
Andrei Woznesenski. Vertaling uit Engels in Afrikaans. Vert. deur Waldemar Gouws
Iemand slaan ‘n vrou
Iemand slaan ‘n vrou.
In die donker en warm kar
Blink net die wit van haar oë.
Haar bene spook teen die dak
Soos soekligstrale wat amok maak.
Iemand slaan ‘n vrou.
Dit is die manier hoe slawe geslaan word.
Radeloos ruk sy die deur oop
En val uit – af in die pad.
Remme knars hard.
Iemand hardloop na haar toe,
Gee haar ‘n hou en sleep haar, gesig na onder,
In die gras waar brandnetels haar kry.
Uitvaagsel, met watter presisie slaan hy haar,
Stilyága, fokker, grote held,
Sy modieuse strykysterpuntskoen
Bly skop in haar ribbes.
Soortgelyk is die plesier van vyandelike soldate
En die brute verfyndheid van die laagstes.
Terwyl die maanverligte gras vertrap word,
Slaan daar iemand ‘n vrou.
Iemand slaan ‘n vrou.
Eeu gestapel op eeu, geen einde hieraan.
Dit is die jonges wat geslaan word. Somber
Skakel ons huweliksklokke die noodsein aan.
Iemand slaan ‘n vrou.
Wat van die brandende hale
In die herd van haar wange?
So is die lewe, sê jy. Wat vertel jy my nou?
Iemand slaan ‘n vrou.
Maar haar lig is onwrikbaar
Wêreld-sonder-‘n-einde.
Daar is nie godsdienste nie,
nie openbaringe nie,
Daar is vroue.
Sy lê daar bleek soos water
Haar oë traan-toe en stil,
Sy behoort nie aan hom nie
Net so min as ‘n weiveld diep in ‘n woud.
En die sterre? Hulle ratel in die lug
Soos reëndruppels teen swart glas,
Stort neer,
hulle verkoel
Haar voorkop koorsig van droefheid.
1960
(Vertaal uit die Engels van Jean Garrigue)

Hartlike dank vir die kommentaar! Soos Goya, het Woznesenski verslag gelewer van die rampspoedige aspek van vroue se uitgelewerdheid aan mans.
Genadelose woorde oor ‘n genadelose geslanery wat genadeloos vasgevat moet word, maar … ‘n Op die man af gedig wat dalk gemaklik in meer van Suid-Afrika se tale vertaal sou kon word? Dit werk baie goed in Afrikaans.
Ek stem volmondig saam, Karel-Petrus. Dis ‘n tydlose tema – en dit slaan nog harder in Afrikaans. Dankie vir die vertaling, Waldemar Gouws.
Briljante gedig, suiwer briljantheid. Niks in die vertaling wat pla nie.