Bertolt Brecht. Vertaling van Duits in Afrikaans. Vert. deur Waldemar Gouws
Die minnaars
Kyk daardie kraanvoëls in wye kurwende vlug!
Die wolke vir hulle meegegee
trek met hul saam al vanaf die wegvlieg
uit die een lewe in ‘n ander lewe.
Op gelyke hoogte en met gelyke haas
lyk hulle na aan mekaar vir ‘n wyle.
So deel die kraanvoëls met die wolke
die lieflike lug waardeur hulle kortliks vlieg
sodat hulle dus nie nog tyd hier verwyl
en niks anders sien as die gewieg
van die ander ene in die wind, deur beide gewaar:
in die vlug reeds lê hul bymekaar.
So mag die wind hulle wegvoer in die niet;
mits hul net nie vergaan nie of wars van hulself neig
so lank kan niks die twee aantas nie
so lank kan mens hulle maar van enige plek verdryf
waar reën of skote wat klap hul bedreig.
So onder die son en maan elk met amper enerse skyf
vlieg hulle weg, algeheel opgegaan in elkaar.
Waarheen, julle?
Nêrens heen.
Weg van wie?
Van algar.
Julle vra, hoe lank is hulle al saam?
‘n Rukkie.
En wanneer sal hulle uitmekaargaan?
Gou.
Dit lyk so of die liefde van minnaars net nie hou.
Die Liebenden
Sieh jene Kraniche in groβem Bogen!
Die Wolken, welche ihnen beigegeben
Zogen mit ihnen schon, als sie entflogen
Aus einem Leben in ein andres Leben.
In gleicher Höhe und mit gleicher Eile
Scheinen sie nah bei ‘nander für eine Weile
Daβ so der Kranich mit der Wolke teile
Den schönen Himmel, den sie kurz befliegen
Daβ also keines länger hier verweile
Und keines andres sehe als das Wiegen
Des Andern in dem Wind, den beide spüren
Die jetzt im Fluge beieinander liegen.
So mag der Wind sie in das Nichts entführen;
Wenn sie nur nicht vergehen und sich bleiben
So lange kann sie beide nichts berühren
So lange kann man sie von jedem Ort vertreiben
Wo Regen drohen oder Schüsse schallen.
So unter Sonn’ und Mond’s wenig verschiedenen Scheiben
Fliegen sie hin, einander ganz verfallen.
Wohin, ihr?
Nirgend hin.
Von wem entfernt?
Von allen.
Ihr fragt, wie lange sind sie schon beisammen?
Seit kurzem.
Und wann werden sie sich trennen?
Bald.
So scheint die Liebe Liebenden ein Halt.
Hierdie gedig het in 1928-29 ontstaan en is deur Brecht (1898-1956) in sy opera “Aufstieg und Fall der Stadt Mahagonny” gebruik. In 1950 het Brecht die teks gewysig.

Baie dankie, Marlise. Die gevolgtrekking wat jy en Charl-Pierre gemaak het t.o.v. die afwesigheid van die tweede “nie” verander nou my idee van hoe die laaste reël van die gedig moet klink.
Ek sal Marlies vra om die miskende woord sy (sagte, gedempte) posisie te gee aan die einde van die reël.
Ek stem nogal saam met Charl-Pierre. Ek sou ook die ekstra nie in die laaste reël wil sien. Dis maar net ‘n ‘gut’-gevoel. Vroeër, met die meer formele verse van Eybers, Opperman, v Wyk Louw, is die nie dikwels weggelaat, wat nogal nie gehinder het nie. Hierdie vers is tog wel vir my meer vloeiend, stromende en daarom is my gevoel ook dat die ‘nie’ op die einde moet wees. Dit sal nie pla nie, want dis ‘n ‘sagte’ nie. Amper nie hoorbaar nie. Ag, dit net my mening … Andersins wel so ‘n lieflike gedig en vertaling.
Ja, dankie Daniel. Om nou ‘n paar waarnemings kwyt te raak, net die volgende: Eybers verkies die enkel-nie. Daar is regtig letterlik ‘n onaangeraakte mond vol nie’s reg oor haar digjare. Uit “Balans” (1962) se “Pygmalion”:
“Begeerlik tas hy na die sku kontoer
binne die onverbiddelike klip
en rus nie vóór ‘n marmer ooglid roer.”
En uit “Dryfsand” (1985) se “Ontheemde”:
“Hier, in die vreemde, en sonder ‘n masker aan…
Die mense is hier nie minsamer as daar, gewis
nie toleranter …”
Van Wyk Louw was pragmaties, soos wat die gedig hom lei. Benewens die dubbel-nie’s kom bv. uit “Alleenspraak” (1935): “Ek het die aarde nie gesien” en uit “Tristia” (1962) lees mens in “XXXII”:
“ons dor papier kom en vra woorde:
daar sal geen woorde gegee word, nooit,
behalwe die ongevraagdes …”
Opperman benut ook soms die enkel-nie. Uit “Komas uit ‘n bamboesstok” se “Strelitzia en Jangroentjie” kry mens:
“Toe, toe!
jy is nog jonk!
Dis nie vir kyk en ruik
maar vir gebruik.”
Cloete versit graag die tweede nie na die binnekant van ‘n volgende reël of glip daarmee sintakties oor na ‘n nuwe strofe. Hy verkies die bevestigende stelling ver bo die negatiewe stelwyse. Uit “Driepas” (1989) se “12. Misreën” kom hierdie voorbeeld:
“die straat loop weg in die reën
al die bome hang
dit lyk of hulle ophou verlang
het en niemand weet waarheen
die rivier loop nie …”
Dit is baie interessant om te sien watter oplossings Elisabeth Eybers, N.P. van Wyk Louw en T.T. Cloete vir daardie dubbele nie vind.
Dankie vir die gedagtes, Charl-Pierre. Maar in ‘n versreël wil ek soms amper verstik waar die dubbel-nie eis om gepleeg te word. Jy gee my moed.
Kan die dubbelle nie, nie maar in laaste reël ingaan nie. Dit sal ‘n mooi vertaling net versterk, en die rym geensins belemmer nie, dankie Waldimar vir hierdie mooie vertaling.