Breyten Breytenbach huldig Ampie Coetzee

 

« because I am not a god

I cannot help but use metaphors »

 

jy wil die kole van die lewe oopkrap 

op soek na die rokie van ‘n slotreël

hier en daar

vir afsluiting ?

 

maar pasop !

dalk kry jy nog die poespas glimming

daar en hier

van ‘n oog wat nie wil ophou kyk 

 

– haastige hond verbrand sy tong –

 

wees geduldig, jong :

binnekort is alles as

om na vier huise van vergeet gestrooi

weggesing te word op die wind

 

 

Liewe Ampie, broer –

 

Ek wou begin met die twee aanhalings hierbo omdat ek voel dit lê die lyne van ‘n voortgaande gesprek neer. Die tema’s is nie aanvullend nie, ek weet, en reeds uitgebrand. Maar van wanneer af sou ons gesels om tot ‘n slotsom te geraak? Vandag se waarheid is môre se oukos het die oumense gesê. Nouja, ons het toe oud geword en kou nog steeds die woorde en kan nog steeds nie die kos opgeëet kry nie. Ons tande is mos klaar.

Is dit waar dat mens ophou lewe wanneer jy nie meer kan praat nie? Ek wens ek kon jou dit nadoen. In skrywe was jy altyd bondig: toe jy my breedsprakighede moes vertaal het jy op meesterlike wyse geïllustreer hoe mens met minder woorde oor die weg kan kom. Ek het ook probeer, maar my minder is nie altyd meer nie, en jy weet mos ek kan myself nie help nie. Vandat jy weg is praat en praat ek met jou, so asof ek jou dood wil praat. Terwyl ek wat sou wil gee om jou dood wég te kan praat.

Is dit alles om nié by daardie woord van stilte uit te kom nie?

Ek wil voorgee jy sou wil weet wat hier aangaan waar daar niks aangaan nie sedert jy die hasepad gekies het. Daar is niks om op terug te val nie, my ou maat. Hier en daar soms die opflikkering van ‘n sinnelose te ver gaan wat nou moet instaan vir die vorige ‘normaal’, en dan word dit ook geblus in vloede van selfvernietiging. En ons word stadiger figure in groepies van drie of vier wat deur mensverlate of mensvernielde landskappe dwaal op soek na gode of na kos. Ons sal van voor-af moet leer lewe. Dit gaan ons nie baat om enigiets te onthou van vroeër nie. Die dooies is nie dood nie. En die lewendes – jy wat miskien hier lees wat ek elders en binne ‘n ander tyd moeisaam skrywe – vir wie? vir wat? – lewe lankal nie meer nie. Ons speel die leë gebare ritualisties uit met rukke en stote, al is dit slegs in die verbeelde interaksie wat soos asemhaling is: jy wie ek my verbeel, en verbeel dat jy lees, en ek wat my verbeel die gedagtes bly beweeg, die hart klop nog, die vlerke sal aanhou tril terwyl die hand heen en weer loop oor die landskap wat soos papier is om te soek na spore van lewe of tekens waar wat gelewe het versaak is. En dat ons nog sou weet wat dit beteken om ons te skaam.

Want dit sal wees waartoe ons immer soekende spesie, so tragies misluk in ons gewaande ‘menslikheid’, gekom het : by die verbreking van die laaste taboe – dat ons weet dis nie meer nodig, en in ieder geval nie sou weet hoé om die dooie en lewende lyk te bedek nie.

 

niks bly oor

behalwe die moment van lewe

en dan die ewigheid van te gelewe het

 

in die onmiddelike van die hede

en die wegval van verlede

is gelyklopendheid die ontledigende oorleding

 

Miskien dan juis dit: dat die aaneenskakeling van momente, die oorgange van ‘n verlede na sy hede, miskien die besinging van die momentele omhede, die enigste monument is wat ons kan oprig vir jou.

Dan weet ons ook die reis was nie om enigiets te ontdek nie – hoe sou ‘n landskap ooit ‘ontdek’ kon word? – en ook nie om nuwe waarhede te maak staan nie. Maar om dit wat nog altyd hier was na te gaan soos mens ‘n horlosie nagaan vir die tyd in jouself. En daardie tyd sal vir altyd gaan. Al is dit net ‘n bietjie verder. Ook al is die ‘jouself’ wat die ervaring gaan vergeet om dit opnuut te belewe – oplaas die finale na-gaan van daardie jy of ek wat slegs bewuswording is, en, as dit nie anders kan nie, ‘n konstruk – aan die Grootvergeet toevertrou.

En ons sien dan daar is geen inhoud nie. Alles is vorm. Maar dit is tog alleenlik omdat vorm self die inhoud is, en is ‘vorm’ dan nie vloeibaar nie ? Vloeibaarheid is immers vorm wat vir ewig aanhou beweeg na inhoud. Om nietemin spore te laat, soos nou hier.

’’Basta!’’ hoor ek jou sê, en ek sien jou so voor my oë staan in jou kenmerkende houding met hande oor die buik gevou. ‘‘Genoeg! Hier lê ek dood gesiembaba en jy kom babbel obskure gemeenplasighede oor ‘vorm’ en ‘inhoud’. Die dood weet nie van sulke gemaakte slimmigheid nie. Genade! My léwe moet gevier word. Dis nie die verskoning vir nog meer neerslagtigheid nie ! Wil julle dan net aanmekaar huil en huil?’’

Lê ek jou nou woorde in die mond, Ampie? Maar jy weet tog ons is min en dat ons wil uitreik om mekaar aan te raak.

’’The real gives me asthma,’’ was ‘n stelling van die Roemeense skrywer Emil Cioran. Mens hoor nie meer veel van asmalyers nie maar ‘n simptoom van die kroonpes wat langsamerhand alle uitinge van ons handel en wandel binnesypel is dat mense kortasem word.

Ons lewe asof ons siek is. Die wakkerword was swaar. Soos dié van iemand wat nie asem kan kry nie. Ek het gaan kyk na die boodskappe in die bobbejaanspieëltjie – daardie organiese verlengstuk van ons interaksie, die dwelmmiddel en kougom vir die bewussyn. Dit gee mens die illusie dat jy nog lewe terwyl ons eintlik al dood is.

Anne-Ghrett het drie keer probeer bel in die nag terwyl ons in die agterste kamer die dooimensslaap geslaap het. ‘n Dag of wat vantevore het ons nog nuus van haar gehad, jy sou jou kragte herwin, wou opstaan uit die hospitaalbed om huis toe te gaan – ’’kom, kom,’’ het jy deur die plastiekpyp in jou gorrel probeer artikuleer, jy wou kerriekos by die huis gaan kook, al die bestanddele was tog daar. Jy kon slegs met moeite praat – maar dit was nie ‘n doodsroggel nie. ’’Nee,’’ het Grietjie geantwoord na ‘n lang stilte toe ek vra. ’’Nee, ons is nog nie daar nie… Die hospitaal is so netjies skoon, daar is so baie lig,’’ het sy herhaal asof sy haarself wou beskerm teen die ondenkbare. En daar was hoop dat jy beter sou word.

Ons is bly jy is nie in die donker dood nie, Ampie.

Hoekom is dit so uitsonderlik? Ons praat van ‘n enklawe waar voldoen word aan die normale vereistes van hospitalisering in ‘n land waar alles in duie stort en net roofdiere en stropers oorlewe. ‘n Land van mense waar ons geglo het dit sou moontlik wees om die mededeelsaamheid en medeverantwoordelikheid soos brode en visse te vermeerder want dit was ‘n ryk land, ryk aan al sy verrykende verskille, waar ons kleinlikheid verby sou kon steek en eeue se vergrype reg sou kon stel, waar ‘n etiese en omvormende verbeelding sou seëvier, waar ‘n leier met gebalde vuis uit die dood en die skaamte van ‘n politieke kerker sou kon stap om te sê, ’’Never, never again… ’’ ‘n Land van ménse soos jy en ek en ons almal. En nou is dit nie meer ‘n land vir mense nie. En juis daarom, en desondanks, so oorweldigend en hartverskeurend mooi

Maar jy het reeds jou hart by die huis gelos met die verskoning van vergeetagtigheid, die kluitjie in die riet, waarskynlik iewers tussen jou boeke in die studeerkamer bo-aan die steil trap wat te moeilik geword het om uit te klim.

Ampie, broer – soos die haan-stér het jy weggeglip agter die donker homp van Groenberg nog voor die dag ons hartseer kon erken in ‘n hand vol vere. Ons weet hoe draai die uitspansel bo ons, so ver en so digby. Het jy oop-oog in die nag daarna lê en kyk om die tekste te lees en die metafore af te lag wanneer die vuurtjie suutjies brand en vonke teen die hemel knetter? Sien? Nou is dit van begin tot einder helder omdat die donker alles omvat, omdat die donker jou van ons weggevat het. Daar kan geen onderskeid meer wees nie : jy is weg en nou oral aanwesig. Daar is hiér.

 

‘n Wyse vrou, ‘n sibille, sou ‘n paar dae later vir my skryf : ’’Die afsterwe van ‘n vriend wat so na aan die hart gelewe het lei tot ‘n ongenaakbare konfrontasie met die self.’’ Sy is so reg. Maar dan moet ons dit verder neem langs die lang pad wat Ampie Coetzee en ek, as bevoorregte, van so ver terug saam kon loop. Baie sal onthou van ander vorme van stryd, van ekskursies, van boeke en proefskrifte, van geleerde voordragte.

Ek wil onthou van ‘n boesemvriend met wie ek alles kon deel, soos so baie ander ook kon doen. ‘n Tjom en ‘n gabba. Iemand wat sy kennis en sy onbevangendheid teenoor die beste wat die mensdom en die wêreld het om te bied soos ligte vlerke kon dra, iemand met wie ek nooit kon stry nie al sou ek ook wil, iemand wat my in ‘n lagbui oortuig het van die gelykwaardigheid van almal wat as lewens- en doodsvonnis met die lettere handgemeen raak, iemand wat nooit beïndruk sou kon word deur status of aansien of mag of die stywerug stappie van die polities korrektes en hênsoppers nie, iemand wie se algehele empatie met die hefnots was en nie met die hefs nie, ‘n kameraad en medestryder wat net geken het van lojaliteit, iemand wat nooit ‘n ‘geheim’ sou kon dra nie want vir wat, iemand wat ‘n motorfiets kon regmaak, iemand met ‘n oog vir ‘n mooi vrou, iemand wie se hart tot boordens toe vol was met liefde vir sy naastes en seker meer so nog vir sy seuns, iemand wat my daarmee kon terg dat ‘n gedig uiteindelik net uit woorde bestaan en geen bitter eend kan iets daaraan doen nie, iemand wat as vriend meer agting gehad het vir ‘n karwag en ‘n tuinier as vir watter hooggestoelde noof dan ook, iemand wat saam met jou geloop het tot waar jou kar in die straat geparkeer staan om lank daarna nog totsiens te wuif in die truspieëltjie terwyl die hond om sy voete speel.

Die self is maar net ‘n fles leegheid wat volgemaak kan word met so ‘n vriendskap. Natuurlik rou ek oor jou, die ander, wat nou altyd daar is om my meewarig te konfronteer. Natuurlik treur ek oor myself, die niet, die tye van saligheid om ‘n tafel oor ‘n goeie bord kos en die godsgawe van die druiwestok. Oor hoe dit alles so vinnig verby moes gaan –

en ek wou nog, ek wou nog

Die pyn is ons s’n. Daar is geen Ampie om oor te treur nie. Dit is wat jou dood soos ‘n skerp mes in ons drome en skrywe kom lê het, en ek weet ek is bang om daardie mes met die snykant teen die lippe te hou : die verganklikheid, die brewwe moment van lewe, en dan die niks-meer. Wanneer ons voor jou afwesigheid buig, Ampie, is dit ook voor die aanvaarding dat elke ‘ek’ die ander is.

 

En die ander jy, ek.

 

verwyder self :                                             

sit dit opsy

om plek te maak                                        

vir ander                                                             

(ook self)     

                                                                  

want ons is die hede

van die verlede

wat vir ons lê wag :

in die verskyning

het ons ons verdwyning

onder lede

 

en indien dit so moet wees

dat jy my onder jou ooglede laat skuil

                                                   wil ek vra

                                                 (ek vra veel)

dat jy jou oë toemaak

om nooit weer te slaap nie     

 

Wanneer ek nou jou stem in my hoor is dit ‘n herkenning van die tydelike wat ek hier vorm probeer gee ook al is dit net die na-klank van ons uitruilings, die tuimelende wegdraai soos van ‘n bewussyn se sterreryk van syn. Die verskiet van ‘n lewe. En dat ons nie betyds die ongrypbare – en dalk ook die onbegryplike – tyd kon vashou om ‘n laaste keer jou lag te hoor, nog net éénmaal – een maal een is een – en sonder skroom die woorde kan gebruik wat so niksseggend is en so vol van wat ons ooit kon wou sê: Ampie, ons is lief vir jou, my maat.

 

Ek praat te veel?  Hoe anders? Die enigste wysheid wat ek van weet is wanneer mens in geselskap van die Ander is, om dit te geniet en waardeer, selfs al is hy nie meer fisies hier nie.

 

Maar eers moes daar die onthegting wees. Ons het onder in die vallei gaan eet saam met die langpad lorriedrywers. Ek het dronk geword en toe terug bult-op geloop met my dronkverriet terwyl ek met jou praat. Die nuus van jou afsterwe, die stilte, was nou swaarder as ‘n doodgebore droom in my buik. Maar ek het op my eentjie probeer dans, die landskappe vir jou probeer identifiseer. Het jy die silwer lig in die wolke gesien?

 

 

Die herfs voel nog nie na jaareinde nie. Is dit die verpligtende binding van smoellappies wat ons so doof maak vir omvorming? Die laatvrugte is ryp maar niemand gaan meer mark toe nie. Mens weet nie wat lekkerder ruik – die werf of die kliphuis nie. Jy was al hier by ons op Voëlplaas, onthou jy nog? Dit moes daardie tyd toe jy in Duitsland klas gegee het wees. Later die middag het ons van die nuwe wyn gaan aankoop in die kelder teen die hang van die berg om die vate tuis vol te maak vir die donker maande en jare wat kom, dat dit ryp en goudkleurig mag word soos herfs – ‘n versnit, grotendeels van die garnatx druif, ‘n kultivar hier in die Emporda-streek. Die Katalane is trots op hulle wyne, veral dié uit die Priorat. Ek kon nie vir ons twee vriende, Jordi en Lourdes, vertel van die wegskeur nie. Hulle sou begrip hê, dis ‘n wêreld dié wat lankal met die dood saamleef, en miskien het hulle dit aangevoel. Jordi, die ruwe bosbouer, was byna teer toe hy my touwys maak oor hoe om na die vate om te sien. Maar hulle kon nie weet van die verskriklike verlies, van jou weggaan nie, en hulle sou nie kon weet dis ‘n land wat in my sterf nie.

En toe byna soos ‘n besetene na die rekenaar om die foto’s waarop jy verskyn en skyn – wat is die verskil? – op te diep, byna meganies te hersirkuleer en aan te stuur, weer en weer. Die een, broer Cloete het dit nog geneem, waar ons dans asof ons in ‘n riel die wiel van kom en gaan wil vastrap. Dit was by koning Neels aan huis en onder ons het die see geblink. Ek sien sy baard het nou wit verbleik so asof dit krismis is. ’’You’ve gone and changed your hair again,’’ sing bra Leonard. Skalla, hy wat met ‘n basviool tussen die bene gebore is, was daar. En Prins Albert. Was Valiant Swart dan nie ook by nie ? En oom Ollie één met sy pensklavier. Speel, oom Ollie – spéél !

Dit gaan nooit nag word nie. Jy is nie dood nie.

En toe al die ander foto’s van en mét jou – jy jonk, middeljarig, saam met ons op Gorée met jou Zapata snor, oud maar stewig geanker in die onomstootlikheid dat dit miskien ‘n baastid is om méns te wees maar ‘n hond kry nie eers ‘n bietjie wyn nie. Ewig jonk. Ek weet ek is kwaad omdat jy skielik haastig geword het om oor te gaan – na wat? waar? na watter stryd? Om opgewonde te raak oor nuwe digters waar woord en taal ‘n eie lewe het?

Was dit so vreeslik om mens te wees? Ons kyk terug op wat onherwinbaar is in ‘n waas van nostalgie en dis goed om so te verlang na wie nooit weer terugkom nie. Dit verseker die voortbestaan van die spesie: ons weet nie wat die alternatief sou wees nie. Ons is, sover ons weet en gekom het as swerwers, ‘n eenmalige lewensvorm. Vandat ons op die agterpote regop gekom het wou ons weet wat agter die hemellyn lê, en moes ons onthou wat agter ons verdwyn. Ook reeds net om die rede vir voortbestaan aan die lewe te hou. Dis ons heentoe en ons vandaan en tussen die twee het ons geleer van die nêrens en die niet. Dit help ons niks. Ons projekteer en bou lugkastele vorentoe en ont-hou waaraan ons niks kan verander nie – behalwe dat ons dit ook anders maak in die onthou. En toe word ons ons bewus van ‘n syn, van ‘n innerlike ruimte, dat ons onsself en die kontoere van die wêreld verbeel, die ritme van lewe en dood, die droom, die afgryslike van goed en kwaad, die ewigheid van ‘n enkele lewe, die doodmaak vir ‘n appel en ‘n ei veral as dit die ander se eie is, die liefde, die skoonheid van ontluiking en verlies, die afstand en die eenwees, die onderdrukking en die bevryding, die een-saamheid (ek skryf dit met ‘n koppelteken) en die gedeelde medeskaplikeid, die vrees en die geborgenheid.

Wat ons bind, verder as enige ontbinding en verdwyning, is plek. En hierdie plek waar ons naelstring begrawe is om volwaardig méns  te word – jy weet dit al van toeka en nou nog meer so, Ampie – hierdie vandaan soos ook ons agter-die-berg wat die heentoe is, lewe in taal. Hierdie taal, hierdie unieke afstammeling van hibridisering wat ruimte skep vir hoe dit voel om mens te wees tussen ander, die bestaan en die vergaan met al die verantwoordelikhede van elke dag weer gebore te word in die syn-ontginning en bestaansbevryding van taal. Nie slegter of beter as ander tongvalle nie, maar ‘n enige uiting van ons reisgeskiedenisse van saamword en van skaamte. Ons ruilhandeltong van ballinge en oorblywendes.

Hoe sal ons weet van gisters as dit nie was vir hierdie bastermoeder van ons nie? Dis tog ons oopmaak vir ‘n moontlike vorentoe! Dis net die hede wat so neuk : die ontkenning van hulle wat van geen verlede of toekoms weet en wil weghardloop van ons gesamentlike aandadigheid, dié wat te fênsie geword het vir hulle eie fênbelts. Om die moedertaal te versaak is om jouself in die rug te steek. Jy kan maar smaail en hoop niemand sien jou verrotte tande raak nie, jy kan maar die vreemdeling se hemp aantrek asof dit jou eie is, maar die wond is daar. Jy sê: ’’Vir wat wil jy nou vir ‘n dooie preek?’’

Is Oorkant dan nie ook die skepping van ruimte nie? Ek sien uit na die Anderkant wanneer ons saam die kole sal oopkrap in die uitspanselhaard om, as ware, kak te skiet, ons tonge te klap en met trane lag te kry oor die groot bohaai van te gelewe het. ’’Léwe, sê jy? Waarvan praat jy tog ! Dis nie genoeg om te gelewe het nie, dis klaar erg genoeg, en dan moet jy nog doodgaan ook om tot hier te kom! Dit sit nie sommer in enigeen se broek nie.’’

Die ervaringsruimte van die selfverbystekende behoort tot die menslike bestaan, is die essens van ons uitasem totdat al die woorde gesê is, al dra ons geen kennis daarvan nie. Die afwesigwees van ‘n geliefde mens, vriend of vader of lewensmaat, word ‘n gedeelde ruimte van die hart vir ons wat agterbly. En niks meer nie. Ons praat almal met jou asof jy nog lewe, nog kan opvang, en ons sou kon troos. Wat ‘n vreemde lewende oorgang : jy is nie meer hier nie, ons probeer onsself moed en aanvaarding inpraat, en tog is jy nie heeltemal weg nie. Iets wat nie net jy en joune is nie kleef aan ons sonder dat ons dit eksklusief ons s’n kan maak. Dis waar, my Kleinboet – jy het dit dikwels aan my uitgewys : teen die tyd dat ek aan die einde van ‘n frase kom, langs die allemensbesit kronkelpad van die lewensreis, is alle betekenis daarmee heen. En dan is dit die mens se tyd om stil te word.

En te onthou ons wat nog ‘n bietjie verder gaan se verpligting is teenoor die lewendes – nie die dooies nie want hulle is verby en sal vervaag. Nie om die illusie van skynbestaan weer te laat leef nie, maar wel teenoor die dood as keper, merker, die muur van ophou waarteen ons almal ons name gaan skryf. Ons wat tydelik lewe – en soek na waar jy jou naam gelos het – weet dat jou heengaan die kleremakerskêr van ons verganklikheid is. Die hartseerpatroon wat ons aanvaar is oor jou, liewe Ampie – oor wat ons saam gehad het – hoe onvolledig ook, onafgemaak en ten dele, maar saam. ‘n Meemaak. Maar dan ook ‘n rouklag oor die eie dood, die dood van die self en die eie, die weggaan van lig, die opheffing van alle onderskeid tussen lig en donker, en dié hartseer is van die lewe. Ook daarin berus ons saamheid. Om dan tog met jou te wil praat is soos ‘n gedig, soos om woorde te los wat sienderoë van betekenis verander en wat sal verdwyn asof hulle nooit daar was nie. Maar daardie verskyning-om-te-mag-verdwyn is iets van ons altyd, ons pyn, ons allemensbesit, ons wysie. Sien, ons is toe tog één!

Ek onthou weer hoe jy my geterg het toe ek beweer ‘die digter voor-spel die verlede’, koppelteken en al. Veral toe ek jou wou beïndruk met die rooi taal se, ‘the poet pre-words the past.’ Ons staan op losse skroewe. Maar hoe anders sou jou gesig omskryf kon word as synde ‘n gedig?

Leeg en vol – die beginsel, die begin waarop alle beeldvorming berus. En die interaksie. En die vloei. Besinning in aksie, wording in handeling. Die handgesang. Picasso het beweer indien hy ‘n Chinees was het hy sy skilderye in woordprentjies geskryf. Dan maak dit mos nie saak dat jy dood is nie? Die ligryke ontplooing van berg en rots, van Groenberg in die donker, die gesig van glooiing en gelyktes, watervlakke, ‘n oop hemel, leegtes wat die spieël is van newel : dis alles in die papier waarop ons ge-ink word. ‘Wit’ verteenwoordig – luister mooi, want dis téén-woordig – lug, water, mis-baniere, wolkrangskikkings, paaie, die son se aanskyn… Witgrys as is die kleur van ons leegheid, jy proe ewigheid op die tong. Ons speel op die ink, het jy gesê, soos op ‘n musiekinstrument, soos om Ollie op sy pensklavier daardie dag om die see stil te maak. Sodat wanneer die beweging ophou ‘iets anders’, iets wat geen naam hoef te hê behalwe die weergee van berg en water, mag verrys.

So was jou denke ‘n roete na verre windstreke, ‘n pad wat lei na die ophou van die dichotomie denke-doen. Langs daardie pad het ons mekaar ontmoet in ‘n herberg vir die nag wat nooit sou vervaag nie, om dop na dop te maak en land en sand aanmekaar te gesels. Hierdie roete sou ‘n kaart word, mens wil nie hê die sterre moet verdwaal om sommer so deurmekaar te wei nie. En nou is dit ‘n mandala, ‘n sirkel, ‘n sfeer, ‘n omgewing, ‘n gemeenskap, om soos met die bitterbessiekrale van ‘n bidsnoer die sterre helder oordag naam vir naam te tel. Dis wat ek jou nog wou vra : om ‘n kalender van engle saam te stel. Is dit dan nie waarvan Mandela ook gedroom het voordat sy diskoers van koers gedryf is nie?

Hierdie eeu van uitspattige verryking toe die vernederde armes die klippe moes wees waaruit bloed getap word wat in olie sou verander, en ten spyte van die verslawing aan bobbejaanspieël kommunikasieverblinding, ’’let them eat shit in the belief it is cake,’’ is die eeu van verbanning. En tog, jy wou nie die belofte van die groot profeet Marx – soos teenoor profyt – laat vaar nie : dat die vervanging van die skuilte of die geborgenheid van ‘n tuiste, ‘n Boland, nie slegs ons name soos geskryf in die stof en die as sal wees nie, maar ons kollektiewe bewuswordende aanwesigheid in die geskiedenis, sodat ons weer in die hart van die werklike kan vertoef. Tot in lengte van dae. In die hartjie van verbeelding. Mag dit dan hierdie keer ‘n etiese verbeelding wees, soos jy dit wou hê.

Besef jy nou hoe moeilik dit gaan wees om ons los van jou te dink ?

Jy moet ons laat gaan, Ampie. Dis laat. Nag vir nag, brok vir brok, asem vir asem moes dit uit, hoe gebrekkig dit ook mag wees, om die leemte te kan vul. Ook om die ritme van die dans met die ewige neer te lê. Ons troos ons aan jou dood omdat jou lewe wat jy aan ander opgedra het so mooi en so kosbaar was.

Terwyl ek nou hier sit en skryf – dis nog donker buite, die Pirenneë se wit slaapmusse wag nog in ‘n slaap wat nie slaap is nie op die oggendson om sigbaar wit te word – fladder ‘n mot om my, lastig, val oplaas in my beker koffie. Met ‘n ergerlike vinger  – is om te skrywe dan nie byna net so moeilik as om te wil lewe nie ? – red ek hom van salige verdrinking in ‘n vloeistof wat van warmer klimate kom – en nou sien ek die vlerkies bgin weer tril. En nou is die notaboek besmeer. Ek trek ‘n sirkel om die mees evokatiewe vlek, dit lyk soos ‘n mandala. En noem dit Ampie. Nou weet ek nie of ek die kol of die mot bedoel nie.

Ons gaan dood in die nou en die hier, gedig vir gedig. Wat ook ons offer is aan die volheid van lewe, klein kewers, enklawes van die lig. Hoe weeg mens die gewig van ‘n gesig behalwe in gedigte?

Julle wat miskien hierdie ellelange, aweregse (Ampielinkse!) treursang teëkom in die Sentrum, julle wat nog jonger is, vir nou – onthou dit is nie hoe Ampie was nie. Julle moet onthou dat hy ‘n onstuitbare drang tot lewe en medemenslikheid gehad het. En met ‘n empatie vir alles om hom soos net die bewuste syn in alle tekortkoming en oneindigheid en liefde dit kan vergestalt.

Ek lig ‘n denkbeldige  eerbetoonbanier aan die vryheid van jou gees.

Hoezee ! Hoezee vir Abraham Johannes Ampie Coetzee!

 

soos asem

 

of dit nou die geluidlose rukkings is

wanneer ‘n wind snags die boomtoppe

met weemoed skud

of die bloue daghemel

wat ‘n flitsende skild is

of die maan ‘n potskerf

om die sere mee te krap

of selfs net die vae herinnering

aan liefdemaak wat nog aan ons vingers kleef

 

hierdie metafore saamgebind

in ‘n velsakkie woorde

in jou skoot gelê

by wyse van ‘n weggaangeskenk

 

dolos dit uit in die holte van jou hand

en sien hoe beweeg die skaduwees nog

soos asem

en wéét dat ons net ‘n geheue

aan ruimtestof is

 

maar lees ook : siende ek jou nou wil sê

hoe diep ons vriendskap ook hier mag lê bewe

dat die blydskap bly om saam met jou

op die aarde in hierdie leeftye te kon lewe

 

 

 

Dit is my bydrae tot die herinneringe, die 25ste Oktober, aan Ampie.

Maar dit is geskryf, met innige medelye en waardering, vir Anne-Greth Erasmus, vir Kobus Coetzee, vir Marko Coetzee…

Breyten Breytenbach, 15-23 Oktober, 2020 – Can Ocells.

 

 

 

Bookmark and Share

Los kommentaar

 

*

  •