Joan Hambidge. Digstring

 

Gesprek met NP van Wyk Louw

 

Ek gee tans aanlynklas o.a. oor Louw. Vir my studente laat weet ek: daar is drie Bybels in my huis, te wete die ou Afrikaanse een, die Tibettaanse Boek van lewe en Dood en natuurlik: Tristia.

So het ek indertyds die beroemde “Vroegherfs” geparodieer:

 

Vroegherfs

 

Die jaar word ryp in wrede ontnugtering

in woede wat verkil, en bitter idees

wat daglank deur my nuwe minagting

uitgespoel word; alle idees word reëls,

tot selfs die slustes; en die eerste beelde val

so stilweg in my donker depressiewe drome uit

sodat die dendriete in my brein al

teen elke ligte môre ooreis, ópspruit.

O muses, laat hierdie dae nooit verbygaan:

laat alles val wat poësie of stilte verbreek

of cliché is, en vér was van die pyn:

laat ryp word, muses, laat jul verwoesting nimmer taan,

vir ewig, tot al my demone afgebreek

word in relevante, tydgebonde skyn.

 

uit: Tachycardia. JutaLit, 1990.

Tans werk en wroet ek aan ‘n bundel wat heet Nomadiese sterre. Ek het reageer op talle gedigte van Louw – in opdrag van Ronél Johl en Ina Gräbe vir die Tydskrif vir Geesteswetenskappe-huldigingsnommer oor Louw. Johl en Gräbe het as teoretici aan my die uitdaging gerig en palinodes, parodieë en pastiches is geplaas. Selfs gerinkink met gedig nommer X uit Tristia. Daardie verbluffende liefdesgesig word dan getransporteer as ‘n Derrideaanse sous rature of deurkruising van die (eks)(ge)liefde.

 

Hierdie is nie ‘n liefdesvers nie

 

Hierdie is geen liefdesvers nie,

dis ‘n gedig oor ‘n X

wat geen silwer herberg bewoon

in die sneeu nie, maar ewigdurend

sous rature bly in die aanwesigheid,

my deurkruising ten spyt.

 

En ja, spyt kom altyd te vroeg

met die eerste voëlgekletter,

die Katolieke kerk se klokkespel,

‘n muezzin se roep na Mekka

en my oggendgebed vergeef-my-

sondes-en-almal-wat- gesterf het.

 

Hierdie is nie ‘n vers vir Fanie Olivier

se Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte.

Dit behoef ‘n dubbel-negatief, ‘n minaret

waarop ek staan-waar-ek-staan

roepend na jou, my gedig nommer X,

my afskryfvers: onoorspronklik, ‘n spel.

 

Toe vra Ina Gräbe in ‘n e-pos dat ek moet reageer op “Cartesiaan” en hier is my probeerslag:

 

Cartesiaan

VWL

 

Ek is net lyf en gees, niks tussenin:

niks van die kerk se “siel”, die leë droom.

Net boom en grond. Die dryfsand se sin

is iewers wel slinks en slu bedroom

deur Freud en Lacan – die gode van drieë.

Hulle dink aan skakels: aan oorgange

soos ego, id, superego, nes bedrieë:

verbeelde, simboliese, Reële vir dié drange.

Lyf: sy! die eerste wat ek ken!

vol van  groot hobbels, eis haar weg

na die eis van volmaaktheid as volheid.

Gees: die knope van die onbewuste ren

aan my in drome vreemd, só verontreg

‘n inbeweeg tot hierdie parodie: ‘n kilheid.

 

‘n Gedig is meer as ‘n gedig. ‘n Gedig dra eweneens ‘n tydsgees in sig en verklap ‘n manier van lees en skryf. So gesien, word dit ook ‘n stuk teorie.

Louw loop regdeur my digkuns. As jong kind het ek Nuwe verse en Elisabeth Eybers se Balans gelees. Weinig verstaan hiervan in die skoolbiblioteek, maar jare later het Louw in Hartskrif, my digdebuut, hom aangemeld. In ‘n yskoue winter, tydens ‘n navorsingsvergunning aan Yale Universiteit, einde 1984, woon ek van Harold Bloom se seminare by. En The anxiety of influence begryp ek toe as iets wat nie negatief is nie, maar ‘n gedig wat reageer op ‘n meester ‘n antwoord of voltooiing mag word.

Die suiwer wiskunde van Louw se digkuns kan ons maar net by benadering naboots. Maar in antwoorde erkenning gee aan sy ryk, geskakeerde digkuns. In Bloom se terme is my gedigte ‘n tessera of anti-tese.

 

 

Bookmark and Share

Los kommentaar

 

*

  •