nuusberigte 2020
– the centre cannot hold –
wb yeats
dit laat my ademloos. in staat van inperking
neem ek gebeure met ‘n koel oog waar.
met eentonige reëlmaat kom beelde
my voor oë: soveel sterftes, soveel besmet.
(onvermeld bly diegene wat langsamer
van honger en van eensaamheid sal sterf.)
nooit het ek mooi besef nie dat in ons land
en wêreldwyd daar soveel kenners, soveel profete is.
volgens die skrif behoort hulle wel te weet
hulle sal nie in hul eie land geëer word nie.
dan maar self sien kom klaar. as ander
dan nie die verskuldigde lof toebring nie,
sal elkeen self na sy profiel moet omsien, bly
droom dat haar of sy boodskap soos ‘n virus
sal versprei, viral sal gaan. mag ek tog vir ‘n uur,
‘n dag, selfs ‘n week lank op die lippe van almal
wees, my plasing soos ‘n vuishou tref, mag dit
bo alle verwagting tog gelaaik en -laaik word,
nie net hier te lande nie, ook in verre streke, so ver
die kuberruim ook strek, veral in daardie land
waar die vryheid glo gedy, voorspoed
elkeen se deel kan wees en iedereen
saam aan die groot droom kan droom, daar
waar mens skerp en vars die lug jou longe in
kan teug, soos toon eens op die hoëveld
waar dit oop is en jy baie ver kan sien, waar mens
(glo dit) nog aan ‘n god kan glo, selfs as die tering
op jou bors kom lê en die asem al hoe minder raak.
as ons dan ingeperk nie die huis mag verlaat nie, nie
mag rook of ‘n dop kan steek nie, as die cabin fever
ons omsluit, selfs seks sy betowering begin verloor, gaan
sit ons voor die televisie of haal die selfoon uit (mens
begryp maar al te goed die datarekening gaan deur die dak)
tog wil ons weet wat in die wye wêreld aangaan.
‘n geregsdienaar, geklee in uniform, blou en swart
demonsteer vir kykers wêreldwyd wat dit behels om wet
en orde te laat geld. sy voorbeeld wys: die spanning
moet juis nie ontlont word nie, olie moet mens
eerder op die vuur gooi, die kruitvat behoorlik
laat ontplof. terwyl sy drie makkers toekyk
hoe die kêrel uitgestrek daar op die teer lê,
plaas hy sy knie ferm op die nek van daardie man
wat hy waarskynlik as ‘n swarte tater sou beskryf.
nuuskierige toeskouers hou hul selfone
op video byderhand, rekordeer noukeurig
hoe die vasgepende (die nasaat van ‘n slaaf, weg-
gevoer na ‘n nuwe wêreld) ongevraagd van hom
laat hoor: oor en oor kan omstanders sy klaagstem hoor:
i can’t breathe, overgesetsynde, ek het geen asem oor.
na byna nege lang minute kom dié gedeelte
van die skouspel, nes sy lewe, tot ‘n end. vlug
word hierdie grubeeld wêreldwyd gebeeldsend,
raak dit die boustof wat kommentators kan benut
om bekend te raak, mense uit hul sluimer los te skud.
dié tafereel bring skares in beroering, laat
brandstigters en plunderaars gedy. (bygesê,
daar is talle der talle vreedsame opregtes wat onthuts
bloot hul stem teen onreg wil laat hoor. dit bly nou
eenmaal moeilik om koring van die kaf te skei.) heel spoedig
staan die stad in ligte laaie. vuur spring van stad na stad
en land na land, geen voorbrand kan dit keer nie.
woede vaar die vroue in, verander hulle
in furieë, wesens wat net wil maak en breek,
vir goed knegskap se lang geskiedenis vir ewig
wil verdelg. in dié dolle pandemonium moet die covid-
pandemie maar sy eie gang gaan. maenade
spoeg vuur, ook speeksel; slaan meegevoer
geen ag op handhawing van sosiale afstand nie
(gelukkig presenteer simptome van besmetting
eers na die verloop van ‘n week of twee.) vir eers
is hul woede al wat saak maak. laat die dooies
maar hul eie dooies begrawe. die protesgangers
sal later wel ‘n plan beraam om die gewete goed
te sus, hulle te onthef van blaam dat dodelik
hulle aan die verspreiding van die pes aandadig was.
verslaggewers begryp: dit is ‘n tyd om naam te maak: as hulle net
die toneel reg choreografeer, die rou emosie uit die regte hoek
afneem, korrekte vrae tot ontstoke of verslae omstanders rig,
is hier ‘n prys of wat te wen, kan hulle sonder vrees
vir teenspraak demonstreer wie (soos hulleself) moreel
die hoëgrond beset. mens kan maar geld daarop verwed
dat dit die beste strategie sal wees om jou met lydendes,
onderdruktes, die ongerekendes en stemloses te vereenselwig.
terstond besluit dié heiliges: ons sal aan hulle stem gee, self
hul stem word, hart en siel in hul lyding deel, kykers se oë vir eens
en altyd daarvoor open oor wie die cowboys, wie die kroeks is.
hier moet ek eers asem skep, myself betig. hoe durf ek
oordeel? my dit aanmatig om dié teelkragtige boosheid
teen te gaan? ek wat amelee maar al te karig is
met empatie; geneig is om die leed (veral die swaarkry
van self-geproklameerde lyders) dalk te gering te ag,
te min geroer word deur die al te menslike tragedie.
i love it when a plan comes togther. so het hannibal, macho leier
van die a team, episode na episode altyd van hom laat hoor.
(tafereel 1) ‘n geregsdienaar gryp die geleentheid aan, buig
die knie, kniel ‘n kort wyle saam met die protesteerders.
verrassend vereenselwig hy hom met die vertraptes, dié wat
al eeue lank die stewel op die nek voel lê. (hierdie toneel
móét gebeeldsend word: dit toon tog medelye, gewone
medemenslikheid. ek en my kollegas wie se harte sit op die regte
plek sal toesien dat dit prominensie in die uitsending geniet, dat hy
vir sy vereenselwiging met leed behoorlik sal gelofprys word.)
(tafereel 2) die gode is my goedgesind: uit eie beweging tree
die grootmeneer self ten toneel en speel in die komedie mee.
presidensieel gee hy die opdrag dat skares voor die volkshuis
met traangas en pepersproei uiteengejaag word. dit is tyd
vir sý fotosessie. hy’t net die regte plek waar hierdie skoot
geskiet moet word. daar is mos ‘n ou en eerbiedwaardige
episkopale kerk, dié van die heilige johannes, skaars ‘n hanetree
van die withuis geleë. hyself verskaf die regte prop. hy hou die boek
der boeke in sy regterhand, hef dit omhoog, glimlag uit die hoogte
vir die kameras, poseer later met sy trofeevrou by ‘n standbeeld.
so eien hy god toe, nie vir die liefde nie, eerder vir handhawing
van wet en orde. hiermee sal hy die slinkse demagoë troef,
hulle wat met hande opgehef in dreunsang slagspreuke uitskree:
black lives matter; no justice, no peace; peaceful protest; keep
self-respect; get your knee off our necks en dergelike meer.
terwyl die huidige bekleder van die amp ‘n ondergrondse bunker
gaan besigtig (kies maar: wou hy banggat daar wegkruip of dit gaan inspekteer?)
tree die oud-president nader, hou tussen sy mense ‘n town hall,
herinner sy volgelinge dat gans amerika se geskiedenis
gebou is op protes, dat revolusies offers verg, dat die jeug – o blye dag –
in die voorste linie protesteer; dit gee hom hoop. hy sien daarin
‘n nuwe dageraad, die tekens dat sy veelbewoë land aan die verander is.
vyftig jaar na die swart-wit-betogings van die sestigs is teenswoordig
die protes tog veel meer verteenwoordigend van al die mense van die land.
dit toon dat ideale soos gelykheid en menswaardigheid, blote geregtigheid
steeds mense kan saamsnoer, harte kan inspireer. dié woorde
uiter hy terwyl die stede landwyd brand; vure aangestig word
in minneapolis, atlanta, new york en washington. gedenk daarby:
nero het glo viool gespeel toe sy stad in ligte laaie opgevlam het.
voorwaar, in woorde van ‘n digter: a terrible beauty is born.
dit is wel so, die teenswoordige opperbevelhebber sien sake
ietwat anders, kryt sy goewerneurs vir swakkelinge uit, lees
hulle behoorlik die leviete voor. aldus hom is dit nou ‘n tyd vir aksie,
nie vir weke refleksie nie. vergeet maar daarvan om die ander wang
te draai (beslis is jy dan in jou maai); weerhou jou daarvan om met hartseer
en met lyding mededoë te betoon. dit mag so wees dat die skrif sê
dat jy jou vyand lief moet hê en dit jou tot ‘n ruimer menslikheid oproep,
maar realiste weet: dit is geen praktiese politiek dié, so wen jy
die volgende verkiesing nié. nee, wys eerder wie’s die baas, wie klaas.
op meer verhewe toon: die heroïek wat die teenswoordige bedeling
van sy stryders verg, is om ondubbelsinnig swakkeres te domineer,
uitvaagsels in die tronk te stop en om beslissend vuur te beveg
met nog verterender vuur, die land vir altyd van skuim te bevry.
maar laat ek terugkeer na daardie dwase eensaam land, die een
wat die ou seevaarder gevind het, nie wou gevind het nie.
wees tog in die pandemie, heer, by daardie land, by dié
wat staan in toue kilometers lank, in hoop op kos, dié
wat nie ‘n werk het of kan kry, wat in die inperking
hul kinders nie kan voed nie, dié wie se skole en klinieke
vir jare afgebrand al staan, terwyl ministers hulle nou en dan
voor ‘n verkiesing in lang slap motors kom besoek. wees tog met dié
wat snak na asem, eensaam sal sterwe rondom my. voorwaar, dit
is geskryf: ons land is aan die mishoop word en ons, sáám gaan ons
mishoop word. dié somber woorde staan traan in die oë voor my.
in hierdie tyd is dit die bitter taak, die dure plig van leiers
van die regerende party om die maghebbers van amerika
aan te tree, tereg te wys vir die rassisme en vergrype
wat soveel eeue lank steeds welig daar gedy. nogtans
sal afrikane in aansienlike posisies met grasie en groot-
hartigheid bly optree, ietwat teensinnig in bakhand-afrika
maar weer die minste wees en tog die eerste duisend
ventilators ons geskenk, aanvaar (solank amerikaners
maar net mooi begryp: hulle sal moet leer om groot
te dink; van ‘n veel groter besending is dit tog sekerlik
nog net die eerste deel?) hierdie grootse gebaar ten spyt
sal die bevryders die struggle nooit laat vaar nie, roep
hulle dese en gene plegtig daartoe op om voortaan vrydae
in swart geklee te gaan, deernisvol daaraan gedagtig dat swart
lewens saak maak. in solidariteit met hul weggevoerde broers
(het iemand ooit begrip vir hulle seer?), met dié wat lydsaam
aan ‘t krepeer is in daardie land van oorvloed, sal elk getrou
sy deel moet doen. kenners van radikale ekonomiese transformasie
kan visionêr vir eens en altyd aan almal hul versiendheid demonstreer:
nie net sal hulle vir die vierde industriële revolusie gereed wees nie,
maar staan alreeds paraat om laat hierdie november vreesloos
black friday tegemoet te tree, aan daardie kapitalistiese, neo-
liberale koopfees ‘n heel ander betekenis te gee. a luta continua!
(getransformeerd gestel: hul edel stryd duur almaar voort en voort).
so is dit goed, laat toorn maar eerder omslaan in ironie. daarvoor
het ons ten minste heelwat ruimte. die dood van ‘n swart man aan hand
van weermaglede hier ter plaatse (glo een van dertien in die onlangse
verlede, volgens sy prokureur met ‘n geweerkolf opgefoeter en boonop
nog op eie werf) is aldus ons staatshoof maar net te wyte aan oorywerigheid,
toewyding wat in die hitte van die stryd te ver gaan. siedaar, wanneer lokale
kleur nie by die stereotipe pas nie, moet wyse leke liefs tog swyg.
voorwaar, dis laaste gelui; laat bitterheid tog nie finaal word nie.
na alles wil dit vir my lyk: ons moet maar by eugène gaan leer: gewis
is alles net ‘n grap, ons speel in die komedie mee. wie laaste lag
is skoppensboer. sonder die middegrond is ons mooi netjies in ons moer.
© Jan Swanepoel, junie 2020
Dankie, Jan. Al die wye en droewe lande…
Ek meen ook so, Daniel.
Indrukwekkend!