser was.

  12. Marianne de Jong :

    Daaniel, dis maar net onnutsige gekskeerdery.

  13. Andries Bezuidenhout :

    Eina.

  14. Marianne de Jong :

    Jammer Andries, maar ek weet nie wat Daniel bedoel nie.

  15. Andries Bezuidenhout :

    Ek ook nie Marianne, maar ek dink tog Jeanne sou hierdie string pretensie en misverstande erg humoristies gevind het.

  16. Marianne de Jong :

    Ja beslis. Net een opmerking: op verskeie mediaplatforms word inligting oor Jeanne Goosen op die oomblik uitgeruil en daarom was die skakel met Koos du Plessis en resensies vir my interessant.

  17. Dr. Christa de Wit :

    Ha-ha! omtrent ‘n onnutsige Babelse verwarring, né?
    Jeanne Goosen het ons groepspraktyk besoek tot so 4 jaar gelede, vandaar die konneksie.
    Sy het in die laaste 5 jaar ‘n huisdokter gehad op Melkbosstrand.

    Daar is baie literêre en bekende persoonlikhede daarbuite wat graag met haar geassosieer wil word. Alte graag na haar as ‘n vriendin verwys.

    Net jammer niemand het ooit gaan kuier.
    Sy was bitter eensaam.
    Haar wêreld het daagliks gekrimp.

    Haar versorger was Engelssprekend en kon nie gemaklik voorlees in Afrikaans, maar was bekommerd oor die eensaamheid.

    Wat ‘n voorreg!
    As dokter en ‘fan’ is daar vir ’n slag nie ‘n voorskrifboek nader getrek.
    Beterskap bewerkstellig deur die voorlees van jou gunsteling kortverhale aan jou gunstelingskrywer wat vir die eerste keer in maande glimlag!

  18. Marianne de Jong :

    Jammer oor die woord “fan” Christa. Jy was juis soveel meer as dit.

Los kommentaar

 

*

  •