Gedig van die Maand: 8 Finaliste
1.
Helsems
ʼn Geneul by HvdB
Dat sang verdígsel plooi tot klinkklaarheid
– losserige wysheidkabaai
wat, wys-wys die dye, uitflap
kringelende molekuleverdigtings langs, die swygverskiete in –
het vele al gesê,
die lafaards.
Jy, ingenieur, wou woord en noot
legéér. Daar edelallooi
van giet: singswaarde te smee
vir die kruistog land van skone sin toe.
En ek wat penkop agterna,
op hol soos destyds deur my ouers se tuinwoud,
volryphede vorentoe te pluk.
Singgoed vir die soettand, hierdie keer,
te gryp uit Grootverswyg se kloue,
die inhalige ou
helsem.
Die trek in fynproe móét mos veld wen; wag,
het ons bly dink, wag dit af
daar voor die yl gehore in saaltjies,
portaaltjies,
terwyl feesluidsprekers buite ál trommelender sokkie-bybie.
Totdat jy, een einde van ’n hol aand
– soos ander ridders van die sanggraal voor jou:
ʼn Louis van Rensburg, Riku Lätti amper, of Piet van Wyk de Vries –
jou kitaar wou steek sy klaarpraatsak in;
jou klarinet en trekklavier
hul swyekiste in
laat sak het …
ek my penpunt terug
moes klik
sy skag
in.
“Jou songs is brilliant, man,
maar mense soek die lekkervoelte:
’n chord of drie op hope beat,”
die wenk van grootkonsertemakers.
Te veel wat ore vir die luisterliedsoort het,
het ’n sinikus ons ingefluister,
sit nou, kwalifikasies en al, in anderland;
híér hoor doofheid selfs die stomheid nie.
Leë ouditoriums galm
wyd en syd hul stilte, dus – pandemietrant.
Net ou Gemis, die riem,
Rocinante-knol opgesaal,
neuriedwaal hier.
Plaaggees wat lyf wil kry,
local en als.
“Wat ís daar in jou hand?” verbeel ek my hom mopper, Herman;
eerder: moppie.
“’n Kitaar …?”
Die helsem.
© Bernard Odendaal, 2021
*
2.
Aan oom Lokomotief (Genootskapper vanouds)
Lokomotief, gemotiveer
tot barstens toe,
tot meer as voorvatter,
jy wat so hoog opgegee het oor “yge taal”,
deur jou eie mense gehaat is,
so erg dat ene jou glads wou skiet
maar Piet, Paul en Klaas kon saamsleep
die hele volk agter jou maak inval
en “finnig” met die rympies saam
laat ry – jy wat stoom verloor het
oor jou Afrikaans konsuis bespotlik raak,
jou “vuurwa” soos hulle dit stel,
deur jouself “op ‘n doodloopspoor gestoot” –
jy is waarlik die swye in rangeer.
Oom Lokomotief, ou flinke stomer,
kan jy nie nou maar uitskei nie
met my betrokke te wil hou?
Lewe geblaas wil hê in ou gewrigte,
die verdiksels in die elmboë gebreek,
plaak van die tande geskuur
cholesterol uit toevoerpype geskud,
die stof van bouvallige trajekte afgespoel
sodat die staal glashelder sal antwoord
op wie daarteen tik. Bowenal geroeste reste,
klapperende tromme des doods, agtergelaat.
Lokomotief blaas nie warm én koud nie;
jy staan as blote oorlas hier,
van alle weë verwyder, infrastruktuur
op jou vermors. Dis verby,
die gloed van iedere kool gesmoor,
die asem vir ‘n fluit gesluk.
Jy’s genoeg verweer, jy’s klaar
met wat waar geloods word,
watter vrag versamel, van stapel gestuur –
jy wag, dikdom anachoreet,
hier waar jy niks, niks jou moveer nie,
behalwe net die spooktreine wat snags
soos hulle oor die netwerk spoed
wissels opruim in hul vaart
die stukkie spoor onder jou laat ril
en iewers binne daar nog ‘n klinknael skiet.
Ou stommerik, jou mense sku weg
van jou taalmanewales af.
Kan jy nie maar uitskei nie
met my weer betrokke te wil haal?
© Pirow Bekker, 2021
*
3.
Einde van die dag
Twee suiltjies elk
met ʼn vlammetjie gekroon.
Kerse genoem,
of die daeraad van beskawing.
ʼn Paartjie sit by ʼn rondetafeltjie
in die laaste restaurant
wat oop is in ʼn kusdorp.
Hulle hou handjies vas
en drink ʼn heildronk.
Die tafel
is ʼn kring op ʼn staander
en verskaf die verhogie vir ʼn bietjie verstrooiing.
Hul oë kyk af, gesigte blink
soos maskers in die dowwe lig.
Die kernoomblik, is dit,
in ʼn Griekse tragedie.
In ‘n breuk-
sekonde leun hul na mekaar
oor vir ʼn aanraking en voel hulle
hoe dúrend die mense van die outyd was
wat nou vir ewig vort is.
Die deus ex machina
bring hul kos op ʼn skinkbord.
Die kerse smelt. Dis maar hoe dit gaan.
Die probleem
met ʼn onvergeetlike dag,
soos die geskiedenis,
is dat dit moet eindig. En aanstons
gaan party van ons huis toe na ʼn minnebed
en die ander slaap ewe rustig
voort deur die onmeetlikheid.
Die oppervlaktes
waarop geëet is bly agter
soos tafels diep in die aarde begrawe.
Dit is die lang, lang nag
van die roerlose tyd.
Tot, op ’n oggend in die verre toekoms,
die weersomstandighede weer ingeswiep sal kom
met ʼn uitskud van wit doeke
soos kelnerinne van bo
die breekware aan’t uitsit,
om nogmaals
die omwenteling te begin
wat kortstondig sal uitloop,
teen die aand,
in die lewe wat ons ken.
© Charl-Pierre Naudé
*
4.
Metaforiese transaksie
Met soveel onrus tussen ons,
lê ek verbande sinneloos:
Jy Agamemnon, ek Klutaimnestra?
‘n Oorlog word emosionele geweld
(silence is golden) (stilswye is goud)
rooi papawers
flits op papier:
‘n andersoortige toneel
(soos) ek kelk die sonlig uit jou dooie keel.
Die gedig raak bewapen
in ‘n armed vision
ter nagedagtenis in memoriam sous rature
nooit weer sal ek
my vreemde liefde blootlê
eerder in die vagevuur
nadink oor gemis
beweeg van vlak tot vlak
in Dante se Goddelike komedie.
© Joan Hambidge, 2021
*
5.
die rooi kruikie
“Niña de color quebrado / O tienes amores o comes barro.”
[Sallow-faced girl, either it’s love or you’ve been eating clay.]
– Anoniem, Flor de varios romance nuevos y canciones (1598),
nageskryf deur Lope de Vega, El acero de Madrid (1608)
in ’n skildery met ’n skildery omring deur skilderye
in ’n vertoonsaal vol rame en figurante en bespiegelings
onder die plafonuitspansel van die Alcázar
met skadu’s van ’n onseker nou en ’n triestige toekoms
in die hoepelrok van ’n bestaan van balein- en traliewerk
’n opgepofte skepping in ’n steeds uitdyende heelal
van valle en frille en fieterjasies en beloftes
linte gestrik en blomme vasgesteek in die hare
geskik vir die okkasie
vasgevang in ’n koutjie
weerkaatste raaisels
staan die infanta
*
sê die hofdame:
staan net nóg ’n rukkie stil
neem ’n slukkie
van die koel watertjies
uit die búcaro
toe nou
jy kan netnou gaan speel
met Nicolasito en die hond
of, sê die hofdame miskien:
neem en drink
die hemels gegeurde water
dit baat die gelaat
dit lewer bewys van ’n lewe
beskerm teen die geniepsige son
dit maak ’n meisie teer
en begeerlik
of, moedig die hofdame dalk aan:
neem en eet
knibbel gerus
aan die kleirandjie
dit baat die lyf
jy sal dit nog nie begryp nie
die hartstogte van die hart
die ritme van die rooi
of, sê die hofdame waarskynlik nie:
neem en eet
dit baat die gees
dit voer jou weg
na geluksaligheid
dit laat jou ontsnap
uit die raam der rame
dit laat jou sweef
*
vyfjarige prinsessie
in ’n pronkrok
wyd oor die heupies gespan
haar vingers gekrul
om die rooi kruikie
afkomstig uit Guadalajara
neem sy dit
of sit sy dit neer
koppie weggedraai
ogies gevestig op die koning
die engeltjie
reeds aan ’t leviteer
© Ronel de Goede
*
6.
lykrede vir ‘n taal aan die vergete kant van die land
aan hierdie kant van die land op die derde vloer van die caxtongebou wat ook
die elcogebou was op die derde vloer op dieselfde derde vloer waar vóór 94
die veiligheidspolisie se kantore was waar iemand tydens ondervraging
deur ‘n venster
splinternuut in 2005 chris hani herdoop in hoop en ywer deur ‘n herbenoemings-
komitee gedekoloniseer nooit gerealiseer op enige muur teen enige ingang
op enige dokument nie het hani wéér gesterf dié keer deur onverskillige
hande van eie comrades in akademia ongeraak alles net futlose retoriek
in kerkstraat bly die afrikauniversiteit koloniaal getrou aan engelse heerskappy
want wat is die gewig van ‘n naam die gewig van omgee immers? en kom en
gaan soos seegetye die heerskappye van opeenvolgende besture in korrupsie
en selfverryking geldkoffers stroop
maar op hierdie derde vloer kamer 304 was daar afrikaans eenmaal vir 17 jaar lank
skryf dit neer dat dit nie vergeet kan word nie eenmaal vir 17 jaar lank eenmaal
geglo dat dit in die son en wind teen die see en die loei van ‘n mishoring sommige
dae oorkant die grou gebou waar ‘n vragskip dan en wan in vuil ruite reflekteer
die hawe invaar die see die wind altyd daar anders kon wees met ‘n taal uit hierdie
aarde ‘n taal wat die skuld afskud tussen swart kollegas swart studente wat my wit
hande vat wat ‘n nuwe pad stap
op die derde vloer met die afskilferende mure verrottende vensterrame stukkende
hysbakke vuil badkamers plafonne wat plekplek inval duiwemis en stof sif oor
swak verligte lesinglokale gebreekte banke swart en bruin studente gelate aanvaar
dis hoe dit is tot die volgende vonk #allmustfall ontbrand dat dit anders kon wees
anders kon wees het ek geglo die klein blink houtjies neergelê vir taal en poësie
sorgvuldig uitgepak gestapel lewensvonke aangesteek dat alles nuut kom word
en blink oë van jongmense dat ons mekaar tot in mekaar se siele vir die eerste
keer sién luister na jong bruin digterstemme omarm die afrikaoorsprong van taal
verstaan die skuld op die derde vloer waar ek geglo het woorde maak ‘n verskil ook
aan skuld aan wit medeverantwoordelikheid op die derde vloer
waar dit alles tot niet kom word het
aan die anderkant van die land brand groter vure harder loei die winde aan
die anderkant van die land brand dit by die mooi wit dorp oor taal brand dit by
die biblioteek teen die berg en ‘n land roep uit en rou aan hierdie kant die vergete
kant sterf ‘n taal stilweg bladsy vir bladsy word ‘n paar duisend Afrikaanse boeke
stilweg geoormerk vir pulp het ‘n departement op die derde vloer in die gebou
langs die see se lyk reeds ontbind
© Susan Smith, 2021
*
7.
Sinesteties
as sterre se lig pulseer
teen dieselfde frekwensie
as die krieke se geskril
is die brulpadda se brul
die volmaan wat klokhelder
deur die Karoonag beier
en jakkals met sy gehuil?
’n sekelmaan wat skelm
agter die vlieswolke skuil
die hees verskrikte kiewiet
wat al om haar nes roteer
flikker soos ’n satelliet
as niemand die digter keer
hou hy aan improviseer
© Daniel Hugo, 2021
*
8.
ROU SKRYFBERIGTE
*
ons probeer so goed moontlik
met die vashou van afwesigheid
oor die weg kom
laat-los is nie vir sissies
maar by verstek die aankoms
en vertrek
vir wie nie bang is om aan boord
te gaan
en te lewe
in die moederskip wat reeds
die dood se baar is
om met die wrakversplintering planke
van die gestrande ark
‘n vers te prakseer vir die boord voëls
se begrafnisklanke
*
met ander woorde
daar is dié wat met woorde
die ondenkbare probeer sê
weer en weer
na gelang dit al hoe meer
duidelik word
daar kan geen beduidenis wees
en dan is daar hier dié
wat mét die woorde praat
om hulle aan te spreek
ewe paraat vir luister
en te sê
ek weet nie wat julle uit wil lê
behalwe om oor en oor
elk ‘n halwe oor
waarvan die dieper hoor
moes verwelk
om die ondenkbare maagdevlies
te mog verloor
hierdie leë kelk te wil omtoor
tot ander woorde
*
blink gelewe neus teen die wind
om vir die Ewigheid te wink
gedink dis sommer net vir rinkink en skink
en skielik is dit donker ink
doppie geklink
op môre se stink
*
*
(enso)
wanneer jy Niks skryf
om vir Niet
onderliggend aan die Woord
tot volle Syn te bring
is dit goed
so
om Nêrens te begin in die kring
en beweeg
om stilruimte te maak
vir alTyd
wat Al oopgaaneinde
Iewers is
*
(gevolgtrekking met nawesigheid één gat)
ja-nee
© Breyten Breytenbach