Boekbespreking: Het jy geweet ek kan toor? (Jeanne Goosen)

 

 

 

Boekbespreking: Het jy geweet ek kan toor? deur Jeanne Goosen. Samestellers: Petrovna Metelerkamp en Celesté Fritze, Hemel & See Boeke, 2020.

Bespreking: Nini Bennett

 

Dit is tragies wannneer ’n digbundel se fokus skuif van laatwerk tot nagelate gedigte. Die veelbekroonde en omstrede digter, skrywer, dramaturg en rubriekskrywer, Jeanne Goosen, is op 3 Junie vanjaar oorlede. In die heel laaste vers beskryf Goosen haar eie afsterwe op selfironiserende en selfs lakonieke wyse. Die selfspot vind uitdrukking in “Suster Goosen” (met verwysing na toe sy jare gelede ’n verpleegsuster was), en nie Jeanne Goosen, die ikoniese skrywer nie.

 

Die dorp ruik na vars brood

In die sipresse koer koerr koerrr

die tortels

Die kerkklok lui

dit spoeg twee mossies uit

’n pot sout

’n pot peper

Suster Goosen het

sag heengegaan

Amen

Kom ons sing ’n

psalm saam       (p. 131)

 

Goosen se poësie-oeuvre bestaan uit ’n Uil vlieg weg (1971), Orrelpunte (1975) en Elders aan diens (2007). Haar amorfe poësie en surrealistiese beelding dra die stempel van die sewentigerdigters, en alhoewel ’n Uil vlieg weg ’n gunstige ontvangs gehad het, het A.P. Brink fel kritiek gelewer op Orrelpunte. Die skaal het egter weer opwaarts geswaai met Elders aan diens, wat as hoogtepunt van haar digoeuvre beskou kan word.

“Om te skryf is soos om te droom terwyl jy wakker is. Dit is soos om te toor.” Só lees ons in die bundel onder bespreking se voorwoord. Ook die titel roep die argetipiese Magiër voor die oog wat met die bevryding van die verbeelding en met die onverwagse en soms verruklike(!) gebruik van die metafoor, bly verras. Baie verse is titelloos en herinner aan bewussynstroomtegniek, wat weer raakpunte met vorige temas en kodes in Goosen se ruim oeuvre vorm.

Die gedigte handel tematies breedweg oor die liefde, familie, alledaagse waan(sin), psigiatriese kwessies, musiek, diere, plante en geloof. Goosen se geloofsverse parodieer, of daag op sardoniese wyse geykte gereformeerde dogma uit, byvoorbeeld p. 107:

 

Die Here is my buddy

As ek droogmaak

sal hy dat ek ’n piesangskil raak trap

maar as ek aanhou aalmoese uitdeel

selfs vir die huishulp wat my so besteel

sal ek drie maal terugkry

 

Musikale intertekstualiteit kenmerk ook Goosen se oeuvre; so skakel “Chopin” (p. 95) met die tersaaklike Chopin-tekste in haar novelle, Louoond (1987):

 

Frederich Chopin hoes bloed

Hy staan by die venster

Hy skryf ’n prelude

Buite reën dit

Drie-vierslag gly die druppels af teen die glas

George Sand saal ’n mal perd op

sy jaag al om, al om die eiland.

 

Die vers verwys na die komponis se Reëndruppel-Prelude (Op. 28 nr. 15), en resoneer met Goosen se indrukwekkende musikale geheue.

In “Ek is ’n sterfling sonder geleerdheid” (p. 56) spot die digter met Stellenbosch se intellektuele kultuur: “Ek maak nie meer jokes nie / want julle slimmes daar op Stellenbosch / antwoord my waar dit die seerste maak.” Hierdie snydende, pretensielose straatwysheid is in die meeste verse teenwoordig as ’n afwysende houding jeens die establishment en ander gesagstrukture.

En fantasie: Net Goosen kan so ʼn heerlike minnevers skryf oor ’n skoonmaakmiddel, “Mister Muscle” (pp. 36-37):

 

Mister Muscle

Hy las skeure en skuur stoofplate

– weg, ja weg is die vlekke –

Een twee drie en die vuil hondebakke is skoon

Hy raak aan blomme en die bare steek hulle voelers uit

Hy laat my aan sy biceps voel en grinnik

Eendag, Jean, sal jy ook kan vlieg

en die koninkryk beërwe

(…)

O, welke vriend het ons in Mister Muscle

 

Het jy geweet ek kan toor? omvat ’n tydvak van meer as vyftig jaar; ’n besondere treffende vers, gedateer “Des ’67 Flirtasie van klank tot god” (p. 31) val op – en ’n mens wonder waarom dit nie opgeneem was in ’n Uil vlieg weg nie – waarskynlik weens die laaste twee versreëls binne die Calvinistiese tydgleuf van die Sestigers? (Dat hierdie god humorbestand is, / maak van ironie ’n kolskoot.”)

Mens kan inderdaad heerlik bespiegel oor die Sestigs se invloede op die verse en op Goosen se vroeë poësie in die algemeen – dit was moontlik Breytenbach, Jonker, of Uys Krige se Spaanse vertalings… of dalk Krige se vertalings van Paul Éluard uit die Frans.

Die trefkrag in Goosen se poësie lê meermale in die (pynlike) dualismes wat sy skep, byvoorbeeld die behoefte aan liefde, net om weer weg te skram daarvan (pp. 84, 85); of die banalisering van tradisioneel verhewe of gewyde praktyke soos nagmaal (pp. 70-71; 51).

Onsingedigte word ’n kunsvorm wanneer Goosen dig, soos in “Beter as” (pp. 74-75) word televisieprogramme in die tagtigerjare geskets met ’n dodelike erns te midde van ’n polities onstabiele milieu, en in hierdie vers herinner Goosen aan ’n vroulike Tarantino.

Ook eensaamheid, vervreemding en eksistensiële waan kry gestalte as die alledaagse lewe as absurd beskryf word (pp. 112-121). Die digter ruk die dood se angel eiehandig uit met haar doodsgedigte wat wissel tussen vrees en vreesloos; spottend én weerloos en sy skryf sowel voordoodse verse as enkeles uit die perspektief van die hiernamaals (p. 127).

 

Dood met jou lispeling, soet

sonore stem

omarrm my, koester my

teen jou pragtige hol bors

Hoe lieflik die leegheid

die volheid daarvan     om krysend

die tog mee te maak     seëvierend

na die ver, onbekende planeet

wat roep en roep en roep en roep     (p. 122)

 

Het jy geweet ek kan toor? is ’n unieke en toeganklike bundel. Dit skakel panoramies met verskeie fasette uit Goosen se lewe en werk, sonder om te herhaal of te verveel. In die voorwoord word die oud-uitgewer, Marietjie Coetzee, aangehaal as sy sê dat die opname van die korpus verse iets van die skeppingsproses van die verse self vergestalt. Die bekoring van die Goosen-nalatenskep lê dalk juis in die onvoltooidheid daarvan: strofes wat uit dekades se joernale en kladboeke byeengebring is; verse waarby die leser bly vertoef en wonder. Byvoorbeeld: daar is iets eienaardig profeties omtrent die meervlakkige titelgedig, soos gelees binne die Zeitgeist van Covid-19:

(…)

 

Jy is ’n klein kiem,

vermenigvuldig vermenigvuldig

in die naam van alles wat heilig is,

tot simptoom – tot siekte.

Jy emigreer, word ’n Sjinees

kom terug, word ’n boer.

Jy deurkruis die wêreld in 80 dae.

Siekte – obskure geskiedenis.

(…)

Jy evoleer tot sigbaarheid

tot almal mekaar wantrou

en die polisie inroep en volksleiers sê:

Hierdie euwel is volksvreemd,

Ons sal dit met wortel en tak uitroei.

Niemand kan ons meer help nie en jou red nie.

(…)

Jy is ‘n leë planeet.    (pp. 40-41)

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Boekbespreking: Het jy geweet ek kan toor? (Jeanne Goosen)”

  1. Breyten Breytenbach :

    Wat ‘n lieflike oorsig – dankie, Nini Bennet – van die uitgeslape en nou ontslape towenares se oëverblindery, die bedrieglike ‘onafgewerkte’ werk. Mens wil uitroep: “Depressie se ma se hoes!”
    En hoe heerlik het Suster Jeanne die es-sens van ons bestaan vasgevang in die ‘ons-in-gedigte’ van haar veronderstelde onsinnige weggooiwoorde. So toepaslik veral nou terwyl ons soos uile baklei oor ‘n kluit vir ons klote.
    Maar laat ons sedig wees. Dis dalk nie gepas om jokes te maak nie.

    BRIEKE LOS
    (vir Jeanne Goosen)

    na 80
    weet jy
    gefok maar gefokus
    vir nog ‘n skof:
    daardie pad na een-en-tagtig
    moes geloop word
    weer keer op keer

    maar na 80
    kan daar wragtig
    nie beweer word
    jou verwoeste lewe wat is
    was ‘n kortpad vat
    na die nêrens
    wat nie besweer
    kan word nie

  2. Nini Bennett :

    Dankie, Breyten! Wonderlike gedig.

Los kommentaar

 

*

  •