Nini Bennett. ’n Vriend, ’n broer

 

 

A brother may not be a friend, but a friend will always be a brother. – Thomas Jefferson

 

Ek besoek sy laaste plasings. Dit is die Facebook-blad van die skrywer, Jaco Botha, wat in 2016 oorlede is. Ek bevind my in die digitale nalewe. Ek kyk na die flikkerende pikselbeelde, tot lewe gewek deur algoritmes en bloot ’n simulasie van dít wat was. Die bodemlose skerm is ’n heelal waarin alles beskryf, maar niks verstaan kan word nie. Met die koms van  inligtingstegnologie is alles nóg lewend, nóg dood.

Daar is diegene wat onkundig is oor Jaco se afsterwe: Hulle wens hom geluk met sy verjaardag. Hy word gemerk in Spotify-plasings, of vir ’n virtuele aansit by ’n gunsteling-restaurant. Die lewe gaan voort. Maar dis die laaste plasing – die een heel bo aan die Facebook-blad – wat my aandag trek: Tom Dreyer is with Jaco Botha and 6 others. I wish I’d said…SO1E05.

Daar is drie soorte dood, skryf David Eagleman in sy versameling essays oor die mitologisering van die nalewe. Die eerste dood is wanneer die liggaam, die menslike masjien, afskakel. Die tweede dood is wanneer daar afskeid geneem word van die liggaam, die teraardebestelling of die verassing. En die derde dood is daardie onbepaalde oomblik iewers in die toekoms wanneer jou naam vir die laaste maal genoem word.

Afrikaanse poësielesers was in beroering oor Tom Dreyer se AVBOB wengedig (2019), “Slaap jy solank, dan hou ek die fort.” Jaco, oftewel Tien, het een ’n noodlottige dag in Oktober 2016 sy eie lewe geneem. Sy bynaam was Tien, omdat hy met net tien persent sig gebore is maar ten spyte van sy swaksiendheid ’n vervulde lewe gelei het. Nee, die derde dood het nooit vir Jaco aangebreek nie. Hy is verewig in Tom se elegiese vers. Anders gestel: Tom en Jaco sal altyd sinoniem wees met dié AVBOB wengedig. Want ’n digter, die magiër van ouds het die gawe om hulle geliefdes wat hul voorgegaan het, se lewe en nalatenskap lewend te hou.

In die negentigerjare het my paaie ook die van Tom en Jaco s’n gekruis. Jaco was die eerste MA-student in skeppende skryfkuns in die land, en het in 1999 hierdie graad met lof onder leiding van Etienne van Heerden verwerf. Daarna het Tom en ek gevolg. Ons was al drie wenners van die M-Net-beurs vir skeppende skryfwerk. En ons het al drie blinkoog uitgesien na ons publikasies wat sou spruit uit ons onderskeie MA-verhandelings. Met my eerste ontmoeting met prof van Heerden het hy gespog met sy studente: Ek kan nie voorbly om vir Tom papier te stuur nie, het hy geglimlag, terwyl hy lof gehad het vir Jaco se gestroopte skryfstyl.

I wish I’d said…SO1E05

Tom Dreyer is gebore op Parow, die jongste van vier kinders. “Ek was die nar in die gesin,” lag hy. Sy wilde hare herinner aan Beethoven. Hy vertel van sy kinderjare, hoe sy ouers die grondslag in die vorming van hul onafhanklike denke gevorm het. “Ons is aangemoedig om vir onsself te dink. Daar was baie debatte in die huis,” vervolg hy. Geen wonder dat Tom hom op skool tuis gevoel het by die nerds en die jocks nie. Die skrywer praat vinnig, val homself in die rede. Die teken van ’n intellektuele gimnas, dink ek.

Hy lag weer, die keer oor die gewraakte oproepinstruksie om Upington toe te gaan om aan te meld vir nasionele diensplig. Daar was kadette op skool en uniformdraers het oral die septer geswaai. Dit was die 80’s, die Bosoorlog, en hý wat Tom is het dit nie vrygespring nie. En dan vertel hy van daardie keer toe hy in Tygerberg-hospitaal opgeneem is vir depressie en hoe sy pa, met trane op sy wange, deur die hospitaal se parkeerterrein bly ry het. Tog; in retrospeksie was dit alles vormende faktore wat tot Tom se belowende en latere suksesvolle loopbaan as skrywer en digter sou lei. Die kamera zoem in op die romans wat reeds uit sy pen verskyn het: Erdvarkfontein, Stinkafrikaners, Equatoria, Dorado, en die bundel kortverhale, Polaroid. Sy werk is onder meer bekroon met die Eugène Marais-prys vir Letterkunde.

Hy vertel van die aanvanklike invloed van Taratino op sy werk – die viering van die oppervlak, noem hy dit, ’n soort hipervisualiteit, ’n gulsige en gejaagde verbruikerskultuur. En die estetika van geweld. Ek het Erdvarkfontein in die 90’s gelees en onthou die gewelddadige tonele se aanbod as komies en hoogs vermaaklik. Oorspronklike en verfrissende skryfwerk, inderdaad.

En dan is daar Jaco Botha, Tom se skrywersvriend. “Jaco was Tom se skrywersbroer,” herinner Tom se lewensmaat, Vasti, hom. Want Jaco was immers die subjek van Tom se wengedig.

“Aanvanklik het ek gedink Jaco is bietjie van ’n poephol,” en hy lag weer. Dan, op ’n ernstiger noot: “Jaco was kompleks. Kwasterig en charismaties.”

Ons was boemelaars,” spot hy oor hulle vervloë studentedae en voeg nostalgies by: “Die wêreld met sy vreemdheid en malheid het oor ons gespoel.”

Dan volg ’n insetsel van Jaco, besig om kitaar te speel en te sing:

Sê my was daar nog ’n blommetjie

sê my was daar nog ’n roos

 

 

“Jaco het ’n rare blik op die lewe gehad. Hy kon dinge distilleer…hy was soos ’n Afrikaanse Raymond Carver.” ’n Baie akkurate taksering van hierdie skrywer se oeuvre, dink ek, en Jaco se rasperstem sing weer:

en waar’s die liefde,

die liefde, vanaand

Jaco se dood was ’n geweldige skok. Daar was nog so baie wat hierdie twee vriende saam wou doen: projekte, soos om tydens ’n road trip stories oor die Karoo te skryf. “En nou is alles so abrup verby. So onwerklik.”

sê my waar’s daar nog ’n skuilplek

en sê my waar’s daar nog troos

Sommige herinneringe is bittersoet. Daar is die boek, steeds in manuskripvorm, wat Tom en Jaco saam geskryf het: Skuins voor Armageddon, deur Roy Braxton.

“Roy Braxton is die commonste naam waaraan ons kon dink.” Weer die lag. Dan ernstig. Dit is die gevoel van leegheid, van die onvoltooidheid van hierdie hegte vriendskap wat die digter genoop het om troos te soek by die muses. “Die koerante…LitNet het my gevra om iets oor Jaco te skryf, maar ek kon nie. Die gedig was ’n knoop in tyd.”

Die gedig het ontstaan toe Tom en Jaco se gesamentlike vriendekring nog rou was ná hul vriend dood. En dit was die katarsis van nagelate woorde wat uiteindelik heling vir almal sou bring.

.

Slaap jy solank, dan hou ek die fort 

(vir jaco botha 17 sep 1972 – 19 okt 2016)

.

beteuterd soos twee pienk kwitansies

pas ontvang vir twaalf kopieë

van ons m.a.-verhandelings

dwaal ek en jy na die middel-kampus

van uct platane platane en ’n flitsblik

van die see onthou jy hoe jy daai aand

in ons gehawende flat neffens de waal-park

mooitjies vir jou ’n sigaret uit jou kwitansie rol

sodat jy weer behoorlik kan asemhaal?

.

onthou jy die nag toe ons bo enigiets op aarde

die more wou sien breek oor magersfontein?

met die wegtrek het jy nonstop gepraat

oor die verskille tussen fisante en patryse,

maar skuins ná drie was die maan kil

oor clanwilliam se water die more ver

patryse net so stom soos fisante ons was koud

en moerig individueel maar meestal vir mekaar

.

ek sien jou oplaas op die gewel van jou kothuis staan

en botweg weier om af te kom ek hoor jou kla dis

gevaarlik daaronder en ek weet wat jy bedoel nes daai

aand by die kknk toe jou trane so vryelik soos gemorste

whisky op die kroegtoonbank spat, en jy sê: kom ons gaan

slaap eerder, tom, dan is ons ten minste nie meer wakker nie.

ek verstaan my tjom my tjom slaap jy solank want die nag

is lank en die son sal basically forever oor magersfontein verrys

.

intussen sal ek nog vir ’n rukkie dié kant die fort probeer hou

solank ek nog onthou solank ek nog onthou solank ek

onthou kan jy met ’n halwe glimlag op jou gewel blý

staan: wagtend op daardie onverstaanbare golf wat toe

meer verwoestend as enige woord oor jou sou breek

.

Hoe het Tom die produksie en verfilming van AVBOB se gewilde poësieprogram, I wish I’d said, ervaar?

“Die verfilming het oor twee dae gestrek. Ons het die vorige dag teruggekom van België en die katte was oorstelp – hulle het op my skoot gespring en teen die kamera opgeklim. Hulle wou ook op die program verskyn,” lag hy.  En vertel van die begeleidende verse wat hy geskryf het vir die kunstenaar, Liza Grobler se Everard Read-uitstalling wat op dag twee van die verfilming gehou is. “Justin Strydom en sy kameraspan het alles ongelooflik professioneel hanteer.”

Tom Dreyer is ’n geliefde en bekroonde prosateur, maar sy lesers – en die literêre landskap – sien reikhalsend uit na sy digdebuut.

Onthou om Saterdaemiddae om 14:00 op SABC 2 in te skakel vir I wish I’d said. Nóg ’n ligpunt in hierdie onseker tyd van Covid-19 is dat die AVBOB Poësiekompetisie weer op 1 Augustus vanjaar afskop. So, as jy nog nie ’n profiel geskep het nie, of gedigte wil instuur, besoek die AVBOB Poetry Facebookblad of www.avbobpoetry.co.za vir meer inligting.

 

Verwysing:

www.avbobpoetry.co.za.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Nini Bennett. ’n Vriend, ’n broer”

  1. Lianda :

    Dit is ‘n wonderlike blik oor tydlose broederskap. Ek geniet die kykie “agter die skerms” om meer te wete te kom oor die digter van Avbob se wen-gedig in Adrikaans.
    Slaap jy solank, dan hou ek die fort, is ‘n seer, seer gedig en só mooi!
    Dankie vir dié mooi blog en ook die lusmaker om weer in te skryf vir Avbob se kompetisie

Los kommentaar

 

*

  •